Sal die regte Ramaphosa opstaan?

Pres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto: Elmond Jiyane.

Elke aand op televisie sien ons motorbande en geboue wat brand en polisie wat met rubberkoeëls op betogers skiet. Jy kan met absolute sekerheid voorspel dat daar ten minste een diensleweringsprotes op die televisienuus sal wees.

Hoe het ons in hierdie situasie gekom?

Die ANC-regering se ekonomiese beleid – of eerder gebrek aan werklike beleid en kaderontplooiing – het dit veroorsaak.

Die gevolg is ’n uiters hoë werkloosheidsyfer, groot armoede en geen dienslewering nie. Verder sê die betogers dat die regering slegs reageer op brandende bande en brandende geboue. Al hierdie faktore saamgevoeg, lei tot deurlopende politieke en ekonomiese onstabiliteit in die land.

Tito Mboweni, die nuwe minister van finansies, verwys in sy onlangse begrotingstoespraak na Jesaja 58 vers 12. Dit lui: “Jy sal bekend staan as ’n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.”

Sonder dat hy dit besef, erken die minister met hierdie aanhaling uit Jesaja dat die ANC Suid-Afrika en veral die Suid-Afrikaanse ekonomie amper tot op die grond afgebreek het.

Mboweni doen dan in sy toespraak ’n beroep op buitelandse beleggers en die private sektor in Suid-Afrika om hier te kom belê om só die ekonomie te red. Hy hoop om hiermee hierdie “afgebreekte mure” weer te begin opbou.

Voordat buitelandse of plaaslike beleggers in Suid-Afrika kom belê, wil hulle weet of hier stabiliteit sal wees.

Suid-Afrika is tans polities en ekonomies onstabiel al verskil pro-regeringkommentators met hierdie stelling.

Trevor Manuel was vir die grootste deel van Mandela se termyn en die hele termyn van Mbeki die enigste minister van finansies. Van 1996 tot 2009 was dit 13 jaar, ononderbroke.

In kontras hiermee was daar in Zuma se termyn vyf ministers van finansies, naamlik: Gordhan, Nene, Van Rooyen, weer Gordhan en toe Gigaba. In Ramaphosa se eerste agt maande het ons ook reeds twee ministers van finansies gehad: Nene en Mboweni. Dit dui op ernstige ekonomiese onstabiliteit.

Maar kom ons meet stabiliteit deur die bril van objektiewe organisasies van buite Suid-Afrika.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) meet jaarliks 140 lande se mededingendheid. Suid-Afrika het vanjaar na die 67ste plek teruggesak nadat ons die vorige jaar 62ste was.

Wat eiendomsreg betref, is die situasie nog slegter. Suid-Afrika het van die 56ste plek tot die 97ste teruggeval.

The Fund for Peace is ’n internasionale niewinsgewende burgerlike navorsingsorganisasie wat jaarliks die stabiliteit van 178 state evalueer en in volgorde rangskik.

Twaalf aanwysers word gebruik wat spesifieke sosiale-, ekonomiese-, veiligheids- en politieke toestande in elke land meet.

Lande word dan gerangskik van uiters stabiel tot stabiel met daarna ’n kolom vir lande waarvoor waarskuwings oor hul stabiliteit gegee word. In 2018 val Suid-Afrika in hierdie kolom met die opskrif: “Verhoogde waarskuwing oor stabiliteit.”

Volgens die indeks is die mees stabiele state in volgorde Finland; Noorweë; Switserland en Denemarke.

Die vier mees onstabiele lande is Suid-Soedan; Somalië; Jemen en Sirië.

Suid Afrika val in die middel op nommer 85 uit die 178 state. Wat egter onstellend is, is dat Suid-Afrika uitgesonder word as een van die 20 lande wat die meeste verswak het die afgelope paar jaar.

Net sewe lande het vir vyf jaar in ’n ry, elke jaar swakker gevaar. Suid-Afrika is een van hierdie sewe lande, saam met oorlogsgeteisterde lande soos Sirië en Jemen asook Venezuela.

