SA is op die rand van ʼn kernkrag-afgrond

kernkrag-hof-2

Omgewingsaktiviste buite die Wes-Kaapse hooggeregshof in April 2017. Foto: Catherine Rice/ANA

“Suid-Afrika is op die rand van ʼn afgrond waar dit lyk of kor­rup­sie el­ke hoe­kie van die sa­me­le­wing ge­ïn­fil­treer het.”

Dis nie die kommentaar van ʼn regse bitterbek nie. Dit was die woorde van regter Selby Baqwa toe hy die soveelste vonnis teen korrupsie in die Pretoriase hooggeregshof bekragtig het. Ergste is, die man is reg . . .

Die SA Inkomstediens het verlede jaar ʼn insamelingstekort van R50 miljard gehad en ons skuld het van 42% van die BBP tot 50% gegroei. Dit, en al die miljarde rande weens korrupsie en agterstande kan net tot aansienlike belastingverhogings lei. Maar die ANC het nieteenstaande planne om seshonderd miljard rand (ander berekeninge plaas die syfer op eenduisend miljard) êrens uit te krap vir nuwe kernkragstasies.

En dit terwyl ons (a) nie die krag nodig het nie en reeds met ʼn Eskom-oorskot van 10% sit en (b) daar internasionaal sterk stemme opgaan teen die nadele van kernkragstasies.

Daar gaan nie ʼn dag verby sonder berigte van wanbesteding en korrupsie in staatsentiteite nie – dis net die vlakke en die bedrae van goue handdrukke en onwettige tenders wat aan kaders uitgedeel word wat wissel.

Johannesburg

Johannesburg, wat ná 23 jaar van ANC-wanbestuur bevry is, het volgens die burgemeester, Herman Mahaba, net R10 miljard van die R170 miljard wat oor die volgende dekade nodig gaan wees om die stad van “algehele ineenstorting” te red. Meer as 2 000 sake van korrupsie van meer as R16 miljard word ondersoek.

En sommer terloops: In Kaapstad heers bende-oorloë in die townships. Tot ambulanse word gekaap. Polisie weier om paramediese werkers te vergesel omdat dit lewensgevaarlik is . . .

En dis maar die oortjies van die seekoei, want verreweg die grootste getal munisipaliteite is wanfunksioneel en diep in die skuld met onder meer paaie, kragnetwerke, waterpype en rioolwerk wat in duie stort. Reeds in 2013 is aangedui dat net 10% van die 824 rioolaanlegte gesuiwerde water lewer.

Dié verslag het gesê 50 000 liter onbehandelde riool word elke sekonde in ons riviere losgelaat. Munisipaliteite bestee 1% van die 10% wat vir suiwering opsygesit is, en dan word dit deur apatiese en onopgeleide pesoneel met onvolledige handboeke verrig.

Nou voel hierdie skrywer hy moes lankal ook oor goeie nuus geskryf het, en daar ís wel goeie nuus: 50 renosterstropers is vandeesmaand in hegtenis geneem.

Argieffoto: GCIS

Meer werkers, minder produksie

Terug by die slegte nuus. Kom ons laat maar die ander bloedsuiers soos die SAL buite rekening en konsentreer op Eskom. Die Organisasie teen Belastingmisbruik (met die ironiese akroniem Outa) sê Eskom se arbeidsmag het die afgelope dekade met 46% toegeneem, terwyl die produksiesyfers met 32% gedaal het.

Marc Pickering, voorsitter van die SA Windenergievereniging (Sawea), se bydrae is dat Eskom tot R17 miljard kan bespaar sonder die verhoging van tariewe: Hy moet net drie ou steenkoolstasies sluit en nie die laaste van twee eenhede van die Kusile-stasie voltooi nie.

Pickering sê die goedkoper kragopsie is groenkrag, wat reeds goedkoper is as steenkoolkrag. Nordex Acciona Windpower sê een oplossing is kleinskaalse windkrag. Die 64 aanlegte wat reeds gebou is, het sowat 60 000 werksgeleenthede geskep.

Dis nou vir wanneer ons ekstra krag nodig het en nie reeds met ʼn oorskot sit nie.

