SA moet voor eie deur vee oor tanende aansien

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Daar was ʼn tyd toe Suid-Afrika groot aansien in Afrika gehad het. Dis nie meer so nie.

President Cyril Ramaphosa het einde verlede maand in sy toespraak voor die Algemene Vergadering van die VN ʼn beroep op lande gedoen om rassisme en xenofobie uit te roei “waar dit ook al voorkom”. Suid-Afrika self het egter glad nie so ʼn goeie getuigskrif wat die stryd teen xenofobie betref nie.

Na die historiese verkiesing van 1994 is die land as die toonbeeld van wat in Afrika vermag kan word gesien: vreedsame onderhandelings en ordelike magsoorgang. In te veel gevalle is magsoorgang egter deur staatsgrepe of grootskaalse verneukery tydens verkiesings bewerkstellig.

Oudpresident Nelson Mandela is nie net as ʼn charismatiese politikus gesien nie, maar ook as ʼn soort morele baken. Daarby het die land ʼn besonderse grondwet aanvaar wat die raamwerk vir ʼn stewige demokrasie geskep het. In sy toespraak in die parlement, met die aanvaarding van hierdie grondwet, het Thabo Mbeki, toe adjunkpresident, sy beroemde toespraak op 8 Mei 1996 gelewer: “I am an African … I am born of the peoples of the continent of Africa.”

Daarmee is die weg vir ʼn uitwaartse beleid gebaan om die land stewig in die vasteland te posisioneer en om ʼn vaandel vir Afrika op die internasionale verhoog te dra. Oral waar Mandela in Afrika as president van demokratiese Suid-Afrika gekom het, is hy soos ʼn held ontvang.

Ander Afrika-lande het ongetwyfeld ook by Mandela en Suid-Afrika se impak op wêreldpolitiek gebaat. Tóé het daar seker waarheid in die stelling gesteek dat Suid-Afrika die poort na Afrika was. Met Mbeki se oorname as president in 1999 was die gonsfrase: “The New Partnership for Africa’s Development (Nepad).” Mbeki het ook van die Afrika-Renaissance gepraat. Die Suid-Afrikaanse regering het hom aktief met verskeie konflikgebiede op die vasteland bemoei, soos in die Groot Mere-streek.

In die laat negentigs en vroeg in die huidige eeu het talle Suid-Afrikaanse maatskappye in veelvoudige Afrika-lande sake begin doen. Teen 2002 was Suid-Afrika, volgens ʼn studie van die Suid-Afrikaanse Instituut van Internasionale Aangeleenthede, die grootste internasionale belegger in die SAOG-streek. Een van die plaaslike baanbrekermaatskappye wat veral Nigerië met sy groot mark geteiken het, is MultiChoice/M-Net. Aanvanklik was die doel net om dekodeerders vir die uitbreiding van MultiChoice se subskripsiebasis te verkoop. Later is daar begin om oorspronklike inhoud vir Afrika te vervaardig.

Dis nou waar Liza, my vrou, in die prentjie kom. Sy is gevra om ʼn span uit Afrika saam te stel, hulle op te lei en in die vervaardiging van TV-produksies in te span. Sy het uitsonderlike mense geïdentifiseer, waarvan die meeste gegradueerdes was. In die geheel was daar so 15 aanbieders en meer as 20 kamera-operateurs en ander tegnici. Almal het die eerste keer in Sandton bymekaargekom en vir die meeste van hulle was dit ook hulle eerste besoek aan Suid-Afrika. Almal was verstom oor die ontwikkeling en kon nie glo dat so ʼn moderne stad in Afrika aangetref kon word nie.

Die naam van die program was Studio 53. Dit was ʼn tydskrifprogram wat die stories van suksesvolle mense dwarsoor Afrika vertel het. Met verloop van tyd het hulle ʼn hegte span geword wat mekaar as Afrikane van verskillende lande beter leer ken het. By geleentheid het ek ook by die opleiding van die aanbieders betrokke geraak. Hulle was besonderse mense. Dit was werklik ʼn voorreg om met hulle te werk en die goedigheid onder mekaar was ʼn belewenis. Daar was ook ʼn paar Suid-Afrikaners onder hulle wat ewe hartlik en vriendelik ingepas het.

Liza as wit vrou en die hoof van die span is totaal aanvaar en gerespekteer. Kleur was nooit ʼn kwessie nie. Sy is as ʼn burger van die wit stam van Afrika beskou. Tot vandag toe, etlike jare na sy by die program weg is, sal van die spanlede haar steeds bel of e-pos net om te groet. Van hulle het intussen in eie reg presteer en selfs in hulle eie lande en in Afrika beroemdheid verwerf.

