Saamtrek teenoor saamdruk

Geloftefeestoespraak gelewer op 16 Desember 2011 te Brakkloof – sien hier vir nog geloftefeestoesprake.

Op vele plekke in Suid-Afrika word vandag geloftefeessaamtrekke gehou – en wat ʼn waardevolle instelling is dit nie: elke 365 dae is daar die gebruik onder vele Afrikaners om in groepe saam te kom vir ʼn oordenking oor waar hulle vandaan kom, waarmee hulle besig is en watter ideale vir die toekoms nagestreef kan word. Die antwoorde waartoe hulle kom is nie altyd dieselfde nie – en dankie tog – want as daar net een antwoord is en dis die verkeerde een dan is almal die pad byster. Terwyl: as daar verskillende antwoorde is, dan is al ons eiers nie in een mandjie nie.

Laat ons die omvang van hierdie instelling, hierdie gebruik, ook nie onderskat nie: u sou vandag iemand uit die buiteland kon kry om hier te praat. Daar’s ʼn jaarlikse geloftefeessaamtrek in Londen. Môre is daar ʼn byeenkoms in Valkbaai (Hawke’s Bay), Nieu-Seeland. Ek weet van ʼn geloftefeesbyeenkoms by Leschunaultia-meer in Australië.

Maar so ver hoef ons nie eers te kyk om ʼn buitelandse spreker op te spoor nie. Op verskeie plekke vind daar vandag in Namibië geloftefeeste plaas – selfs tradisionele saamtrekke wat oor twee of drie dae strek. Of dit vanjaar in Zimbabwe gevier word het ek nie – daar is blykbaar allerhande wette wat openbare byeenkomste bemoeilik – maar so 100km duskant Harare vind ʼn mens byvoorbeeld die geloftefeesterrein op die Van der Merwe’s se plaas wat uit 1949 dateer. Ek sou nie verbaas wees om te hoor van vorige, kleiner geloftefeesgebruike verder op in Afrika nie – daar was immers vroeër beduidende groepe Afrikaners in byvoorbeeld Kenia, Mosambiek, Botswana, Angola. Alana Bailey, in haar boeiende ontleding van die geskiedenis van geloftefeesvieringe wys daarop dat geloftefeeste al op elke kontinent herdenk is.

Om die waarheid te sê: dit was so hittete of ek was self vandag hier ʼn buitelander. As dit nie was vir uniewording ʼn skamele 101 jaar gelede nie, dan was ek nou uit ʼn ander land. Suid-Afrika as land was nou-die-dag nog ʼn hele paar verskillende lande, waarvan die grootstes die ZAR (Transvaal), die Oranje-Vrystaat, die Kaapkolonie en Natal was. En as dit nie was dat Rhodesiërs in 1922 eenwording met Suid-Afrika afgestem het en Namibië nie 20 jaar gelede onafhanklikheid gekry het nie, dan was hierdie nou in elk geval ʼn heel ánder land. So met hierdie inleiding wil ek net op die baie belangrike punt wys dat state se grense van veel minder belang is as die spontane aantrekkingskrag binne gemeenskappe – en dikwels in spanning daarmee verkeer.

Saamdruk teenoor saamtrek

In ʼn tydvak dat die begrippe nasiebou en staatlike soewereiniteit ʼn geweldige politiek korrekte gewig dra, is hierdie spontane gemeenskapslewe rondom geloftefees bo-oor die grense op ʼn landkaart ʼn merkwaardige verskynsel. En dit is waarby ek vandag wil stilstaan: hoe mense spontaan saamtrek te midde van pogings om hulle in ander vorme saam te druk. In hierdie tyd waar die staat se maatskaplike ingenieurs met groteske pogings kom om mense te hergiet in opgedroomde, skynbaar sondelose en veral onderhorige vorme, wil ek aan die hand doen dat ʼn werklike vryheidstrewe noodwendig ʼn saamtrekgedagte is téénoor ʼn saamdrukgedagte.