Kan hierdie al groter wordende onstabiliteit omgedraai word?

Met die verkiesing van Ramaphosa was daar ’n tydperk van Ramaforie waarin dit gelyk het of daar in die regte rigting beweeg word. Deur ekonomiese groei en werkskepping as twee van sy belangrikste doelwitte te stel, het Ramaphosa as nuwe president dit reggekry.

Die besluit oor grondonteiening sonder vergoeding was beslis die grootste faktor wat gemaak het dat die Ramaforie-wittebrood van korte duur was. Hierdie besluit is deur die ANC-kongres geforseer deur die Zuma-faksie in die ANC. Die Zuma-faksie bestaan uit ’n kombinasie van gedrewe sosialiste en Afrika-tradisionaliste.

Die gedrewe sosialiste glo ons ekonomiese redding lê in die nasionalisering van myne en banke asook in grondonteiening sonder vergoeding.

Die tradisionaliste, bestaande uit konings en hoofmanne wat kommunale grond besit, het geen begrip vir private grondbesit met titelaktes nie. Oudpresident Zuma en verskeie van sy ministers kom eintlik uit hierdie denkskool.

Dit is maklik om te sien waarom hierdie tradisionele siening van grond maklik versoen kan word met die sosialistiese en kommunistiese denkstroom dat alle grond aan die staat moet behoort.

Hoewel Afro-sosialisme orals in Afrika probeer is en deurlopend misluk het, is daar steeds ’n sterk faksie in die ANC wat daarin glo. Deur swart bemagtiging, regstellende aksie en sosiale toelaes word geld deur die huidige regering op ’n sosialistiese manier aan ANC-ondersteuners en armes oorgedra. Die ironie is dat dit slegs moontlik is omdat die staat se belastinginkomste berus op ’n klein hardwerkende kapitalistiese minderheid.

Hoe lank is dit volhoubaar?

Margaret Thatcher, vorige Britse eerste minister, het verduidelik hoekom sosialisme nog orals in die wêreld misluk het. Sy het gesê: “The trouble with Socialism is that eventually you run out of other people’s money.”

Natuurlik wil Ramaphosa ʼn sukses van sy presidentstermyn maak. Tans betaal Suid-Afrika R5 600 per sekonde net om die rente op ons staatskuld te dek. Die sleutel tot sukses is dat die ekonomie baie moet groei om ons uit hierdie skuld te kry.

Wat moet gedoen word?

Die regering, en spesifiek president Ramaphosa, moet sterk en duidelike ekonomiese leiding gee om Suid-Afrika uit hierdie probleme te kry.

Daar was ʼn TV-program waar die gehoor tussen drie persone moes raai wie die regte Botha of Du Toit is. Die program eindig waar die aanbieder sê: “Sal die regte Botha opstaan?”

Suid-Afrika vra dieselfde vraag: “Sal die regte Ramaphosa asseblief opstaan?”

Is Ramaphosa ʼn oortuigde sosialis en goeie Cosatu-vakbondman?

Is Ramaphosa ʼn baie ryk kapitalistiese sakeman, wat in sy vrye tyd met beeste en wild boer, en daarom besef dat die vrye mark die enigste manier is om uit hierdie ekonomiese moeras te kom?

Is Ramaphosa ʼn lojale ANC-kader wat die ANC en sy beleid bo alles stel?

Hoe is dit moontlik dat die sakewêreld en die SAKP albei in hul skik is met sy verkiesing?

Al hierdie teenstrydighede is moontlik omdat Ramaphosa tot op hede alles vir almal was. Dit het hom president gemaak. Hy sal nie langer daarmee kan wegkom nie. Suid-Afrika is ekonomies diep in die moeilikheid. Daarom sal hy moet begin leiding gee. Watter kant toe hy ook al leiding gee, gaan hy onafwendbaar van hierdie uiteenlopende groepe wat hom nou ondersteun, kwaad maak. Dit is egter wat goeie leierskap vra.

Kan Ramaphosa die magte wat losgelaat is, nog beheer?

