SAKP ná 100 jaar slegs nagedagte

Betogers met ‘n SAKP-vlag tydens ‘n optog in September 1989 in Johannesburg waartydens die vrylating van die ANC se politieke gevangenes geëis is. (Foto: WALTER DHLADHLA/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het verlede week sy eeufees gevier. Wat was sy invloed op ons land se geskiedenis? Leopold Scholtz duik in sy eie navorsing as historikus in en kom met antwoorde na vore.

Die stigting van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) 100 jaar gelede – op 29 Julie 1921 om presies te wees – was destyds ’n relatief groot gebeurtenis (die naam was destyds Kommunistiese Party van Suid-Afrika, of KPSA). Die stigtingskongres in Kaapstad is deur ’n geskatte 2 000 mense bygewoon.

Die meeste was bruin werkers, maar diegene wat die leiding geneem het, was immigrante uit Europa wat deur die ideale van die Europese sosialisme en die praktiese neerslag wat dit met die revolusie van 1917 in Rusland verkry het, geïnspireer was. In hul drome het hulle iets soortgelyks vir Suid-Afrika gesien.

Dit sou egter ’n hele paar jaar duur voordat die wit en bruin voorbokke toenadering tot die meerderheid bewoners van die land, die swart mense, gesoek het. Voorlopig het die kommuniste geen hoë dunk van die ANC (gestig in 1912) gehad nie. Ivon Jones, een van die eerste wit kommuniste, het aan Moskou laat weet die ANC is slegs “a small coterie of educated natives” sonder steun.

Dit sou egter in 1927 verander. Drie Suid-Afrikaanse kommuniste het Moskou besoek, waar James la Guma ’n gesprek met Alexander Boecharin, ’n grootkop in Wladimir Lenin se regering, gehad het.

Dis in 1928 met die jaarkongres van die Komintern (die internasionale kommunistiese liggaam, onder beheer van die Kremlin) opgevolg, waar die gesprek tussen La Guma en Boecharin tot ’n rigtinggewende en beslissende opdrag aan die KPSA gelei het.

Die opdrag was as volg: “To transform the African National Congress into a fighting nationalist revolutionary organisation against the white bourgeoisie and the British imperialists … developing systematically the leadership of the workers and the Communist Party in this organisation.”

Die Kremlin het die pad vorentoe (in alle kapitalistiese lande) as ’n revolusie in twee fases gesien. In die eerste fase moes die kommunistiese partye militante bourgeoisie-organisasies binnedring en stelselmatig die leidende posisies oorneem. Dié organisasies kon dan as stormram gebruik word om die kapitalistiese regimes tot ’n val te bring.

Met ’n nuwe regering aan bewind – formeel van die bourgeoisie-organisasie, maar met kommuniste in alle leidende posisies – sou die tweede fase dan maklik wees: die formele uitroep van ’n kommunistiese “diktatuur van die proletariaat”.

Dit is inderdaad die strategie wat die KPSA met die ANC gevolg het. Dis effens deurmekaar gekrap met die verbod op die KPSA (wat toe die SAKP geword het) en die ANC in die jare vyftig en vroeë sestigs, waarna hulle na die buiteland moes uitwyk.

Maar eintlik het dit die SAKP gepas, want die kontras tussen die hoogs georganiseerde en gedissiplineerde SAKP en die dikwels chaotiese ANC het laasgenoemde sterk afhanklik van die kommuniste gemaak. Die geskiedenis van die twee bewegings in ballingskap kan grotendeels gemeet word aan die manier waarop SAKP-lede stelselmatig leidende posisies in die ANC ingeneem het.

Teen die tweede helfte van die tagtigerjare het SAKP-lede verreweg die meerderheid in die ANC se nasionale uitvoerende komitee – volgens verskillende bronne 22 of 24 van die 29 lede – gevorm, waarmee die SAKP die ANC in alle belangrike opsigte oorheers en dié se rigting bepaal het.

Daar was wel één “uitsondering” – en dié woord word spesifiek in aanhalingstekens geplaas: Oliver Tambo, president en hoogste amptenaar van die ANC. Hy was geen ingeskrewe lid van die SAKP nie.

’n Ontleding van die openbare standpunte wat Tambo in die jare van ballingskap ingeneem het, wys egter dat dit bitter selde van dié van die SAKP afgewyk het. Enersyds het dit die SAKP om propagandistiese redes in die rigting van die weste gepas om ’n nie-kommunis as leier voor te hou; andersyds was Tambo ’n baie “volgsame” leier wat hom nie teen die ideologiese en praktiese leiding van die SAKP verset het nie.