Die Groot Trek van byna twee eeue gelede is seker die mees treffende en suksesvolle voorbeeld van die vryheidsgedagte onder Afrikaners. Dit staan natuurlik nie in isolasie nie en is voorafgegaan deur ʼn aantal mylpale wat ek kortliks herroep. Reeds in 1657, vyf jaar na Van Riebeeck se vestiging aan die Kaap, word die eerste Vryburgers onthef van hul oorspronklike kontrak met die VOC en gaan die eerste 40 boer. Dis nie lank nie of Adam Tas en ʼn klompie ander kom in baie openlike konflik met die goewerneur en ander amptenare wat vir hulself spesiale gunste en gawes in boerdery en monopoliese handelsvoorregte toe-eien en die burgers – met die geweld van die kompanjie daaragter – uitbuit.

Vryburgers moes nietemin steeds ʼn eed van getrouheid aan die kompanjie en die Nederlandse Staten-generaal aflê. Hierdie eed van getrouheid is natuurlik ʼn vreemde verskynsel: wie gee die kompanjie die reg om ʼn eed van getrouheid af te dwing op mense wat niks meer met die VOC te doen wou hê nie – en wat juis van hulle wou wegtrek? Ook het die VOC eertydse amptenare herhaaldelik verbied om met ander bevolkingsgroepe handel te dryf of verder die binneland in te trek. Dat die VOC hierdie verbod in 1677, 1727, 1739, 1770, 1774 en nog weer in 1786 uitgereik het, is ʼn aanduiding van die waarde wat die Vryburgers geheg het aan die dekrete van ʼn al-verderaf regering oor sake wat die Vryburgers gemeen het die Kasteel nie aangaan nie.

Teen die laaste kwart van die 1700’s breek die eerste van ʼn reeks Xhosa-oorloë op die Oosgrens uit en in 1795 ontstaan die kortstondige republieke van Swellendam en Graaff-Reinet. Dit word kortgeknip deur die eerste Britse besetting van 1795 tot 1803. Die Britse Empire keer in 1805 terug om te bly, maar die vervreemding tussen ʼn bemoeiende en veraf regering wat nou boonop nog Engels was en die boere wat hul eie sake wou reël, het toegeneem. Teen 1815 breek daar selfs ʼn klein rebellie uit – dié van Slagtersnek, na aanleiding van ʼn geskil tussen ʼn Boer en ʼn werknemer en die daaropvolgende weiering van die Boer om gehoor te gee aan die lasbrief van die koloniale owerhede. Die rebellie is vinnig onderdruk, en vyf boere gehang.

ʼn Aanduiding van hóé onafhanklik die Boere was, vind ons in die opgetekende getuienis wat een van die wat die wat die galg vrygespring het: “I am a young man who does not yet know what a government is, as I have never been near one.” Wat beteken dit om te sê: “Ek weet nie wat ʼn regering is nie, want ek was nog nooit naby een nie”? In studentetaal sou ʼn mens kon sê: “Wat vir ʼn ding is ʼn regering? Kan ʼn mens dit eet?

Vir ons wat so gewoond is aan die besondere nabyheid van ʼn regering is hierdie ʼn moeilike begrip om te verteer – want daar was nie wanorde aan die Oosgrens nie, al was dié jong Boer onbekend met die konsep. Om die waarheid te sê, soos ons later sal kan sien uit Retief se manifes was wanorde juis toegeskryf aan die teenwoordigheid van ʼn regering, in plaas van selfregering. En as ek sê ons is gewoond aan ʼn besondere nabyheid van ʼn regering dan verwys ek nie net na die een wat daar nou in 2011 in plek is nie, maar ook die een voor 1994 – want wat ons mening ook al is oor die foute en goeie dinge van die regeringsbestel voor 1994, was dit steeds ʼn organisasie wat hom baie direk laat geld het in ons en ʼn hele klomp ander mense se lewens. Ek gaan netnou ten dele weer hieraan raak, maar kom ons kyk eers na die Voortrekkers se saamtrekoplossing op die saamdrukprobleem wat die Empire geskep het.

