Sal magspolitieke mat onder Zuma uitgepluk word?

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

’n Vraagteken hang bo pres. Jacob Zuma se onmiddellike toekoms as staatshoof. Luidens berigte sal die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) Woensdag op sy vergadering in Oos-Londen oor die saak besin.

Verskeie oorwegings en belange, sommige totaal teenstrydig, is hier verstrengel. Uit die ANC se eie oogpunt gesien, is een van die belangrikstes die feit dat sy prosedures elke tien jaar ’n leierskapskrisis uitlok.

Die Grondwet bepaal dat ’n staatspresident nie langer as twee termyne van vyf jaar elk in daardie amp mag dien nie. Vir die ANC skep dit onder meer twee probleme wat saamgelees moet word.

Die eerste is dat die president (of leier) van die ANC en die president van Suid-Afrika twéé poste is wat teoreties nie in ’n enkele persoon verenig hoef te wees nie. Ten tweede vind die ANC se leiersverkiesing op ’n partykonferensie plaas wat in normale omstandighede sowat anderhalf jaar voor die algemene parlementêre verkiesing gehou word.

Dit het nou reeds twee keer tot ernstige probleme vir die ANC gelei. Die eerste keer was in 2009, toe pres. Thabo Mbeki weliswaar aanvaar het dat sy dae as staatspresident getel is, maar hy wou aanbly as ANC-president – vermoedelik om die mag agter die troon te bly.

Dit het misluk. Jacob Zuma het hom vernederend verslaan, waarna die ANC die lewe vir Mbeki só moeilik gemaak het dat hy bedank en in obskuriteit vervaag het.

Maar voordat Mbeki bedank het, was die land prakties onbestuurbaar. Mbeki was nog amptelik staatshoof, maar die eintlike baas van die plaas was sy aartsvyand Zuma. ’n Onhoudbare situasie.

Iets soortgelyks gebeur nou weer. Zuma wou sy gewese vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, as opvolger hê, vermoedelik omdat sy hom ondanks sy tien jaar lange plundertog as staatspresident sou beskerm (en dalk self ’n nuwe plundertog van stapel stuur).

Ook dít het misluk. Cyril Ramaphosa het naelskraap oor Dlamini-Zuma geseëvier, sodat daar nou, net soos tien jaar gelede, twee magsentrums is: Ramaphosa as president van die ANC, en Zuma as president van Suid-Afrika.

Tensy dié situasie, dalk vandeesweek al, opgelos word, is dié verlamming tot die volgende verkiesing aanstaande jaar die land se lot.

Hoe kan die situasie opgelos word, veral gesien Zuma se glibberige deursettingsvermoë om met sy misdade weg te kom?

Teoreties bied die Grondwet twee weë. Art. 89(1) bepaal dat die Nasionale Vergadering die president met behulp van ’n tweederde-meerderheid in ’n staat van beskuldiging (Engels: impeachment) kan stel, en wel op die volgende gronde:

  • ’n ernstige skending van die Grondwet of die reg;
  • ernstige wangedrag; en
  • onvermoë om die funksies van die amp te verrig.

Laasgenoemde verwys eintlik na ernstige siekte, breindood, sertifiseerbare gekte, of só iets. Dit geld nie hier nie.

Die eerste twee geld wel. Immers, die konstitusionele hof het op 31 Maart verlede jaar na aanleiding van die Nkandla-skandaal bevind: “The president failed to uphold, defend and respect the Constitution.”

’n Harder en meer onomwonde veroordeling is byna nie moontlik nie.

Die ander moontlikheid om die president te verwyder, word gebied deur art. 102(2). Dit bepaal dat die Nasionale Vergadering deur ’n gewone meerderheid ’n mosie van wantroue in die president kan aanvaar, waarna hy en die hele kabinet moet bedank.

Aangesien die ANC tans nog ’n groot meerderheid in die parlement het, is dit byna ondenkbaar dat só ’n stap sal slaag.

Informeel, buite-om die parlement en die Grondwet, is daar nog ’n derde moontlikheid. Dit is wat ons moontlik vandeesweek kan sien.

Indien die NUK in Oos-Londen besluit om die president – in ANC-jargon – te “herroep”, word die magspolitieke mat onder sy voete uitgepluk.

