Rutte stuur op maklike verkiesingsoorwinning in Nederland af

Mark Rutte. (Foto: Sem van der Wal/ANP/AFP)

Die Nederlandse premier, Mark Rutte, sal na alle waarskynlikheid eerskomende Woensdag as die grootste wenner in die Nederlandse verkiesing gekroon word. Rutte, wat reeds sedert 2010 premier van Nederland is, se Volkspartij voor Vrijheid en Demokratie (VVD) gaan volgens byna alle peilings sy huidige 33 setels in die Nederlandse laerhuis (Tweede Kamer) tot tussen 35 en 40 verhoog.

Die huidige tweede grootste party in Nederland, die regse Partij voor de Vrijheid (PVV), sal ook sy seteltelling van die huidige 20 tot soveel as 24 verhoog. Die PVV se kanse om deur die VVD en Rutte vir ʼn toekomstige koalisie oorweeg te word, is egter byna nul, en slegs twee of drie van die 13 partye in die Tweede Kamer is bereid om met die PVV saam te werk.

Die huidige koalisieregering bestaan uit Rutte se VVD saam met die sentrumregse landelike Christen-Democratisch Appèl (CDA) wat in die 2017-verkiesing met 19 setels derde geëindig het. Die ander twee vennote in die koalisie is die links-progressiewe Democraten-66 (D66), ook met 19 setels, en die kleiner, sentrumlinkse Christenparty, die ChristenUnie (CU).

Dit is moontlik dat hierdie vier partye in Woensdag se verkiesing weer meer as 75 van die 150 setels in die Tweede Kamer sal wen om dus saam die Rutte-4-regering te vorm, maar dit is onseker of Rutte self die huidige koalisie wil voortsit. Die grootste verloorder van die vier sal D66 wees wat waarskynlik soveel as vyf tot ses van sy setels gaan verloor. Die CDA gaan volgens peilings redelik stabiel bly en weer naby aan 19 setels verower, en die ChristenUnie kan sy huidige vyf setels moontlik tot ses verhoog.

Sewe-en-dertig partye sal aan die verkiesing deelneem en meeding om die 150 setels in die Tweede Kamer. Volgens peilings kan soveel as 17 partye tot die Tweede Kamer verkies word. Hierdie toenemende versplintering van politieke partye bring mee dat dit al hoe moeiliker raak om ʼn meerderheidskoalisie saam te stel. Indien die CDA ook swakker vertoon, sal die VVD se groei nie vir die verlies aan setels van die CDA en D66 kan opmaak nie en sal die huidige koalisie nie herhaal kan word nie.

Voordat Rutte in 2006 leier van die party geword het, was die VVD by min geleenthede die grootste party van Nederland gewees. Sedert 2010 is die party egter deurlopend die grootste party, en die party se verkiesingsveldtog ry vanjaar ook op die golf van Rutte se persoonlike gewildheid onder veral die hoër middelklas en ryker Nederlandse kiesers, wat insluit sakelui en kiesers wat veral op ekonomiese sake fokus. Die VVD is op Europese vlak deel van die liberale groepering van partye, maar hoewel die VVD ten gunste van ʼn liberale ekonomiese beleid is, insluitende vrye handel, laer belasting en minder regulering, word die party op verskeie terreine ook as gematig konserwatief beskou. Dit het onder Rutte se leiding ʼn soort “groot-tent-party” geword.

Die PVV het in 2017 se verkiesing hoofsaaklik op immigrasie gefokus, veral ná die immigrasiekrisis in Europa in 2015 en 2016. Hoewel die party ekstra setels gewen het en die tweede grootste party in Nederland geword het, was daar heelwat kritiek teen die party se verkiesingsveldtog. Die PVV se verkiesingsmanifes het in 2017 uit slegs een bladsy bestaan en was hoofsaaklik ʼn populistiese anti-immigrasie-boodskap. Vanjaar het die party ʼn omvattende verkiesingsmanifes van sowat 50 bladsye wat op die meeste belangrike politieke kwessies fokus. Die party se leier, Geert Wilders, het ook baie goed in verskeie verkiesingsdebatte presteer en daar word algemeen aanvaar dat die party goed gaan vaar in Woensdag se verkiesing. Die PVV geniet veral steun onder die werkersklas in Nederland, persone met lae opleidingsvlakke en armer mense wat oor sake soos gesondheidsorg, pensioen en behuising bekommerd is.

Geert Wilders. (Foto: Bart Maat/ANP/AFP)

D66 is ʼn elitistiese, stedelike party van links-progressiewe en niegelowige kiesers wat veral ten gunste van groter Europese integrasie is. Die party geniet baie steun op universiteite, onder akademici, in die senior poste van die staatsdiens en by nieregeringsorganisasies.