Oudpres. Thabo Mbeki. (Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA)

Met die magsoorgang van Mandela na Mbeki het daar van die glans van Suid-Afrika se beeld begin kwyn. Mbeki het steeds die wyer perspektief van Afrikanisme bevorder, maar sy morele leierskap is erg benadeel deur die standpunt wat hy oor die hantering van die MIV/vigs-pandemie ingeneem het. Hy het dit betwyfel dat besmetting met die MI-virus noodwendig tot vigs sal lei. Mbeki en Manto Tshabalala-Msimang, sy omstrede minister van gesondheid, het geglo antiretrovirale middels is gif. Hulle het geweier dat die staat by die grootskaalse beskikbaarstelling van sulke middels aan pasiënte betrokke raak. Dit het eindelik ʼn bevel van die Konstitusionele Hof gekos om die staat te dwing om die middels aan verwagtende moeders wat MIV onder lede het te verskaf sodat die virus nie na hulle ongebore babas oorgedra word nie. Intussen is honderdduisende mense dood.

Die wonderland wat ʼn voorbeeld vir Afrika van mensgerigte, vreedsame interaksie geword het, het egter nou die bespotting van wetenskaplikes dwarsoor die wêreld geword. Verskeie leiers van Afrika-lande soos Nigerië, Kenia, Tanzanië en Uganda het ʼn groter politieke wil getoon om die pandemie te beveg.

Jacob Zuma word toe onverwags in 2007 eers die president van die ANC en later ook van die land. Dit was natuurlik ʼn groot besprekingspunt onder lede van Liza se spannetjie en talle ander Afrikane. Hulle het dit as ʼn grap beskou dat ʼn basies ongeletterde persoon, omgord met luiperdvelle, koddige danspassies uitgehaal het op die maat van die liedjie “Bring my masjiengeweer”. Dit was ligjare verwyder van die statige, waardige, netjiese Mandela wat oral met sy eenvoudige “Mandela shuffle” harte verower het.

Daarby het die albatros van korrupsie nog om Zuma se nek gehang, én ʼn klag van verkragting. Die terugvoer van die spannetjie was: “Ja, met Zuma word julle nou maar net soos ander Afrika-state.” Xenofobiese geweld bars toe in 2008 in talle townships los. Meer as 60 mense is in die geweld dood – die meeste van hulle vreemdelinge uit Afrika en Asië. Sedertdien het ʼn lae vlak van geweld teen vreemdelinge geheers. Dit het weer in 2015 opgevlam. Verskeie regerings het planne gemaak om hulle burgers te repatrieer. ʼn Hoëvlakafvaardiging uit Nigerië wat op daardie stadium toevallig ʼn konferensie hier bygewoon het, het summier onttrek en plek op die eerste vlug uit die land uit bespreek.

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Oral waar Liza met ʼn span in Afrika gereis het om stories te doen, het sy dieselfde ervaring gehad. Die mede-Afrikane het Liza steeds met respek behandel, maar hulle was skerp krities oor hoe swart Suid-Afrikaners hulle mede-Afrikane vanuit die res van die vasteland behandel het.

In ʼn Pew-peiling van 2018 meen bykans twee derdes van Suid-Afrikaners dat vreemdelinge ʼn las vir die land is omdat hulle werksgeleenthede en maatskaplike toelae van Suid-Afrikaners wegneem. Na raming is daar meer as viermiljoen vreemdelinge in die land. Hulle beskuldig Suid-Afrikaners ook van arrogansie en het in die besonder sterk aanstoot oor ʼn opmerking van Zuma geneem. Hy het by geleentheid in 2013 oor die voordeel van Suid-Afrika se tolpaaie gepraat en gesê: “We can’t think like Africans in Africa generally. We’re in Johannesburg … This is not some national road in Malawi.”

Ek het onlangs ʼn lang gesprek met ʼn man van Kameroen gehad. Om hom te beskerm, gebruik ek maar ʼn skuilnaam. Patrice is al vanaf 2009 in die land en in ʼn gedurige stryd om sy status uit te sorteer. Hy het aanvanklik na Suid-Afrika gekom met die doel om hier te studeer. Die demokratiese proses in Suid-Afrika het hom aangegryp en hy wou na die land van Mandela en Mbeki gaan waar burgers se regte gehandhaaf word. Hy is tans besig met sy doktorsgraad; die Thabo Mbeki-stigting het ook al vir hom ʼn beurs gegee. Patrice kan jou lank met al sy stories oor die rompslomp om wettige dokumentasie vir studie- en verblyfreg te kry, besighou. Die polisie gee hom gedurig las, hanteer hom hardhandig, konfiskeer sommer van sy besittings en eis omkoopgeld. By binnelandse sake, waar al die dokumentasie verwerk moet word, is dit ʼn nagmerrie. En so, sê hy, gaan dit met al sy mede-Afrikane.

Hierdie soort gebeure druis natuurlik teen die gees van die Afrika-vryhandelsgebied (AfCFTA) in. Handel onder die vaandel van dié verdrag kon al sedert die begin van die jaar toegepas word. Tot dusver het 36 van Afrika se 55 lande die verdrag goedgekeur. Benewens die vrye handel van goedere en dienste binne die vasteland, is daar ook ʼn protokol oor die beweging van mense. Die protokol maak onder meer daarvoor voorsiening dat enigiemand van enige land vrylik, sonder ʼn visum, oor grense heen kan beweeg vir doeleindes rakende studie, werk en verblyf. Daar word nog aan ʼn Afrika-paspoort gewerk.

