SA jeug se toekoms: Anderkant woede

kinders

Foto: Argief.

Tydens die  Zuid-Afrika-avond van Vlaamse kultuurorganisasies in Sint Niklaas, België, was die bekommernis oor die politieke en ekonomiese toekoms van Suid-Afrika opvallend. Ledy Broeckx, voormalige hoofleier van die Vlaamse Nasionale Jeugverbond (VNJ) het gevra of ek werklik glo dat Afrikanerkinders steeds ’n toekoms in die land het.

Haar vraag het my onkant betrap. Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Die vorige dag het Die Voortrekkers een van ons lede in Port Elizabeth begrawe. Hy is aangeval, beroof en het ná 18 dae weens komplikasies gesterf. Charl Meyer was ’n murg-en-been-Voortrekker. Charl was nie ’n kantlyn-mens nie, maar ’n koershou-mens. Hy was ’n kompas wat ideale en waardes uitnemend aan ons kinders voorgeleef het. Charl was ’n kan-mens wat baanbrekerswerk gedoen het om selfbehoudkampe volhoubaar  in die Oos-Kaap te vestig. Hier het hy sy liefde vir die veld en respek vir die natuur aan jeuglede oorgedra. In ’n tyd van groeiende polarisasie was Charl met sy rustigheid, waardigheid en integriteit in sy gemeenskap ’n brugbouer en waardedraer. Ons gebroke land het mense soos Charl broodnodig. Charl se dood het ons geruk, verslae gelaat. Dit is met goeie rede dat ons woedend is oor misdaad en geweld wat nie net Die Voortrekkers nie, maar Port Elizabeth en Oos-Kaap van ’n steunpilaar beroof het.

Emosies soos woede mag nie met ’n geveinsde vroomheid weggepraat, of met ’n optimistiese Colgate-glimlag ontken word nie. Woede vra eerder ’n eerlike erkenning en nugter hantering daarvan. Woede kan destruktief wees. Dit kan breek en vernietig. Woede kan kwets en seermaak. Woede kan ook isoleer en deelname aan gemeenskaplike sake verlam. Tjaart du Plessis, kommandoleier van die Kranskop Voortrekkers in Nylstroom, skryf:

 “Die deursnee-Afrikaner van vandag:

  • wil graag hê sy kinders moet in ’n goeie skool wees, maar nie by die skool betrokke wees nie;
  • wil graag in ’n veilige omgewing bly, maar nie buurtwagpatrollies ry nie;
  • wil sy kinders na ’n Afrikaanse universiteit stuur, maar dra nie by tot Akademia nie en dring nie aan op die behoud van Afrikaans by bestaande universiteite nie;
  • kla oor die stukkende paaie, maar wil nie help slaggate regmaak nie;
  • kritiseer graag, maar doen niks.

“Ons grootste probleem is nie die regering óf die president nie, maar ’n apatiese kultuur van wag dat iemand anders dit vir my doen.”

Woede kan ook positief wees. Ons grootste probleem is nie die regering óf die president nie, maar ‘n apatiese kultuur van wag dat iemand anders dit vir my doen.

Woede gemik teen geweld, vernietiging van kulturele erfenis, onreg, diskriminasie, korrupsie, misdaad en taalonderdrukking het die potensiaal om mense te motiveer tot aktiewe deelname aan opbouende prosesse. Charl se ontydige en tragiese dood vra van Die Voortrekkers en elke vredeliewende Suid-Afrikaner om nie op die kantlyn te staan nie, maar  as aktiewe burgers op te staan teen alles wat Suid-Afrikaners van ’n positiewe toekoms beroof.

Positiewe burgerskap is vir Die Voortrekkers aktiewe burgerskap deur diensbaarheid. Ons wese sê dit ook: “Die Voortrekkers is ’n kultuurbeweging wat die eietydse Afrikaner, in besonder sy jeug, bemagtig om as positiewe burgers en konsekwente Christene suksesvol te wees in hul roeping tot diens.”

Diensbaarheid is nie vir Die Voortrekkers ’n vae konsep of ’n oppervlakkige maatskaplike benadering nie. Afrikaners het met ’n gesindheid van diensbaarheid en ’n troffel in die hand armoede oorwin, kerke, skole en universiteite gebou, lande geploeg, harte oorgeplant, nuwe horisonne ontdek, grense geskuif. Dit is in die gees van diensgerigtheid en diensvaardigheid waarmee Die Voortrekkers prakties inhoud aan Christenskap, burgerskap en Afrikanerskap gee.

