Sal Ramaphosa die finale stap met korrupsie kan neem?

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Dis nou reeds algemene kennis dat die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa, korrupsie as een van die grootste bedreigings vir Suid-Afrika se toekoms bestempel en aangekondig het dat een van sy prioriteite sal wees om dit met wortel en tak uit te roei. Ek het onwillekeurig gewonder of hy dieselfde welslae gaan behaal as pres. Xi Jinping in China.

Toe ek in 2004 in China aangekom het, was korrupsie ’n integrale deel van die Chinese samelewing. Dit was ook nie net gewone korrupsie nie, maar Chinese nagemaakte goedere was oor die hele wêreld bekend. My seun het selfs vir hom ’n paar skoene aangeskaf en kunstig die woorde ”Genuine Chinese fakes” daarop aangebring. Die stryd duur natuurlik voort, veral ook teen diefstal van intellektuele eiendom.

Maar Xi se probleme was groter as dit. Suid Afrikaners kan maar net dink: met soveel korrupsie op plaaslike vlak in Suid-Afrika, was China se probleem duisendvoudig groter. Op plaaslike vlak is dit doodeenvoudig onmoontlik om alle oortreders vas te vat. Hy het egter die bul by die horings gepak en een van sy vertrouelinge, Wang Qishan, as korrupsie-ghoeroe aangestel. Saam het die twee gesorg dat veral lede van die regerende Kommunisteparty in die bek geruk word. Vandag, indien iemand in China van korrupsie verdink word, word hy onmiddellik uit die party geskors. Eers daarna word hy in die hof verhoor, en indien hy onskuldig is, word hy weer aanvaar. Dit was ’n belangrike stap as ’n mens in ag neem dat sowat 60 miljoen partylede die beste poste beklee en eintlik oor die wel en wee van die ander meer as 1,4 miljard inwoners besluit.

Wat het Xi reggekry? Vandag is dit letterlik ’n doodsonde om aan korrupsie skuldig te wees, en letterlik so, want jy kan steeds die doodstraf daarvoor kry. Jou kinders kan ook vir jare daarna gebrandmerk wees as iemand wie se pa of ma ’n misdadiger is.

Die veldtog was so ’n sukses dat Wang verlede jaar amptelik “afgetree” het. Sy taak was voltooi, maar ʼn week of wat gelede is hy weer as lid van die Politburo opgeneem. Die verwagting is dat hy eersdaags as visepresident verkies sal word en by die volgende verkiesing by Xi as president sal oorneem.

Vergelyk dit met wat tot dusver in Suid-Afrika gebeur. Indien ’n lid van die ANC ná baie voetwerk en soos in Zuma se geval moontlik uiteindelik voor die hof gesleep en dalk skuldig bevind word, kry hy of sy ’n goue handdruk en word “herontplooi”. Dit beteken iemand kan so skelm soos die houtjie van die galg wees, hulle ry nooit aan die pen nie. Om die waarheid te sê, diesulkes word net verder beloon. Is dit omdat hulle te veel weet?

Gelukkig het China nie die probleem van staatskaping nie. In die 19de eeu moes hy soveel aanslae van die imperialistiese Weste verduur om hom tot handel te dwing en happe uit die land te vat en het dit ook reggekry met die toestaan van konsessie-gebiede dat iemand dit met die huidige sterk China nie eers sal probeer nie. Hy bewaar sy onafhanklikheid jaloers.

Die vraag is dus of Ramaphosa die finale stap kan neem: om nie net oortreders te vang en te straf nie, maar in die figuurlike buitenste duisternis te werp. En dit sluit in of Zuma ook tronkstraf sal uitdien.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Rupert Ashford ·

Antwoord is “nee”. Om hierdie soort ding om te draai moet die staat meedoenloos met sulke mense omgaan en dit 1.) ongenadiglik vervolg (ons het nie meer daardie soort vervolgingsgesag en mentaliteit in SA nie), en 2.) sosiaal as ongewens brandmerk (verstoot, verguis tot aan die derde en vierde geslag soos die Chinese). Die 2de punt sal Cyril nie kan implemeteer nie. Eerstens is die bree samelewing hopeloos te veel deel daarvan (diensteboikot, no education before liberation ens) en tweedens is Cyril se posisie binne die ANC (wat die wortel van die kwaad is en waar die meeste van die skoonmaak sal moet plaasvind) hopeloos te kwesbaar. Dit is nou te se AS hy dit regtig sou wou doen.

