Rusland-Oekraïne-konflik kan Poetin duur te staan kom

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

Presies waar en hoe president Wladimir Poetin se inval in Oekraïne gaan eindig, weet niemand in dié stadium nie. Wat egter reeds gesê kan word, is dat hy hom in verskeie opsigte ernstig misreken het.

Poetin se verwagting was dat sy militêre vuis die Oekraïners taamlik maklik sou kon platslaan. Dit gebeur nie, want die verbete Oekraïense teenstand verbaas min of meer die hele wêreld. Op talle plekke het die Oekraïense verdedigers die Russiese offensief óf tot stilstand gedwing óf selfs afgeslaan, al maak die Russe op ander plekke wel vordering.

Wat ook ’n rol speel, as jy berigte in die Westerse media kan glo, is die ontnugtering wat glo hier en daar by die Russiese troepe waargeneem word. Die soldate is na bewering vooraf wysgemaak dat die bedoeling is om die Oekraïners – ’n broedervolk – van die “neo-Nazistiese” regering in Kiëf te bevry, en dat hulle dus met ope arms verwelkom sou word.

Dit gebeur nie. Trouens, selfs oues van dae en vroue vra wapens by die Oekraïense weermag om saam teen die Russe te veg.

Ook internasionaal loop dinge heel anders vir Poetin as wat verwag is. Poetin het gemeen die Weste is volkome slap en dekadent, en sal – behoudens enkele rituele veroordelings – op sy agterwerk sit en hom (Poetin) sy gang laat gaan.

Wel, inderdaad is daar geen sprake van militêre inmenging vanuit die Weste nie. Veral in die lig van Poetin se mobilisering van sy kernwapens, sou dit byna outomaties op die Derde Wêreldoorlog en die waarskynlike einde van alle lewe op aarde uitloop. Met sy kernwapendreigement het Poetin dus wel sukses behaal.

Maar behalwe vir dit was hy waarskynlik nog nooit só geïsoleer soos nou nie. In byna elke opsig waaraan ’n mens kan dink het hy presies die teenoorgestelde bereik van wat hy wou.

Ekonomies het die waarde van die Russiese roebel volledig in duie gestort. Toe dié woorde geskryf is, het die rentekoers reeds van 9% tot 20% gestyg.

Op inisiatief van die Europese Unie (EU) is Rusland grotendeels van alle internasionale geldverkeer afgesny, wat dit vir hom byna onmoontlik maak om internasionaal handel te dryf.

Dit gaan die land se ekonomie uiters gevoelig tref en waarskynlik honderdduisende Russe werkloos laat.

Dit kan op sy beurt dalk ’n proses wat reeds op beperkte skaal gesien kan word, versnel. Dit is dat – om dit sag te stel – twyfel in bepaalde dele van die Russiese bevolking oor Poetin se wysheid groei.

Laas Sondag het duisende mense in Russiese stede teen Poetin se oorlog betoog.

Meer as 5 000 mense is luidens berigte in Westerse media reeds weens hul deelname aan betogings teen die oorlog in hegtenis geneem. Natuurlik, op die keper beskou, is dit maar ’n druppel aan die emmer, want byna driekwart van die Russe staan luidens peilings insake die inval agter hul president.

Neem egter in ag dat die Russiese media deesdae feitlik volledig deur die staat beheer word, en dat die gewone Russe byna slegs Poetin se weergawe hoor. Teen dié agtergrond is dit eintlik verbasend dat ’n volle kwart nie bly is oor die inval nie.

En, wanneer die lyksakke huis toe begin kom, moet ’n mens jou nie verbaas as Poetin se steun verder verminder nie.

Internasionaal staan Rusland vir alle praktiese doeleindes volledig alleen. Slegs Belarus, wat in elk geval deur die Kremlin beheer word, staan by Poetin. Selfs China – Poetin se strategiese bondgenoot – het by ’n stemming in die VN se veiligheidsraad om die inval te veroordeel nié agter Moskou gaan staan nie, maar buite stemming gebly.

Wat die res betref: Amerika, Navo, die Europese Unie, plus invloedryke lande elders in die wêreld (’n mens dink aan lande soos Japan, Suid-Korea, Kanada en Australië) neem aktief maatreëls om die lewe vir Poetin buitengewoon moeilik te maak.

’n Besondere simboliese daad in dié verband was ’n besluit van Duitsland om nie alleen sy eie verdedigingsbegroting met ’n ongekende €100 miljard te vergroot nie, maar ook om ’n absolute taboe te verbreek deur wapens aan Oekraïne te lewer. Neem in ag dat die Duitsers weens hul rol in die Hitler-tyd ’n emosionele weerstand het teen alles wat militêr is – en dit word duidelik dat selfs húlle vir Poetin se aggressie geskrik het.