  • Deur diensbaarheid bou ons met opgerolde moue brûe met dade van omgee en naasteliefde.
  • Diensbaarheid beteken dat ons nie vir ander wag om leiding te neem nie, maar selfverantwoordelikheid neem om ons taal en kultuureie in beskerming te neem en daarvoor te sorg.
  • Dade van diensbaarheid, hoe gering of klein ook al, gee hoop vir die toekoms.
  • ’n Diensbare hart veronderstel ’n nederige wegkyk van die eie ek waar daar geen plek is vir hoogmoed of selfsug nie. Diensbaarheid vra harde werk, opoffering, toewyding, maar bowenal deursettingsvermoë.

In die vroeë Christelike kerk het ’n onbekende martelaar in ’n brief aan die niegelowige Diognetos die volgende oor Christene se burgerskapbeskouing getuig:

“Die onderskeid tussen Christene en die res van die mensdom is nóg in landstreek, nóg in taal, nóg in gewoonte geleë. Hoewel hulle die plaaslike gewoontes navolg, in kleredrag, voedsel en alledaagse lewenswandel, vertoon hulle die unieke aard van hulle eie burgerskap:

  • Hulle woon in hulle vaderland, maar soos bywoners.
  • Hulle het as  landsburgers deel aan alle dinge, maar verdra dit soos vreemdelinge.
  • Hulle vertoef op aarde, maar het burgerskap in die hemel.
  • Hulle trou soos alle mense, hulle verwek kinders, maar gooi nie hulle kinders weg nie.
  • Hulle deel hulle tafel, maar nie hulle bed nie.
  • Hulle gehoorsaam die wette van hulle regerings, maar oorwin die wette deur hulle lewenswyse en liefde.
  • Hulle het almal lief, maar word vervolg.
  • Hulle is arm, maar maak baie mense ryk deur diensbaarheid.
  • Hulle het gebrek, maar het tog alles in oorvloed.
  • Hulle word belaster, maar hulle seën.
  • Hulle word beledig, maar hulle betoon respek.
  • Terwyl hulle aan ander goed doen, word hulle as boosdoeners gestraf.

“Deur die Jode word hulle beveg en deur die Grieke vervolg, maar die haters kan nie die oorsaak van hulle haat noem nie.”

’n Koninkryksgerigte burgerskapbeskouing stel ons in staat om anderkant die vernietiging, verlamming en isolasie van woede te tree en met toekomshoop diensbaar te leef.

Terug na Ledy Broeckx se vraag of Afrikanerkinders ’n toekoms in die land het. My eerlike antwoord is: Ek weet nie. Dit is miskien ook arrogant om namens ons kinders die vraag te beantwoord. Die vaste en seker toekomsantwoorde wat ons as kinders van grootmense gekry het, het nie werklikheid geword nie. Dit is ’n vraag wat elke geslag kinders vir hulself moet beantwoord. Volwassenes het wel die verantwoordelikheid om vandag deur aktiewe betrokkenheid aan gemeenskapsinstellings vir ‘n beter toekoms te werk en saam met hulle kinders oor toekomsantwoorde te dink, maar moet ruimte aan die volgende geslag gee om eie toekomsantwoorde te formuleer en self daarvoor verantwoordelikheid te aanvaar.

Wat ek  wel seker weet, is dat die toekoms nie aan die ANC, die EFF, die DA of enige ander politieke party, groep of organisasie behoort nie. Die toekoms behoort aan die Here. Dit is die Here wat ons in hierdie land as koninkryksburgers roep om sy fakkeldraers te wees.

Ek weet ook dat die land nou diensbare jong leiers broodnodig het.

  • Jong mense wat as diensbare leiers die voortou neem om met nuwe denke, nuwe woorde en omgeedade hoë berge te oorwin, deur diep riviere te swem en nuwe lande in klipperige grond te ploeg.
  • Jong mense met selfvertroue wat nie op die kantlyn staan of hulle isoleer in ’n eie klein private wêreldjie nie, maar deur hulle aktiewe deelname hulle skool en omgewing beïnvloed met waardes wat werk.
  • Jong mense vir wie roeping tot diens die ware noord is waarmee hulle koershou na die toekoms.

Dit is die soort jong mense wat ek in Die Voortrekkers ontmoet.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan 2 ·

Geagte Mr Tjaart, solank as wat ek 10, 12 of 14 uur dae werk om 60% van my inkomste aan belasting te betaal gaan ek aandring op diens by die regering en sal ek by hulle kla oor alles waarvoor hulle betaal word sonder om dit te doen. Begin n aksie waar ons belasting kan weerhou en ek maak saam jou die pad reg….maar nie sodat n oorbetaalde “komrade” erens in sy duur motor kan sit en nog minder doen nie, jammer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.