SA wéér voor quo vadis-oomblik

Studente betoog in die strate van die Pretoria-sakesentrum (12 Oktober 2016). Foto: ANA

Studente betoog in die strate van die Pretoria-sakesentrum (12 Oktober 2016). Foto: ANA

Deur Prof. Pieter Reyneke

Suid-Afrika staan weer voor ’n quo vadis-oomblik in die geskiedenis. Ten einde die stelling in perspektief te plaas net die volgende agtergrond. Lesers moet egter ook op hulle eie ervaring en herinnering van gebeure steun om hulle eie prentjie te skilder om die volgende gebeure in Suid-Afrikaanse konteks nou, 2016, en in 1976 te verstaan. Anders as wat andere mag dink, het die studente tans nie werklik ’n ander uitweg nie as om hulle woede in geweld uit te leef. Dit regverdig nie hulle geweld nie, die skrywe plaas net die studente se optrede in ’n ander perspektief.

Die metaforiese deur wat die huidige demokratiese bestel as ontsnaproete aan die studente moet bied, funksioneer nie. Hierdie deur is ’n groeiende ekonomie en werksgeleenthede. Die studente se instink is dat dit dekades gaan neem voordat hulle ’n beter toekoms sal beleef. Die redes vir hulle woede is kompleks en die oplossing van hulle probleme gaan tyd neem. Die uitlaatklep vir hulle woede is tegnies gesluit as gevolg van korrupsie, nepotisme en die ANC se beleid van bevoorregting.

In ’n demokratiese bestel soos Amerika word daar klem geplaas op die individu om vir hom- of haarself te sorg. ’n Afhanklikheid van staatsubsidies word op alle gebiede teengewerk. Die kernrede vir hierdie beleid is juis om ’n revolusie af te weer as gevolg van die ekonomiese ongelykhede in die ekonomie. In lande waar daar ’n hoë verwagting is dat die staat subsidies sal lewer om ongelykhede teen te werk, of in jonger Oos-Europese demokrasieë waar die vorige kommunistiese regerings sosiale subsidies gegee het, is die jong demokrasieë onder groot druk as gevolg van stygende ekonomiese verwagtings. Ekonomiese ongelykheid hou groot risiko’s in vir ’n jong demokrasie. As ekonomiese groei daal en onder ’n sekere vlak verlaag, kan dit die einde van daardie demokrasie beteken.

Ten einde die res van die artikel te verstaan, noem ek kortliks die redes vir die “Arabiese lente”. “Numerous factors led to the protests, including issues such as dictatorship or absolute monarchy, human rights violations, political corruption, economic decline, unemployment, extreme poverty, and a number of demographic structural factors, such as a large percentage of educated but dissatisfied youth within the entire population. Catalysts for the revolts in all Northern Africa and Persian Gulf included the concentration of wealth in the hands of autocrats in power for decades, insufficient transparency of its redistribution, corruption, and especially the refusal of the youth to accept the status quo.” (Verkry vanaf Wikipedia.) Hierdie fatore is nou almal teenwoordig, behalwe dat Suid-Afrika nou ’n jong ontwikkelende demokrasie is. Die faktore verklaar die studente-onluste en ook waarom die stoompot nog nie sy deksel afgeskiet het nie.

Die 1976-onluste het almal onverwags getref en die stoompot se deksel afgeskiet omdat Suid-Afrika nie ten volle demokraties was nie. Nóg die African National Congress (ANC), Pan Africanist Congress (PAC), Nasionale Party-regering en Nasionale Intelligensie (Boss) nóg die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) het werklik die opstande voorsien. Ongelukkig word die 1976-onluste onwetenskaplik as ’n protes teen Afrikaans verklaar. Die rede waarom Afrikaans as valse katalisator gebruik kon word, is omdat al die faktore wat in die bogenoemde aanhaling genoem word voor die deur van apartheid en die Afrikaner as verpersoonliking van die probleme geplaas kon word. Die Soweto-studente was tot hulle eer, en politieke volwassenheid, polities intelligent genoeg om Afrikaans as katalisator te gebruik.