1. Vrywilligheid

Wat was die ingesteldheid van die Boere van hierdie tyd? De Kiewiet, die 20ste eeuse geskiedskrywer merk ʼn huiwerige saamwerkgesindheid op – altyd gebaseer op vrywillige deelname wanneer omstandighede dit noodsaak:

On the great farms each man fled the tyranny of his neighbor’s smoke. It followed that their communal life was loosely organized. They came together when compelled by danger or crisis… The habits of their social life were like the discipline of their commandos. It was the sum of individual willingness.

Hierdie som van indiwiduele bereidwilligheid het allermins beteken dat mense nie vir mekaar omgegee het nie en dat daar nie van ʼn gemeenskap gepraat kan word nie. Joseph Stromberg – ʼn Amerikaanse geskiedskrywer wat spesiaal vir sy navorsing oor die Afrikaners Afrikaans geleer het – skryf:

The Boers were united as maatskappy, a loose community of individual proprietors, the commando, a volunteer military arm of their society, and as co-religionists. More supervision than this they did not want. A Boer patriarch, sovereign on his own plek (place) with his wife, children, and retainers, and armed for defence of his family and property, corresponded quite well—like the Anglo–Celtic Southerner—to the ideal citizen of classical republican theory.

Ek wil nie die fout begaan om die Boere van die tyd te verromantiseer vir dit wat hulle nie was nie. Dit was nie altyd dat alle Boere bloot vreedsaam en ter verdediging van eiendom en gesin en onafhanklikheid opgetree het nie. Gerespekteerde geskiedskrywers soos Hermann Giliomee wys in sy boek Die Afrikaners op voorbeelde van waar Boere op vreedsame wyse, deur onderhandeling en ooreenkoms, grond van Xhosa-kapteins probeer bekom het en soms selfs bereid was om eerder Xhosa-opperhoofskap as Britse gesag te respekteer. Maar daar was ook kere waar Boere gebuit het en as aggressors gereken sou kon word.

Maar soos Paul Kruger gesê het dat ʼn mens uit die verlede dit moet haal wat goed is en mooi is; dit is waarby ek wil uitkom. Dat daar soms by sommige Boere gevalle van feilbaarheid was staan nie die geleentheid om te put uit ander bewonderenswaardige gevalle in die weg nie.

Tussen 1824 en 1834, skryf Hermann Giliomee, het ʼn sosiale rewolusie plaasgevind – en ek gee my eie interpretasie daarvan – waartydens die tradisionele orde-instellings van die Boere omvergewerp en vervang is met vreemde, Britse praktyke. Heemrade wat oor reg en verkeerd moes help besluit is afgeskaf en veldkornette se magte is beduidend verskraal. Die vrystelling van slawe – vir alle praktiese doeleindes sonder vergoeding – was ʼn doring in die vlees. Die sesde grensoorlog van 1834 was geweldig ontwrigtend en skadelik. Boere het gevoel dat hulle die vermoë om hulself te verdedig ontneem word, dat daar inbreuk gemaak word op hulle eiendom deur beide Xhosas en Khoi-Khoi en ook deur die Britse owerhede in die mate wat die Britse owerhede die beskikkingsvermoë van plaasbesitters oor hul eiendom ingeperk het.

Die vermoë van ʼn Boer om rentmeester te wees van dit wat syne was en om – soos De Kiewiet dit gestel het – uit indiwiduele bereidwilligheid saam te kom wanneer gevaar of krisis dit nodig gemaak het, is ondermyn. Dié ondermyning was ʼn saamdrukpoging van die Britse owerhede om die Boere te giet in ʼn vorm wat hulle nie wou wees nie. En nie net die Boere nie – die saamdrukpoging van die Britse owerhede was om almal wat as Britse onderdaan beskou is te rangskik sodat sy primêre identiteit die is van burger as lojale onderdaan van Empire. ʼn Ouerige vorm van vandag se nasiebou.

Die Boere se reaksie op hierdie saamdrukpoging was lofwaardig: trék saam. Maar nie trek saam as een man nie – nee, daar was verskillende trekke. Dit was nie: kom ons staan almal saam nie – dit was: laat die van ons wat saam wil trek, saam trek. Uiteindelik was daar ses hoofgroepe: die trekke van Trichardt, Maritz, Potgieter, Uys, Van Rensburg en Retief.

