Sal Cyril Ramaphosa slaag?

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Kan Cyril Ramaphosa keer dat Suid-Afrika se naam gevoeg word by die lang lys van die wêreld se mislukte state? Net as hy meedoënloos optree teen alles wat korrup en ontoereikend is.

Jacob Zuma het, in wat dalk sy laaste stuiptrekking as president is, die uiters populistiese aankondiging gemaak dat tersiêre onderwys gratis sal wees vir die kinders van minder gegoede huishoudings. Daarmee het hy sommer ook ‘n yslike mandjie vol turksvye in die skoot van die nuwe ANC-leier gelaat.

Populisties, want soos prof. Jonathan Jansen uitgewys het, is daar is nie iets soos gratis universiteitsopleiding nie: Studente het ook vervoer, verblyf, kos, klere, seep en tandepasta nodig – en op die ou end betaal die staat dit met die reeds oorlaaide belastingbetalers se geld.

Ramaphosa is in die hoek gedryf, terwyl die land reeds met staatskuld van R51 miljard sit. Die minister van finansies weet ook nie waar hy die geld vir gratis universiteitsopleiding gaan uitkrap nie.

Tyd vir realisme

Dis nou juis die tyd vir Ramaphosa om realisme by die populisme te sit en voorwaardes uit te spel, soos dat aansoekers die meriete vir ʼn universiteitskursus moet hê, want tersiêre onderrig is per definisie op meriete gevestig. Om jong mense in massas universiteit toe te stuur, gaan ongelooflike geld- en werkdrukte skep en sal nie werkloosheid oplos nie.

Daar moet ook duidelike voorwaardes vir gratis onderrig uitgespel word:

Dat jou “gratis” opleiding ook net geld solank jy jou jare deurkom en dat jy as gegradueerde darem minstens ʼn deel van die geld moet terugbetaal; dat daar ʼn keuring moet wees vir grade waarvoor daar ʼn ware behoefte in die Suid-Afrikaanse samelewing bestaan.

En, les bes, dat die grade wat behaal word, darem ook buite die land erkenning moet geniet – iets wat ʼn minderheid van die 26 universiteite beskore is.

Hopelik is ʼn totale hervorming van die skoolstelsel ook op Ramaphosa se lys. Net sowat een derde van skoolbeginners voltooi matriek, en die meerderheid doen dit danksy die lae slaagpersentasies. Dis tyd om baie hard hieroor te praat en te sorg dat universiteite studente kry wat ʼn redelike kans het om te slaag.

Die ANC is ook bang om die ongewilde waarheid te bevestig dat ʼn graad nie noodwendig voordele bo beroepsgerigte diplomas inhou nie. ʼn Mens wil ook hoor dat Ramaphosa sê dis geen skande om jou brood met handearbeid te verdien nie. Die land het ʼn groot tekort aan tegnici, elektrisiëns, loodgieters en verpleërs, om net ʼn paar vaardighede te noem.

Pleks van sulke instellings te skep, het die regering nog twee universiteite geskep wat ʼn stuk of 2 000 studente kan huisves. Dis ook nie net vir kolleges oprig nie: Hulle moet ook met die beste tegniese leerkragte toegerus word, al moet hulle van buite ons grense gewerf word. Dit, en die regte aanmoediging van regeringskant, kan bydra om van kolleges gewilde instellings te maak. Dit sal ook net werk in ʼn groeiende ekonomie.

Universiteitsgetalle het die afgelope paar jaar verdriedubbel van 400 000 tot meer as R1.2 miljoen sonder dat ons die resultate daarvan sien.

Grondhervorming

Die ander populistiese beleidstelling waarmee die ANC sy tanende ondersteuning wil opstoot, is die ou holruggeryde perd van grondhervorming, ook sonder vergoeding. Darem sonder dat dit die ekonomie en landbouproduksie affekteer.

ʼn Mens wil graag hoor dat Ramaphosa die gewilde kreet dat wittes die land se grond gesteel het, in die kiem smoor. Dis die populisme van veral die EFF en bevorder net ontevredenheid en opstande en is moontlik ook ʼn kernrede vir plaasaanvalle.

Daar het darem ook ʼn goeie skeut realisme van Ramaphosa gekom, soos die erkenning dat die meeste grond wat sedert 1994 verdeel is, nie produktief aangewend word nie. Hy moes verder gegaan het met voorbeelde – en daar is baie – van hoe eens produktiewe grond nou plantlose woestenye is, en hoe dit vorentoe voorkom kan word. Reeds in 2012 het Gugile Nkwinti, minister van grondbesit en landelike ontwikkeling, erken dat 90% van die herverdeelde plase mislukkings is. Dit het nie verander nie.

En wat gaan word van die 93% van die eisers wat geld bo grond verkies? Sal dit steeds gebeur as daar daadwerklike ondersteuning vir nuwe boere is? Verskeie landbouliggame is meer as bereid om met raad en daad hiertoe by te dra. Dis tyd om hulle openlik te verwelkom en nie verdag te maak nie.