Die sambok agter die deur is die dreigement om een van die twee grondwetlike artikels in te span om hom in skande uit sy amp te sit. Die party sal sy beskerming van Zuma teen die 783 klagte van korrupsie en rampokkery wat bo sy hoof hang in só ’n geval terugtrek.

Die sambok sal egter gepaardgaan met ’n wortel. Die wortel sal bestaan uit ’n eervolle aftrede, ’n waarborg van ’n weelderige pensioen, dalk ’n pragtige huis of huise in Pretoria, Kaapstad en/of Durban (benewens Nkandla), en amptelike vrywaring van vervolging vir sy misdade.

In ruil kan hy gevra word om onmiddellik te bedank.

As Zuma weet aan watter kant sy brood gebotter is (en dit lyk of dié aspek van sy persoonlikheid baie goed ontwikkel is), sal hy die kans met albei hande aangryp.

As dit gebeur, is die vraag hoe nou verder. Daar is twee moontlikhede.

Die een is om die geskiedenis van ’n dekade gelede min of meer te herhaal deur ’n tydelike oorgangspresident aan te stel tot ná die komende verkiesing, waarna Ramaphosa sal oorneem.

Die probleem hiermee is dat die ANC, mede deur Zuma se sigbare korrupsie en wanbestuur, só diep in die moeilikheid is dat ’n verkiesingsoorwinning glad nie so ’n voldonge feit as in 2010 is nie. Dit lyk dus meer logies dat Ramaphosa onmiddellik staatspresident sal word in ’n poging om die ANC se verkiesingskanse te verbeter.

Dis nie verniet nie dat hy in een van sy heel eerste openbare optredes in sy nuwe posisie, laas Sondag by die graf van John Langalibalele Dube, die ANC se eerste president (nogal in KwaZulu-Natal, Zuma se tuisprovinsie), ’n uiters populistiese toespraak gehou het. Daarin het hy beloof dat grond gevat en aan (swart) mense gegee gáán word – of die huidige (wit) eienaars nou daarvan hou of nie.

Hy het wel ’n aantal voorwaardes gestel wat hom, as ’n mens verder dink, nogal baie beweegruimte gee. Dit mag naamlik geen skade berokken aan die ekonomie, landbouproduksie en voedselsekerheid nie.

As jy sien wat in Zimbabwe en elders in die Derde Wêreld (oftewel ontwikkelende wêreld) met sulke grondonteieningsprojekte gebeur het, het dit die ekonomie, landbouproduksie en voedselsekerheid juis in duie laat stort. Dit sou vir Ramaphosa ’n agterdeur kon gee waardeur hy sou kon vlug om sy belofte nie uit te voer nie.

Die moontlikheid dat die meeste kiesers só subtiel na die saak kyk, is egter uitgeslote – en hy reken daarop dat hulle slegs die populistiese element sal hoor en aanstaande jaar dus maar weer vir die ANC stem.

Hoe ook al, ons kan ’n lewendige en interessante jaar vorentoe verwag.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stephan de S

As die ANC die mag het om Zuma vrywaring teen vervolging te gee wat beteken die sg grondwetlike beskerming wat die burgery teen politieke magshebbers het?

humor

z jys vry.

Jacques venter

Cyril is genoop om populistiese uitsprake te maak, daar hy net-net gewen het.
Ek glo dat hy die regte ding sal doen.

Griki

As hy nie sertifiseerbaar gek is nie, dan weet ek darem nie. ‘n Normale mens tree nie soos hy op nie. ‘n Normale mens sal bv nie gratis tersiêre onderrig aankondig as daar nie geld is nie – veral gesien in die lig van die verskriklike chaos, wetteloosheid en vandalisme verlede jaar tydens die #FeesmustFall-optogte nie.

Loeis

Baie goeie analise, Leopold. Is hier enige regskenners wie ons kan se of die ANC wel vir Zuma van vervolging KAN vrywaar? Die EFF het juis onlangs gese dat hulle so ‘n poging in die hof sal beveg, en sal wen. Indien daar regsgronde aan die EFF se argument is, mag Zuma dalk nie na daardie “wortel” hap nie, en die man het ‘n reputasie om strategies te kies. Sulke onsekerheid tussen die magsentrums sal sleg vir die ekonomie wees, maar dalk nog slegter vir die ANC in die volgende verkiesing. Wat nie so sleg is nie. Dus is daar… Lees meer »