SA kruispad: Politieke of ekonomiese transformasie?

bennie-van-zyl-tlu-sa

Bennie van Zyl van TLU SA. Foto: Facebook.

Suid-Afrika word tans daagliks gebombardeer met die begrip radikale ekonomiese transformasie en dat dit nodig is om gelyke beregtiging vir almal te bewerkstellig. Die feit dat Suid-Afrika ʼn wesenlike armoede- en werkloosheidsvraagstuk het, is ʼn gegewe. Die vraag wat dus ontleed moet word, is of die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie wat pres. Zuma predik enigsins by die broodnodige bemagtiging vir almal kan uitkom.

Ekonomiese bemagtiging moet ʼn volhoubaarheid vir die bemagtigdes daarstel. Om te neem by die een wat gewerk het vir middele en dit dan vir ʼn ander te gee, het gewis geen volhoubaarheid nie.  Wat tans gebeur, is dat die ANC-regering die welvaart wat geskep is deur entrepreneurs wil verdeel tussen ander mense. Die klimaat word deurlopend geskep deur uitsprake, optredes en selfs deur die sing van opruiende liedjies dat rykdom gedeel moet word.

Die gevaar wat hierdeur geskep word, is tweërlei van aard. Enersyds word onrealistiese verwagtinge geskep dat rykdom bestaan – en maar net opgetel en gedeel moet word. Almal moet daarin kan deel, ongeag watter bydrae of inset gelewer is om dit te verkry. Dit is by uitstek ʼn sosialistiese model en daar word gereeld uitsprake in daardie rigting gemaak.

Geen begrip word getoon dat rykdom deur harde werk geskep word waar die produksiefaktore deur ʼn kundige entrepreneur bestuur word om by winsgewendheid uit te kom nie. Dit is ʼn voortdurende proses en indien dit nie voortgesit word nie, sal alle reserwes wat moontlik oor tyd heen opgebou is weldra opgebruik raak. Die groot gevaar van hierdie benadering is die probleem wat opduik wanneer die ander mense se welvaart (wat verdeel word) opraak, want geen regdenkende mens sal onbepaald sy hardverdiende geld net goedsmoeds afstaan nie.

Daarteenoor word broodnodige beleggers afgeskrik om wel te belê wat die vertrekpunt is om by ekonomiese groei uit te kom. Die wêreld het vandag so klein geword dat ʼn entrepreneur sy energie en middele sal aanwend waar dit die veiligste is. Die hoeveelheid geld wat die land verlaat, is van die hoogste nog ooit en die hoofrede is heel waarskynlik die onsekerheid oor wat met bates gedoen gaan word.

Verantwoordelike transformasie behoort slegs plaas te vind op so ʼn wyse dat dit ekonomiese groei teweeg sal bring. Daar is geen ander wyse hoe armoede en werkloosheid volhoubaar positief aangepak kan word nie.

Die onderskeid tussen die radikale “politieke” transformasie wat met ʼn ekonomiese suikerlagie bedek word en werklike ekonomiese transformasie wat eintlik net ekonomiese groei genoem behoort te word, lê opgesluit in die eindresultate.

ʼn Verantwoordelike regering sal besef dat elke uitspraak en wetgewing (vooraf) getoets moet word wat die uitkoms daarvan vir ekonomiese groei betref. Indien dit nie die toets slaag nie, moet daar herbesin word.

Wat gaan die noodwendige gevolge wees van die radikale ekonomiese (politieke) transformasie wat nou na vore gedruk word? ʼn Sneeubal-effek is moontlik die uitkoms.

