SA steier nader aan ʼn fiskale krisis

russell-lamberti

Russell Lamberti is die hoofstrateeg van die beleggingsadviesfirma ETM Analytics en skrywer van die boek ‘When money destroys nations’. Foto: Reint Dykema.

Ontleding deur Russell Lamberti, hoofstrateeg: ETM Macro Advisors

In ons voorskou het ons vyf belangrike onderwerpe aan die hand gedoen om op te fokus by beoordeling van die mediumtermynbegroting. Noudat Tito Mboweni, minister van finansies, sy hersiene begrotingsoorsig aan die parlement voorgelê het, is dit tyd om terugskouend na hierdie kernkwessies te kyk:

1) Is daar enige openlike erkenning van die onvolhoubaarheid van die begrotingstekort en ’n geloofwaardige, beduidende plan om dit in die volgende fiskale jaar ten minste tot minder as R100 miljard te verminder?

Ons het nogmaals ’n oorgeruste minister van finansies gesien wat van Suid-Afrikaanse burgers en kapitaalmarkte verwag om toenemende begrotingstekorte vir lief te neem. Die nasionale tesourie ag homself duidelik nie verplig om die begrotingstekort tot onder R100 miljard te verlaag nie, en boonop is hy ook heeltemal tevrede met groter tekorte. Nie net sal begrotingstekorte groter word nie, maar ouer staatseffekte nader hul vervaldatum en sal ten volle terugbetaal moet word, wat meebring dat nog meer effekte uitgereik sal moet word om daarvoor te betaal, of dat die lenings herfinansier moet word. Dit alles beteken dat die regering se leenbehoeftes in die volgende fiskale jaar met nog R85 miljard (+35%) sal toeneem tot R315 miljard – ’n belangrike aspek van hierdie mediumtermynbegroting.

sa-begrotingstekort-2018-10-russell-lamberti

Grafika: Verskaf.

2) Gaan daar verdere belastingverhogings of -verligting wees? (Die minister sal nie duidelike belastingvoorstelle maak nie, maar kan verwys na die belastingbeleid vir Februarie 2019.)

Om die regering se onversadigbare bestedingsdrang te befonds, is meer belasting in 2019 ons voorland. Daar was geen erkenning van die nypende behoefte aan belastingverligting nie. Hoewel die Nasionale Tesourie nie beoog om die vernaamste belastings soos BTW, inkomstebelasting en maatskappybelasting te verhoog nie, is daar wel verklaar dat belastingkategorieë aangepas gaan word, waarskynlik om vir blokkruiping (bracket creep) voorsiening te maak, wat sommige belastingbetalers in hoër belastingkategorieë sal plaas, selfs al kry hulle net inflasiegekoppelde salarisverhogings. Daarby word die koolstofbelasting steeds sterk oorweeg.

Die ontstellendste – omdat dit die lot van Suid-Afrikaners doodeenvoudig ignoreer – is egter ’n uitdruklike voorneme in die minibegroting om “verdere gróót verhogings van die brandstofheffing in elk van die volgende drie jare” aan te bring.

Die ANC-regering sal sy belastingwurggreep nie in die minste verslap nie.

3) Is daar ’n konserwatiewe besef van huidige groei in belastinginkomste en ’n erkenning dat plaaslike en internasionale ekonomiese kragte kan meebring dat inkomstevoorspellings vir 2019 en 2020 te optimisties kan wees?

Die nasionale tesourie stel makro-ekonomiese scenario’s op. In die ergste geval (scenario B hier onder) stel hy ’n wêreldwye resessie in die vooruitsig waarin Suid-Afrika se nasionale tekort skerp styg. Wat egter interessant is, is dat dit wil voorkom of hierdie baie wesenlike risiko nie by die kernbegrotingsvoorspellings ingereken is nie. Die scenario weerspieël ook die staat se chroniese bestedingsverslawing, want in hierdie vooruitskatting beoog die tesourie geen merkbare inkorting van besteding nie, selfs al sal belastinginkomste sterk afneem!

4) Word enige mate van privatisering van staatsbeheerde ondernemings beoog?

