SA klug: Genoeg is genoeg

gebed-hande-bybelstudie

Foto: Godsgirl_madi/Pixabay.com

Deur Jannie Pelser

In Suid-Afrika swaai ʼn mens soos ʼn pendulum tussen angs en sekerheid, na aanleiding van ʼn boek met gelyknamige titel wat jare gelede deur Ferdinand Deist geskryf is.

ʼn Mens is nie aldag seker of jy moet lag of huil nie, maar wil tog met die opmerking van parlementslid Mike Waters van die Demokratiese Alliansie (DA) met betrekking tot die SABC en die verkwisting van nagenoeg R5,1 miljard saamstem. Ek haal aan:

Democratic Alliance (DA) MP Mike Waters said the 82-page report “has all the ingredients of a Shakespeare tragedy, from treachery, corruption, deceit, intimidation, abuse of power, trickery and sheer greed”… “The main characters in this tragedy are the Minister of Communications, Hon Faith Muthambi and Mr Hlaudi Motsoeneng, likened to Lady Macbeth and Lord Macbeth, with the journalists and staff being the victims.”

Net maar dat binne die Suid-Afrikaanse konteks die belastingbetaler, die armes en die armstes aan die kortste end trek.

Dan weer herinner dit aan ʼn klug. ʼn Klug is nog ʼn vorm van komedie wat totaal laf is ná die gelyke van “my boetie se boetie se baba” en ander soortgelyke opvoerings wanneer Collins Letsoalo, voormalige waarnemende uitvoerende hoof van Prasa, homself ʼn 350%-salarisverhoging gee.

Die fiasko met die uitbetaling van toelaes aan randfigure in ons samelewing en die onprofessionele optrede van die geagte minister laat ʼn mens vra of hierdie mense enige noemenswaardige kwalifikasies of ervaring het vir die portefeuljes wat hulle beklee.

As ʼn mens verder in ag neem dat 17 miljoen mense hiervan afhanklik is en daarmee saam lees dat die werkloosheidsyfer toe ek laas gehoor het so om en by 22% was, beteken dit dat ʼn beduidende deel van die Suid-Afrikaanse bevolking ekonomies onaktief is.

Die implikasie daarvan is enorm en lewer kommentaar op die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie wat deesdae die gonswoord geword het.

Intussen maak ons staatspresident volgens sommige berigte hom gereed om tot 2019 staatspresident van Suid-Afrika te wees.

Mag die Here ons daarvan bewaar.

Daar is nie ʼn staatsdepartement wat nie in die moeilikheid is nie. Dis een hofsaak en ondersoek ná die ander en hier en daar is daar ʼn flikkering wat aandui dat wet en orde dalk tog nog werk in Suid-Afrika.

Grondonteiening het nou ʼn belangrike saak geword vir ons populistiese staatspresident wat stil-stil die EFF se agenda oorgeneem het.

In die afgelope dae word nagenoeg R25 miljoen wat vir ʼn oorsese land gewaarmerk is te midde van streng sekuriteit onder die oë van amptenare gesteel deur beamptes na bewering geklee in polisie-uniforms en met die rugsteun van polisievoertuie. Wie se geld is dit en vir wie is dit gewaarmerk?

Dis nie ʼn onbelangrike vraag nie.

Die waarheid het ʼn snaakse manier om aan die lig te kom.

Matthews Phosa, gerespekteerde politikus en lid van die parlement, skryf onlangs onder die opskrif “Enough is enough” in ʼn artikel (Sunday Independent):

In every politician’s life there is a Damascus moment, and in some cases, more than one. I had a Damascus moment this year at the opening of Parliament … As I sat in the public gallery, the words that Alan Paton wrote 70 years or so ago kept repeating themselves in my head: ‘Cry the beloved country, cry the beloved country, cry the beloved country!’ Good men cannot be silent in the face of evil. Silence is connivance.”

Waar dan heen?

Tot U alleen!

Ek praat met baie mense. Radio Kansel saai Sondagmiddae ʼn uur lange Toekomsvenster uit waarin ek tot dusver my 100 gesprekke versorg het. Ek praat met rolspelers op verskillende terreine van die samelewing maar veral dominees en pastore. Nadat ons mekaar beter leer ken het, vra ek sonder uitsondering na hulle perspektief wat die Suid-Afrikaanse situasie betref. Ek was tot by die laaste program ongeveer die enigste wat by ʼn punt van ongekende frustrasie en geheiligde opstand gekom het.

Bykans sonder uitsondering is hulle positief oor die toekoms en hoopvol dat dinge gaan verander. Probleme was altyd daar, word gesê. Dit was nie anders in Jesus se tyd nie. Leef die negatiewe dood, wees getrou in jou klein hoekie, doen wat jou hand vind om te doen, vertrou die Here. Hy is die “wounded Healer”. Hy werk langsaam en ongemerk. In stil wees en vertroue lê julle heil.

