Saamstaan kan kampusgeweld stop

Die verteenwoordigers van die onderskeie organisasies. Foto: Reint Dykema

Die verteenwoordigers van die ANC en Solidariteit. Foto: Reint Dykema

ʼn Paar dae gelede skryf Max du Preez in Die Burger Afriforum se mense het “konfrontasie met die EFF by Tuks” gaan soek en vervolg dan: “Hy lieg oor sy werklike agenda. Die produkte wat Afriforum verkoop, is vrees en konfrontasie, nie beskerming nie.”

Gister volg Adriaan Basson dit op Netwerk24 se webwerf op in ʼn andersins ongewoon besadigde artikel deur te verwys na “die EFF en Afriforum Jeug se klipgooi op die Hatfield-kampus”. Waarmee hy wil sê die EFF en Afriforum was albei skuldig aan “klipgooi” – fisieke geweldpleging, dus.

Sondag het iets egter gebeur wat ʼn onverwagse lig op die saak gewerp het. Die leiers van die ANC en Solidariteit het koppe bymekaargesit oor die gevaar dat die kampusgeweld die belangrikste Suid-Afrikaanse universiteite uitmekaar kan skeur. En … hulle het mekaar gevind!

In die gesamentlike verklaring wat Sondagmiddag uitgereik is, staan onder meer: “Hoewel die partye bewus is van die feit dat hulle verskillende standpunte oor verskeie sake huldig, is die partye geïnspireer deur die gees van veelpartygesprekke en dialoogpraktyk wat insluitend, deursigtig en breedweg verteenwoordigend is van uiteenlopende denke. Hierdie veelpartygesprekke het ons land histories as beste praktyk gedien om komplekse sake van gemeenskaplike belang tussen verskeie belanghebbendes en partye op te los.”

Verder het hulle saamgestem die intimidasie, geweld en polarisasie op die kampusse word “onvoorwaardelik” veroordeel, geen taal mag bo ʼn ander bevoordeel word nie, “gevoelens van wraak, vergelding en haat “mag geen rol speel nie” en “enige populistiese, demagogiese, eensydige en ondemokratiese oplossing van die taalkwessie wat intimidasie, ontwrigting en geweld gebruik, moet onvoorwaardelik verwerp word”.

Die betekenis van dié ooreenkoms kan kwalik oordryf word. Om die betekenis behoorlik te deurgrond, is dit nodig dat ʼn mens presies weet watter organisasies hul naam aan die ooreenkoms verbind het.

Aan die een kant was daar die vakbond Solidariteit, Afriforum en Afriforum Jeug. Aan die ander kant van die spreekwoordelike tafel, het verteenwoordigers van die ANC, SAKP, Cosatu, Sanco, die ANC Youth League, die Young Communist League en Sasco gesit – almal van Gauteng.

Afwesig – helaas – was die EFF en sy meelopers. Dis nie bekend of die EFF uitgenooi is nie, maar die kans is in elk geval uitstekend dat die groep en dié in sy dampkring die uitnodiging van die hand sou gewys het, tensy hulle vantevore die versekering gekry het daar sal aan ál hul eise toegegee word – in welke geval so ʼn ontmoeting oorbodig sou wees.

Nouja, laat ons maar nie te veel sterretjies in die oë kry nie, want met dié vergadering is die probleem nie op ʼn einde nie. Die ruggraat wat universiteitsowerhede in Pretoria, Potchefstroom, Stellenbosch en Kaapstad opeens ontdek, kan saam met die ooreenkoms bydra tot ʼn voorlopige einde aan die onrus, maar dit gaan weer terugkeer.

Die rede hiervoor is dat die kampusonrus soos manna uit die hemel vir die EFF kom. Hy melk dié koei vir al wat hy werd is en die eerste vrugte daarvan kan ʼn mens waarskynlik reeds later vanjaar met die munisipale verkiesings in Suid-Afrika sien.