  • ʼn Onseker beleidsomgewing oor veral besitreg sal veroorsaak dat vaste beleggings opdroog.
  • Dit veroorsaak dat minder projekte aangepak word wat al minder werksgeleenthede sal
  • Die ekonomie sal nie na die broodnodige groeivlak geneem word nie en verdere negatiwiteit oor vaste beleggings sal daaruit voortspruit.
  • Die staat sal al minder belasting ontvang en dan, om seker te maak dat die kasregister voldoende gevul is om te kan skep, net nog verdere belastingverhogings aankondig.
  • Entrepreneurs sal verhuis na veilige omgewings waar hulle met vertroue besigheid kan doen en waar billike belasting betaal moet word. Kundigheid sal op ʼn nog groter skaal die land verlaat.
  • Armoede en werkloosheid sal net verder styg.
  • Landbouproduksie sal agteruitgaan weens die wyse waarop daar te werk gegaan word met grondoordragte. Die departement erken self dat sodanige oordragte grootliks produksie verloor.
  • Voedsel sal skaarser en duurder raak met massas wat dit nie kan bekostig nie of selfs dalk nie kan kry nie.
  • MIsdaad sal ʼn nog meer vooruitstrewende bedryf word.
  • Korrupsie en selfverryking deur die “reg” geplaaste deel van die kaders sal die spiraal net nog verder afwaarts dwing.
  • Die een ding lei tot die ander wat Suid-Afrika in ʼn negatiewe spiraal kan plaas en dan is dinge soos rommelstatus op die ou einde dalk van die makliker knelpunte om te hanteer.

Daarteenoor, indien die korrekte ekonomiese transformasie toegepas word waar die regering sy verantwoordelikheid nakom om te regeer deur sy twee grootste verantwoordelikhede wel na te kom, kan Suid-Afrika na groot hoogtes gevoer word. Eerstens moet die klimaat geskep word waarbinne privaat inisiatief met vertroue belê sal word, asook die veiligheid van al Suid-Afrika se inwoners bevorder word. Ongelukkig word daar klaaglik in albei kwessies gefaal. Indien daar egter wel gefokus word op die regte ekonomiese beginsels deur privaat besitreg en vryemarkbeginsels doeltreffend te handhaaf en onsekere veiligheidsomstandighede te stabiliseer, kan sekere gunstige resultate bereik word.

  • Die politieke wil moet geopenbaar word om die misdaadvlaag te stuit en dan moet die staat die swaardmag waaroor hulle beheer het verantwoordelik aanwend om midadigers hok te slaan.
  • Groter beleggings sal in stabiele toestande waar suiwer ekonomiese beginsels van toepassing is, gemaak word.
  • Entrepreneurs sal met meer vertroue besigheid doen wat onmiddellik werkskeppend sal wees.
  • Ekonomiese groei sal daaruit voortspruit en dit sal meehelp om die nodige middele daar te stel waardeur die kritieke armoede- en werkloosheidvraagstukke aangepak kan word.
  • Deur privaat besitreg te vestig by HOP-huise sowel as by staatsbeheerde landbougrond sal groter stabiliteit daargestel word. Die eiendomme sal dan vir die eienaars as werkskapitaal van waarde kan wees terwyl dit tans as dooie kapitaal geen doel dien nie behalwe dat die regering dit gebruik om die massas te manipuleer.
  • Korrupsie moet met wortel en tak uitgeroei word. Dit is ʼn voorvereiste vir enige vorm van ekonomiese stabiliteit en groei.

Suid-Afrika staan voor ʼn knyptang-dilemma: Gaan die ekonomiese keuse van privaat besitreg en die vrye mark geld, of die politieke keuse van sosialisme en kommunisme? Die keuse gaan bepaalde uitkomste hê wat óf ʼn toekoms van moontlike welvaart kan skep óf armoede vir almal meebring. Die radikale “ekonomiese” (politieke) transformasie wat tans subtiel en geleidelik daargestel word, blyk of dit eerder prosesse daarstel wat Suid-Afrika op ʼn nievolhoubare ekonomiese pad gaan plaas.