Daarteenoor, in 1985, het die African National Congess (ANC) ’n “People’s War” teen die bestaande staatsorde gevoer. Dit was dus nie ’n “Arabiese lente” nie, maar ’n koel berekende revolusie wat deur onder andere Winnie Mandela gedryf was, met ongehoorde politieke geweld en politieke intimidasie. Die ANC het beloftes gemaak en verwagtinge geskep sonder om polities verantwoordelik gehou te word vir hulle moorddadige optrede en uitsprake.

Tans weet ’n groter getal kiesers dat politici die blaam moet dra en dat hulle demokraties aanspreeklik gehou moet word en hopelik nie ’n taal en sy gebruikers aanspreeklik hou nie, soos gebeur het in 1976. Ongelukkig is dit nie die geval nie en word Afrikaans steeds geblameer.

Die huidige studente-opstande verskil glad nie van dié van 1976 nie, buiten die demokratiese uitlaatklep. Dieselfde faktore wat in 1976 teenwoordig was, is nou teenwoordig. Die faktore wat in 1976 teenwoordig was, lees woordeliks soos bogenoemde redes vir die “Arabiese lente”. Die enigste verskil, maar uiters, uiters belangrik, waarom daar nie ’n revolusie in Suid-Afrika is soos in 1976 nie, is die feit dat demokrasie in Suid-Afrika die stoom laat ontsnap. Wat wel die spreekwoordelike deksel sal laat afskiet, is juis die stagnerende ekonomie. Dus, as daar nie ekonomiese groei met gepaardgaande werksgeleenthede in die nabye toekoms gaan plaasvind nie, kan Suid-Afrika wel ’n tipe “Arabiese lente” beleef.

Solank as wat die burgerlike instellings wat die demokrasie in Suid-Afrika ondersteun, kan bly staan teen Zuma en die studente se aanslag sal Suid-Afrika as ’n volwasse demokrasie eindig. Tans betaal Suid-Afrika die rekening vir die reeks toetse wat die sterkte van die Suid-Afrikaanse demokratiese instellings toets. Beskou dit as die rekening vanaf Moodies of ’n ander instelling wat die gehalte van instellings meet. Zuma en die studente toets nou die sterkte van Suid-Afrika se demokrasie. Dit is ook soos ’n tienerseun wat sy ouers se gesag uitdaag.

Suid-Afrika is nou ongeveer 20 jaar ’n demokrasie. Baie min Suid-Afrikaners was in 1994 ten gunste van ’n Westerse demokratiese regering. Die Grondwet en demokrasie was dus ’n kompromis. Die burgerlike instellings wat die Grondwet moet onderskraag, moes dus uit hulle kinderskoene groei. Die huidige situasie in Suid-Afrika toets die sterkte van hierdie instellings. Ons is dus nou voor die “High Road”- en “Low Road”-scenario. Suid-Afrika gaan egter die “Middle Road” volg – demokraties bly en sterker word, maar met baie gewelddadige protes deur studente en die bevolking.

Wetenskaplik is bevind dat daar ’n vlak van ekonomiese ontwikkeling (industrialisering is hier van sleutelbelang) nodig is vir ’n demokrasie om te ontwikkel en voort te bestaan. Ekonomies sal Suid-Afrika net moet oorleef, anders daal die sterkte van die ekonomie tot ’n vlak waar ekonomiese ontwikkeling so laag word dat dit negatiewe gevolge vir die demokratiese ontwikkeling en groei in Suid-Afrika sal inhou. Ek betwyfel dit egter of Suid-Afrika so agteruit sal gaan.

Die studente-onluste moet in perspektief gesien word. Studente studeer en gradueer, maar daar is geen werksgeleenthede nie. Die welvaart is in die hande van ’n klein groepie mense, en hulle is bewus dat die regering se beleid wat gelyke beregtiging en geleenthede moet skep net vir diegene voordele inhou wat politieke verbintenisse met die politieke en ekonomiese elite het.