Die Afrika-unie meen dat die toepassing van vrye handel die vasteland se ekonomie op ʼn positiewe trajek kan plaas ná die verwoestende Covid-19-pandemie. Afrika se bevolking van 1,3 miljard skep ʼn interne mark byna gelykstaande aan China en Indië. Daar is groot moontlikhede. In die Europese Unie maak interne handel tussen lidstate 70% van ekonomiese aktiwiteite uit; in Afrika is dit maar 12%.

Ongeag die goeie bedoelings op papier is die ingesteldheid van Suid-Afrikaners en owerhede egter nie bevorderlik vir die suksesvolle implementering van ʼn nuwe bedeling van vrye handel en beweging nie. Daarby hou die voornemens nie rekening met die beskikbaarheid van bronne soos water nie. Na raming het Suid-Afrika net genoeg water om ʼn bevolking van 70 miljoen te dra.

(Argieffoto: Wikimedia Commons)

Afhangende van die vrye toeloop van mense uit die res van Afrika, kan dié getal reeds in 2030 bereik word. Wedywering om toegang tot so ʼn basiese lewensnoodsaaklike bron kan baie lelik word. Dit help ook nie dat Suid-Afrika hom tot vrye handel en beweging verbind, maar steeds intern beslommerende maatreëls behou nie. In die jongste verslag van die Vryemarkstigting en Kanada se Fraser Instituut het ekonomiese vryheid in Suid-Afrika oor die afgelope 20 jaar effens teruggeval tot posisie 84 van 165 lande. Dit het onder meer met die inmenging van die regering in die ekonomie te doen, soos die voorneme om eiendom sonder vergoeding te onteien.

Die geweld en plundery in Julie in KwaZulu-Natal en Gauteng het Suid-Afrika in ʼn kategorie geplaas waar politieke onbestendigheid ʼn situasie is waarvan selfs die eens voorbeeldige demokratiese land nie gevrywaar is nie. Op die koop toe is onthul dat die spook van korrupsie sy tentakels tot binne-in die presidensie het.

Dit blyk dat Suid-Afrika werk te doen het om voor sy eie deur te vee. Vir ʼn begin kan hy ontslae raak van sy arrogansie. Mede-Afrikane kan menswaardig behandel word. Vrye handel kan groot voordele inhou, maar Suid-Afrika sal beslis ʼn omvattende, realistiese immigrasiebeleid moet implementeer wat met die Afrika-protokol en werklike omstandighede hier in lyn is. Slim mense soos Patrice moet maklik toegang tot die land kan hê, maar Suid-Afrika kan eenvoudig nie vir duisende vreemdelinge sorg wat sommer oor die grens stap sonder dat hulle ʼn sinvolle bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie kan lewer nie.

Ons moet ons demokrasie koester en dit in ander lande help versterk. Die “wit stam” van Afrika kan ʼn beduidende rol speel om vreedsame verhoudinge op die vasteland te bevorder. Dit kan beslag kry in die inisiatief van die Thabo Mbeki-stigting saam met Afrikaner-organisasies.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Boerkind ·

Eintlik baie hartseer om van die verwoesting te lees onder die ANC as ‘n geheel. Ek hou nie my asem op vir verbetering on CR se heerskappy nie – hy is ‘n swak voorbeeld van ‘n leier. Kyk maar na sy keuses van kabinetslede! Dit is ook uiters naïef om hom te glo, want bykans niks wat hy sê is te vertrou nie. Onder die ANC het Suid Afrika ‘n bespotting geword – ‘n tikkende tydbom. Die skrale hoop is dat die stembus die kanker van die ANC kan beperk….

david ·

Die Wit stam van SA kan inderdaad ‘n groot rol speel—indien hulle algehele gelykheid met die ander Afrikane geniet–
Geen regstellende aksie nie, weg met BEE ,kwotas en al die rasgebaseerde wetgewing.

Ons kan niks bydra solank ons tweedeklas burgers is nie.

Boerkind ·

100% David – maar dit blyk dat 60 miljoen ‘n vrees vir 2 miljoen van die Witstam het…

Johann ·

Die wit stam moet onder die afhanklikheid van die regering kom om vooruit te gaan. Om nie met die regering te mag handel nie is moontlik ‘n bate op die oomblik meer as wat dit ‘n las is.

annie ·

Een vraag is of die beeld wat wit Afrikane van Mandela skep ooreenstem met die waarheid en wat swart burgers van hom dink. Dit verskil. Ons is volgens beraming reeds bykans 70 milj mense. Hoe tel jy mense wat onsigbaar wil bly. Eskom waag dit nie eens op talle plekke nie. Ons aansien? Afrika is trots op windmakerige skelms wat sorg dat hul nie uitgevang word nie. Dit is eerder daar waar ons aansien taan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.