Eish ·

Ek deel jou sentiment. Bowenal is so n totale afskrywende veroordeling van korruptes teen die kultuur van die meerderheid. Die Ubuntu beginsel behels onder meer dat wanneer iemand drooggemaak het en verantwoording doen, skuld aanvaar, maar dat diegene wat hom ken, ook die goeie dinge besing wat hy gedoen het. (Soos om die buite te deel?) Dus neem hy steeds weer sy posisie in die gemeenskap in sonder om lewenslank gebrandmerk te wees.

Heinrich ·

Spyker op die kop geslaan Rupert; al wat hier gaan gebeur is dat die huidige groep korruptes vervang gaan word met ander korruptes wat ‘n beter poging gaan kan aanwend om nie gevang te word nie want hulle sou leer uit hulle voorgangers.

Jerry ·

Net die tyd sal leer of CR die finale stap sal neem teen Zuma. Ek is bereid om te se dat wat ookal die stappe sal wees wat CR gaan neem, dat dit geneem sal word in beste belang van ekonomiese stabiliteit en dus in beste belang van Suid-Afrika. Afrikaners moet hoop en bid dat CR nie iets oorkom nie en dat hy die volle termyn sal dien. As CR iets moet oorkom kan Afri-Forum totsiens se aan planne a tot aa.

Eish ·

Ek betwyfel dit ernstig of Afriforum se optrede en sukses se ooit aan n persoon soos n president gekoppel was. Beginsels het hul nog altyd gedryf.

honourable member ·

Die ding met hierdie mense is, is dat hulle absoluut niks verkeerd daarin sien om korrup te wees nie. Hulle kan nie verstaan waaroor die bohaai oor korrupsie gaan nie. Dis hoekom niks in hierdie land ooit sal verbeter nie.

Casper Labuschagne ·

Miskien. Onder Zumabewind is daar drie bene van die ANC wat die septer swaai, naamlik president van die land, president van die ANC en sekretarisgeneraal van die ANC. Die anti-Zuma Gwede Mantashe is vervang deur ‘n pro-Zuma Ace Magashule. Zuma is steeds president van die land met al die uitvoerende gesag en die figuurlike hoof van die ANC is Ramaphosa. Figuurlik tel Ramaphosa se uitsprake teen ‘n kultuur van korrupsie baie maar is steeds net woorde en nie substantief nie, die uitvoerende mag is alles in die Zuma kamp. Alles hang af van “miskien”, omtrent al ons hoop en drome op ‘n goeie toekoms is nou vasgemaak aan “miskien”.

Maar Zuma is uiters geslepe konkelaar en het ‘n stewige magsbasis. Daar is ‘n menigte amptenare wat lustig vreet aan Zuma se voerkrip van korrupsie, en hulle weet presies wat met hulle sal gebeur met Cyril aan beheer. Alles hang tussen nou en volgende jaar af van of Cyril Ramaphose wel president van die land sal word, want dan eers kan is ons by die begin van stappe teen korrupsie. Bygesê mits Cyril wel die goeie ridder op ‘n wit perd is wat ons so bitter graag wil glo dat hy is. Ongeag van hierdie nuwe Cyrilieuse golf van geesdrif en optimisme orals is ons toekoms steeds gebalanseer op ‘n mespunt.

En Zuma het nog steeds nie sy troefkaarte begin gebruik nie, daar is ‘n beduidende faksie van die ANC en ander wat steeds voel hulle word ‘n revolusie geskuld.

Anoniem ·

Glo niks in wat Cyril se. Hy laat my terug dink baie jare gelede het my ouma so klein brak gehad hy het heeldag gekef maar nooit aangeval nie en dit is hoe dit nou ook gaan. Praat praat praat smeer jam om die wereld en SA se mense en rek alle bedrog sake uit. Hierdie sake sal vir die volgende 20 jaar nog voortgaan. Zuma sal al met kierie loop en sy vet beeste uitkyk dan gaan die sake teen hom nog nie afgehandel wees nie. So moenie alles vir soetkoek opeet nie daar le nog swaarder jare voor vir ons ou volkie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.