Russiese winter-strategie vir Afrikaanse onderwys?

Onderwys__4

Argieffoto.

Deur Leonard van der Dussen, besturende direkteur van Indicato Inligting

Napoleon en Hitler het albei groot neerlae gely op plekke waar die Russe hulle winters enersyds gewoond was en daarin kon oorleef, en andersyds ʼn ingesteldheid gehad het om deur selfverwoesting en onttrekking die bestaan en lewe vir die invalsmag so onmoontlik te maak dat dit tot aftog en vernedering gely het, ondanks aanvanklik oënskynlike oorwinnings.

As die ANC-regering en -genote die Afrikaanse staatskole so graag wil oorneem, hoekom dan nie hierdie skole skielik verlaat en die kundigheid om gehalte-onderwys te kan aanbied, wegvat en vir eie gebruik elders aanwend nie? Kan dit dalk juis die regte harde hou slaan deur die regering se onvermoë in onderwys bloot te lê en terselfdertyd bestendigheid vir Afrikaanse onderwys moontlik maak waar die geld, tyd en energie in onderwys ingaan en nie heeltyd afgetrek word deur regeringsvoorskrifte, omseiling van regeringsvoorskrifte en stryd met regeringsamptenare en maghebbers?

Die kort antwoord is nee, dit is geen toepaslike strategie nie. Tog is drastiese optrede nodig en is daar uit die bespreking van die Russiese winter-strategie elemente wat benut kan word, soos wat blyk uit die gedagtes hieronder oor strategie vir Christelik-Afrikaanse onderwys.

Afrikaans oor die algemeen staan sterk en word gepraat, gesing, geskryf en is nie meer op straat ʼn politieke kwessie nie. Afrikaans as akademiese taal is onder bedreiging, en in openbare skole, openbare universtiteite en ander openbare opleidingsinstansies is dit ʼn politieke speelbal wat onderrig en navorsing ernstig benadeel.

Die argument wat aangevoer word dat Afrikaans as middel tot rasse-uitsluiting gebruik word, kan net so omgekeer word op die ANC en andere, deur daarop te wys dat die aanslae teen Afrikaans-enkelmediumskole eweneens politieke doelwitte sonder enige onderwysregverdiging het – en wel na die ander kant toe, deur op Afrikaans in onderwys te pik. Politieke spel alkante toe, terwyl die nut en noodsaak van moedertaalonderrig en hoe dit in werklikheid die hele land en sy ekonomie en bestaan bevoordeel, net soos ander akademiese doelwitte op die agtergrond gestoot en beskadig word in die politieke maalstroom.

As die politieke spel met skole ʼn slag uit die pad kan kom, kan meer aandag gegee word aan gemeenskaps- en globaliseringsverskynsels en die invloed daarvan op taal, asook hoe dit onderwys raak, bestudeer en aangespreek word. ʼn Voorbeeld is Afrikaans as kleiner (getalsgewys) taal in ʼn geglobaliseerde wêreld van programmeertale en rekenaartegnologie, die aanwending van internetbronne in onderwys, en hoe die werklikheid van die werksplek verwerk moet word in die moedertaalonderwysbegrip.

Die politiek is luidrugtig en daarom val te veel klem net op die taalkwessie in onderwys. Onderwys self is wêreldwyd in ʼn soort bedreiging, waar 20ste-eeuse oorgerustheid dat ons nou weet hoe om alles te doen, net resepte hoef te volg en lysies af te merk, asook die invloed van die ontploffing van die inligtingsera nog steeds nie gestabiliseer is in die onderwys nie. In Suid-Afrika loop ons dus gevaar om agter te raak, ongeag in watter taal, as die taalkwessies met sy politieke misbruike heeltyd al die aandag kry.

Daar is ook ʼn gevaar in die Afrikaanse onderwys self om sodanig net op Afrikaans te fokus dat dit tot akademiese isolasie en veragtering kan lei in ʼn wêreld waar kennis en inligting teen hoë snelhede rondgaan, maar hoofsaaklik in die wêreldtale en nie in die kleiner tale nie.

