SA moet huil oor Vigs

Argieffoto.

Met die viering van internasionale Vigsdag verlede week, is daar hard probeer om ’n positiewe prentjie te skets, ook in Suid-Afrika.

Ja, daar is die afgelope aantal jare deur die toediening van anti-retrovirale middels wêreldwyd 2 miljoen nuwe oordragte van MIV-Vigs van moeder na kinders voorkom.

Ook Suid-Afrika roem op suksesse, veral met die beskikbaarstelling van anti-retrovirale middels. In die jaar 2000 het net 90 mense in Suid-Afrika toegang tot anti-retrovirale middels gehad, en nou is dit vier miljoen. Dit is die grootste program ter wêreld.

Ja, die uitgebreide program is ’n prestasie, maar dat 4 miljoen van die wêreld se 20 miljoen mense wat anti-retrovirale ontvang, in Suid-Afrika woon, het ook ’n keersy. Unicef se voorgestelde program om MIV-Vigs onder kinders te bekamp, sluit in ’n verskerpte fokus op Afrika suid van die Sahara.

Twee faktore wat nie sommer genoem word nie, is dat MIV-Vigs tot ’n groot mate ’n morele been het, en tweedens dat dit finansiële implikasies het.

’n Baba wat MIV-Vigs by sy moeder gekry het, het geen aandeel daarin dat hy of sy die siekte het nie. Maar heel dikwels speel iemand se immoraliteit of roekeloosheid ’n rol dat die siekte versprei. Soms is die skuldige self ook ’n slagoffer, maar heel dikwels iemand anders. Die punt is dat immoraliteit die siekte help versprei.

In 2015, toe drie miljoen Suid-Afrikaners anti-retrovirale middels ontvang het, was die departement van gesondheid se begroting hiervoor R14,2 miljard. Minstens ’n miljoen meer mense ontvang nou antiretrovirale middels, hoewel die eenheidsprys ook periodiek gedaal het.

Die koste stop egter nie hier nie, met ’n rits sekondêre kostes soos kliniese toetse en hospitalisasie.  Die koste styg ook wanneer die rand verswak.

Sou Suid-Afrika min of meer MIV-Vigs-vry gewees het, sou ’n beduidende deel van die begrotingstekort daarmee afgelos kon word.

Unicef waarsku dat daar teen 2030 nog 3,5 miljoen nuwe gevalle kan wees van MIV-Vigs-oordrag van moeder na kind. En daar is ander groot probleme soos dat ongeveer die helfte van die kinders wat met MIV-Vigs gebore word, eers toegang tot anti-retrovirale middels kry wanneer hulle ouer as drie is.

Die hele kwessie kom maar weer terug na moraliteit. Watter voorbeeld word aan die bevolking gestel?

As dit so gaan, kan ons verbaas wees as die land enorme skade deur staatskaping en korrupsie ly, en skuldiges nie veel meer hoef te doen nie as om die skouers op te trek, of voor gekose parlementêre komitees te gaan lieg soos tandetrekkers?

Moraliteit is nodig, maar is ongelukkig nie by die koöperasie oor die toonbank aan te koop nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Gesondheid, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eish ·

Net gister verskyn hier n artikel oor n sielkundige se boek waar hul die psige probeer pyl van die misdadigers van die wreedste misdade.

Alhoewel ons dit allerhandende name kan gee soos onder andere afwesigheid van ouers, bly die feit staan dat ons afwyk van die Handleiding van die mens. Punt.

Hierdie peste, plae en siektes van die inwoners van n land is in my beskeie mening dan ook meer prominent in lande waar n liberale agenda gevolg word. Dus verder weg van die Woord.

Sekerlik sal die lae moraliteit soos diè van die regeerders ook afsmeer op hul volgelinge. Tragies om die minste te sê. Huil daaroor? Het nie meer trane oor nie. Uitgehuil langs oop grafte van misdaadslagoffers.

Net n Goddelike ingryping kan die Psalm 37 helhool red.

Anoniem ·

Ek sal graag saam met jou ‘n koppie koffie wil drink. Stem volkome saam.

Haan ·

Eish, jou stukkie kommentaar het baie meer tot my gespreek as die berig self. Jy spreek die wortels aan terwyl oom Herrie (en UNICEF en die regering) die blare aanspreek.

