Saamstaan teen monumentvandale

Die Voortrekkers se fakkelmonument in Vereeniging het onder vandale deurgeloop.

In die hoofstraat van Vereeniging staan ’n klein monumentjie. Tydens die 1938-fakkelloop het die Kaapse en Natalse feesfakkels mekaar op 14 Desember 1938 in Vereeniging ontmoet.

’n Skare van 10 000 mense het die fakkels ingewag. Volgens persberigte was net vyftig polisiebeamptes nodig om die opgewonde skare in bedwang te hou. Die Heidelberg Voortrekkers het die Natal-fakkel, waarmee Die Voortrekkers vanaf Dingaanstat gehardloop het na Vereeniging gebring.

Die Kaap-fakkel, wat vanaf Tafelberg gedra is, is deur die Vrystaatse provinsiesekretaris oor die Vaalrivier gedra om aan Die Voortrekkers in Vereeniging te oorhandig. Van Vereeniging af sou die twee feesfakkels reguit noordwaarts tot by Monumentkoppie gedra word vir die hoeksteenlegging op 16 Desember 1938. Badie Badenhorst, destyds provinsiesekretaris van Transvaal Voortrekkers en latere hoofleier, skryf: “Toe daardie twee fakkels die Transvaalse bodem betree, was dit asof mens vir die eerste keer in jou lewe uit volle bors kon sing ‘Waar Tafelberg begin, tot ver in die Transvaal, woon een verenigd-volk, een algemene taal’.”

Die afgelope week het Afrikaners op sosiale media kennis geneem van die vandalisering van Die Voortrekkers se fakkelmonument in Vereeniging. Die monument staan vandag in ’n gevaarlike deel van die dorp. Groepies misdadigers en grypdiewe staan gereed by robotte om motors se vensters uit te slaan. Tot die polisie is bang. Dit is net ’n kwessie van tyd voor die monument omgeskop of met hamers betakel word.

Die Paul Kruger-standbeeld in Kerkplein is gevandaliseer (Foto: Verskaf)

Wat met dié monument gebeur, is maar een voorbeeld wat vandag met baie Afrikanermonumente en erfenisterreine gebeur. Vroeër die jaar het ons kennis geneem van riool wat die Kroonstad-konsentrasiekampkerkhof oorstroom en die afgelope week is die Kruger-standbeeld op Kerkplein weer met rooi verf gevandaliseer, dit nadat dit skoongemaak is. Dit is nog net die naïewe De Klerk-generasie wat dink die oprigting van inligtingsborde gaan vandale oortuig om Afrikanerbeelde en -monumente met respek te hanteer. Dit is ewe onaanvaarbaar om gelate in ’n rusbank terug te sak en te sug dat die vandalisering en verwaarlosing van erfenisterreine maar ’n simbool is van die toestand waarin Afrikaners hulself bevind. Dit is vir my, persoonlik, onaanvaarbaar om gedwee toe te kyk hoe daar letterlik en openlik in die openbaar op Die Voortrekkers se trotse geskiedenis geürineer word en bo-oor ons Voortrekkerwapen afskuwelike plakkate en advertensies geplak word.

Oopkop-Afrikaners wat eienaarskap van hul kultuurhistoriese erfenis neem, verstaan die vraag is nie meer of beelde en monumente moet skuif nie, maar wanneer en waarheen.

Dr. Danie Langner. Foto: Reint Dykema.

Die demografie het ons eenvoudig ingehaal. Dit wat tagtig jaar gelede veilige openbare plekke vir die oprigting van monumente was, is vandag ’n misdaadnes. Natuurlik kan Afrikaners nie alle monumente en beelde verwyder nie. Dit is, byvoorbeeld, onmoontlik om die Kroonstad-konsentrasiekampkerkhof te skuif, maar daar is wel beelde en monumente wat ons betyds na veilige Afrikanerplekke kan skuif waar dit opnuut gewaardeer, versorg en beskerm kan word. Dit is een van die doelwitte van die FAK se Geskiedenisfonds, naamlik om kultuurorganisasies en gemeenskappe te help om vir ons geskiedenis en erfenis te sorg.

Afrikaners het die verantwoordelikheid om voorkomend en pro-aktief op te tree. Die Kruger-standbeeld gaan nie vir altyd op Kerkplein staan nie. Óf Afrikaners gaan soos in 1954 vir Oom Paul betyds en voorkomend ’n nuwe plek vind, óf hy gaan op ’n dag, wanneer vandale moeg word om hul politieke woede op die beeld uit te spuit, tuimel voor ’n juigende skare rooi barette.

Die Paul Kruger-standbeeld in Kerkplein (Foto: Verskaf)

Ons tyd vra ’n nuwe erfenisstrategie, anderkant vasgeloopte idees en uitgediende planne. Die dae is verby waar ons ons eie verantwoordelikheid kan afskuif op die staat. ’n Erfenisstrategie is nodig waar Afrikanerorganisasies saam met besighede en gemeenskappe verantwoordelikheid neem om voorkomend ons erfenis in beskerming te neem en te versorg. Ons moet saamwerk.

Terug by Die Voortrekkers se fakkelmonument in Vereeniging. Onder leiding van die FAK se Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk neem Die Voortrekkers, Suikerbosrand Geloftekomitee, GGSA Vaal en Vaaldriehoek se weermagveterane verantwoordelikheid om die fakkelmonument te red en vir die Vaaldriehoek behoue te laat bly.

Alles is moontlik as ons hande vat en saamstaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marthinus W ·

Danie, wat bedoel jy met “naïewe De Klerk-generasie”?

Vrijburger ·

Die huidige anargie van die redelose gepeupel in die VSA, bevestig die waarheid van jou woorde:”….. die vraag is nie meer of beelde en monumente moet skuif nie, maar wanneer en waarheen”.
Texas groete.

Juls ·

Sodat ons eendag ons kinders na een plek kan neem soos ‘n meuseum en al die verskuifde standbeelde kan wys? Die standbeeld self is eintlik waardeloos as dit nie op die plek staan waar die gebeurtenis plaasgevind het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.