Hierin lê die eerste belangrike eienskap van ʼn saamtrekgesindheid teenoor ʼn saamdrukgesindheid: vrywillige deelname en toelating van verskillende benaderings. Die Voortrekkers het ruimte gelaat vir meer as een benadering en het nie mede-Trekkers wat ander perspektiewe gehad het gedwing om deel van een, enkele Groot Trek te wees nie. Die Groot Trek – al praat ons vandag daarvan in die enkelvoud – was nie die ontwerpte projek van een leier nie of een Boere-regering nie: dit was ʼn dinamiese verskynsel met verskillende groepe wat voedingkrag gehaal het uit die som van die individuele bereidwilligheid van Boere om mekaar nader te trek eerder as almal in een kamp te wil stoot. Dit is ook betekenisvol dat – alhoewel die Boere ongetwyfeld die leiding in hierdie saak geneem het – verskeie swartmense vrywillig saamgetrek het.

Vir die volgende twee belangrike eienskappe van die Voortrekkers se saamtrek-benadering moet ons gaan kyk na Piet Retief se manifes waarin hy ʼn aantal redes en voornemens vir die Groot Trek lys.

2. Eiendom

Die tweede eienskap het te doen met die kwessie van eiendom. Retief skryf onder meer:

“Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om ʼn rustiger lewe te lei as wat ons tot hiertoe gedoen het. Ons sal geen volk molesteer nie en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie; maar as ons aangeval word, sal ons ons ten volle geregverdig beskou om ons persoon en eiendom tot die uiterste te verdedig teen enige vyand.”

Verder:

“Ons stel ons voor om in die loop van ons trek, en wanneer ons aangekom het in die land waar ons gaan woon, ons bedoelings en ons begeertes bekend te maak aan die inboorlingstamme, asook ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef.”

En laastens:

“Ons verlaat die Kolonie onder die volledige versekering dat die Engelse Regering niks meer van ons te vorder het nie en ons sonder verdere bemoeiing sal toelaat om ons in die toekoms self te bestuur.”

Wat ons in hierdie drie punte van Retief se manifes sien is dat die Voortrekkers besondere waarde geheg het aan een van die hoekstene van die beskawing: dat dit wat myne is, myne is en joune, joune. Eiendomsreg. Dat as ek iets van jou wil hê ek dit moet koop of jy dit geskenk vir my moet gee, en andersom. Sonder hierdie erkenning van eiendomsreg is dit onmoontlik om ʼn beskawing op te bou. Want beskawing is afhanklik van rentmeesterskap – om verantwoordelikheid te aanvaar vir dit wat joune is en verantwoordelikheid te verwag van iemand anders vir dit wat syne is. Die afwesigheid van eiendomsreg is plundering: waar mense ophou produseer omdat die vrug van hul arbeid hulle voortdurend ontneem word. Dit is belangrik om daarop te let dat die Trekkers die uitdruklike bedoeling gehad het om die eiendomsreg van mekaar en van watter vreemdelinge hulle ook-al in die binneland teëkom te respekteer.

So die tweede eienskap van die saamtrek: dat saamtrekkers mekaar se eiendom respekteer en ook diegene sʼn wat kies om nie met hulle saam te trek nie.

3. Redelikheid

Vir die derde eienskap van die saamtrekbenadering moet ons kyk na hoe die manifes die heersende tendense beskryf:

“Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige gedrag van vabonde, wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vryheid en geluk vir ons kinders in ʼn land wat op dié manier gekwel word deur inwendige beroeringe nie.”

Ook:

“Ons vertrek nou uit ons vrugbare geboorteland, waar ons enorme skade gely het en voortdurend blootgestaan het aan ergernis, om ons te gaan vestig in ‘n woeste en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en genadige God, wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.”

