Russiese ‘muishond’ slyp sy tande

Russiese president Wladimir Poetin Woensdag by ‘n mediakonferensie by die Kremlin. (Foto: Mikhail Klimentyev/Sputnik/ AFP)

Diep in Rusland se binneland woon ʼn Suid-Afrikaanse man en sy Russiese gesin. Kom ons noem hom maar Jan, want hy wil nie sy naam bekend maak nie. Die owerhede tree streng op teen diegene wat die oorlog teen Oekraïne veroordeel. Daarby word inligting beperk. ʼn Mens sou dink dat Jan en sy gesin, wat so ver weg is van die oorlog-aksie in Oekraïne, weinig daardeur geraak sal word. Maar dit is nie so nie. Dis fyntrap elke dag oor wat jy dink, doen en sê.

Soos Suid-Afrika voor 1990 die muishond van die wêreld genoem is, dra Rusland nou dié etiket. Ek weet hoe dit voel as jy so belas is. In 1988 is ek Londen toe verplaas as Europese korrespondent van die SAUK. Tot byna aan die einde van 1989 was dit die laaste twee jaar van die Groot Krokodil se apartheidsbewind. Suid-Afrika is soos ʼn politieke uitvaagsel behandel. Niemand in ʼn amptelike posisie in Londen wou met my praat nie. Ek is polities gemarginaliseer as ʼn iemand wat persoonlik die smet van apartheid met hom saamgedra het. Selfs lede van die regerende Konserwatiewe Party van eerste minister Margaret Thatcher het my die rug gekeer. Ironies was dit omtrent net sy wat nog bereid was om politici van Suid-Afrika te ontvang. By ʼn paar sulke geleenthede is ek en my kameraman selfs toegelaat om in 10 Downing Street te verfilm voordat samesprekings begin het.

Thatcher was ook die enigste regeringshoof van die Statebond wat besware gehad het teen ekonomiese sanksies. Haar redenasie deurentyd was dat sanksies nie juis veel doen om politici tot besinning te bring nie. Die mense wat die ergste deurloop is die armes en politiek ontheemdes – juis dié mense wat veronderstel is om deur die sanksies gehelp te word.

Sanksies is ʼn stomp slaanstok. Dit tref almal ongeag jou persoonlike standpunt. ʼn Mens moet ook nie sommer aanvaar dat iemand die regerende party of leier van ʼn land ondersteun bloot omdat jy daarvandaan kom nie.

Satellietbeelde wys vernietigde woongebiede in Oekraine. (Foto: Satellite image/Maxar Technologies/AFP)

Vandag word die Russiese president, Wladimir Poetin, gesien as die Groot Krokodil. As outoritêre president wat met ʼn ystervuis regeer duld hy geen teenkanting nie. Geweld is deel van sy hefboom om sy doeleindes te bereik. Hy het eensydig, sonder wye konsultasie of ʼn referendum om te bepaal of die Russiese burgers ʼn oorlog met Oekraïne wil hê, die land binnegeval. Dit ook ondanks ernstige waarskuwings deur Navo, die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, die Europese Unie, die VN en die VSA om nie in ʼn oorlog met Oekraïne betrokke te raak nie. Toe Poetin dit nogtans gedoen het, is wye en streng ekonomiese sanksies teen Rusland ingestel. En daarmee word elke Rus of inwoner van die land nadelig geraak.

Dis die soort optrede wat vir Jan en die gewone Russiese burger die lewe moeilik maak. Byvoorbeeld: Visa en Master Card het die internasionale gebruik van die kaarte afgesny. Hulle kan geen internasionale of plaaslike transaksies met die kaarte aangaan nie.

Grense met Rusland is gesluit. So, Jan sit gestrand sonder geld. Jan Alleman se lewe het handomkeer verander en ʼn stryd geword. Verskeie Europese en Amerikaanse leiers het al in die openbaar verklaar dat hulle instel van strafmaatreëls nie gemik is op die gewone Russiese burger nie, maar dit is presies wat in die praktyk gebeur. Die filosofie daaragter is natuurlik dat die sanksies later die lewens van mense so ondraaglik sal maak, dat hulle in opstand sal kom. So word die doel van “regime change” bereik sonder dat ander lande by ʼn oorlog betrek word.

Kernwapens as afskrikmiddel

Hipersoniese missiele word op Oekraïne afgevuur. (Foto: AFP)

Wat die Poetin-regime welverdiende muishond-status gee, is sy dreigement om kernwapens te gebruik.

