SA se burgers moet erns maak van pandemie!

Deur prof. Kobus Kok

‘n Verlate hoofweg in Kaapstad Vrydagoggend. Foto: (AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Suid-Afrika, daar kom ’n enorme tsunami na u kant toe, en u moet asseblief erns hiermee maak. Dit wat nou gebeur, is soortgelyk aan die groot pandemies van die Middeleeue en die Spaanse griep in die tydperk net ná die Eerste Wêreldoorlog. Dit gaan ’n omvangryke effek op Suid-Afrika hê, veral onder die armes, die bejaardes en die MIV-geïnfekteerdes. Dit is in sulke tye dat almal moet saamstaan en daadwerklik moet opstaan om ’n verskil te maak en die pandemie se grafiek af te plat ten einde ineenstorting van die gesondheidstelsel en ’n katastrofe te keer.

Wat my egter geweldig bekommer, is die ligte wyse waarmee mense met hierdie krisis omgaan terwyl uiters belangrike lesse alreeds deur ander lande geleer is.

Julle word genadetyd gegun. Tog dink mense dis ’n speletjie. Op Facebook deel ’n sekere man ’n video van duisende jongmense wat in ’n township in Suid-Afrika op Woensdagaand ’n lockdown-partytjie in die strate hou. Dis die mees onverantwoordelike ding wat mens kan bedink in hierdie tyd. Vra diegene wat deur die krisis gaan. Dit is nóú die tyd om op alle platforms dringendheid oor die saak te kommunikeer ten einde lewens te red.

In België is ons al byna twee weke in algehele afsondering. Dit is noemenswaardig om te sien hoe die Belge dissipline toon ten opsigte van selfisolasie en basiese higiëne. Almal bly tuis en beweging word beperk. Die polisie beboet jou met byna R5 000 indien jy buite jou huis gevang word in groepe van meer as drie of buite die grense beweeg van waar jy mag reis. Welkom in die vierde industriële revolusie! Hier word hommeltuie met mikrofone gebruik om menslike beweging te monitor. Ons mag wel een keer per dag in isolasie gaan oefen of hardloop. By koswinkels staan sekuriteitswagte buite die deur en sorg dat net ’n sekere hoeveelheid mense kan ingaan. Geen geld of munte word ontvang of oor die toonbanke gegee nie omdat die virus vir etlike dae agterbly op dit waaraan jy vat. In die winkels vat jy dus nie aan produkte en sit dit weer terug op die rak nie. Basiese higiëne word toegepas en aan ander gedink. Betaling word sonder kontak met jou kaart gedoen. Jy self skandeer die artikel en plaas dit self in jou inkoopsak. België slaag tans daarin om die kurwe van die pandemie af te laat plat. Ek is egter bevrees dat indien Suid-Afrika nie onmiddellik erns maak nie, hierdie tsunami julle so hard gaan tref dat julle gesondheidstelsel dit nie sal kan hanteer nie, en só geweldige skade aan almal in die land berokken.

“Ons het maar vrede gemaak. Ons tyd is ons tyd”, sê een van die Suid-Afrikaners met wie ek dringend oor die saak gesels. “Die Here kyk mos na sy kinders”, sê ’n ander.

Vanuit die Europese krisis wat Suid-Afrika enkele weke vooruitgegaan het, klink hierdie woorde gevaarlik problematies en onverantwoordelik. Dit skep diep etiese vraagstukke waaroor ons krities móét dink. Die mees logiese is om so ver as moontlik ons bejaardes, wat almal hoërisikogevalle is, te beskerm.

Ek lees op ’n betrokke Afrikaanse gemeente se webblad hoe hulle bid vir die komende krisis en veral vir die armes en bejaardes. En daarom was dit vir my so ’n skok vanuit ’n afsonderingsperspektief toe ek persoonlik verneem van ’n begrafnis wat die week gehou word nadat ’n mediese personeellid skielik gesterf het.