Die vraag is wel of Ramaphosa die magte wat Zuma losgelaat het, en wat Ramaphosa self in sy toesprake die laaste paar maande aangemoedig het, nog kan beheer.

Ná die grondwetlike onderhandeling in die negentigerjare sê Ramaphosa in ʼn BBC-TV-dokumentêr die volgende oor FW De Klerk: “In his speech on 2 February 1990 he thought that by unbanning the ANC, he would be able to control political events in our country. I don’t believe that he knew that he was actually unleashing a force, which he would find far, far, far beyond his own political imagination and control.”

Is Ramaphosa betreffende grondonteiening nie presies in dieselfde posisie nie? Het hy magte losgelaat wat hy nie sal kan beheer nie?

Dit lyk of Ramaphosa oor die kort termyn eers die 2019-verkiesing wil wen om daarna die ekonomie te probeer regruk.

Dit gaan te laat wees. Hy moet nou reeds optree.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Snowball ·

Die ANC is ‘n kanker wat SA se ekonomie doodwurg. Vir SA om weer te herstel, sal die ANC sy politiese volmag moet verloor. Wie aan die voorpunt van die sinkende skip staan (of dit Zuma of Ramaphosa is) is irrelevant, want die ANC is selfdienend en selfgeldend; ‘n god in hulle eie oë, hulle en hulle leiers kies oor en oor die behoud van die ANC bo die behoud van die land. Ek glo Ramaphosa sal dieselfde pad loop, OSV en lenings by Sjina is net die begin…

John ·

Nee, ons moet kyk wie CR die afgelope 25+ jaar was en wat hy nagejaag het. Hy was bv deurentyd besig om sy eie nessie te veer dmv direkteursposisies waar hy geleer het hoe om ‘n vooraanstaande wereldburger te wees en watter whisky classy is. En dan het hy duidelik sy voorkeur vir draadheiningserpe getoon vandaar sy eerste buitelandse besoek aan die rykste leiers met soortgelyke gevoelentes. Weelde en rykdom is duidelik in die prentjie.
CR verkoop sy gee-gee-ideologie waar hy gaan. Die jongste slagoffer is Merkel wat juis nou heuning om die bekkie nodig het. En dan is daar die troetelkwessie van die ANC, nl sitting op die Veiligheidsraad. Hoekom is lg so belangrik? Wie en wat wil ons regering so bevorder? CR se agter-die-skerms-rol is dalk net baie belangriker vir hom as die brood-en-botter-kwessies van die plaaslike miljoene wat naarstiglik op uitkoms wag.

Thinus Erasmus ·

John dit wat jy skryf maak soveel sin, dan kry jy nog mense wat net nie genoeg oor CR te pronke het nie. Hy het verskriklike rykdom bekom, soos vele andere, deur gratis aandele ens. en is nie so ‘n knap kapitalis as wat sy bates beweer nie.
Hy weet presies wat is goed vir hom en sy party, die res van die land is net ‘n melkkoei.

Nakkie ·

Net een ding van hierdie artikel wat nie reg is nie: die skrywer praat asof Ramaphosa volmag en alleenreg het in elke besluit. Hy is een van die koppevan die Hidra. Nes met Zuma, kap n kop af en n ander een neem sy plek. Die probleme eindig nie as Ramaphosa gaan nie.

ZAR ·

Dankie Pieter vir hierdie goeie insigte. Ons gaan nog lank sukkel met die ANC.

Frans C ·

Gewoonlik as ‘n mens in die moeilikheid beland volg daar ‘n lykskouing en kan ‘n nuwe koers ingeslaan word en met harde en volhoubare werk die gevolge van die foute begaan herstel word.
Die opsie is die Blanke kiesers nie beskore nie,want Suid Afrika het lank geleerde maar min wyse leiers aan die stuur van sake gehad.Pres Kruger was nie ‘n geleerde man nie,maar het gou besef dat stemreg aan buitelanders oor veel meer as dit gaan en het na bewering gesê:’“Dit is nie stemreg wat julle wil hê nie; dit is my land wat julle wil hê’.