In die Donderdagaandprogram van Solidariteit op PretoriaFM is in Augustus 2016 ʼn betekenisvolle erkenning gemaak, naamlik dat ons dalk te lank gewag het om te begin optree en alternatiewe te soek vir tersiêre opleiding in Afrikaans, en dat dieselfde fout dalk met skoolonderwys gemaak gaan word. Platweg beteken dit dat daar nie net weerstand gebied moet word teen die aanslae van regeringskant om volledig beheer oor Afrikaanse skole te neem en enkelmediumskole uit te faseer nie, maar ook dat alternatiewe opgerig moet word.

Die alternatief van privaat skole is te stadig en klein in die Afrikaanstalige enkelmedium-arena, met miskien ʼn uitsondering hier en daar waar korporatiewe verskaffers soos Curro ʼn Afrikaanse skool het, maar in daardie geval is dit bloot ʼn sakebesluit vir ʼn spesifieke omgewing en nie ʼn bydrae tot die opbou van ʼn onafhanklike Afrikaanse onderwys nie. Die verbintenis tot Christelike onderwys strek ook maar net sover dit besigheid pas en hierdie skole is dus nie deel van die toekomsstryd vir Christelik-Afrikaanse onderwys nie.

Die stadige en drupsgewyse ontwikkeling van ʼn onafhanklike Afrikaanse skoolbeskikbaarheid – wat dekades agter die Engelstalige onafhanklike skole is – is juis aan die sukses van die Afrikaanse staatskole te danke, wat tot nog toe steeds goeie resultate lewer, en waaraan geslagte se sentiment verbind is. Dit bevat ook heelwat gevestigde belange, nie net emosioneel nie, maar ook sakegewys waar ouers en maatskappye waarby hulle betrokke is, dele van die skole gefinansier het, en dus ʼn besitreg voel, maar wat hulle nie wetlik het nie. Die gevoel van besitreg maak dit moeilik om van die terrein en die geboue afskeid te neem, en daar word dus eerder gefokus op behoud van die huidige status deur beheerrade, en hofsake om beheerrade en hoofde se magte af te dwing. Die hofsaak-ruimte word egter al nouer, en die konstitusionele hof se uitspraak van 20 Mei 2016 lui ʼn nuwe era in waar dit nou openlik reg is dat die regeringsmagte plaaslike magte van beheerrade oorheers.

Die noodsaak om strategies en vinniger te dink oor alternatiewe vir grootskaalse Afrikaanse onderwys buite of sonder die gerief van staatskole is steeds vir baie mense nie duidelik nie. Die gebrek aan ʼn besef van dringendheid is ʼn ernstige demper wat dodelike gevolge kan hê vir die Afrikanergemeenskap as dit nie nou oorkom kan word nie.

Twee bane van optrede is nodig:

  • Die bevegting van die staat se aanslag op Afrikaanse skole (en op enige skole waar ingemeng word) moet voortgaan om die grondslag te lê vir die geveg teen die staat wat waarskynlik later ook nie ʼn groeiende Afrikaanse privaatskoolwese gaan uitlos nie.
  • Die opbou van ʼn eie vermoë in onderwys en gereedheid om op groot skaal privaat onderwys vir Afrikaanse leerders te lewer met eie kundigheid en bestuur; en wat ʼn geloofwaardigheid moet opbou om by eie eindeksamens uit te kom, waarsonder die staat maar sal aanhou inmeng en die Afrikaanse skole gyselaar hou met die vereistes vir graad 10 tot 12.

Die pad na selfstandigheid kan gesonde newe-effekte hê:

  • Onderwys kan in dieselfde proses bygewerk word: As daar verskuiwing kom en dit as geleentheid vir vernuwing aangegryp word (en daar met minder staatsvoorskrifte meer werklike onderwysgeleenthede is).
  • Sterker gemeenskapsfokus met meer betrokkenheid by skole, waar die skool ʼn nuwe vorm van selftrots en ʼn fokuspunt in ʼn gemeenskap kan word wat gemeenskappe wat tans identiteitsloos ronddobber, kan help bestendig – dit kan maatskaplike voordele hê. Die opbou van eietydse skole deur die huidige geslag kan ʼn belangrike rol speel in hernude identiteitsgevoel, eienaarskap, toewyding en selfrespek.

