Sal die ondergang van Bell Pottinger genesing bring vir Suid-Afrika?

dr-thelma-louw

Dr. Thelma Louw. Foto: Verskaf.

Deur dr. Thelma Louw

As “witmonopolie-kapitaal” so ontwykend blyk te wees soos die wit leeu en die SAID se “rogue-eenheid” so onwaarskynlik soos die eenhoring, waar laat dit Suid-Afrika as land en die nasie wat ons hier probeer bou?

Hierdie twee konsepte het in groot mate oor die afgelope aantal maande die diskoers rakende en vorming van die groep mense wat hulle hier aan die suidpunt van Afrika bevind en as nasie probeer saamleef, bepaal. Dit het die filters geword waardeur ons na mekaar kyk; die vormende standpunte waarop ons ons menings grond.

Wanneer dit nou blyk dat hierdie twee kritieke konsepte geskep is met die doel om te verdeel en te oorheers – nee, eerder om te verdeel en te plunder – moet ons kyk na die skade wat die gebruik daarvan nasionaal tot gevolg gehad het, en natuurlik besin oor maniere waarop die skade ongedaan gemaak kan word.

Is dit belangrik dat die skade ongedaan gemaak moet word? Ja, dit is van nasionale sleutelbelang as dit ons erns is om in eenheid en vrede saam te woon in hierdie land waarvoor ons almal so lief is. Politieke partye het hulle mandaat geformuleer rondom hierdie wankonsepte en massa-optogte is in protes daarteen gehou. Kortweg – dit het ongetwyfeld die psige van ons jong nasie beskadig. Deur dit te ignoreer gaan ons nie die skade wat dit aangerig het, regstel nie.

Die skade moet ongedaan gemaak word. Maar hoe? Deur voete te was? Deur om verskoning te vra? Deur mense finansieel te vergoed?

Maar wie gaan dit doen?

Gaan enige van die Guptas enigeen van ons wat benadeel is se voete was?

Gaan enigeen wat so vrylik van “witmonopolie-kapitaal” gepraat het op nasionale radio of TV om verskoning vra vir die gebruik van die term of voor die een of ander kommissie verskyn om verantwoording te doen vir die skade wat die nasie aangedoen is?

Gaan Bell Pottinger met miljoene ponde beboet word om te vergoed vir die skade wat hulle aangerig het met hulle rasgedrewe veldtog?

Helaas, die antwoorde op hierdie vrae is almal negatief. Waar laat dit ons jong demokrasie dan?

  • Dit laat ons met ʼn hernieude besef dat ons alleen die kompleksiteite van ons situasie verstaan en dit daarom self moet oplos.
  • Ons besef verder opnuut: As ons mekaar as landgenote nie kan/wil vertrou nie, sal daar altyd opportuniste “daar buite” wees wat munt wil slaan uit ons gebrek aan vertroue.
  • Dit toon ook dat ons die hou op die ken moet kan vat, hande vat en vooruit beweeg. ʼn Oneindige ontleding van daardie hou op die ken hou ons vasgevang in die verlede en maak die hek wawyd oop vir die opportuniste na wie hierbo verwys is.
  • Dit wys dat om verskoning vra nie wonde genees nie, maar vergifnis wel. Vergifnis in woord en daad! Hoe ironies vir Afrikaners dat dit weereens die Britte is wat onmin saai tussen hulle en die mense saam met wie hulle net vreedsaam wil bestaan en ʼn toekoms wil bou!

Dus, brose nasie, hef aan lê nog voor! Ons moet weereens die wonde versorg en mekaar verseker van ons goeie trou. Ons moet ons waaksaamheid verskerp teen diegene wat wil verdeel en oorheers omdat hulle bepaalde selfsugtige doelwitte wil bereik ten koste van nasionale eenheid. Ons moet erken dat ons as Suid-Afrikaners – almal van ons saam – die beste toegerus is om ons land vorentoe te vat.

Daar sal weer aanloklike geleenthede geskep word deur mense wat nie die beste belang van die land op die hart dra nie. Maar as ons vasbeslote is om hierdie versoekings (om eiebelang eerste te stel) wel te weerstaan in die belang van ons land, sal ons kinders en hulle kinders die vrugte daarvan pluk. Is dit nie die bes moontlike erflating nie?

  • Dr. Thelma Louw is ’n aktivis en politieke waarnemer. Sy het in vakbondstrukture gedien en die belange van Suid-Afrika se werkers in nasionale (Consawu), kontinentale (ITUC-Africa) en internasionale (ITUC) vakbondstrukture verteenwoordig. Sy dien tans ook op Solidariteit se hoofraad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Boerseun ·

En ek eerstens n Boer, dan n Afrikaner . En Suid Afrika as konsep (stem af van unie van Suid Africa) het ons juis saam die britte se mengelmoes gegooi . Maar niks nuus hier, daar gaan nog baie stories soos die uitkom wag maar. Digitaal het sy nadele vir die globalist elite.

John ·

As ons… Die feit dat die ANC steeds bankvas agter Zuma staan, is bewys dat ons nie kan hoop op ‘n draaistrategie nie. En daarmee saam toon Zuma sy hartewens om as president voort te ploeter. Dis waar dat hoe meer dinge verander hoe meer skelm vingers sal steeds in die ‘pie’ gevind word. Mooi woorde het sedert 1994 opgeklink vanuit die wit gemeenskap… alles te vergeefs… Vergeet dit!