Dit is maar eintlik wat gebeur het toe pres de Klerk die ANC ontban het en ingestem het
tot ‘n een-man-een stem en sg demokratiese regering.Dit het by vele ANC kaders nooit
oor dit gegaan maar wel om die toegang tot die land se rykdom.

Dieselfde het gebeur op munisipale vlak.Onthou goed hoe gou die vraag was ;’hoeveel geld daar in die ‘kitty’ was en die kaders hul borde vol eetgoed opgestapel het en sommige selfs dit in hul sakke gepak het.

Daar was wel leiers wat volkome bewus van die opkomende swart nasionalisme en besef het dit dit net gekalmeer kan word deur die stroom in tuislande te kanaliseer.

Wat Ramaphosa aanbetref is hy ‘n gevange van die ANC se NEC en is sy optrede eerder gemik op die behoud van die ANC.

Ella ·

@ Frans: dis die waarheid. Ek was daar, het gehoor en gesien hoe word ons gesonde munisipaliteit geplunder word deur die inkommers. En ja, die geld beskikbaar was n groot trekpleistertrekpleister.
Ek gooi nou n klip in die bos: dis nie net die Vrystaat se skilderye, en voeg daarby ander bates, wat verdwyn het nie. Dit het by baie ander ook gebeur en dit het nou ander eienaars. Die waarde daarvan is eers later deur die “veroweraars” besef.

Hendrik ·

Wat moet die Afrikaner doen om die huidige situasie te oorleef? Ek voel dat daar gerigte programme wees om die afrikaner mense te help om ekonomies te oorleef en beter af te wees na die verkiesing. Tans word ons so gemarginaliseer op alle gebiede met wetgewing. Daar moet gekyk word na werkskepping, opleiding, entrepeneurskap en sosiale verbeteringprogramme van massas witmense wat sonder werk sit. Ons het tans baie werkers nodig maar tans is die standaard werkers, wat beskikbaar, baie swak. Ek praat nie van opgeleide mense maar gewone werker. Om ekonomies selfstandige areas te ontwikkel het ons werkers nodig. Bouers, elektrisiens, loodgieters, timmermanne ens.

Chris ·

As Pieter Mulder en VF hul 670 000 stemme wat hulle in 1994 gekry het, aangewend het vir selfbeskikking en nie die groenstoele in die parlement warm gesit, en hul eie nessies geveer het nie, het ons nou al ‘n tuisland gehad of ten minste vêr daarmee gevorder het. Maar om oor te spring ANC toe vir beter voordele was mos belangriker.

waarheid ·

Ramapaddapot is ‘n leuenaar oor plaasmoorde – en moet daarvolgens behandel word.
Vir my is hy maar net nog ‘n deel van die korrupte anc en dit sal nooit verander nie.
Hy is nie respek waardig nie.

Jerry ·

CR is besig met n balanseertoertjie soos min tussen sosialisme en kapitalisme. Hy skep n kombinasie van beide. Hy vat dit wat sal werk vir SA van sosialisme en kapitalisme. Hy beweeg die ANC stadig maar seker verder en verder weg van radikalisme. Dat hy na die verkiesing beter en duidelliker politieke en ekonomiese beleidsrigtings daar gaan stel is Virseker! Dat hy seersekerlik op die tone van linkse radikales en regses gaan trap, dis nog meer Virseker. Dat hy witmense aangenaam gaan verras deur wen wen situasies te skep soos met bv die finale besluit en implimentering van OSV en daardeur die wig verder indryf tussen gematigde witmense en AfriForum, dis Virseker! Die regte CR het reeds opgestaan en hy het reeds die toue uitgerol waarmee links radikaal en regs hulself na die verkiesing sal hang.

Thinus Erasmus ·

Die enigste wat verras gaan word (onaangenaam) is mense wat soos Jy dink, Virseker.
Maar soos gewoonlik word die uitkoms nie geredeneer nie, maar die toekoms sal die ware situasie weergee en die geskiedenis sal dit bewys.
Toe hy no. 2 was het hy niks goed reggekry nie. Nou is hy pres. maar nog steeds ANC lakei.
Ook na die verkiesing sal daar net nuwe verskoning wees.