Daar moet versigtigheid wees vir die newe-effek van gemeenskapsfokus, dat dit as newe-effek verstaan word en nie prioriteit nie, sodat die plaaslike politieke en algemene gemeenskapsdoelwitte nie net weer die skoolwees- en opleidingsdoelwitte verdring nie. Gemeenskapsgeriewe is nogtans iets wat wel in die plasing en ontwerp van skole in gedagte gehou kan word.

Die verskuiwing van Christelik-Afrikaanse onderwys van openbare skole na privaat skole moet dringend aan die gang kom. Die vraag is: hoe?

Privaat skole benodig getalle om momentum op te bou – finansieel én om as skool te funksioneer, want dit gaan oor geboue én oor mense.

Daar kan teoreties gewag word tot die kapitaal en lus om ʼn skool te bou beskikbaar is (met versigtige oorleg), die skool dan gebou word en leerders trek. Dis ʼn sakemodel wat groot kapitaal verg – aanvangskapitaal vir fisieke oprigting asook bedryfskapitaal in die aanvanklike groeitydperk. Dit veronderstel ook daar is nog jare tyd om sake geleidelik aan die gang te kry, en dit gaan nie gou ʼn omvattende verskuiwing van openbare na privaat skole meebring nie.

ʼn Ander teoretiese moontlikheid is om die eienaarskap van die openbare skole te verskuif, en nie die leerders nie, deur skole van die staat te koop. Die omvang van kapitaal wat benodig word om ineens dekade lange ontwikkeling van ʼn onwillige verkoper (die regering) te koop, maak dit reeds onwaarskynlik – nog voor die onwaarskynlikheid dat die huidige regering so iets selfs net sal oorweeg as die doel met die skool die voortsetting of herinstelling van Christelik-Afrikaanse enkelmedium-onderwys is.

Die werklikheid van die verskil tussen beheerraadfondse wat onderwysers en geriewe byvoeg sonder om van meet af alle salarisse en koste te dra, is iets wat hard en prakties verstaan moet word, en wat sodanige oorskuiwing na die privaat bedryf van ʼn ongeoptimiseerde openbare instelling ʼn moeilike en duur sakemodel maak.

Daar is ʼn effens meer waarskynlike opsie, wat die onwilligheid van die verkoper tot ʼn mate kan aanspreek asook die bekostigbaarheid verbeter, deur pleks van ʼn regstreekse uitkoop eerder ʼn ruiltransaksie aan te gaan met die oprigting van ʼn skool in ʼn ander ligging, in ruil vir eienaarskap van die ouer maar bestaande Afrikaanse skool. Dit benodig egter steeds omvangryke kapitaal en baie energie, sakevernuf en diplomatieke vernuf om deurgevoer te kry en dit gaan ook jare neem om met staatsprosesse te moet werk.

Die opbou van staatslosse Afrikaanse onderwys word tans deur sentiment en gemaklikheid teruggehou. Mooi eienskappe soos tradisie en lojaliteit word ʼn bedreiging vir die toekoms waar die bestaande Afrikaanse openbare skool telkens weer en weer voorkeur kry ten spyte van die toenemende druk van regeringskant en ander drukgroepe teen enkelmedium- Afrikaanse skole, asook teen die Christelike karakter.

Die regering versterk sy eienaarskap op fisieke eiendom, leerinhoud en selfs leermetodes al meer, terwyl die alternatiewe stilstaan. Dit gaan lei tot ʼn verslegting van die magtelose situasie van gewone landsburgers waarin wetlike en beheervereistes so ingestel word dat dit die gewete van mense in besit neem en toegang tot tersiêre onderwys onmoontlik word as die staatsvoorskrifte op skool nie nougeset nagekom word nie. Die huidige matriekbedeling hou die hele bevolking mooi soet en op hul plek.