Staatskaping is ʼn nuwe woord in ons leksikon en is wesenlik ʼn vorm van sistemiese korrupsie waarin private belange ʼn groot invloed het op regeringsbesluite en dit vir hul eie gewin aanwend (vir seker ook tot die voordeel van die regering en sy kaders). Korrupsie in Eskom is reeds deur drie hoëprofielverslae uitgewys.

sonkragpaneel-kernkrag-elektrisiteit

Foto: Skeeze/Pixabay.com

Reaktors in die ontwikkelde wêreld sluit

Suid-Afrika wil voortstorm met ʼn program vir kernkragstasies, terwyl die ontwikkelde wêreld sy rug al meer daarop draai:

♦ Duitsland wil al sy kernkrag teen 2022 uitfaseer.

♦ Frankryk, eens voor in die koor vir kernkrag, wil 17 reaktors teen 2025 sluit.

Dis hoekom die oprigters van sulke geriewe hulle nou tot ontwikkelende lande wend. As Suid-Afrika volhou met sy program, kan dit tot 15 jaar duur vir voltooiing. Die uiteindelike dekommissie van kernkragfasiliteite kan dieselfde kos as die konstruksiekoste. Waar sal hierdie geld vandaan kom?

Twee ministers van finansies wat geweier het om af te teken aan enige kernkragooreenkoms is in verdagte omstandighede uit hul poste ontruim. Die nuwe een, Malusi Gigaba, het die planne glo in die bek geruk, maar die minister van minerale hulpbronne, Mosebenzi Zwane, sê hy sal die meerderheidstem volg en die program ondersteun.

Hopelik verdwyn hierdie meerderheidstem ten gunste van kernkrag saam met Jazob Zuma as president van die land.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Veritas ·

Wat hier gebeur is maar net dieselfde as wat in Zimbobwe gebeur het. Sodra jy die politieke mag het, vergeet jy van die land se belange en stel jou eie eerste. Om een of ander onverklaarbare rede, gebeur dit in feitlik elke Afrika-land.

CG ·

Hoekom so bekommerd? Die kontrak vir die kernaanlegte sal sekerlik met Held Poetin gesluit word. Hy sal verseker dat daar geen korrupsie voorkom nie en dat ons land se beste belange op die hart gedra word.

gatiep ·

CG glo jy regtig n wit man Putin is n held vir die ANC?
Gaan kyk op utube Putin se aankoms in SA. Glo nie hy sal oot weer SA toe kom nie nadat sy lyfwagte vasgesit het met ons SAL wagte.

Ai tog ! ·

Rusland het met VERSKUILDE AGENDA die tender gekry DEURSIGTIGHEID BESTAAN NIE want die kabinetministers kannie en WIL NIE op vrae antwoord nie. SIES ALS STINK VAN DIE BEDROG.

Koos1 ·

Vergeet van bedrog en korupsie (want dit is al deel van elke regeringstrasaksie!). Hierdie is dood eenvoudig “Payback”. Wie het die ANC gesteun tydens hulle geveg teen apartheid? Angola, Kuba, Mosambiek ens., en wie het die lande gesteun? Rusland. Rusland eis eenvouding net hulle happie van die koek op, en wil ‘n houvas op ons land kry as ons nie kan betaal nie.

Eish ·

Met n paar kapasiteitsgestremde kaders aan die bestuur, totaal ge BEE de werksmag, n geafrikaniseerde leerplan, gaan dié affêre Life Ensidemi na n teepartytjie laat lyk.

John ·

Daar is vroeer gese ons gaan korrelbedatoomkragstasies bou wat glo nog net in teorie bestaan (?). Indien dit waar is, gaan ons nou die proefkonyn word en dan sommer ook met die hulp van die Gupta-uraanmyn, sulke korrels/balle vervaardig vir uitvoere na dwase lande…. dalk ook atoombomme vir Oosterse en ander lande wat dit benodig/verontreg-was-a-la-Zuma. Hierdie draak het meer om die lyf… Die NK-godjie het dalk reeds ‘n bestelling geplaas ea… Watter lande het geld om rond te gooi… dink… dis die mense wat ons atoombedryf gaan finansier. Pres Zuma se kop is reeds op ‘n ander planeet… Wil hy he ons s’n moet volg?

Basson ·

Ja die ‘Korrelbed-sage’
Baie dinge het agter die skerms plaasgevind om dit te kelder, ‘n boek as’ t ware op sy eie, reg in die kraal van JZ en kie se nalatenskap.