Heinrich ·

Op die vraag of Ramapadda ‘n sosialis/kapitalis/ ANC kader is, is die antwoord op almal “Ja”. As ek reg onthou het hy met die boere vergader om hulle kant van die saak aan te hoor, want hy boer mos ook en ook ook baie ander besigheidsbelange- Kapitalis. Dan gaan ontken hy plaasmoorde oorsee en sê alles is hunky-dory, en dat die ANC voortgaan met onteiening sonder vergoeding – Sosialis. Dan is hy die tweede-in-bevel gewees tydens die Zuma bewind en “het regtig van niks van al die skelmstreke geweet nie” – ANC Lojalis. Hy het ‘n bestaanskrisis omdat hy nie weet wie om gelukkig te hou nie, en juis met die ANC mentaliteit kan ons verseker wees dat dit beslis nie die etiese en regte ding gaan wees wat gekies gaan word nie.

B ·

Dis asof ons in ontkenning is en heeltyd CR / die ANC ens vanuit ‘n Westerse paradigma beoordeel.
Hoekom sal ‘n deurwinterde ‘Afrikanis’ enigsins omgee oor wat ons (<10%) dink, of wat die westerse wereld verwag? ?‍♂️
As hulle groei wou bevorder sou dit nie nodig gewees het dat die Wereldbank vroeer die jaar gestel het dat ~10m mense (!!!) uit armoede sou wees as dit nie vir die ANC mislukking was nie.

Jerry ·

Thinus, dit gaan nie oor hoe ek dink nie. Dit gaan oor hoe dit is en oor wie CR is. Soos Steve altyd gese het, dis hoe dit is. Dit is n ontleding van die beredeneerde uitgeslape benadering wat hy volg, die rigting wat hy inslaan en hoe hy alles ballanseer asook die rewolusionere betekenis van die uitsprake wat hy maak, asook van dit wat hy nie se nie! Ek is CR se grootste vyand omrede ek hom reg kan ontleed en omdat ek weet hoe die twee kampe in die ANC dink en redeneer en wat in Luthuli huis aangaan. As daar dus iets goeds te se is dan se ek dit en as daar iets slegs te se is dan se ek dit oor CR of oor AfriForum, want my ou maat van yster en plaat, dis hoe dit is! Die rede hoekom my menings meer objektief is en nader aan die kol is as enige rubriekskrywer, meningsvormer of mede kommentators is bloot agv n natuurlike analitiese vermoe en gegewe die feit dat ek geen politieke motiewe het nie en geen politieke partye ondersteun nie. Ek ondersteun slegs wat die beste is vir SA en vir my medemense. Die beste wat my medemense soos jy tans kan doen is om te emigreer omrede die skip besig is om te sink, maar ek weet jy sal nie, want dis mos net objektiewe mense soos ek wat so dink!

Basson ·

Jerry, alhoewel ek baie met jou verskil op hierdie forum maar tog probeer sin maak en verstaan hoe(kom) jy sê wat jy sê, is ek jammer – hierdie repliek van jou het ongelukkig jou kredietwaardigheid baie skade gedoen.

lewies ·

Ek glo jou heelhartig, maar die emigreer kwessie is net vir die rykes en geleerdes. Sorry vir die wat nie in hierdie kategorie val nie.

Staak saam ·

Jerry 24 jaar het verloop en steeds sing julle liberales nog die selfde ou wysie maar steeds staan ons nie n tree nader aan die voorspoed nie. Cyril is getrou aan die NEC, die top 6 is sy baas.
Jy het hopeloos te veel vertroue in politiek.
As die buite wereld nie n redingsboei gaan gooi nie, dan gaan ons sink!
Ekonomies kan ons nie meer vir baie lank staande bly nie.
Cyril is net daar om beleggers te lok om die ANC goed te laat lyk vir die komende verkiesing.
Na die verkiesing gaan dinge begin inmekaar stort en jou president gaan geen antwoorde he nie, die geld is eenvoudig op en ons skuld al reeds teveel.
Ekstrimistiese groep loop hand aan hand met terreur en geweld, Afri-forum of geen regse groep (as daar nog is) maak hulle hieraan skuldig nie maar die linkse groepe, liberale kant van die politiek doen dit wel.
Daar bestaan nie n wen-wen nie, maar na die verkiesing sal jy weer ander verskonings he en oor nog 24 jaar wanneer n teerstraat n luukse is sal jy seker nog steeds vinger wys na die regse.
Jy kry net links en regs, daar is geen middellyn in politiek nie.