Oor die propaganda van die destydse regering van PW Botha kan ’n mens sekerlik baie negatiewe dinge sê – soos elke regering ter wêreld moes ’n mens maar ’n soutpotjie byderhand hou by die aanhoor daarvan. Maar met sy gereelde waarskuwings dat die ANC deur die SAKP oorheers word, had hy reg; my (en ander historici se) navorsing bewys dit onteenseglik.

Nietemin, die geskiedenis is áltyd in beweging. Wat vandag bo is, is môre onder en oormôre slegs ’n vae herinnering. Só was dit ook met die ANC en SAKP.

Die wettiging van die bondgenootskap in 1990 deur die regering van FW de Klerk het saam met die val van die Berlynse muur en die Warschau-Pakt (Navo se kommunistiese teenhanger), die uiteenval van die gevreesde Sowjetunie en die verkrummeling van die kommunisme as globale magsfaktor geval. Daarmee is die mat onder die SAKP-oorheersing van die ANC uitgepluk.

In dié nuwe internasionale situasie, aangehelp deur die statuur van Nelson Mandela (ook geen SAKP-lid nie), moes die SAKP met ’n duidelik ondergeskikte posisie in die nuwe regering tevrede wees. Trouens, in die kwarteeu wat sedertdien verloop het, is dit opvallend dat die ideologiese stryd onder die swart mense nie meer eintlik tussen kommuniste en nie-kommuniste woed nie. Dit gaan nou om twee ander twispunte.

Die een is korrupsie. Die ANC/SAKP het inderdaad reeds in ballingskap sterk elemente van korrupsie vertoon, iets wat ná hul bewindsoorname in 1994 aansienlik toegeneem het. Dít is immers wat die interne magstryd in die ANC tans kenmerk – Cyril Ramaphosa se poging om die korrupte elemente in sy party aan te pak, sonder dat hy sy eie politieke kop in die proses verloor.

Die tweede is die konflik met die radikale swart nasionaliste in die EFF met Julius Malema as leier. Die EFF wil ’n soort Afrika-nasionalistiese swart sosialisme aan die land opdwing, waar die wit kapitaliste se besittings en vermoë om welvaart te genereer van hulle afgeneem en onder die swart mense verdeel word.

In dié twee strydpunte, wat die Suid-Afrikaanse politiek tans oorheers, speel die SAKP feitlik geen rol nie.

Opsommenderwys: Sedert sy stigting ’n eeu gelede het die SAKP ’n skouspelagtige opgang gemaak deurdat hy die kommunistiese stert geword het wat die ANC-hond swaai. Daarna het hy om verskeie redes prakties en ideologies in duie gestort sodat hy tans slegs ’n nagedagte is.

Kom ons hoop hy bly dit.

  • Leopold Scholtz het onlangs ’n manuskrip voltooi met die titel Terreur en Bevryding: Die ANC/SAKP in Ballingskap 1961-1990.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Mmmmm gepraat van “slegs ‘n nagedagte”…..

Hanz

Mens moet maar versigtig wees om te se hulle is net ‘n nagedagte. Hulle invloed is nog steeds groot in die ANC en sy beleid. Verder, ek dink die outeur het ‘n fout begaan om te se dat Nelson Mandela nooit deel was van die SAKP nie. Die ANC het dit vir jare ontken want dit het hulle propaganda masjien gepas, maar daar is na sy dood erken dat hy wel lid was van die SAKP. Ek dink hy het net sy praatjies aangepas, soos al die ander kommuniste na die val van die sowjet-unie. Hulle het besef dat hulle… Lees meer »

Pietertjie

Dís nou die kat aan die stert beetkry! Die SAKP regeer hierdie land, onder die vaandel van die ANC, en met behulp van die ANC se stemvee. Elke klein stappie wat die ANC gee, stink van kommunisme.

annie

Dit is eerder ‘n slinkse plan-van-samewerking: Die kommuniste swem vrolik saam soos loodsvissies en eet uit die silwerstroom die reste terwyl die kamma demokratiese ANC die raat en planne soos ‘n tsaar van ouds uit hul mond nougeset navolg hopende op wonderlike uitkomste sonder nagevolge.