Sal Suid-Afrika sanksies (weer) kan oorleef?

Reuben E. Brigety en minister Naledi Pandor (Foto: Verskaf deur Dirco)

ʼn Openbare herrie het op 11 Mei 2023 losgebars toe die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Reuben Brigety, beweringe gemaak het oor wapentuig en die ANC se internasionale verhoudinge jeens die VSA, met verwysing na die ANC-kongresresolusies.

Die ambassadeur het, onder andere, aan verslaggewers gesê dat ʼn Russiese vragskip, die Lady R, in Desember 2022 wapentuig by die Simonstad-vlootbasis opgelaai het. Die beskuldiging is deur die Suid-Afrikaanse regering ontken en die ambassadeur is eerder daarvan beskuldig dat hy diplomatieke protokol verbreek het.

Die Rand het onmiddellik verswak en midde in die diplomatieke insident is daar weer deur verskeie kommentators kommer uitgespreek oor die VSA se strafoptrede teen Suid-Afrika, sou die bewerings waar wees.

Suid-Afrika, Rusland en die moontlikheid van sanksies

Die onmiddellike vrees was dat Suid-Afrika nie weer voordeel sou trek uit die African Growth and Opportunity Act (AGOA) nie. Suid-Afrika is tans die grootste enkele begunstigde onder AGOA, met meer as R290 miljard se uitvoere na die VSA in 2021. Die ooreenkoms word weer in 2025 hersien en daar is ernstige kommer oor die implikasies vir Suid-Afrika. Volgens die Solidariteit Strategiese Instituut, soos aangehaal in Netwerk24, is AGOA regstreeks vir 66 000 poste en onregstreeks vir 425 000 werkgeleenthede in Suid-Afrika verantwoordelik.

Die verdere kommer is dat die VSA, afgesien van AGOA, ook verdere sanksies van een of ander aard teen Suid-Afrika kon instel en dat die ander groot Europese handelsvennote dieselfde sou doen.

Pres. Cyril Ramaphosa en VSA-pres. Joe Biden (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Meer as 40% van ons handel is met Europa (uitgesluit Rusland). Die VSA maak slegs sowat 10% tot 15% van handel uit. Dit alles terwyl ons uitvoere na Rusland slegs sowat R4 miljard sou wees.

In die dae van beurtkrag het Suid-Afrika ʼn groot afhanklikheid van brandstof en word meer as 80% van die brandstof wat plaaslik verkoop word, ingevoer. Ons sou dus deur sanksies en ʼn verbod op brandstofverkope nie die hoë fases van beurtkrag kan deurstaan nie.

Suid-Afrika in die 1970’s en 1980’s

Sanksies en internasionale isolasie sou dus enorme implikasies en gevolge vir Suid-Afrika in 2023 inhou. Dit is natuurlik niks nuuts vir Suid-Afrika nie. In die 1970’s en 1980’s was Suid-Afrika deur sanksies ekonomies op sy knieë gedwing. In die breë politieke en staatkundige omgewing van die 1980’s het Suid-Afrika op verskeie fronte vir oorlewing geveg. Dit alles het die agtergrond gevorm vir die staatkundige veranderinge wat noodwendig sou volg. Noodtoestande, onluste, terreur, ekonomiese afplatting en internasionale isolasie en sanksies het almal ʼn beduidende rol gespeel.

Volgens voormalige president FW de Klerk het Suid-Afrika in die 1980’s sewe internasionale krisisse in die gesig gestaar:

  • die krisis van moraliteit, want ons politieke standpunte is as immoreel verwerp;
  • die krisis van legitimiteit, want ons regering is al hoe meer beskou as ʼn onwettige bewind van ʼn minderheid oor ʼn meerderheid;
  • die krisis van geloofwaardigheid, want ons politieke integriteit is bevraagteken;
  • die krisis van sekuriteit met onluste, terreur en die gewapende stryd;
  • die krisis van verwerping deur internasionale isolasie en sanksies;
  • die krisis van bemoeiing met ons sake; en
  • die krisis van krimpende opsies.