Die ANC en die land betaal dus nou die prys vir die ANC se gebrek aan diversifisering van die ekonomie toe die prys van hulpbronne hoog was. Die ANC het die inkomste gebruik om politieke steun op kort termyn te koop met allerhande welsynbetalings.

Suid-Afrika as demokratiese land sal oorleef, maar nie voordat Zuma en die studente die burgerlike instellings voor ’n groot toets gaan plaas nie. Die afgelope munisipale verkiesings het egter bewys dat Suid-Afrika ’n demokrasie is en dat die bevolking hulle reg opgeneem het om teen die African National Congress (ANC) te stem.

Die kiesers is tans dus volwasse genoeg om die politici verantwoordelik te hou vir die krisis in die ekonomie, korrupsie en wanbestuur. Die oplossing is dus om die ekonomie te diversifiseer, veral industrialisering. Met ander woorde, daar moet ekonomiese hoop geskep word vir die jeug; welvaart moet op ʼn ander wyse gedeel en nie verdeel word nie. Korrupsie en die bevoordeling van ’n elite moet gestuit word. Dit is die enigste oplossing om Suid-Afrika op die “High Road” te plaas.

  • Reyneke is ‘n professor aan die SoonChungHyang Universiteit in Suid-Korea.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Loeis ·

Sommer ‘n paar gedagtes:

Dit is waar dat die ANC in hierdie jaar se veerkiesing steun verloor het. Maar gaan dit voortgaan as Zuma eventueel uittree?

Suid-Afrika het eintlik lank goeie ekonomiese groei getoon. Maar het Suid-Afrikaners die vrug daarvan gepluk? Wie is die aandeelhouers? Veral van die myne. Daar is instellings wat steeds baie goed groei. Maar gaan staan bv voor van die groot banke se hoofkantore en jy sal sien dat dit blykbaar ‘n ongeskrewe reel is dat veral tegnologie poste na mense gaan wie uit Indie ingevoer is.

Ekonomiese groei is nie gelyk aan die welvaard van die bevolking nie. Maatskappye kan enorme groei toon en reuse dividente betaal terwyl die bevolking in armoede leef. Daaroor, ten minste, is Malema reg. Met sy eie politieke motiewe, en dit skep ‘n president, en nie ‘n vriendelike een nie.

janneman ·

Ongelukkig word net n deeltjie van die “massas” polities volwassa gehewe die blootstelling wat hulle ontvang by tersiere instellings, en die res van die “massas” vind steeds aanklank by opleiding deur tradisie, maw by die oueres. Hierdie oueres was gebreinspoel om ontwikkelaars van die land te haat, en dra dit dus so oor aan nasate! Die “massas” onderontwikkelde bevolking groei dus steeds vinniger as die groep wat wel ontwikkel, en dit gaan ten minsye nog n generasie neem voor die haatdraendes se invloed gering sal wees. Tot dan twyfel ek of die demokrasie sterk genoeg sal wees om die gety van verset te kan deurstaan, en is ek oortuig dat armoede en hongersnood eerder die massas gaan dwing om te besin. Vir nou leef almal nog gemaklik, sommige deur verdienste en baie deur diefstal.

Rupert Ashford ·

Mmm die Prof uit Korea. Oor die Arabiese lente haal hy Wikipedia aan maar voeg nie by dat inmenging van sekere lande om daardie lande te demokratiseer ook sterk bygedra het nie. En kyk hoe mooi “demokraties” is meeste van daardie lande nou. Die ekonomiese groei waarvan die Prof vir Suid Afrika praat is ook ‘n reuse uitdaging aangesien ons tans pak kry in die “global village” met ‘n oneffektiewe en lui arbeidsmag wat hoe salarisse verwag. Quo vadis verseker!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.