Vir Retief en mede-trekkers was dit belangrik om – terwyl hulle hulle onttrek aan die bestaande drukgang van Britse beheer – daaroor verantwoording te doen. Dit was vir hulle belangrik om vir hulleself en teenoor die wat agterbly en teenoor die wêreld ʼn behoorlike saak uit te maak oor wat hulle drastiese stap noodsaak. Hulle het aangevoer dat die heersende tendense dit vir die redelike mens nodig maak om die feit in die oë te kyk dat die Kolonie op ʼn tragedie afstuur. En nie net stuur dit op ʼn tragedie af nie: Retief en genote verkeer in wanhoop by die gedagte dat hulle sou moes probeer om die Kolonie van sy bedreiginge te red ter wille van hul kinders. Dit was geen oorhaastige fatalisme nie, dit is iets wat oor dekades aangekom het en Retief en Trekkers het die feite in die oë gekyk.

Dié realisme was bevrydend. Dit was die voorwaarde wat dit vir die Trekkers moontlik gemaak het om verkenningsendings na die binneland te onderneem, om alternatiewe te ondersoek, om haalbare – al is dit moeilik uitvoerbare – planne te maak. Die redelikheid daarvan was ʼn voorwaarde om mense te kry om die nuwe plan te deel, want onthou: die Trekkers kon niemand dwing om saam te trek nie. Die derde eienskap van die saamtrekbenadering is dus ʼn oortuigende redelikheid met ʼn vasberadenheid tot ʼn alternatief.

ʼn Goeie saak

Uit hierdie eienskappe van die Groot Trek kan ons inspirasie put vir ons huidige situasie. En ons kan dit sonder skroom doen – ook in die gerustheid, miskien selfs opgewondenheid, dat mense wat hulle met ʼn saamtrekbenadering besig hou ʼn goeie saak stry. Dit gaan oor 1) vrywillige deelname en respek vir verskillende benaderings; 2) respek vir eiendomsreg van jou en jou groep en die van andere; en 3) om die werklikheid met redelikheid in die oë te kyk en dan ʼn oortuigende plan te maak.

Wat die tragiese gebeure in oploop tot en die bloedvergieting by die slag van Bloedrivier betref meen ek dat die rede nie teruggespeur kan word tot ʼn verbreking van die Voortrekkers se saamtrekgesindheid nie. Vanaf Voortrekkerkant was daar ʼn bedoeling om toestemming vir grondgebied by Dingaan te kry. Die oorwinning by Bloedrivier is dié van ʼn verdediger teen ʼn aggressor.

Ná die Voortrekkers

Maar waarom is daar nou, byna 175 jaar later, weer ʼn saamdrukbenadering wat op Afrikaners inspeel – en soos aan die Oosgrens destyds ly nie net Afrikaners daaronder nie. Is daar afgewyk van die Voortrekkers se voorbeeld? Waarom is daar vandag soveel maatskaplike ingenieurswese en is daar ʼn regering wat vrywillige assosiasie beduiwel? Waarom is daar nie respek vir eiendomsreg nie? Waarom is daar so ʼn groot wanhoop oor die land dat soveel mense (en nie net Afrikaners nie – en ook nie eers net blankes nie) dit verlaat?

Ek dink die antwoord het twee dele – en laat ek nou byvoeg: omdat ek die Voortrekkers se benadering as inspirasie vir die huidige situasie wil aanbied, moet ek natuurlik uit die gesprek oor die verlede ook meer na die hede draai. En dit is moeilik, want ʼn mens neem mos maar moeilik genóég afstand van jou eie omstandighede om ʼn goeie oordeel te vel. Maar ek wil tog ʼn paar, kortliks en oorsigtelik, vermoedes deel om by die slotsom uit te kom.

Die twee dele van die antwoord oor waarom ons – en ook vele mense om ons – vandag weer in ʼn Oosgrens-situasie verkeer, vermoed ek, is: Aan die een kant was daar die invloede van buite die Trekkers. Maak nie saak hoe ver die Trekkers getrek het nie, die Troon van Engeland – en die politiekesakemanne wie kop-in-een mus met die Troon was – het nie die saamtrekbenadering gedeel nie. Hulle wou eenvormige onderdane hê en nie onafhanklike saamtrekkers nie. Hulle was nie handelaars met respek vir eiendomsreg nie, maar wou afvat wat nie hulle sʼn was nie. Hulle was nie gepla oor redelikheid en oortuigingskrag nie – hulle het bevele gemaak. Toe ʼn trekboer destyds gevra is hoe ver hy binneland toe wou trek het hy in die verte gewys het en gesê: “Verder as anderkant.” Nouja, ook verder as anderkant kry mens blykbaar mense wat steeds Empire-planne het.