Snowball ·

Stem saam met jou Staak saam, Cyril is ‘n verkleurmannetjie, ter wille van die behoud van die ANC. Dié wat beweer hulle ken die binnewerke van Luthuli House en weet hoe dit is, moet dan die onkundiges in lig, want ek dink nie eers almal in die ANC weet wat daar gedoen en gesê word nie, dié dat hulle optogte teen hulleself reël. Daar is ‘n verskil tussen kritiese denke en bloot kritiek om Afriforum en regses by te kan kom.

Thinus ·

Ai Jerry in die een kommentaar hemel jy CR op en in die volgende praat jy van uitgeslape, is dit wat jy objektiwiteit noem? Ek het ń probleem met jou analise, dat jy juis baie subjektief oor Afriforum en ons Afrikaners is, wat baie goeie reguit en eerlike bedoelings het, maar jy vind fout met alles. Soos die verloop van die lewe ons geleer het, weet ons dat mense verskil en almal het nie dieselfde behoeftes en aspirasies nie. Dis my reg om my te skaar by wie ek wil en saam met hulle vorentoe te gaan. Ek hoef nie die hele wêreld se behoeftes voor myne te plaas nie, en dit is wie ek is.
Ek kan ook selfs vir ou Satan ń paar komplimente gee maar ek sal hom nooit goed praat nie. Hoe is jy CR se grootste vyand as jy geen aksie doen of steun om druk op hom te plaas nie ??????

Elsa ·

Kom leiers , begin opstaan vir ons minderheid, ons belasting word gebruik om die ANC mense ryk te maak, ons grondbelastings word vir mense verniet gegee wat alles afbrand.
Kom nou , moet hulle al ons minderheid vertrap.
Ons moet ons eie stukkie in Suid Afrika kry.
Kom besigheids mense , begin dink.

Hendrik ·

Elsa dit gaan moeilik wees om een stukkie vir onsself te kry maar daar is alreeds verskeie stukkies wat in totaal alreeds ongeveer al 3500 mense en sowat 800 huise het.

DewaldS ·

Tydens Apartheid was daar wetgewing. Daardie wetgewing het jou toegelaat om dinge te doen wat wettig. maar immoreel was. Vandag het ons die BEE wetgewing – dit laat mense toe om dinge te doen wat wettig, maar immoreel is. CR is maar net die begunstigde van ‘n grootskaalse immorele gebruik van wettige ‘bemagtiging’ waar biljoene se bates net vir sekere individue uitgedeeel word. Hy is niks meer as dit nie – nie ‘n uitvinder, innoveerder, enterpreneur, visoenêre besigheidsman of besigheidsleier van enige aard nie. Raak maar net gewoond aan hoe dit is. Want dit is HOE DIT IS.

Jaco ·

Zuma is besig met `n komplot om CR na die verkiesing uit te werk, hulle gaan alles op hom pak. CR gaan staan vir nog `n paar maande en dan gaan hy die goue handdruk kry, soos al sy maatjies in die ANC

Die ANC sal regeer na2019 maar die land gaan nie `n volgened verkiesing maak nie.

1+1 ·

Niemand weet regtig wat more en oormore gaan gebeur nie. Selfs nie eers die geleerdes onder ons nie. Vir die hier en die nou se ek “Julle is almal reg”

Smirre ·

Die dink ou Ramaphoesa sal ooit iets verander ? Selfe stoffasie en meer geld as Zuma, net so gierig en onnosel. 10 jr terug was SA 38 ste op die lys. Waar trek ons nou ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.