SA se BBP-groei sedert 1994

Argieffoto.

Statistiek Suid-Afrika (Stats SA) het vandeesweek sy voorlopige syfers oor Suid-Afrika se Bruto Binnelandse Produk (BBP) vir die vierde kwartaal van 2018 bekendgemaak. Die syfers vir die geheel van 2018 is ook by hierdie bekendmaking ingesluit.

In die vierde kwartaal-vrystellings gee Stats SA gewoonlik twee belangrike syfers aan. Die eerste is die kwartaal-tot-kwartaal-groeikoers op ’n seisoen aangesuiwerde en geannualiseerde grondslag. Dit is die amptelike BBP-groeikoers wat voorlopig teen 1,4% in K4 van 2018 bereken is. Die volgende belangrike syfer is die groei vir die geheel van die jaar. Vir die geheel van 2018 is die BBP-groei teen 0,8% bereken.

Hierdie syfers is swak – en ver onder selfs die regering se doelwit vir groei van 5 tot 6% – soos dit in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) aangegee is. Uiteraard is gesonde en sterker markgerigte groei nodig vir mense in Suid-Afrika om vooruit te gaan.

BBP-groei oor tyd

Die volgende grafiek verskaf ’n breë oorsig oor Suid-Afrika se jaarlikse BBP-groeikoerse. Let veral op die groei voor en ná die groot finansiële krisis. Soos ons daarna kyk, skets die grafiek ’n prentjie van ’n belemmerde ekonomie, waar die impak van markinmenging, ongesonde politiek en skadelike beleid goed posgevat het.

sakeliga-groei-in-sa-bbp-2019-03-11

Grafika: Sakeliga.

Die ekonomiese opswaai voor die krisis het toenemende swak en skadelike beleid ietwat verskuil. Dit was ook voor voormalige president Zuma se rampspoedige bedeling. Ná die krisis, soos die ekonomiese gety verander het, was baie van die dinge wat swak beleid verskuil het, soos SA-gunstige kommoditeitsmarkte, daarmee heen.

’n Mens kan natuurlik markte wat teen jou draai vir die agteruitgang blameer, maar vir hoe lank nog? ’n Lewenskragtige ekonomie kan aanpas by nuwe markomstandighede en nuwe maniere soek om rykdom te skep. Dit is wat markte doen, en goed kan doen, maar klaarblyklik nie die plaaslike ekonomie nie. Maar hoekom nie?

Ons meen die regering moet pa staan vir groot dele van hierdie gebrek aan ekonomiese buigsaamheid en aanpasbaarheid. Dink, byvoorbeeld, aan wat die effek is van die regering se volharding met teen-produktiewe ingrypings, soos BEE, wat net strenger en strenger gemaak word. Hoe kan besighede boonop kapitaal aanwend om hulself vir nuwe geleenthede reg te maak as daardie kapitaal wegbelas en vasgesluit word in ondoeltreffende en verkwistende staatsbesteding? Daarom is dit juis nie verbasend dat groei sal teleurstel nie.

Markgerigte hervormings, laer belastings en beter beleid is nodig om dinge te verander.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Realis ·

Tydens die Jare van Wet en Orde was daar groei ten spite van sanksies en daar was werk vir almal wat wou werk. Met al die geld wat die land ingestroom het sederd die Donker Dekades na Mandela se vrylating, moes die groei nou 1000% gewees het!

B-man ·

“Geannualiseerde”? Shjoe, dit moet sleg gaan met die ekonomie wanneer die Afrikaanse-woordeskat nie eers gebruik kan word om begrippe te verduidelik nie!

Staak saam ·

Dit is uiters pateties, neem die wisselkoers terug na die vlak van 94 en verreken die groei koers dan weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.