Saambindende effek van plaasaanvalle en plaasmoorde

swart maandag pretoria4

Foto: Twitter

Bykans enige joernalis weet dat berigte oor plaasaanvalle en plaasmoorde nie net feitlik gewaarborg sal wees van ’n hoë aantal lesers nie, maar dat dit deur ’n lang lys van leserskommentare gevolg sal word. Skakelbeamptes van politieke partye en burgerlike organisasies sien die geleentheid raak om publisiteit te kry en val oor hul voete om mediaverklarings uit te reik om simpatie uit te spreek. Maar, soos een partyleier naderhand in ’n mediaverklaring sê, daar is so baie plaasmoorde dat sy woorde om simpatie oor te dra op raak. Niemand wil immers dieselfde resitasie aframmel en die sensitiewe kwessie goedkoop maak nie.

En dan is daar partye vir wie plaasaanvalle op die oog af nie kan skeel nie. Niks word uitgereik nie, en niks word gesê nie.

Plaasmoorde is nou akuut onder die vergrootglas deurdat daar sedert die aanvang van verlede week ’n vlaag plaasaanvalle en plaasmoorde was.

Dit kom weer te midde van verskillende statistieke wat uitgereik is. Volgens die polisie se misdaadstatistiek, aldus die Vryheidsfront Plus, het plaasmoorde en -aanvalle in die 2016/2017 boekjaar skerp toegeneem. Plaasmoorde het met 27,5 % en plaasaanvalle met 22,9 % toegeneem. In die verslagjaar was daar 74 plaasmoorde teenoor 58 in 2015/16 en 638 plaasaanvalle teenoor 519 in 2015/16.

Volgens AfriForum se syfers was daar vanjaar reeds meer plaasmoorde en plaasaanvalle as in die ganse 2016. Daar was die afgelope ses jaar ’n skrikwekkende toename in plaasmoorde, aldus AfriForum.

Die TLU SA voeg by dat baie van die plaasmoorde uiters wreed gepleeg word.

Dit is verblydend dat die minister van polisie nou aangekondig het dat ’n spesiale taakspan teen plaasaanvalle in die lewe geroep gaan word. Dit is iets wat ten spyte van verbete pogings deur rolspelers, erg agterweë gebly het. Die tyd sal leer of daar veel erns in hierdie onderneming steek.

Intussen het ’n veldtog op sosiale media begin, waaronder ’n oproep dat mense Maandag swart dra as teken van meegevoel met die slagoffers van plaasaanvalle. Dit blyk dat daar omstredenheid hieroor is – nie soseer oor die meegevoel of solidariteit met die boeregemeenskap nie, maar die sin van simboliese dade. Daar is ’n sterk oproep om iets meer konkreets te doen.

Konkrete bydraes is uiteraard broodnodig. Verskeie instansies lewer fisiese beveiligingsbystand, waaronder Agri Securitas en AfriForum. Radio’s en seinbonsers is byvoorbeeld van groot waarde.

Aan die ander kant word daarop gewys dat die trauma wat slagoffers van plaasaanvalle beleef, veel erger as gewone trauma is. Dit word viktimonologie genoem, en die trauma word verskerp deur ’n gevoel van afgesonderdheid en dat die boere aan hul eie lot oorgelaat word. ’n Simboliese daad wat wyd sigbaar ondersteun word om solidariteit te toon, kan waardevol wees. ’n Meer konkrete vorm van solidariteit toon is moontlik om bydraes te maak vir voer en ander middels waar die droogte nóg boere uit hul bestaan bedreig.

Elkeen kan ’n verskil maak.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Alta ·

Wat my die meeste bekommer van ons ou volkie is die vrees. Die benoudheid. Die aanmaning tot bekering. Die veralgemening. Dat plaasmoorde toeneem is waar. Dat misdaad hoog is, is ook waar. Dat daar seer en pyn en swaarkry is weens die moorde is n feit. Die opmars en uitsprake is dalk nie NET gegrond op samesnoering nie maar ook op vertoon? Die emosioneel-belaaide videos wat vir my aangestuur word laat my wonder waarom Calvinistiese vrees so ingeboesem word . . .bekeer jou of! Ek is n Christen en n plaasnooi en het baie empatie maar alles wat te te is laat my dieper soek as die oppervlakte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.