Indien die regering ernstig is om Suid-Afrika se mense te bemagtig en verantwoordelik wil optree, sal hulle besef die enigste volhoubare pad begin by die regte ekonomiese keuse. Dit gaan dalk ʼn rukkie langer duur, maar dan is daar ʼn kans op sukses. Dit gaan uiteraard ook verg dat hulle met groter verantwoordelikheid omgaan met hul emosionele uitsprake en aanhitsing. Die indruk word daardeur gewek dat hulle graag die massas arm en sonder werk wil los, want dan kan hulle makliker gemanipuleer word om as stemvee misbruik te word.

Mag Suid-Afrika se mense wel die insig ontvang om in al hul uitsprake en optredes reg te kies.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ou Multi-kulturele Vlakvark ·

Ek stel voor dat goeie artikels soos hierdie ook in die Nguni en Sotho taalgroepe in Maroela Media gepubliseer word. Groetnis.

John ·

Die ou spreekwoord vee eers voor jou eie deur, kan met reg voor die ANC se paleisdeur geplaas word… ‘n lekker sterk Zoeloe-besembos-besem waarmee lank gelede voor die hutte gevee is, nadat dit eers natgespat is, totdat die aarde geblink het van die fluks. Miljarde word gesteel en babas huil verdrietig in asblikke, maar ons Zoeloe-induna soek net skuldvereffening by witmense en steek nie hand in eie boesem nie wat nog uit na ‘n skoonvee-besem. Die buitebeheer-oorbevolking = werkloosheid = armoede = woede= misdaad = sluwe oplossings = vergrype = emigrasie van werkskeppers = chaos = despotiese magsvergrype = Afrika-barbarisme = VO gooi kos GOU WEER af waar die groot beeld van Vryheid nou plat en pe le.

Poepslang ·

Goeie artikel , definatiewe gedagte kos – dankie meneer!

humor ·

Kan hierdie helder insiggewende artikels in Engels vertaal word en ook in die hande van die regring kom.Ramaphosa behoort dit tog seker verstaan.

Pietsepan ·

Jy is reg humor. Ons moet via opposisiepartye sorg dat hierdie skrywe so wyd moontlik verkondig word. Ons het mos vryheid van spraak. Wat van TV advertensies wat die doelstellings uitwys.

Johannes Meintjes ·

Kritiese toepaslike artikel, dankie. Die wie van beter weet en die artikel begryp sal ongelukkig die moue die verste moet oprol om dit te maak werk. Of die regering dit wil hoor, twyfel ek, want hierdie ekonomiese wenresep verg verbintenis en bekwaamheid. Of Moodies en ander ekonomiese trakteringsagentskappe die regering kan oortuig, weet ek ook nie.

dirk ·

Baie waar en voorwaar vreesaanjaend. Ook baie hartseer is die vaardige mense wat reeds die land verlaat het en ‘n lewe elders geskep het. Terugkom sal hulle nie. Die ANC is te ver verwyderd van die realiteite om te verander so n mens kan aanvaar dat dit net al hoe slegter sal gaan

Gert Louw ·

Feit is radikale ekonomiese bemagtiging kan slegs slaag as dit ten doel het om werk te skep. Hulle het ten doel om die ekonomie uit wit hande te vat, dan oor te dra na sekere swart bevoordeeldes. So sal die land afstuur op n ressessie en grootskaalse anargie. Zuma weet nie wat aangaan nie, en sy mee werkers ook nie.

Pietsepan ·

Nou praat jy Bennie. Ekonomiese transformasie moet plaasvind om:
1 die eiendomsreg van elke persoon te verseker
2 die staat se inmenging in private besighede hok te slaan; weg met BEE
3 die soustrein wat die regering skep te vernietig
4 die swak dienste van semi-staatsinstellings te privatiseer. Weg met staatskole. Weg met staatshospitale.

Henri - Culliboer ·

Baie goeie artikel. Huidige beleid van die ANC – eintlik SAKP- is nie volhoubaar nie. Stem saam dat hierdie artikel in al 10 ander tale vertaal moet word en so wyd as moontlik versprei moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.