Natuurlik is dit ʼn goeie antwoord. Dit het ʼn sterk geloofsgrondslag en sluit by die lydende kneg van die Here aan wat sy lewe te midde van ongekende weerstand en jaloesie afgelê het, selfs vir diegene wat Hom verwerp het.

Vir so ʼn Verlosser kan ʼn mens net waardering hê.

Dan weer laat dit my worstelend met die vraag wat God van ons as sy kerk vra in ʼn tyd soos hierdie: Is daar iets soos ʼn geheiligde woede oor die ongeregtigheid en onregverdigheid van dit alles, die onvermoë van die owerheid om sy burgers te beskerm, op te voed, gesond te hou en van basiese dienste te voorsien?

Is daar plek vir genoeg is genoeg, tot hiertoe en nie verder nie?

Is daar iets soos “ek is kwaad, in God se naam, ek is kwaad”?

Waar is die woede oor die slegte getuienis wat na die wêreld daar buite uitgedra word, asook oor die onmag van Jan Alleman om afgesien van ʼn stem elke paar jaar swaarverdiende geld in ʼn bodemlose put te stort?

Is die kruis nie ʼn teken van protes nie, is dit nie ʼn profetiese stem teen die onreg en ongeregtigheid nie?

Is daar ʼn sterker getuienis teen die verval van die sosiale orde as die geweld wat hom uitspeel aan die kruis van Golgota?

Wat probeer ek sê?

Daar moet meer wees as die gelate aanvaarding van die status quo, die terloopse briefie in die koerant, die getuienis van die SARK of die protes van vakbonde.

Ek wonder oor  ʼn heilige en geheiligde woede oor die verkeerde in ons samelewing.

Ek smag daarna dat die nagenoeg 70% mense in Suid-Afrika wat hulself Christene noem, opstaan en standpunt inneem. Laat ons luidkeels verklaar: “Tot hiertoe en nie verder nie. In Gods naam kan dit nie so aangaan nie, meneer die president en die kaders wat deel van die soustrein vorm.”

Hoe kan ons dit doen?

Ons kan ʼn dag (soos Hemelvaart) wat eersdaags aanbreek, kies en ʼn offer bring wat ooreenstem met ons oortuiging.

Dis een ding om op ʼn Saterdag of Sondag na ʼn stadion op te ruk, daarmee moet ons nie ophou nie!

Dis iets anders as elke gelowige in Suid-Afrika ʼn weeksdag waarmerk en selfs te midde van onbetaalde verlof sê: “Ek bid vandag tussen 12:00 en 14:00.”

Ons Moslembure doen dit weekliks. Die deure is toe. Besigheid moet wag. “God eerste!” sê hulle.

Kan Christene aan so ʼn oproep beantwoord of sal ons tientalle verskonings aanbied waarom skole, kerke, besighede, staatsdepartemente, hospitale, koerante, die kunste nie vir ʼn paar uur tot stilstand kan kom en verklaar nie: Dis nou of nooit!

Here, verander of verwyder, maar red ons in Jesus se naam.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gert ·

Baie dankie vir die berig.
Kan maroela asb ondersoek instel oor die beweerde voorval wat in 2015 gebeur het waar daar by n Pretoria polisie stasie 20000 petrone en moontlik vuurwapens van +- R1,000,000 gesteel is?

Andrea ·

Fantastiese, opregte uit-die-hart-en-skerp-verstand artikel!

John ·

Dominee, goed bedoel, maar waarvoor gaan gebid word? Die aanname dat al die ou sg Vryheidsvegters sulke opregte en goeie mense was met so ‘n vryheidshandves? Nee. Mandela het erken dat hy nie ‘n Christen is nie en die kommuniste glo uiteraard nie in ‘n Hemelvader nie. Ons eie regering hou politieke byeenkomste op Sondae en voer gespreek met ongelowiges op Paasnaweek. As hande-vat die ‘bottomline’ is, is dit weer net die wittes wat hand moet opsteek en wat van kollekte, alweer. Vir wie hierdie keer? Ons wil nie ge-Buchan word nie. Ons leef in te gevaarlike tye vir lekker-by-mekaar-byeenkomste en as ons by die huis kom, ignoreer ons ons broer se dringende sms’e want ons is moeg,,,

Kaspaas ·

Nogal interessant dat almal van hulle se vanne met n’ “M” begin. Net soos Carl Marx en Mandela…

Stephan ·

Jannie ek dink jy verwar die beginsels vd koninkryk of anders gestel vd ewige lewe met die vd tydelike werklikheid en lewe. Dis die burgery v n land se opsie om in protes te kom teen die burgerlike owerheid , nie die kerk nie. As lidmate saam met die burgery wil betoog, is dit reg. Maar dit is nie n evangeliedienaar se werk om mense daartoe aan te spoor nie. Het jy al vergeet van al die bollie wat leraars in die politiek aangejaag het. Rom 14v17 …..die koninkryk v God is nie spys en drank maar geregtigheid(geregtigheid van God….nie staatsregterlik)vrede en blydskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.