Oor die privatisering van staatsbeheerde entiteite is daar niks uitdrukliks gesê nie, en die regering bly verbind tot belastingbefondsde reddingsboeie vir hierdie disfunksionele maatskappye. In die minister se toespraak en ook in die amptelike Mediumtermynbegroting-beleidsverklaringsverslag (MTBBV-verslag) is daar melding gemaak dat “moeilike besluite” geneem sal moet word om staatsbeheerde ondernemings reg te ruk.

Mboweni het dit beklemtoon en stadig en duidelik herhaal dat staatsbeheerde ondernemings “hersaamgestel” moet word en dat daar in die proses geen heilige koeie mag wees nie. Gegewe dat die heilige koeie by staatsbeheerde ondernemings privatisering en afleggings is, kan dit ’n aanduiding wees van planne om die kleiner entiteite soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) op te deel.

Ons wag vir meer nuus hieroor, maar ons moet skepties bly, met inbegrip van die kriptiese retoriek en gebrek aan besliste, spesifieke voorstelle om hierdie gebroke, rykdomverkwistende maatskappye reg te ruk.

Algemeen: Van kernbelang vir die minibegroting is of die Ramaphosa-administrasie ’n sinvolle begeerte het om die grootte en omvang van die staat fundamenteel te verklein.

Die kort antwoord is nee. Die begroting toon weinig verandering in benadering tot die vermindering van die omvang en mag van die staat in die ekonomiese stelsel.

Daar was ’n mate van retoriek oor aanmoediging van privaatsektorinvestering, maar by nadere ontleding blyk dit dat dit betrekking het op koöptering van privaat maatskappye om openbare infrastruktuur te befonds deur die daarstelling van ’n Infrastruktuurfonds wat onlangs deur president Ramaphosa aangekondig is. Hoewel dit klink soos nóg reusegeleenthede vir baantjies vir boeties in staatsprojekte, kan ons minstens potensiaal sien in soverre die staat privaat maatskappye toelaat om projekte met ’n lewensvatbare verwagte opbrengskoers vryelik self aan te pak.

Betreffende ’n infrastruktuurraamwerk bevat die verslag oor die mediumtermyn-begroting hierdie interessante aanhaling op bladsy 4:
“Kan die projek ten volle privaat befonds word? Talle groot infrastruktuurprojekte is kommersieel volhoubaar. Pleks van skaars openbare hulpbronne te gebruik, sal die regering reguleringsbelemmerings verwyder wat in die pad staan van projekte in sektore soos behuising, telekommunikasie en vervoer (lughawens, byvoorbeeld).”

Ongelukkig, hoewel dit belowend klink en in sekere gevalle so kan wees, is daar ’n gebrek aan verbintenis tot breër bevryding van die ekonomie en om maatskappye toe te laat om beleggingsgeleenthede te ontdek uit vraag-en-aanbod-seine in vrye markte vir privaat eiendom. In plaas daarvan, sal die staat besluit waar en hoe kapitaal bestee moet word. Voorts word daar steeds beoog om projekte van twyfelagtige of geen kommersiële regverdiging aan te pak, en ons weet uit stewige akademiese literatuur oor openbare infrastruktuurbesteding, dat die meeste staatsinfrastruktuurprojekte verliese ly en ’n geweldige fiskale en ekonomiese las is.

Wat het ons uit die 2018-minibegroting geleer?