Dit kon ook gesien word in die nagenoeg 100 000 mense wat Sondag in Berlyn teen Poetin betoog het.

Die Russiese president, Wladimir Poetin. (Foto: Alexey Nikolsky/AFP)

Poetin se heel grootste fout was egter waarskynlik die feit dat hy sy kernmagte in ’n staat van paraatheid geplaas het. Die onmiddellike doel daarvan was ongetwyfeld om die Weste te intimideer: Moenie te ver gaan nie mense, want ek het ’n knuppel in my hand waarmee ek julle sommer baie seer kan maak!

Wat hy vergeet het, is dat die Weste – veral Amerika, maar ook Brittanje en Frankryk – kernmoondhede is wat Rusland dalk nog erger kan tref. Poetin is baie dinge, maar nie volkome onnosel nie. Hy weet as hy sy kernmagte op die Weste loslaat, dit sy eie einde sal beteken, wat dié jongste stap van hom in wese ’n leë dreigement maak.

Soos die Switserse professor Oliver Thränert van die Sentrum vir Veiligheidstudies aan die Universiteit van Zürich dit in ’n onderhoud met die Duitse weekblad, Die Zeit, stel: “Veral Amerika sal alle Navo-lidlande beskerm. Die bondgenootskap maak dit so duidelik: Ons het ook kernopsies. Wil jy dus werklik die wêreld laat ondergaan?”

Dit beteken natuurlik nie dat die situasie  nie gevaarlik is nie. Poetin doen nogal moeite om homself as onberekenbaar voor te stel, as iemand waarvan nie aangeneem moet word dat hy nié die kerndrumpel sal oorsteek nie.

Dis ook interessant dat Poetin se verdedigers in die Weste veral in die geledere van sowel linkse as regse ekstremiste voorkom. Gematigde sentriste beskou hom, sy optrede en sy regime met afsku.

Terug by die begin: Dít is een ding wat Poetin wél reggekry het – hy kon onbedoeld illustreer dat die Weste toe nou nie so slap en pap is as wat hy en vele ander kritici meen nie. In die lig van die gemeenskaplike bedreiging vanuit die Kremlin was die breë Westerse bondgenootskap nog nóóit só eensgesind soos juis nou nie.

Dis heel moontlik dat Poetin op kort termyn sy sin kan kry deur Oekraïne te onderwerp. Maar op langer termyn het hy sy land, netto gesproke, groot skade berokken. Dit kan selfs sy einde as leier van Rusland beteken.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swagger

Hy dreig ook vir Swede en Finland met geweld indien hulle by NAVO sou aansluit. Dis juis nou n gulde geleentheid vir hulle om dit wel te doen. Ek twyfel of hy aan 3 fronte kan baklei. Let wel, ek het nie veel van n saak met NAVO of Putin nie. Wat die witgesigte in die noorde doen, laat my koud. Net jammer my petrol gaan meer kos.

Groen Ghoen

Met Oekraïne ‘n lid van NAVO, Amerikaanse en ander kernwapens op Rusland se grens, asook NAVO se missiele binne minute van Moskou het Rusland dalk geen ander keuse gehad nie? Waarom het Biden nie Putin se versoeke vir ‘n neutrale Oekraïne ernstig opgeneem nie? Niemand praat oorlog goed nie. Myns insiens is Biden die persoon wat die mag gehad het om die oorlog te stop. Nie net Rusland nie maar almal word nou geraak deur stygende pryse van brandstof, graan, en plantolies. Alle voedsel en goedere gaan derhalwe groot prysstygings sien. Laastens is die Bidenregering besig om vinnig agteruit te… Lees meer »

Human

Die snert wat sommige Trotse Afrikaners kwytraak, is soos die oumense sê, te dik vir ‘n daalder en die ergste van alles hulle glo dit.

CA

Daar is ander kommentatore wat meen Rusland se operasie vorder net so vinnig of stadig soos die Russe dit beplan het, en dat hulle veldtog nie vergelyk moet word met die “Shock and Awe”-tipe van Amerikaners wat alles platvee en voor die voet vernietig, met tallose siviele “collateral damage” nie. Putin stel moontlik nie daarin belang om die Oekraine in puin te lê nie, maar in sekere beperkte militêre en politieke doelwitte. Hierdie soort analises is egter nie in Leopold se sfeer toelaatbaar nie, want mens moet in ag neem dat die Weste die Russe se kant van die saak… Lees meer »

Dirk Mostert

Westerse media is L.S. se bronne van inligting vir wat dit werd is.