Die uitdrywing uit Natal, die anneksasie van die Boere-republieke, die eerste en tweede Vryheidsoorloë, uniewording (ten dele – daar was ook ʼn groot klomp Afrikanermomentum daaragter), die Suid-Afrikaanse deelname aan die eerste wêreldoorlog en die 1914-rebellie is voorbeelde van wat ek vermoed nooit sou kon gebeur as die Empire ʼn les in vreedsaamheid by die Voortrekkers geleer het nie.

Dit was nie eers net Afrikaner-republieke wat ge-annekseer was nie. In 1865 het die Kaapkolonie Brits-Kaffraria (die toekomstige Ciskei) ingelyf, in 1879 Fingoland en Griekwaland-Oos, in 1885 Gcalekaland en Thembuland en in 1894 Mpondoland. Teen 1897 het Zululand onafhanklikheid verloor en is dit by Natal ingelyf. Die Voortrekker-benadering was in uitgangspunt juis téén hierdie soort dinge gekant.

Maar nie alles wat nadelig is is die skuld van die Empire of kom van ander bronne buite Afrikaner-kringe nie. As ek na die afgelope ongeveer 100 jaar kyk, dan sien ek ook dele waar sommige Afrikaners saam wou druk eerder as om saam te trek of ander toelaat om saam te trek en anders te trek. Ek wil die gedagte oop laat en dit nie inkleur nie. Daar is nie ʼn eenvoudige antwoord hierop nie, maar miskien bied die Voortrekkers se les ook vir ons ʼn riglyn aan die hand waarvan ons ʼn andersoortige oordeel oor ons gemeenskap se meer onlangse verlede kan vel. Want albei kragte was teenwoordig: saamtrek én saamdruk. En die van u wat so oud soos ek of bietjie ouer is sal moontlik persoonlik van al twee daardie kragte kan getuig.

Saamtrek vandag

Laat ek afsluit met ʼn oorweging van hoe die saamtrek-benadering ons in ons huidige situasie tot voordeel kan strek.

In die eerste plek is dit belangrik om nie ons individualisme, ons onafhanklikheid, te verloor en onkritiese navolgers te word nie – ook nie van ander Afrikaners nie. Ons hoef, as’t ware, op ‘n prins nie te vertrou nie. Mag ʼn onafhanklikheidsin ons laat besef dat die toestande in die hedendaagse “Kolonie” van so ʼn aard geword het dat ons gewillig moet word om saam te trek. Dit hoef nie in een groep te wees nie – sterker selfs: dit sou ʼn resep vir mislukking wees om een groot Afrikaner-groep te probeer vorm. Om dit te doen sou ons ons tot die saamdrukbenadering moet wend en juis die vryheidstrewe van binne onsself uithol. Die Groot Trek het nie gewerk omdat almal in een trek was en een nuwe, gesentraliseerde land gevorm het nie.

In die tweede plek moet ons sorg dat ons die vereiste vir beskawing in stand hou, naamlik eiendomsreg. Ons moet ons daarvoor beywer dat my en u en ook hulle wat nie in ons trek is nie – ook hulle wat nie Afrikaners is nie – se eiendom gerespekteer word. Vir blywende vrede en voorspoed in ʼn gemeenskap is dit nodig dat die vrug van ʼn persoon se arbeid hom mag toekom. Hierdie beginsel word ernstig geskend deur ʼn openlik sosialisties-geïnspireerde regering: neem van een en gee aan ʼn ander. Dit is nie net tot nadeel van hulle wie se eiendom ontneem word nie, dit is ook tot vernietiging van die rentmeesterskap van hulle wat daardie eiendom as “herverdeling” ontváng; en so veroorsaak dit die soort “inwendige beroeringe” en “enorme skade” waarteen Retief in sy manifes waarsku.

