SA pasop: Ace Magashule se RET-faksie sal tot die bittereinde veg

Deur Joel Netshitenzhe

Ace Magashule (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Toe uitsprake deur die sekretaris-generaal van die ANC op Gagasi FM dat die DA “die vyand van die nasionale demokratiese rewolusie” is en dat om saam met hulle ten gunste van ’n ondersoek na Busisiwe Mkhwebane se geskiktheid om in haar pos te dien, dieselfde is as om “by die vyand in te kruip”, aan die lig gekom het, was die eerste vraag wat by baie ANC-lede opgeduik het: Het ons nog ’n organisasie?

Daar is baie konsepsuele kwessies wat die tipe verwardheid aandui wat nie met ’n sekretaris-generaal geassosieer behoort te word nie, soos sy verwysing na die DA as “die vyand van die nasionale demokratiese rewolusie.”

’n Kader wat so ’n senior posisie waardig is, moet bewus wees van die debatte wat sedert 1994 in die beweging gevoer word oor verwysings na die opposisie in ’n demokratiese gemeenskap. In hierdie verband het die ANC in 2007 in die Strategie- en Taktiekdokument van 2007 besluit dat: “… anders as tevore, toe antagoniste aan weerskante van die apartheidskeidslyn in ’n stryd tot die dood gewikkel was, vorm meningsverskille oor transformasiekwessies in ’n demokrasie deel van die legitieme diskoers en verkiesingspolitiek. Diegene wat voortgaan om verandering teen te staan is opponente in die demokratiese orde. Hul politieke en ander organisasies is legitieme uitlewing van denkskole wat uitgedaag moet word, maar terselfdertyd aanvaar moet word as deel van die proses van demokratiese meningsverskil.”

Hoewel die ANC in 2017 aangevoer het dat verkiesingsuitslae die gevolg kon hê dat “magte wat op onderduimse wyse die progressiewe ontplooiing van ’n nasionale demokratiese gemeenskap laat wegkalwe” aan bewind kon plaas, het die party ook toegegee dat die ANC self baie skade aan die kwessie van maatskaplike transformasie kon aanrig. Die Strategie- en Taktiekdokument gee toe – “dit kan nie volkome ontken word nie dat die bevrydingsbeweging self korrupsie ten prooi kan val nie (betreffend sy doelwitte, beleid, waardestelsels sowel as sy samestelling en die gedrag van sy leierskap) dat hyself die broeiplek van teenrewolusionêre besmetting word.”

Benewens die konsepsuele verwarring, het dit baie ANC-lede geïrriteer dat die sekretaris-generaal besluit het om hom te distansieer van die leiding wat die topamptenare (die sogenaamde topses) onlangs aan die ANC se parlementêre koukus verskaf het, oor of hulle ’n formele parlementêre ondersoek na die geskiktheid van die openbare beskermer om haar rol te vervul moet ondersteun, gegewe die verslag van die paneel wat daargestel is deur die speaker van die Nasionale Vergadering, wat prima facie-bewyse van wangedrag en ongeskiktheid gevind het.

Die nasionale voorsitter van die ANC het die topses se besluit aan die parlementêre koukus oorgedra. Nietemin het die sekretaris-generaal aangevoer dit kon verontagsaam word “want die topleiers van die ANC is nie ’n struktuur kragtens ons ANC-grondwet nie”. Toe hy gevra word wat die gevolge gaan wees vir diegene wat willens en wetens die leierskap se leiding verontagsaam, was sy antwoord: “Watter gevolge, as hulle die regte ding gedoen het?” Die ANC-koukus het sedertdien aangedui dat al die LP’s wat afwesig was, geldige verduidelikings gehad het – wat die verwarring, soos gesaai deur die sekretaris-generaal, net vererger.

Daar kom tye dat enige leier ’n punt kan mis of homself verkeerd kan uitdruk. Wat kommerwekkend is, is dat sulke uitsprake die kenmerk geword het van die sekretaris-generaal se uitsprake oor moeilike kwessies wat die beweging in die gesig staar. Byvoorbeeld, oor die kwessie van opsy staan van lede as hulle formeel aangekla word, het die nasionale uitvoerende komitee (NUK) in Februarie die riglyne aanvaar, ‘n besluit wat in die openbaar deur die president oorgedra is aan die einde van die vergadering. Nietemin het die sekretaris-generaal sedertdien deurgaans aangevoer geen besluit is hieroor geneem nie, want die kwessie moet nog deur die takke oorweeg word. Die tesourier-generaal, wat aan die hoof was van die span wat die riglyne opgestel het, moes hierdie stellings repudieer en die president se stellings herbevestig.

En so ontstaan ’n neiging waar die sekretaris-generaal van die ANC besig is om soos ’n seer vinger uit te staan tussen sy ampsgenote, en ook tussen die res van die beweging. Dit lyk soos ’n wyer veldtog om die strukture van die ANC te ondermyn.

Verteenwoordig hierdie verwikkelinge die “teenrewolusionêre besmetting” waarteen die 2017-konferensie gewaarsku het? Kom ons wees ruimhartig en noem dit bloot die konsolidasie van ’n faksie binne die ANC.