Johann Holtzhausen ·

Al hierdie groot projekte het ‘n “kick back”. Dis hoekom die kernkragplanne so gestoomroller word. Suid-Afrika het genoeg elektrisiteit vir die huidige industriee. Die arme huisverbruiker moet deur sy nek betaal vir krag terwyl die groot spelers “goedkoop krag” koop.
Die regering het geen belang by skoon lug en waterbronne ens. nie en het geen simpatie met die man in die straat nie. Indien hulle wel die belange van Jan Alleman op die hart gedra het, sou hulle lankal ‘n subsidieskema of soortgelyk aangekondig het waar dit vir ALMAL moontlik sou wees om bv sonkraginstallasies tuis te kon he. Dis iets wat werk al is dit nie perfek nie. Ten minste kan Jan Alleman dan asem skep wat betref sy elektrisiteitsuitgawes elke maand en liewer ‘n kleiner maandelikse bedrag terugbetaal aan die finansiele instelling wat die sonkragstelsel finansier. (Vir die huiseienaar kan dit ‘n klein bykomende bedraggie op sy verband wees).
Probleem: Nou word die regering en sy amptenary grootliks ontneem van ‘n korrupte inkomste en daarom word die reels vir sonkraginstallasies al hoe strenger met die verskoning dat dit die ESKOM- stelsel sal destabiliseer, wat natuurlik bog is. Australie het dit bewys. Die son behoort nie aan die staat nie, mense, so moenie toelaat dat ons ook op hierdie wyse geboelie word nie! Doen die somme en doen jou ding!
Groete!

Johann Holtzhausen ·

Kernkrag en gesentraliseerde opwekking van elektrisiteit maak dit baie duurder as wat nodig is (bo en behalwe die nadele van kernkrag). Indiwiduele sonkrag per huishouding behoort die fokus te wees (deur subsidie of langtermyn terugbetalingsmetodes) om die man op straat te help teen die verskriklike wegholkostes van Eskom se elektrisiteit, veral vir die privaatverbruiker.

John ·

‘n Gewone kernkragsentrale word nie in ses maande opgerig nie… Buiten dat dit jare verg, kos dit en die eskaleer dus astronomies. Sou die korrelbedtipe verkies word om die oprigtingstyd te verkort sal dit steeds lank neem… tensy dit afgejaag word (brrr!). Daar is bespiegel dat die sg korrelbed-droommodel sommer by die kafee op die hoek langs die parkvisdammerjie kan staan en elke 3 mnde word die korreltjies deur die munisipaliteit weggery na erens… nie te ver weg nie…

Nita ·

Die regering kan nie eers rioolplase behoorlik bestuur nie. Hoe wil hulle kernkragsentrales bestuur?

Vermeende ·

Org Potgieter, wie sien jy nogal as hierdie “REGSE BITTERBEK”
Is dit nie juis hierdie bitterbekke wat so baie gewaarsku het oor die NSA nie?
Julle liberaliste huil nou erger as die bitterbekke van ouds, kyk om jou rond LIB soos alles nou lyk en hoe die toekom daarna uitsien, dit is die werk van liberaliste soos jy so moenie kla nie, dis wat julle voor baklei het, of is hierdie klaagtoon van julle maar net omdat julle nie julle sin kry nie?

Joe Hall ·

Regse Bitterbekke is altyd die ouens wat nie dieselfde standpunte as die liberales s’n wil aanvaar nie.

Therese van Schalkwyk ·

“Regse bitterbek” is ‘n ongelukkige woordkeuse wat meer in die drie ‘susterkoerante’ tuishoort as in hierdie puik artikel.
So asof regter Selby Baqwa die reg het om ‘n korrupte SA te kritiseer, maar ‘n ontnugterde realis nié.

CT ·

Bou n 35 voet muur om Zimbabwe ( staal struktuur )en sit sonpanele bo op muur so kan jy son krag aan die land voorsien en al die ongewenste elemente uithou dit gaan baie minder kos as die 1 triljoen wat hul vir kern krag wil betaal

Johanna Botha ·

Hoe koop jy iets sonder geld en wie leen jou geld as jy platsak is soos SA …so waar kom die geld vandaan ?

Casper Labuschagne ·

Die beriggewing oor die munisipale agteruitgang is korrek. En ons keuses is om of met hierdie postkoloniale verval saam te leef, of te emigreer. Ongelukkig wil die huidige regeerders van die land en munisipaliteite ons nie toelaat om dinge reg te stel nie vanwee ons wit velkleur. Die derde alternatief is dus selfbeskikking, want ons het die vernuf om ‘n vooruitstrewende samelewing te skep sonder hierdie verval.

Daar word reuse vordering gemaak met klein modulêre kernkragaanlegte en die soort kernkrag is myns insiens die pad vorentoe, maar verseker nie die soort kernkragaanlegte wat ons landsregeerders beoog nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.