Afrikaanse Knaap ·

Ek hoop ons kry ons selfstandigheid en eie volkstaat in my leeftyd.

Afrikaanse Knaap 2 ·

Afrikaanse knaap, ek en jy stem 100% saam. ‘n volkstaat is ons enigste hoop. Ons sal op die end geen keuse he as dit nie. Ook hulle wat nou daarteen is. Eerder nou die skuif as wag tot ons niks het nie, dan is dit te laat. Die uurglas loop leeg.

Eish ·

Nie in my leeftyd nie. Vergeet dit. Integrasie kon deur geen land ter wêreld suksesvol bestuur word nie, deur niemand nie. Nie eens ons wat Afrikaners is kan kan dit vermag met onsself nie. Vanoggend op RSG het die voorsitter van die Seunse Weenkoor (Max du Preez)so heen en weer gespring in n onderhoud met hom en Kallie Kriel dat die trane spat. Née, kry net voldoende kritiese massa om ons eie te bou en gaan voort. Laatslapers sal wel die poorte binnegaan sodra wat opgebou is hul huidige scenario oorskadu. Met dieselfde styl as wat die Burgerregte organisasies dit tans doen, edel, opreg, sonder om op enigeen neer te sien, met ander woorde met die Christelike waardestelsel as onderbou.

Selfbeskikking ·

Afrikaanse knaap, ek en jy stem 100% saam. ‘n volkstaat is ons enigste hoop. Ons sal op die end geen keuse he as dit nie. Ook hulle wat nou daarteen is. Eerder nou die skuif as wag tot ons niks het nie, dan is dit te laat. Die uurglas loop leeg.

Boerseun ·

Let op, solidariteit en afriform praat net van nasie bou. Die ouens praat geensins van n volkstaat in enige form.

Henry ·

So van praat gepraat Boerseun…
Hoe vorder julle met ‘n Boere Republiek?
Ek sien die Ingelse “form” steek steeds sy lelike kop uit.
:-)

Lampies ·

Henry: “Hoe vorder julle met ‘n Boere republiek?” Jy staan dus buite? Jy wag dat ander die toekoms vir jou en jou mense moet beveilig? Jy verwag dat jy later, as dit jou pas, in ‘n veilige hawe sal intrek wat deur die Boerseuns gevestig is? Of dalk is jy doodgelukkig waar jy is?

Henry ·

Jammer ou Lampies
Maar ek kan nêrens iets vind waar ek sou gesê het dat ek na ‘n sogenaamde Boere Republiek wil verhuis nie.
Interessantheidshalwe, Miskien kan jy vertel waar die “veilige hawe” is, of gaan wees.
Dit is seker nie binne die grense van hierdie droewe land waar die plaaslike regime kwalik geneê sal wees om ‘n flentertjie van die droewe land aan ‘n Boere Republiek af te staan.

chrisp ·

Hierdie sogenaamdde “nasie” is net ‘n hersingskim geskep deur goeie dromers wat totaal blind en doof staan teen al die bewyse daarteen wereldwyd of waansinnige moordenaars met ‘n agenda.
Besef tog nou die nasie bestaan nie en as hy volgens iemand bestaan se my asb wat is sy kultuur,taal,gewoontes dws hoe lyk hy? Praat jy van die Japanese,Duitse,Zoeloe nasie ens dan ken almal die antwoord op die vraag.

Jy wil ‘n nasie bou? Daar word al sedert die 1990’s aan jou “nasie” gebou sonder enige sukses. Intteendeel die haat en afguns groei jaarliks net meer en meer,die land is op die afdraande pad en versnel jaarliks terwyl jy “nasie” bou. Hoekom wil julle die haat en verval laat aangaan? Einstein het gese “om dieselfde eksperiment oor en oor te doen en te verwag die uitslag gaan anders wees is ‘n kenmerk van waansin.

Hierdie eksperiment(nasie) is waansinnig.

chrisp ·

Verskoon tog maar die spelling hierbo.

Die definisie van nasie is volgens Wikipedia die volgende.
“‘n Nasie is ‘n groepering van mense wat ‘n gemene geskiedenis, taal en etniese oorsprong deel en wat gewoonlik hulle eie regering het of daarna streef.”

Daarom die vraag.Wie en wat is die nasie?

Gerhardus Petrus Padda ·

Dr Louw, kan ek voorstel U probeer die volgende sosiale eksperiment. Elke keer wat U, U vriende en familie sien, hamer op elke fout wat hulle in hulle lewe gemaak het teenoor jou(almal maak foute so dit is nie moelik nie), hoe hulle jou “skuld” daarvoor en ignoreer alle gevalle waar hulle jou gehelp het doelbewus.

Kyk hoe dit werk en watter “vriende/familie eenheid” hieruit voortspruit. Gee ons asb n vorderingsverslag en probeer hierdie vergelyk met die huidige manier hoe ons “Nasionele Eenheid” probeer bevorder.

Ek wag gretig op U terugvoering.

Thelma ·

More Gerhardus en Lea,
Ons sê presies dieselfde ding: solank ons vasgevang bly in die foute van die verlede sal opportunistiese partye dit prober uitbuit tot hulle voordeel en sal ons nie kan bou aan die toekoms nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.