Die sogenaamde Radikale Ekonomiese Transformasie (RET)-faksie het aangekondig dat hulle byeenkomste hou en een van hul leiers, wat terloops in die kantoor van die sekretaris-generaal werk, het ’n “fundamentele dokument” vrygestel wat propageer dat “die ANC moet terugkeer na sy sosialistiese ideologiese oriëntasie”, wat dit ook al onder huidige internasionale of plaaslike omstandighede sou beteken.

Oor grondonteiening voer die RET-dokument aan dat voedselsekerheid en ander aspekte nie ’n faktor kan wees nie. Maar in 2017 het die ANC-konferensie besluit om te verseker dat enige onteiening “nie toekomstige belegging in die ekonomie moet ondermyn, of landbouproduksie en voedselsekerheid moet benadeel nie”, en dat dit “nie ander sektore van die ekonomie moet beskadig nie.”

Oor staatseienaarskap doen die RET-dokument ’n beroep op grootskaalse nasionalisering, teenstrydig met die ANC se 1992-dokument Ready to Govern (Gereed om te regeer) en talryke konferensieresolusies sedertdien wat die party verbind tot die opweeg van die “balans van getuienis.”

Dit is nie die eerste keer dat die ANC met die ontstaan van ’n organisasie binne die organisasie te kampe het nie. Met die PAC in 1958 en die Groep van Agt in die 1970’s, het hierdie gedrag uiteindelik tot skeuring gelei. Die olifant vat lank om om te draai, of, om ’n ander metafoor te gebruik, die vrugte is toegelaat om aan die boom ryp te raak en toe, met die geringste skud van die boom, af te val en op die grond te beland.

Maar dalk is die situasie ernstiger as hierdie ruimhartige interpretasie. Dan is debat oor inhoudelike kwessies nutteloos, want dan is beleid maar ’n manier om iets anders te versteek. Veterane van die ANC en ander gerespekteerde individue en organisasies in die Verdedig ons Demokrasie-veldtog voer aan die bedreiging sluit in om die Konstitusionele Hof te verontagsaam, en hulle voer voorts aan “dit strek dieper as die bedreiging wat ’n individu inhou, want dit toon hoe daardie individu ’n politieke kultuur verpersoonlik wat fundamenteel teenstrydig tot die demokrasie is: ’n persoonlikheidskultus, regering deur faksionele voorskriftelikheid, nepotisme en totalitarisme in ’n gesekuriteerde staat”.

Volgens die Verdedig ons Demokrasie-veldtog word hierdie bedreiging gekenmerk deur die stroping wat die staat verswak en die ekonomie ondermyn het. Opbrengste van korrupsie word gebruik vir sowel persoonlike verryking as om “’n goed georganiseerde kartel” in staat te stel om die vervolging van bevoordeeldes van korrupsie en staatskaping te vertraag. Voorts is ’n private militêre mag en ’n wyer netwerk gemobiliseer om onwettige ondermyning deur die voormalige president te vererger.

Samesweringsteorieë staan vol in die blom, met bewerings van eenhede wat opgelei is in sabotasie en sluipmoorde, en vreemde samelope van omstandighede soos die poging om geweld teen buitelanders in KwaZulu-Natal deur lede van daardie selfde militêre mag te stook, en die brand in die parlement nadat daar gestem is oor die kwessie van die openbare beskermer. Van hierdie teorieë mag ongegrond wees.

Maar dit is nie onmoontlik nie dat Suid-Afrika se eie Savimbi’s en Dhlakama’s – wat Angola en Mosambiek gedestabiliseer het met die steun van die Suid-Afrikaanse weermag en militêre intelligensie – tans uit hul gate kruip en hul ware kleure wys nie.

Suid-Afrikaners, wat die groot gros ANC-lede insluit, kan nie toelaat dat die vordering sedert 2017 verspil word of die grondwetlike orde ondermyn word nie. Die veldtog teen hierdie aanslag op ons demokrasie moet versterk word, en moet alle sektore van die samelewing betrek.

In hierdie pogings moet met veldslae uitgeslape gekies word, en tydsberekening moet van pas wees. Mens moet versigtig wees om nie die saboteurs toe te laat om die “wat, wanneer en hoe” van die botsings te bepaal nie. Die vis moet nie toegelaat word om te spartel, te draai en modder op te spat sodat dit uit die greep van die regstelsel ontkom word nie.

Ons moet altyd onthou die bevoordeeldes van korrupsie en staatskaping sal veg in eiebelang. Suid-Afrika kan nie bekostig om oorgerus te wees nie!

  • Joel Netshitenzhe is die uitvoerende direkteur van die Mapungubwe-instituut en ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
  • Hierdie artikel het aanvanklik in die Daily Maverick verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Is reeds hier, moet net ryp word. Ace is ons nuwe president, moet maar solank gordels vasmaak.

Stefaan ·

Verandering!! Wat wil hulle nog verander behalwe om ons in die see te jaag en alles te vat wat ons sin is?

Michal ·

Waarvoor SA moet oppas, is Ace as president, dit sal n Zuma op steroids wees, nie Zuma 2.0 nie

Marianna ·

Regdenkende mense het nie ‘n kans in die land nie. As jy die waarheid praat word jy stilgemaak omdat jy nie soos een van die skape dink en doen nie. Almal wil tog so polities korrek wees, so bang hulle word in ‘n boksie gedruk en geignoreer. Ons moet baklei vir ons reg om ons sê te sê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.