In ʼn onderhoud wat ek met die onafhanklike politieke ontleder, prof. Theo Venter, gevoer het, het hy gewys op die veranderende denke oor kernwapens. Voordat die Amerikaners aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog atoombomme op Nagasaki en Hirosjima in Japan gegooi het, was die siening dat dié bomme net groot ploftoestelle was. Die mensdom in sy geheel het later besef dat elke aardbewoner se lewe in die gevaar is sou een land ʼn kernoorlog ontketen. Ná die verskriklike vernietiging en menslike lyding is besef dat die besit van sulke wapens aan ʼn staat vreesaanjaende status gee. Daarna het die wapenwedloop gevolg, waar die VSA en die Sowjetunie gekyk het wie die meeste van sulke wapens kon vervaardig. Rusland het die VSA later verbygesteek in die getal kernwapens. Dis gevolg deur die Koue Oorlog, waartydens die benadering was: “As jy my skiet, skiet ek jou.” Verskeie ander lande het ook kernstatus gekry, soos Frankryk, Brittanje, China, Indië en Pakistan. Kommer het ontstaan dat onstabiele lande soos Noord-Korea en Iran ook kernvermoë ontwikkel het.

In die tagtigerjare het die twee groot moondhede onderhandel oor die vermindering van kernwapens, maar dit is steeds beskou as ʼn afskrikmiddel. Dis ook hoekom Suid-Afrika tot onsteltenis van die twee supermoondhede ses kerntoestelle vervaardig het. Met die veranderde politieke situasie in die vroeë negentigs, is die toestelle egter vernietig.

Die spanning loop hoog

Die situasie het dramaties verander in die eerste naweek nadat Rusland Oekraïne binnegeval het. As ʼn duidelike waarskuwing aan Navo het Poetin sy kernwapens op gereedheidsgrondslag geplaas. Enkele dae gelede het die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, verklaar daar is ʼn werklike risiko vir die gebruik van kernwapens en die uitbreek van ʼn Derde Wêreldoorlog. Die sekretaris-generaal van die VN, Antonio Guterres, het gesê: “Die vooruitsig van kernkonflik, wat ondenkbaar was, is nou weer moontlik”.

Venter glo Poetin is ʼn rasionele strateeg wat daarop staatmaak dat hy die afskrikwaarde van ʼn kernoorlog suksesvol kan gebruik om sy doel te bereik om Oekraïne grootliks oor te neem.

Vir die eerste keer sedert die Kubaanse missielkrisis in 1962 is dit ʼn werklikheid dat die konflik in Oekraïne tot die aanwending van verwoestende kernwapens kan lei. Soos sake nou staan, stuur Rusland en die Weste op ʼn botsing af. Die vraag is wie gaan eerste wegswenk om dit te vermy. Die alternatief is dat die ekonomiese sanksies teen Rusland binnekort so erg word dat die land se ekonomie in duie stort. Dis omtrent waar Suid-Afrika amper was aan die begin van die negentiger jare. Dit het noodgedwonge tot onderhandelings gelei.

Suid-Afrika het egter sy kans verbeur om ʼn moontlike rol te speel in die onderhandelings vir vrede, deur nie duidelik standpunt teen Rusland se geweldsoptrede in te neem nie. Venter wys daarop dat Suid-Afrika deur die onderhandelings vir ʼn demokratiese oorgang wel vaardighede ontwikkel het, maar dat dit geld vir interne, tussen-party onderhandelings en nie tussen state nie.

Suid-Afrikaners kan wel ʼn konstruktiewe rol speel deur die sowat vyf miljoen vlugtelinge uit Oekraïne van dag tot dag te help oorleef. Verder is ons blote toeskouers. Ons kan maar net toekyk hoe die groot moondhede speletjies speel met ons almal se toekoms. Sou Poetin sy muishondstatus gestand doen, gaan die gevolge erger wees as wat ons ooit sou kon voorsien.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Freek Robinson

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Gelukkig is Jan se van nie van Riebeeck nie ne !!

Dries

Poetin se raadgewers moet hom net inlig dat, sou hy dit waag om kernwapens te gebruik, sy land ernstige nagevolge sal hê, en sy einde sal beteken.

Chrisp

Ons moet eerlik omgaan met die genoemde oorlog en erken dat die weste lees NAVO groot skuld dra en die VSA in besonder wat hulle neuse oorals indruk as voorbeeld Urak,Libie,Afganistan en nou ook die Okraine (daar is nog baie voorbeelde). Putin se metodes is afgryslik en ek keur dit geensins goed nie maar daar moet opgehou word om met een oog na die gebeure te kyk en Rusland alleen verantwoordelik hou . Verder kan daar gerus maar opgehou word om onodig die emosies op te jaag met ondeurdagte stellings bv “Hy het eensydig, sonder wye konsultasie of ʼn referendum… Lees meer »

annie

Nee. Poetin het net die gevaar beklemtoon wat atoomwapens inhou omdat elke skip of ding wat kan vlieg deesdae met sulke bomme toegerus is. Hy moet seker nie waarsku nie net luister as die ander leiers praat. Soos destyds is ons ‘ou’ persmanne geoefende draadsitters; jy sê iets maar jy sê ok nie iets nie en so bly jy in die kollig maar uit die spervuur. Freek ken die trick.