SAKP se vernedering

Pres. Jacob Zuma Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Deur: Peet Bothma

Die jongste klap wat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party vanaf president Jacob Zuma ontvang het, mag dalk die laaste vernedering wees wat dié geswore lid van die drieparty-alliansie kan verduur.

Zuma het tydens sy mees onlangse kabinetsverskuiwing die SAKP se sekretaris-generaal, die 59-jarige dr. Blade Nzimande, uitgeskop as minister van hoër onderwys en opleiding. Nzimande is ʼn deurwinterde politikus en staan reeds vir bykans twintig jaar aan die hoof van die Kommunistiese Party. Hy was sedert 2009 ʼn lid van Zuma se kabinet.

Die SAKP se pad saam met die ANC is nie sonder slaggate nie. Die party is reeds vir meer as sestig jaar saam met die vakverbond Cosatu lid van die alliansie.

In die veertiger- en vyftigerjare het die Suid-Afrikaanse kommuniste begin wegbeweeg van hul internasionale kamerade en hulle daarop toegespits om toe te sien dat die sogenaamde vryheidstryd in die land op koers bly en nie sy fokus op die klassestryd verloor nie. Die kommuniste wou waak teen ʼn oordrewe nasionalistiese vryheidstryd.

Die SAKP was dus in baie opsigte deur die jare die derde wiel aan die wa, want reeds in 2007 het president Thabo Mbeki geluide gemaak dat daar teen die linkse elemente in die ANC gewaak moet word. Die kommuniste het in Zuma as president ʼn nuwe linkse vennoot gesien, maar besluit om hulself te beywer vir ʼn hersaamgestelde alliansie. Hiervan het niks gekom nie.

Die SAKP se liefdesverhouding met Zuma het nie lank gehou nie, want by die party se nasionale konferensie vroeër vanjaar is die president verbied om die geleentheidstoespraak te lewer. Nzimande het selfs openlik verklaar dat Zuma moet bedank.

Zuma het hard hieraan gesluk. Veral toe die SAKP boonop vir adjunkpresident Cyril Ramaphosa as hul voorkeurkandidaat vir die ANC-presidentsverkiesing in Desember aanwys.

Die kommunistiese party se teenstand teen Zuma spruit uit die rol wat hy na bewering in staatskaping speel. Hul motivering is egter nie om ʼn vrye ekonomie te vestig nie, maar eerder om die invloed van die sakegemeenskap op die land se regering uit te wis.

Die jongste besluit van Zuma om Nzimande uit sy kabinet te skop, is waarskynlik ʼn stap van persoonlike vergelding.

Dit is egter ʼn besluit wat net die laaste spyker in die doodskis van die alliansie mag wees.

Sekere politieke ontleders is van mening dat die ANC nie noodwendig die steun van die SAKP nodig het nie. Daar moet in gedagte gehou word dat die SAKP maar sowat 220 000 ingeskrewe lede het, en omdat die ANC en die kommuniste deur die jare so verstrengel geraak het, kan daar nie bepaal word of die lede van die party noodwendig teen die ANC sal stem nie.

Dis egter hoogs onwaarskynlik dat die 17 parlementslede van die SAKP weer vir Zuma sal stem.

Indien die SAKP voorts sy besluiteloosheid oor sy lidmaatskap van die alliansie kan besweer, bestaan daar ʼn moontlikheid dat die party ʼn hawe vir keelvol kiesers aan die linkerkant van die politieke spektrum kan word.

Die tyd sal leer.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Basson ·

Sou die gerugte waar wees dat ‘n geheime Russiese besoek aanleiding gegee het tot die nuutste skommeling, is dit tog vreemd dat die slagoffer die SAKP is – mens sou veronderstel dat Poetin en kie se lojaliteit eerste by die SAKP sou le? (Tsv die ooglopende ‘glasnost’)

Chrisjan ·

Ek is bly die onenigheid groei tussen swart faksies!Zuma moet nou net Dubai toe verhuis!

Frikkie Geld en huis ·

Die SAKP ry op die ANC se rug. As hul so seker is dat hul oeroue politieke idees enigsins werkbaar is, waarom nie die volgende verkiesing op hul eie aandurf nie??

Chris ·

Ek lag altyd my tanne af as ek iets van die SAKP hoor. Waar kom die seuns nou vandaan. Weet hulle nie kommunisme is dood nie, lank lewe kommunisme nie. Ek wonder hoeveel van die “komrates” het al onder so ‘n bestel geleef, inkluis neef Lemmetjie (Blade). As daar nou een nasie is wat nie die Afrikaan kan verdra nie is dit die Rus (Bolsjewis). In die sokkel (struggle) jare was daar mos van ons landgenote wat “opleiding” daar gaan ontvang het. Ek suig dit nie uit my duim uit nie. Ek was in die teenwoordigheid van “komrates” wat sonder geld in Rusland gesit het en hulle die bevolking beroof het. Hulle het nogal daaroor gespog.

Daan ·

Dit lyk my dat komunisme is eintlik super kapitalisme waar die regeerders alles het.Hulle lewe in super weelde ( sous trein ) wat hulle van die middel klas gevat het en die res is die werkers klas wat nie veel het nie. Komunisme het dus net 2 klasse mense, die elite en die werkersklas , die middelklas het verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.