Tog, as selfs die ANC en verwante organisasies al insien dat die hele land die negatiewe gevolge sal dra indien ons tersiêre onderwys in duie stort, het ons darem al ʼn beduidende ent gevorder.

Maar die ooreenkoms wys nog iets belangriks. Dit wys daar is in die Solidariteit-kamp genoeg koel koppe wat besef dat konfrontasiesoekery niks oplewer nie.

As die ander klomp konfrontasie met jóú soek, moet jy nie, soos Max en Adriaan voortdurend propageer, soos ʼn hondjie op jou rug gaan lê sodat jou magie gekrap kan word nie. Dis nie ʼn krappery wat sal volg nie; wel ʼn getráppery.

Slap rûe lok nie begrip, bewondering en vriendskap van die ander kant uit nie. Jy dwing wel respek af as jy beleefd, ferm en reguit bly. Jy moet nooit eerste slaan nie. Jy mag wel jouself verdedig.

Belangriker nog: Soek altyd ʼn geleentheid om met die ander kant te praat. As dit nie help nie, is dit bitter jammer, maar dan beset jý die moreel-verhewe posisie. En wanneer dit gaan om die passiewe meerderheid te oortuig, is dit belangrik dat jy kan aandui jy is nie die aggressor nie en jy doen die regte ding.

Om dit op die taalkwessie toe te pas: Dis jou grondwetlike, demokratiese mensereg om onderwys in jou moedertaal te ontvang waar dit, soos die Grondwet dit stel, moontlik en dienlik is. Natuurlik is dit in dié stadium nie altyd moontlik nie – die swart tale is (nog?) nie tot die peil ontwikkel dat hulle as akademiese onderrigtale gebruik kan word nie.

Afrikaans is dit wél. En dus is Afrikaanssprekendes – maak nie saak wat die kleur van jou vel is nie – gerégtig op moedertaalonderwys op alle vlakke, primêr, sekondêr en tersiêr. Die EFF en sy satelliete het géén wetlike of morele reg om jou daardie reg te ontsê nie.

Wanneer jy op ʼn vreedsame, maar ferm manier op jou normale regte staan, verkoop jy nie, soos Max sê, “vrees en konfrontasie” nie. En kan Adriaan verduidelik wat die bewyse is vir sy stelling dat Afriforum Jeug op die Hatfield-kampus klip gegooi het?

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek het werklik begrip vir die kulturele pyn wat baie swart studente ervaar in ʼn omgewing wat vir hulle wesensvreemd is en waar hulle in ʼn vreemde taal moet studeer. Ek het werklik begrip vir hul ervaring wanneer wittes – Afrikaans en Engels – outomaties en dikwels sonder dat hulle dit weet, op die swart kultuur neersien. ʼn Eeu gelede het ons eie Afrikaner-voorvaders baie soortgelyke ervarings onder die Engelse gehad en ook ons het oordrewe daarop gereageer.

Maar die antwoord is nie om Afrikaans af te breek nie. Die antwoord is om skouer aan die wiel te sit om die swart tale op te hef sodat hulle wel as akademiese onderrigmedium kan dien.

Dis geen kitsoplossing nie. Dekades se bloed, sweet en trane van tienduisende mense is gestort om Afrikaans te bóú tot waar hy nou is. Baie Afrikaners steek hul hand van vriendskap uit na swartes om hul eie ondervinding in dié opsig beskikbaar te stel. Moenie daardie hand wegklap nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

anna ·

Baie dankie. Ek is versigtig- optimisties!
Dankie vir almal serbydraes!

Pieter ·

Daar het nie verniet duisende mense Sondag regoor die land vir ons land gebid nie .Die Here is in beheer van ons land.

