Rwanda bloei nie meer inwendig nie

Pres. Paul Kagame van Rwanda (New York 2010) Foto: David Shankbone (VSA) via Wikimedia Commons –

Deur Jeannette Gnade

In ʼn tyd waarin sogenaamde polities bevryde lande soos Suid-Afrika vasklou aan kwessies soos apartheid, kolonialisme, menseregte en rassisme om hulle eie onbevoegdheid en nuwe bestaanstryd te verberg, onderskei Rwanda hom as ʼn land wat toenemend saam met die wêreld kan praat.

Pres. Paul Kagame het pas die eerste Afrikaleier geword om Amerika se grootste Israel-gesinde forum in Washington toe te spreek. Hy het aan die Amerikaans-Israelse Komitee vir Openbare Sake, AIPAC, gesê die Joodse staat was waarskynlik Rwanda se grootste inspirasie in die land se heropbou ná die menseslagting van 1994. Hy vergelyk dit met Israel se suksesvolle vestiging en ontwikkeling selfs ná die gruwels van die Jode-slagting. Hy het ook Rwanda se vriendskapsbande met Israel bevestig.

Kagame sê Israel het nie net bestaansreg nie, maar ook die reg om ʼn volwaardige lid van die internasionale gemeenskap te wees. Kagame regeer per gewysigde grondwet sedert die jaar 2000, en kon daarin slaag om die reuse-konflik tussen die Tutsi’s en Hutu-ekstremiste hok te slaan en Rwanda in ʼn suksesverhaal te omskep.

Hy sê die sekuriteit en veiligheid van mense wat eens vir uitwissing bestem was, kan nie uitsluitlik fisiek wees nie. Volgens hom sal die wêreld nooit regtig veilig wees as daar steeds ideologieë bestaan wat moord as ʼn patriotiese plig bejeën nie.

Sommige regerings en politieke bewegings op die vasteland kan hulle net met die Palestynse stryd vir ʼn eie staat vereenselwig. Hulle beskuldig Israel van apartheid en kolonialisme en kan maar net nie vergeet dat die Israeli’s Suid-Afrika se apartheidsbestel bygestaan het in die moeilike sanksiejare nie. En tog het Israel se aktiewe diplomatieke betrokkenheid asook tegniese en ekonomiese samewerking met sleutelspelers soos Rwanda, hom al baie vriende op die vasteland besorg.

Premier Benjamin Netanyahu sal later vanjaar minstens 30 Afrikaleiers tydens ʼn beraad in Togo toespreek. Dit is van groot belang vir potensieel vooruitstrewende Afrikastate om bande met ʼn wêreldland op die gebied van tegnologie te vestig.

Israel is ook ʼn leier op militêre gebied en een van die grootste uitvoerders van militêre toerusting. Israel en Rwanda is nie alleen bondgenote nie, maar steun sterk op Amerika, hoewel albei lande al Washington se geduld onder die Obama-administrasie tot die uiterste beproef het.

Kagame is van toenemende outokrasie beskuldig en Netanyahu is gereeld berispe oor Israel se voortgesette uitbreiding in die Palestynse besette gebiede. Pres. Donald Trump openbaar tot dusver ʼn meer gematigde houding teenoor Rwanda en Israel en albei lande hoop op ʼn hegte vriendskap met die VSA. Israel hou vol dat ʼn vredesooreenkoms met die Palestyne net bereik kan word deur regstreekse onderhandelings en nie deur diplomatieke druk van buite nie. Rwanda steun dié standpunt ten volle. Die land het immers die gevolge van sy bloedige volksmoord op eie stoom oorwin. Dit is verfrissend om ʼn Afrikaleier teë te kom wat buite die grense van die rewolusie kan dink.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Paul lek Israel blink vir… nog geld. En baie van sy burgers bly in Israel omdat hulle die Joodse geloof glo ‘aanhang’ en glo hulle is van Joodse afkoms. Baie gelieflik… Afrika het baie trieks om te kry en te kry en te…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.