Verskerpte optrede is nodig. Die gebruik van ʼn Russiese winter-taktiek om die staatskole eensklaps op groot skaal te verlaat met leerders, onderwysers, bestuur, kundigheid en die gemeenskap se finansiële ondersteuning, kan die huidige regering in ʼn dilemma plaas waar – om dit so te stel – Lesufi dan maar die skool kan vat en daarmee maak wat hy wil, maar sonder die eties-gedrewe slawe wat dit teen alles in maar aanhou bestuur en bedryf. Meer nog, ten spyte van wat hulle reeds opgee deur soms selfs die Engelstalige onderrig teen wil en dank ook maar in parallel te verskaf, asook om heeltyd deur politieke korrektheid ingeperk te word by elke skoolbyeenkoms tot waar selfs Christelikheid afgewater word.

Laat die leë skole agter vir die massas om te gebruik en die regering om daarvoor verantwoordelikheid te neem. Gee die staatskole vir die staat en bestee tyd, energie en geld elders vir eie voordeel en ʼn toekoms.

Om die openbare skole te kan verlaat, moet die leerders en skoolbesoek egter ʼn alternatief hê om na toe te gaan. ʼn Kind se skoolganery kan nie onderbreek word en wag vir politieke skuiwe en gebeure om eers uit te speel of vir ʼn skool om eers stadig beslag te kry tot hy leerders kan ontvang nie. Die alternatief kan beskikbaar kom deur ʼn privaatskoolleefwyse in die gemeenskap se denke in te stel as eerste stap tot verwesenliking. Sonder die verskuiwing in denke sal selfs die beste privaat skool in Afrikaanse gemeenskappe steeds sukkel.

Die skaal wat benodig word, is baie groot in verhouding tot die huidige klein Afrikaanse privaatskoolwese; en daar is tans geen beduidende teken van die beskikbaarheid op groot skaal van die bestuursvermoë vir die omvang van kapitaal en bedryf van sodanige onderneming nie.

Die voordeel van die grootskaalse skielike onttrekking kan wees dat die privaat skole se groei en bedryf baie meer realisties word, en baie onderwysers sal bly wees om weer meer by onderwys (met  minder administratiewe en prosesvoorskrifte) uit te kom tot voordeel van die gehalte en diepte van onderwys. Dis mooi strewes, maar verg ʼn saamhorigheid wat nie daar is nie.

Die Russiese winter-strategie is nie vir Christelik-Afrikaanse onderwys haalbaar nie: die koste en vernuf is een rede, maar iets waarvoor hulp verkry kan word. Die hoofrede is egter die gebrek aan saamhorigheid: dit vereis eendragtige optrede, teen die mag van die gewoonte, die blinde sentiment, teen die tradisie in wat die Afrikaanse gemeenskap tans kenmerk ten gunste van die openbare skole, benewens dat daar ʼn groot element in Afrikaanse skole sit wat nie weerstand wil bied teen die staatsvoorskriftelikheid nie en dit selfs aanprys, en daar is ook ʼn element wat verengelsing en kultuurverandering verwelkom as voordelig vir kinders se toekoms.

Die kapitaalvereistes en die gemeenskapsentiment – en die noodsaak vir verantwoordelike optrede met kinders se onderwys in ʼn situasie waar die alternatief nog nie bestaan nie – wys alles in die rigting van ʼn geleidelike oorgang van openbare onderwys na privaat onderwys vir Christelik-Afrikaanse onderwys. As die oorgang as noodsaaklik beskou word, moet geleidelikheid nie met stadig en traag verwar word nie. Die som van stadig, traag en onwillig is  mislukking, en die mislukking van Christelik-Afrikaanse privaat skole kan die einde van Afrikaanse onderwys beteken.