Sigbaarste veranderinge

Die sigbaarste veranderinge tot dusver is die feit dat Ramaphosa se samekoms in Oos-Londen presies op tyd begin het (Zuma was 40 minute laat). Hy het ook nie met luiperdvelle opgedaag, in wit tekkies gedans en die masjiengeweerliedjie gesing nie.

Dit skep moed vir die toekoms, en hopelik wil die nuwe ANC-president net sy steunbasis vestig en uitbrei voordat hy sy ongewildste en ander noodsaaklike veranderinge bepleit. Soos dat die staatsdiens ernstig moet besnoei aan sy 1,3 miljoen amptenare.

Dis ook tyd om alle korrupsie uit te roei. Dit lyk of selfs Zuma en die Guptas nie die valbyl gaan ontwyk nie. Dinge soos mislukte munisipaliteite, die wanaanwending van begrotings, die toeken van tenders aan onbevoegdes sal hopelik ook aan die beurt kom, saam met ʼn ernstige besnoeiing aan buitelandse reise, luukse motors en dies meer.

Wat ons tans sien en hoor, is hopelik maar net die begin om die land en sy ekonomie tot voordeel van al sy mense reg te ruk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eish ·

Ek hoop van harte ek is verkeerd, maar dis n onrealistiese verwagting wat gekoester word vir die nuwe leier.
Moenie te veel lees n sy stiptelikheid en verwestering en dit as n mediaan deurtrek nie.
Skrywer se syfers oor getal universiteitstudente het besoek van die drukkersduiwel gehad.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Eish

Dankie vir jou valkoog! Die syfers is gewysig en behoort nou reg in die meningstuk te vertoon.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Hendrik ·

Ek voel ongemaklik met sy uitsprake oor grontvat sonder vergoeding en veral as CR die EFF gebruik om die grondwet in die jaar te verander om hierdie grondvat wettig te maak deur ‘n twee derde meerderheid. Watter vergoeding kry die EFF dan vanaf die ANC? EFF burgemeesters in Pretoria , Johannesburg en PE as vergoeding? Hierdie koalisie tussen die ANC en EFF is ‘n werklikheid en die ANC word beheer deur die NUK en die groot ses van die ANC. CR kry ‘n vergunning vanaf die ANC om president van die land te wees. Ons kan Dlamini Zuma as ‘n tussentydse president he tot die 2019 verkiesing. Onthou die ANC wil mag behou ten alle koste. CR is belangrik maar nie so invloedryk as mense wil he nie. Waar het jy ‘n “gesoute” sakeman gesien wat grondvat sonder vergoeding voortstaan. Hy is in derwaarheid soos Dawir Roodt genoem het maar net ‘n suksesvolle BEE sakeman.

Wessel ·

Die ANC is in sy wese korrup, dit gaan nie verander met ‘n nuwe gesig nie.

Kabous ·

100% Wessel, ‘n jakkals verander van hare maar nie van snare nie. Die ANC is, en was nog altyd, ‘n perverse en wesenlik siek organisasie wat een ding predik en dan presies die teenoorgestelde doen. Ramaphosa sal niks aan hierdie situasie verander nie!

bgj van der westhuizen ·

wel in 1994 was dit in land maar ons val so vinning ek weet nie of hulle dit kan keur nie praat baie maar doen niks dit is al wat hulle doen

Anton ·

In Engels,Italiaans, Frans en Spaans – “No”
In Swahili = “Hapana”
In Arabies= “La”
In Azerbaijani = “Yox”
In Czech =”Ne”
In Potugees =”Nao”
Latyns =”Nihil”
Yslandies = “Nr”
Duits =”Nein”
Shona = “Aihwa”
Zulu = “Cha”
Xhosa = “Hayi”
EN IN AFRIKAANS = “NEE!”

Anoniem ·

Moet op prinse nie vertrou nie…. vertrou op die Here alleen. Bid liewers dat CR ‘n werktuig in God se hand sal wees.

Rina ·

My opinie Ramaphosa is deel van die A.NC en moet nog steeds hul beleid uitvoer .So praatjies en aksie verskil soos dag en nag.Ramaphosa is in ñ moeilike stoel .Mense wat glo dat hy nie voortgaan met grondvergrype sonder vergoeding nie en heksejag op afrikaans by instellings en skole leef in ñ droom wèreld. So ook ander sake soos B.E.E ,rasseveroordeeling teen ñ sekere groep gaan verskerp word.Dis klaar laat in die dag om sekere sake te red.

Johannes van Rooyen ·

Hy gaan nie slaag nie hy net nog ñ ANC kader
Was en is deel van top 6 hy weet al jare van Zuma se dinge het nog nooit iets gesê of gedoen nie HOEKOM NIE ???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.