SA skole kan meeding met beste ter wêreld

wiskunde-02

Foto: Antoine Dautry/Unsplash.com

Deur Johan Koekemoer

Die Internasionale Wiskunde Olimpiade (IWO), die grootste wiskunde-kampioenskap vir hoërskool leerders ter wêreld, het onlangs in Brittanje plaasgevind. Jaarliks spook ongeveer 670 leerders van 102 lande dit met mekaar uit om die trots van hul land te wen.  Dit was die 28ste jaar dat Suid-Afrika aan dié kompetisie deelneem en ons het ons weer uitstekend van ons taak gekwyt.

Om deel te neem mag jy nie ouer as 20 jaar oud wees nie en ook nie aan ’n tersiêre instansie ingeskryf wees nie. Deelnemende lande stuur gewoonlik ’n span van maksimum ses leerders, saam met ’n leier en ’n adjunk-leier, om deel te neem. Leerders skryf twee vraestelle oor twee agtereenvolgende dae met drie vrae per vraestel. Elke vraag tel sewe punte en leerders moet drie probleme oplos binne ’n kwessie van vier en ʼn half uur. Dit beteken leerders het net meer as 12 minute om een punt te verdien. Probleme word opgelos in die leerder se moedertaal.

Suid-Afrika neem sedert 1992 deel aan die IWO en kon reeds in die derde jaar daarin slaag om ons eerste brons medalje te verower. Tydens die 28 jaar wat ons deelneem aan die IWO het ons in totaal 56 medaljes ontvang.

Bruce Merry is wel nog die enigste Suid-Afrikaner wat ’n goue medalje kon verower toe hy in 1997 93,25% in die Olimpiade behaal het.

Vanjaar het Suid-Afrika 16 plekke hoër geëindig as in 2018. Suid-Afrika lê tans 42ste uit ’n totaal van 112 lande. Dit is noemenswaardig aangesien ons ’n hele paar Eerste Wêreldlande uitgestof het. Hierdie lande sluit in Swede, Switserland, Portugal, Nieu-Seeland, Finland, Denemarke en België. Vanjaar stap ons weg met vier brons medaljes en twee ere-toekennings. Om vir ’n ere-toekenning in aanmerking te kom moet ’n leerder volpunte behaal vir ten minste een van die ses vrae. In 1992 het die Suid-Afrikaanse span ’n totaal van 21 punte uit ’n moontlike 252 behaal. 28 jaar later staan ons op 106 punte uit 252.

Hierdie prestasie staan in ’n direkte kontras met Suid-Afrika se prestasie tydens die TIMSS (Trends in International Mathematics and Science Study) se internasionale assesserings. Die TIMSS dien as internasionale maatstaf vir die gehalte van lande se wiskunde en wetenskap-onderrig. Suid-Afrika het in 2015 aan die studie deelgeneem en voorlaaste geëindig. Gevolglik het Suid-Afrika baie kritiek ontvang oor die swak gehalte van sy onderwysstelsel. Die Vereniging van Afrikaanssprekende wiskunde-onderwysers (VAW) is egter van mening dat die hele land se skole en onderwysers nie onder dieselfde kam geskeer kan word nie. Die IWO se uitslae is ’n bewys hiervan. Al ses deelnemende leerders kom uit openbare kwintiel 5 skole, waar skoolfonds die hoofbron van inkomste is.

Matriekuitslae wat jaarliks deur die departement van basiese onderwys gepubliseer word, wys dat die gaping tussen akademiese prestasies van skole wat skoolfonds vra en skole wat nie skoolfonds hef nie, drasties toeneem. Skole wat nie skoolfonds hef nie, bevat verreweg die grootste groep druipelinge. Hierdie skole is dikwels in arm gemeenskappe geleë.

Ons kan dus die verskil in uitslae tussen die IWO en TIMSS daaraan toeskryf dat leerders uit swakpresterende skole nie aan die olimpiade deelgeneem het nie.

Die groot verskil tussen skole wat skoolfonds hef en skole wat nie skoolfonds hef nie, is nie noodwendig hul bron van inkomste nie. Dit is eerder die betrokkenheid van die ouergemeenskap en toegewyde, bekwame onderwysers wat gehalte onderrig eerste stel. Dié is ook gewoonlik skole waar leerders toegang het tot moedertaalonderrig. Die VAW erken dus die harde werk wat leerders, skole en ouergemeenskappe insit om leerders se akademiese vermoë optimaal te ontwikkel en bedank hulle hiervoor. Sonder hulle bydrae sou ons nie kon kers vashou vir van die sterkste lande ter wêreld nie.

  • Johan Koekemoer is hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW), wat deel vorm van die Skoleondersteuningsentrum. 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jennefer ·

Een swaeltjie maak nie n Somer nie. Die regering doen die armes n onreg aan.

Judge Dredd ·

Hierdie is slegs die slimste van die slimste. Dit is geen aanduiding van die algehele standaard van ons wiskunde. Algeheel is ons wiskunde standaard gewoonlik onder die laaste 5 lande van die lande wat gemeet word.

Disselboom ·

Die hoof van die wiskunde-vereniging wys die verskil tussen statistiek en wiskunde: statistiese tegniek sal iemand daaraan herinner dat om ‘n populasie van net ses – waarskynlik afgerig en geoefen vir die doel – te neem en groot gevolgtrekkings oor algemene opleiding en prestasie daarvan te maak, nie korrek is nie. Veels geluk aan die presteerders op persoonlike grondslag nietemin.

Johan Swart ·

Onthou net ….. n onderwyser kan n kind net leer wat die onderwyser as kennis dra…vat n Standerd 4 (graad 6) Wiskunde of Aardrykskunde eksamen vraestel van 1986 en kyk watter hoërskool onderwyser vandag sal dit kan slaag….kyk maar na die Facebook blaaie van sommige skool-hoofde, dan bekyk jy die spelling van die woorde…walglik verkeerd.

Buks Barnard ·

Ja, dit wys jou nou net. Maar kon julle nie ‘n minder misleidende opskrif uitgedink het en die skrywer se taalgebruik ‘n bietjie reggetrek het nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.