Die Russiese winter-strategie is geen haalbare en gesonde strategie nie. Wat die beweging van staatskole na privaat skole in beweging gaan laat kom, en hoe die tempo van oorgang versnel kan word, moet dringend beplan word. Tensy ons Christelik-Afrikaanse onderwys maar oorgee aan die staat en hoop vir die beste – dan hoef ons niks te doen nie en kan die beplanning vir die volgende 4×4-toer en die seevakansie die nodige aandag kry.

  • Leonard van der Dussen is betrokke in onderwys as aandeelhouer in Raslouw Onderwys, en hy beywer hom vir akademies verantwoordbare vrye onderwys. Hy publiseer artikels oor onderwys op sy blog www.saonderwys.wordpress.com.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tom ·

Die artikel is in die regte rigting, maar ongelukkig te lank met telkemale herhaling van dieselfde argument. Dit ontspoor die nuttigheid daarvan.

Amanda ·

Ek het al gewonder hieroor. Mens kan n paar huise opkoop en so n skool begin.
Probleem: gaan die staat die skool of kwalifikasie erken? Mens kan die ‘home school’ kwalifikasies dalk gebruik.
Probleem: enige Afrikaanse skool kort n rugby veld.
Probleem: gaan ek (self n juffrou by n privaat skool – gee klas in Engels) die skoolgeld kan bekostig?

Carel ·

Dit blyk vir my dit is moeilik vir mense om in hulle self te erken dat hulle onder druk is van ‘n regering wat nie belangstel in enige regte opleiding nie, maar die beheer van mense. Wil ‘n ouer regtig hê dat hulle kinders se koppe vol nonsense geprop word van mense wat regtig niks weet nie? Dit help nie om jou asem, tyd en geld te mors met mense wat so houding het nie. Kry tussendeur akkredetasie vanaf oorsee en moet nie tyd mors om te stry met ander of onder mekaar nie. Begin ontrek uit die staats omgewing. Hou op om kennis en vaardighede uit te deel aan die wat dit nie wil verdien nie maar pasella wil kry. ‘n Boodskap aan ons onderwysers: Die kennis wat julle so uitdeel word op die ou einde gebruik teen ons kinders sodat hulle nie ‘n lewe vir hulle self kan voer nie. Moenie dink dat jy iets daarvoor gaan kry nie. Sodra jy die kennis , verwante metodes uitgedeel het aan die wat beheer soek maar nie ware kennis nie- word dit geneem en hulle skuif jou op ‘n syspoor. Dit is wat by die kolleges gebeur het in Suid Afrika.

Theuns ·

Herman Toerien het so tyd gelede voorgestel dat ons tegnologie gebruik om Afrikaans en afrikaanse onderig te bevorder! ‘n Stelsel wat op die beginsel van KYKNET werk waar die verskillende kanale vakke verteenwoordig. Die stelsel kan deur bv ‘n ouer aangeskakel en beheer word by privaat huise waar tien of meer kinders onderig ontvang. Elke graad kan by by verskillende huise aangebied word. Die ouer wat soos ‘n klasmoeder optree kan kyk dat discipline gehandhaaf word ens. Die lesings word deur n onderwysers aangebied wat op bv die perseel van Akademia opereer. So stelsel behoort redelik goedkoop te wees en die stelsel maak die Russiese Winter dan moontlik. Daar sal nie nodig wees om duur skool klere te koop nie en baie ander besparings sal ook moontlik wees. Munisipale sportvelde kan gebruik word on kinders in die middag na skool te laat oefen.

Disselboom ·

Daar is ‘n sêding van “doen die een, en laat die ander nie na nie”. Die media-ondderig ens (“tegnologie” as jy wil) kan die basiese lesing-en-leer verskaf, en tot ‘n mate klaskamerwerking. Doen dit dan. Dit vervang egter nie die feit dat ons mense is nie, en nie masjientjies wat kennis moet opdoen nie. Residensiële kampusse vir verskillende doele en vlakke van opleiding is noodsaaklik vir ‘n beskaafde samelewing. Tegnologie-aanwending mag nie ‘n verskoning word om nie eie kampusse op te bou nie. Mense wat alles met tegnologie wil doen, weet nie waar babatjies vandaan kom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.