Anoniem ·

Haan, ek voel jy moet Herman darem kredit gee dat hy die polities onkorrekte stelling maak: “Die punt is dat immoraliteit die siekte help versprei. ”

Dit verg moed in hierdie land waar dit in sekere kulture glad nie buitengewoon is nie dat ‘n ma se (vele!) kinders elkeen ‘n ander pa het.

tiekie ·

Hoe meer die staat/regering fondse gratis beskikbaar maak – en dit geld nie net ten opsigte van MIV vigs gevalle nie, hoe groter word die aanvraag en groei die waardesisteme na -zerovlakke. Ander fondse wat gekoppel is en wat soms vergeet word, is die “sassa” toelae, want dit moedig juis toelaes aan vir geboortes, ens. Daar word nie geleer wat die waarde of nut van geld is op lewensuitkyke nie of dat jy jouself kan verbeter ; dat lewe nie net uit een ding bestaan nie. Moorde , misdaad en verkragtings, word meestal deur die slagoffers gedra, wat glad nie reg is, die regering moet hiervoor verantwoordelikheid neem. Indien hulle beter grense bewaar, kinders beter opleiding en werksgeleenthede bied, sal gemeenskappe beter voel oor hulself en nie om afhanklik van ‘n regering te wees waar korrupsie voluit gevoer word nie. Misdadigers verdien bv meer in ‘n tronk (uitgawes) as pensionarisse of burgers wat dit nie breed het in die land nie. Teveel immigrante dra by tot ons verslegtende toestand en kan hospitale/medikasies nie voorbly met die uit Afrika nie.

Johann Marx ·

En dan is daar waaragtig mense soos Barbara Kingsley wat op die voorblaaie van elke moontlike tydskrif en koerant ewe trots vertel “Aids don’t kill, stigma does”…..en terwyl dit miskien mag waar wees vir haar en haar onmiddelike vriendekring………stuur dit die boodskap uit dat VIGS eintlik OK is…en dat jy met jou immorele onverskillige lewensstyl kan voortgaan….want Barbara sê dit OK… Dit is niks minder as pateties tragies nie…

Vermeende ·

Herman 4 miljoen is amper ondenkbaar, maar waar le die oorsaak, moraliteit is nie die enigste sondebok nie maar sekerlik die grootste as jy uit die oe van n Christen kyk.
Diabetis is n siekte wat in die meeste gevalle voorkom kan word met n goeie lewensteil maar tog loop mense met die persepsie dat daar wel n geneesmiddel is, as ek koek eet dan moet ek net my pilletjie drink of gou gaan spuit, as ek TB kry dan kan ek medikasie gaan kry, as ek HIV+ is dan kry ek net ARV’s. Die vrylik beskikbaarheid van medikasies speel dierek n rol in die mens se moraliteit verval. Geen pes of plaag maak die mens .eer bang nie.

CG ·

Waar is die dae toe dinge baie eenvoudiger was – toe armoede HIV veroorsaak het en beet ‘n wonderkuur was?

SLIM ·

Toemaar een van die dae is hulle almal dokters en kan VIGS cure, en het elkeen hulle eie plaas .. een van die dae . SA Dokters wat dit nie maak in SA nie word nou opgelei in Kuba en die res staan en wag vir die plase van boere .. so dit is eintlik eenvoudig, hulle het reeds AL die antwoorde . die slim manne aan bewind sowel as hulle slim ondersteuners.

AMS ·

Dis so tragies dat SA, met sy relatiewe klein bevolking, meer VIGS en HIV lyers het as Sjina of Indie wat beide 1 miljard bevolkings het.

Sekerlik moet daar groot fout wees met ons losbandige kultuur.

Anoniem ·

Die befaamde “Kubaanse dokters” (Suid-Afrikaners wat in Kuba opgelei word) se opleiding fokus meer op voorkoming as genesing. Hulle deel dus fluks kondome uit , maar oor die algemeen skiet hulle ongelukkig tekort met by die behandling van ‘n HIV pasiënt.

Ek betaal liewers deur my nek aan my mediese fonds premie, as om uitgelewer te word aan ‘n Kubaanse dokter.

Die slim manne se slim planne is toe nie so slim nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.