Partye wat ook in vanjaar se verkiesing dopgehou moet word, is die Forum voor Demokratie (FvD) van Thierry Baudet, die Staatkundig Gereformeerde Partij (SGP), waarmee Afrikanerorganisasies reeds sterk bande het, en nuwe partye soos nog ’n regs-populistiese party Ja21, ʼn afsplitsing van FvD, en Code Oranje, ook ʼn afsplitsing van FvD.

Aan die linkerkant van die politieke spektrum word verwag dat GroenLinks, een van die mees progressief-linkse partye in Nederland, steun gaan verloor. Die Socialistische Partij (SP), wat in 2017 goed gevaar het en wat die opvolger van die Kommunistiese Party van Nederland is, gaan ook heelwat setels verloor. Die Partij van de Arbeid (PvdA) wat in 2017 ʼn historiese laagtepunt bereik het toe die party net nege setels kon wen, sal gedeeltelik herstel en kan drie tot vyf setels bywen. Die PvdA was van ná die Tweede Wêreldoorlog tot met die 2012-verkiesing een van die drie grootste partye in Nederland en het gereeld regerings gelei. Die party het in 2012 se verkiesing 38 setels gewen, maar het sedertdien net agteruit geboer en baie steun aan linkse partye en populisties-regse partye soos die PVV afgestaan.

Twee jaar gelede is ʼn mosie in die Tweede Kamer teen grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika aanvaar. Die VVD, PVV, CDA, ChristenUnie, 50+, SGP en FvD het ten gunste daarvan gestem en die mosie is goedgekeur. Daar was die afgelope paar jaar ʼn toenemende bewustheid in Nederland, ook in die Tweede Kamer, van uitdagings met misdaad (insluitende plaasveiligheid en plaasaanvalle), korrupsie, diskriminasie teen Afrikaners en Afrikaans, en kommerwekkende inisiatiewe soos die beplande grondonteiening sonder vergoeding. Die Nederlandse verkiesing het dus ook implikasies vir Suid-Afrika en die mate waartoe die Nederlandse regering sal aanhou om druk oor relevante sake op die Suid-Afrikaanse regering te plaas.

Nederland sal Maandag en Dinsdag vir die eerste keer in die geskiedenis vroeë stemme toelaat met stempunte wat op dié twee dae weer oop sal wees. Verskeie maatreëls is getref om te verhoed dat die virus deur stemlokale versprei. Dit sluit in dat potlode wat gebruik word om mee te stem, byvoorbeeld, in sommige dorpe en stede net een keer gebruik en daarna weggegooi sal word. Die uitslag van die verkiesing word Woensdagaand verwag, maar dit kan weke, of selfs maande, neem om ʼn nuwe koalisieregering saam te stel wat moontlik weer uit soveel as vier of selfs vyf partye sal moet bestaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Therese ·

Wanneer die tweede grootste party in ‘n land herhaaldelik geen sitplek by ‘n koalisie-tafel gegun word nie, is dit myns insiens nie ‘n ware demokrasie nie maar ‘n ‘baster-demokrasie’.
‘n Werkersklas wat só ignoreer word, veral in ‘n land wat heftig teen Apartheid betoog het, kan met reg ontstoke voel.

Vrijburger ·

Goeie nuus om te hoor daar is in Nederland ‘n toenemende bewustheid oor plaasmoorde, korrupsie, rasse diskriminase teen Afrikaners, grondonteining ens.
Dink ek ook by myselwers – ons het hierdie wonderlike joernalis & historikus wat in Nederland bly, wonder of hy sy joernalistieke talente ook aanwend in Nederland om hierdie boodskap uit te dra? Of deel hy nie ons “oorlewingsvrees’ omdat hy nie in Suid-Afrika woon nie?

Therese ·

Vrijburger,
Die bedrywigste oud-Suid-Afrikaner in Nederland is ongelukkig ene Johan “Sloet” de Villiers van African-European Indaba(AEI).
Of hy steeds die haat-vure stook, weet ek nie, maar tot redelik onlangs is enige uitreikingspogings deur Solidariteit e.a. soos Steve Hofmeyr geesdriftig in die wiele gery deur die AEI.
Hopelik begin die nodige liggies vir hom ook flikker, soos vir ‘vriend’ Max du Preez.

Eden ·

Vryburger se kommentaar verwys. Jaco, alles goed en wel om al die verskillende partye op te noem ens, maar wat is die implikasie vir ons Afrikaners? Martin Bosma van die PVV is bv pro-Afrikaner en doen baie moeite om die Nederlanders in te lig oor plaasmoorde. Daar is ook bv. baie steun in die Tweede Kamer vir Afrikaners en teen plaasmoorde. Hoe kan ons die goeie trou benut en hoe gaan die verkiesing daarop impak maak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.