En in die derde plek moet ons die werklikheid van ernstige probleme vir vrede en voorspoed in Suid-Afrika in die oë kyk, soos wat die Voortrekkers destyds gedoen het. Wanneer ons redelik is oor ons probleem, bevry dit ons om alternatiewe te bedink. En hierdie alternatiewe is nie net, soos in die Voortrekkers se geval, om uit Suid-Afrika te trek nie. Daar is nog die alternatief van plaaslike gemeenskapsorganisasies wat probleme op eie stoom oplos.

Wat alternatiewe munisipaliteite vorm wat die funksies van bestaande munisipaliteite oorneem wanneer hulle ineenstort – soos AfriForum vanjaar reeds 37 sulke gemeenskapskomitees gestig het. Wat gemeenskapsveiligheid koördineer al is die kommandostelsel afgeskaf. Wat privaatskole stig. Wat aansluit by burgerlike belange-organisasies. Wat mekaar help. Wat probeer om mense en gemeenskappe om hulle te help omdat dit in wedersydse belang is. Wat – in die verskillende organisasies en die samewerking tussen hulle en onderling – die basis vorm vir vertrouensnetwerke waarmee daar in die toekoms kreatiewe antwoorde gevind kan word en oplossings uitgevoer kan word.

Die Amerikaanse skrywer, Harry Mencken het in vorige eeu die pragtige opmerking gemaak wat die geleentheid vir ons goed saamvat:

Die persoon wat eis dat die regering sy idees afdwing is altyd die soort persoon met idiotiese idees.

Kans dat die regering ons idees gaan implementeer is nogal skraal, sou ek sê – so die kans dat ons goeie idees ontwikkel is nogal goed.

Sou ons die Voortrekkers se benadering volg, waarborg ons onsself ʼn waardige vryheidstrewe: nie ʼn soeke na staatkundige eenvormigheid nie en nie ʼn soeke na om mede-Afrikaners of andere saam in één vorm te druk nie, maar juis die weerstand daarteen. Ons doen ʼn oproep tot veelvoud, tot die reg om jou eie sake te reël en sonder inmenging op goeie voet met jou buurman te wees en hom te respekteer sonder om toe te laat dat jy geplunder word.

Laat ons die les van die Voortrekkers benut in ons oordeel oor ons geskiedenis en in ons beywering vir – soos Retief geskryf het – ʼn “rustiger” toekoms. Laat ons kodewoorde wees: vrywilligheid, eiendom, redelikheid. En as ons dit maklik wil onthou, dan kan ons dink aan wat DF Malan gesê het en ʼn slotgedagte byvoeg: bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort en respekteer hulle wat nie wil nie.

Dit – en ʼn nederige vertroue op die Voorsienigheid daar waar mensewerk nie vooruitbepaal kan word nie – is die suksesresep wat die Voortrekkers ons nagelaat het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Piet le Roux

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Louis du Plessis ·

REëN WAT LAAT GROEI

1 Hierdie Geloftefeesrede laat val welkome reën op vrugbare grond. Anders as sommige ander praatjies wat ‘n soort wanhoop weerspieël, voel ons velle hier gesonde water wat uit die hemel uit neerplons.

2 Die boodskap reën óók op elke Griek, Jood en Moslem, ook op elke Zimbabweër, Kubaan en Noord-Koreaan: die lid van ‘n volk kan sterker word as hy waak teen konformisme – lees: politieke korrektheid – en eerder indiwidualiteit en vrye keuse openbaar; as hy waak teen diefstal – lees: ‘n regering se onteieningsbeleid – en eerder eiendomsreg handhaaf; en as hy waak teen irrasionaliteit – lees: emosionele uitbarstings – en eerder rasioneel vir elke keuse verantwoording doen.

3 In hierdie boonste Geloftefeesrede verteenwoordig elke druppel ‘n algemeen menslike, diepsinnige, universaliseerbare waarde wat klop aan die gewete van elke volksgenoot. Net soos Sarel Cilliers se Gelofte, soos DF Malan se strewe na volkseenheid, en soos NP van Wyk Louw se Liberale Nasionalisme, is dit sulke voedsame reëndruppels wat ‘n volk nie verlam nie, maar laat groei.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.