Die jong dominee het geweier om die begrafnis persoonlik te hou teen die agtergrond van die pandemiese krisis. Die ouer dominee van 65 met diabetes en 27%-nierfunksie, wat reeds deur sy dokter op ’n tien dae lange voorkomende selfisolasie geplaas is, word toe gevra om die diens te behartig. Die ouer dominee stem toe in aangesien niemand anders dit wil doen nie en omdat hy sy hele lewe lank God eerste stel. Hy glo God sal hom beskerm. Die meeste van die mediese kollegas van die gestorwene woon selfs nie die diens by nie om risiko te vermy. Hulle weet natuurlik wat kom. Sommige familielede het onlangs ingevlieg van Europa. Dit maak hulle direkte risiko’s. Dit is absoluut ondenkbaar vanuit ons Europese ervaring van die krisis dat die menslikehulpbronnebestuur van die betrokke gemeente nie namens die werknemer, wat eintlik in selfisolasie moet verkeer nie, ingetree het.

Daar is verskeie etiese probleme hier. Hier is ’n baie praktiese voorbeeld waar die einste gemeente mooi bid vir die kwesbares, maar die mees blootgestelde persoon in hul diens nie proaktief beskerm nie. Sou jy dit toelaat as dit jou pa of oupa was? Wie is die ware held hier? Die jong dominee wat sy gesin kies, of die ouer dominee en die gemeente wat hul ou dominee direk blootstel? Of die ingeligte kinders wat tog voortgaan met ’n eerbare begrafnis en die dominee blootstel? Wie moes hier instaan en veg vir wie? Gee ons regtig om vir ons bejaardes of is dit net lippetaal?

“God sal ons beskerm,” herinner my aan die duiwel wat Jesus probeer verlei het om klippe in brood te verander en van ’n hoë plek af te spring. God word nie op die proef gestel nie, was Jesus se antwoord aan die duiwel.

Wil ons regtig God en gesonde verstand op die proef stel?

Ons kan nie bekostig om ligtelik hiermee om te gaan nie. Ons sal baie vinnig baie diep moet nadink oor elke besluit wat ons neem. In Europa het ons anders begin dink nadat ons besef het dat ons en ons kinders – soms sonder noemenswaardige simptome – die virus kan dra en iemand anders wat meer blootgestel is, ’n doodvonnis kan gee.

In hierdie krisistyd gaan almal, net vir ’n maand of wat, uiterste dissipline moet toon. Sosiale polisiëring beteken dat ons na mekaar kyk en mekaar monitor en mekaar beskerm waar jou eie land se veiligheidsmag se vermoë ontbreek. Wees in hierdie tyd ekstra streng en voorkomend. Dis nou lewe of dood vir baie. Wees nugter, waaksaam en onderskei fyn.

  • Kobus Kok is ‘n professor en hoof van die departement Nuwe Testament-studies aan die Evangeliese Teologiese Fakulteit (ETF) in Leuven, België. Hy is ook ’n buitengewone professor aan die Universiteit van Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans ·

In Alexandra stuur mense hulle nie aan die inperking nie en ry polisie magteloos rond,nie instaat om die skare mense te beheer nie .In Khayelitsha dans kinders in die straat en dryf die spot met die virus.
Slegs ‘n wonderwerk kan Suid Afrika van ‘n totale ramp red as die onverskillige houding bly voortduur.

KKok ·

Dis juis die uitdaging! Hulle besef nie wat besig is om te gebeur nie. Die enigste manier is om self-polisiëring toe te pas. En álmal moet dit doen. Van ons Fisio kollegas in S.A. het praktyke reeds aantal dae gelede gesluit met REUSE finansiële verlies omdat personeel betaal moet word. Wat hulle rasend maak is dat hulle bereid is om aansienlike verlies te dra twv veiligheid maar dan kry mens sulke mense wat nie aksie en verantwoordelikheid vat nie.

katerinadiekat ·

A whole lot of South African citizens are going to win a Darwin Award.

Marthinus ·

Ongelukkig gaan die Darwinners in hulle onnoselhied baie ander mense ook blootstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.