• Ons het geleer – of liewer, dit is bevestig – dat Tito Mboweni nie ’n vernuwende minister van finansies is nie en dat tekorte gaan groei en nie krimp nie. Dit was ’n baie swak begroting;
• dat belastinginkomste stadiger gegroei het as wat aanvanklik gedink is as gevolg van ʼn onderskatting van BTW-terugbetalings, deels as gevolg van ʼn brose ekonomie waar meer sakeondernemings verliese ly;
• dat die belastinglas in 2019 gaan toeneem en dat die staat geen voorneme het om besteding in tye van fiskale probleme te besnoei nie;
• dat Mboweni nie bang is om homself sterk teen korrupsie uit te spreek nie en dat hy reken dat die Reserwebank onafhanklik moet wees en inflasie laag moet hou. Maar ons weet ook dat dit presies is waarvoor hy aangestel is om te doen – herstel die geloofwaardigheid van die Nasionale Demokratiese Revolusie en kry die ANC se groot staatsboustrategie weer op dreef. Ongelukkig beteken dit dat die vlamme van fiskale en makro-ekonomiese verval aangeblaas word;
• Ons het geleer dat die kern van die ANC se beleid nie werklik verander het nie, en ons dink daar kan nou met veiligheid gesê word dat dit onder president Ramaphosa nie kan verander nie en nie sal verander nie. Die minibegrotingsverslag bevat die meeste van die gebruiklike ANC-gonswoorde en -frases soos dat “die onderliggende struktuur van die ekonomie” dringend verander moet word en dat “verwronge patrone van eienaarskap” aandag moet kry, terwyl dit opsetlik vaag bly oor grondonteiening sonder vergoeding. Daar was ’n skynbaar goedkeurende vermelding van voorgestelde wetgewing om die omvang van arbeidsgeskille en stakings te verklein – dalk is selfs die ANC besig om moeg te word vir vakbondwanfunksionering; en
• laastens het ons geleer dat die staat nie ’n lewensvatbare gebeurlikheidsplan het vir as die wêreldekonomie afswaai en internasionale finansiële toestande verswak nie. Suid-Afrika is ’n brose bootjie in ’n wye internasionale oseaan, en die staat dink blykbaar die werklikheid gaan nooit toeslaan nie. Maar dit sal.

  • Hierdie artikel word met die vergunning van Sakeliga geplaas.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

John ·

‘n Realistiese stem op die sinkende skip. CR sing mooi deuntjies voor die IMF-antie se kamervenster maar ons is reeds 20 jaar weg van die Mandela-era toe die destydse euforie die wereld betower het. Waarom sou SA so voorgetrek moet word voor ander lande? Om bloot te belowe hy sal dinge anders doen… Wat erg is, is dat die ANC witkapitaal se werksaamhede misbruik om hul eie saak te wil versterk en sodoende op andere se louere rus. Die skaamtelose aankondiging dat witkapitaal nie by name genoem mag word nie, maar die name van plase wel gelys word wat met sulke kapitaal befonds is, is skreiend siek. CR glo die blou fee gaan betyds opdaag met haar /*

Jerry ·

Die ANC het doelbewus die rand laat val onder Zupta om die politieke klimaat voor te berei vir OSV teen n appel en n ui. Onder CR wil hulle die rand weer doelbewus optel, om vir die massas te wys dat die ANC instaat is om die ekonomie te laat val en instaat is om die ekonomie weer op te tel. Na CR gaan die ANC die rand weer laat val met ondersteuning van die massas, sou die ANC dit nodig ag om die klimaat te skep vir nasionalisering. Dit is die NDR se uiteindelike oogmerk wat beteken dat die ANC se rewolusionere struggle nog ver van klaar af is, indien dit ooit sal stop! Alles hang af van hoe die ANC besluit om die politieke klimaat te skep, vreedsaam of anargisties.

Chris Ws ·

Dis elke dag duideliker dat die huidige president NIE so slim is as wat hy voorgee om te wees nie of wat duisende blankes gedink het hy is en steeds dink hy is nie.
Daar le ‘n reuse ontnigtering vir BAIE mense voor.
Ek wonder wat het geword van die betogers teen die brandstof prys?Hulle het ‘n stille dood gesterwe want hulle het besef hulle los ‘n windjie teen ‘n tornado.

Boer-in-die-wind ·

Goeie ekonomiese artikel & evaluering.

Maroela media – hou asb aan om artikels uit hierdie bron te plaas.

Francois vRvO ·

Daar is geen salf te smeer aan hierdie ekonomie van ons nie. Die hefbome is nie in ons hande nie, die skrif is teen die muur.
Dit sal makliker wees om ‘n nuwe ekonomie te stig as om hierdie gebroke een te herstel.
Water , brandstof en elektrisiteit gaan nog onbetaalbaar duur word as gevolg van balastings en heffings. Dus hierdie drie hulpbronne moet die vertrekpunt wees as ons ons eie ekonomie op die been wil bring.

Eish ·

Weereens n puik artikel uit die skrywer se pen.
Die helhool gaan eenvoudig nog warmer word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.