Bruno Stef ·

Dit is maar seker n gatslag as mense jou begin ignoreer terwyl jy oor jare lank jou galbrakery oor andersdenkendes gepropageer het.Die twee menere se kommentaar is maar deel van hulle oudmodiese sienings en self die mense wat rerig saakmaak lag hulle uit MAW moet nie verklarings maak wat julle nie kan staaf nie.Julle grootste probleem is dat Solidariteit julle Donder gesteel het daarom ween julle so.

Soekie ·

Ek is ‘n Kapenaar en verstom oor die wanbegrippe oor die kampusgeweld by ons noordelike universiteite wat ons suidelike koerante versprei of toelaat om te versprei. Terwyl die werklike toedrag van sake, met foto’s en kommentaar deur betroubare bronne deurlopend op Maroela Media beskikbaar was. Die artikel van Max du Preez waarna hierbo verwys word, tesame met ‘n lesersbrief met dieselfde strekking, het Saterdag prominent die indruk geskep dat “Afrikaanse lummels” en AfriForum vir die geweld verantwoordelik was (of dit uitgelok het). Ek kan glad nie begryp hoekom dele van Media 24 (is dit net hier in die suide?) so deurlopend deelneem aan wat ek niks anders as “Afrikaner-bashing” kan noem nie. Wat wen hulle daardeur? Hulle verloor vir seker die goedgesindheid van Afrikaners wat die afgelope 20 jaar hulle werk verloor het en beslis nie lus het om die slaansak vir ander se probleme of ontevredenheid te wees nie.

JC ·

Max du Preez is verskriklik naief in sy gemaklike ou leuenstoeltjie! Ek hou nie van hom nie…!

Hy behoort hom te skaam! Dit gaan oor die veg vir jou Taal en gepaardgaande ideale. Nelson Rolihlahla Mandela en Andre P Brink sal verseker in hul grafte omdraai. Daar moet saamgewerk word om ander Afrika-tale nes Afrikaans soos bv. Sotho (Suid en Noord), IsiZulu en IsiXhosa uit te bou, pleks daarvan om Afrikaanses te blameer vir die uitnemendheid van hul taal.

Veg voort en hoop redelikheid seevier!

Hendrik ·

Beeld se verkoopssyfer het nou gedaal onder 50 000 en talle mense boikot die koerant. Vandat news24 nie meer kommetaar toelaat nie (negatief teenoor die regering). Kyk ek nie eens meer na die webwerf nie. So stadig maar seker sal hulle doodbloei.

Bruno Stef ·

Jy noem nie eers hoernaliste se name wat betrokke is by die kwaadstokery nie maar Maroela gun jou nie die geleentheid om die gekke met die tong te louter nie.

Sarie ·

Waar was die DA leiers jeug en andersins by hierdie gesprekke? Wonder maar net.

JC ·

Baie goeie punt. Sal die ware vegters vir SA en sy minderhede opstaan asseblief…! (Solidariteit)

Hendrik van Niekerk ·

Soos Tony Leon nou onlangs gese het dat hy weet nie vir wie om te stem nie want die DA is nou dieselfde as die ANC in die jaar 2000……

Arno ·

Ek het sowaar my respek vir Max verloor. Ek het hom altyd die voordeel van die twyfel gegee, maar nou is dit daarmee heen. Jy kan NIE vir my oortuig dat Afriforum(-jeug) die nonsens begin het nie. Dalk het hulle teruggeveg en het dit dalk bietjie handuit geruk, maar hulle is waarskynlik so uitgetart en sleggesê, dat hulle hul humeur verloor het. Hemel, hoe lank moet daar nou nog op Afrikaanses (en Afrikaners) getrap word asof hulle geen reg het nie? Is dit rassisties om jou taal te wil bevorder en beskerm?

alida ·

Dit is tyd dat hierdie kwaadstokerMax sy skryfpen neersit. Hy raak nou net bog kwyt. Dit is tyd dat jy gaan. Jy het jouself uitgedien Max.

Poplap ·

Dit is baie maklik.
Hou op om die vent se snert te lees en hou op om publikasies aan te skaf wat sy strooi publiseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.