Die Soweto-jeugopstande in 1976 (Foto: SAHistory.org.za)

Suid-Afrika se isolasie en sanksies

Die Verenigde Nasies (VN) se algemene vergadering in November 1966 verklaar dat apartheid ʼn misdaad teen die mensdom is en in 1973 is die Convention on the Suppression and Punishment of the Crime of Apartheid aanvaar. Interessant is dat beide die resolusie en die verdrag, politieke inisiatiewe van die Sowjetunie was.

Enkele maande na die 1976 Soweto-opstande begin hernude internasionale optrede teen Suid-Afrika. In 1979 begin OPEC met ʼn olieboikot teen Suid-Afrika, maar Suid-Afrika kon daarin slaag om die verbod te oorkom. Dit is gedoen deur in die geheim olie te bekom en die land se eie olie uit steenkool te ontwikkel.

Op 4 November 1977 het die VN se veiligheidsraad ʼn embargo op die verkope van wapens aan Suid-Afrika aanvaar. Nieteenstaande die wapenverbod, het Suid-Afrika suksesvol daarin geslaag om die verbod te omseil deur die ontwikkeling van sy eie wapenbedryf deur KRYGKOR. Ten spyte van die verbod kon Suid-Afrika ook sy eie kernprogram en wapens ontwikkel.

Teen 1979 begin Suid-Afrika dit al moeiliker vind om internasionale lenings te bekom. Die land moes ook begin om hoër rentekoerse op korttermynlenings te betaal.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank is genoop om in Augustus 1985 ʼn internasionale reddingspoging te loods ten einde hulppakkette te beding vir die land se $24 miljard skuld oor die kort termyn. (In 2022 sou dit ongeveer R353,52 miljard wees). Die Bank van Engeland, die Federale Reserwebank en Citibank in die VSA is genader. Geen land wou egter die lenings herskeduleer of hernu nie. Weens die drastiese verswakking van die Rand teen internasionale geldeenhede, het die regering ʼn weeklange sluiting van geldmarkte en die effektebeurs aangekondig. Op die vooraand van die heropening van die effektebeurs en geldmarkte het die minister van finansies, in 1986, ʼn eensydige opskorting van die terugbetaling van buitelandse lenings vir vier maande aangekondig

PW-Botha

PW Botha lewer ‘n toespraak. (Foto: Southafrica.to)

Twee weke voor die sogenaamde Rubicon-toespraak van eerste minister PW Botha op 15 Augustus 1985 gehou sou word, het Chase Manhattan Bank die besluit geneem om nie verdere lenings aan gebruikers te hernu nie. Die dag na die Rubicon-toespraak val die Rand vanaf R2,22 per Dollar na R2,43 en later in Oktober tot Desember 1985 verswak dit na vlakke van rondom R2,70. Die Rand handhaaf die vlakke vir die grootste deel van 1990.

Op 5 Augustus 1986 word Statebondsanksies ingestel. By die Statebond se mini-spitsberaad word ʼn breedvoerige lys van vrywillige ekonomiese en ander sanksies aanvaar, waaronder beperkings op visums, toerisme en lugverbindings sowel as ʼn verbod op nuwe beleggings en lenings. ʼn Invoerverbod is op Suid-Afrikaanse landbouprodukte, steenkool, uraan, yster en staal geplaas.

In die VSA het die druk op Suid-Afrika begin verhoog:

  • Sanksies soos ʼn verbod op nuwe lenings aan die Suid-Afrikaanse regering, uitsluitend dit wat verband hou met maatskaplike en onderwysprojekte vir alle rasse;
  • Alle Amerikaanse maatskappye is versoek om gehoor te gee aan die sogenaamde Sullivan-beginsels wat in 1977 gevestig is.
  • Amerikaanse maatskappye het toenemend ook druk van beleggers begin ervaar om te disinvesteer. Gedurende 1985 en 1986 het General Electric, Coca-Cola, IBM en Warner Communications uit Suid-Afrika onttrek.

Ronald Reagan ontmoet Desmond Tutu in 1984. (Foto: Wikipedia)

Na President Ronald Reagan se verkiesing aan die einde van 1984 is die druk aanvanklik weerstaan maar hy moes later sy eie sanksiepakket saamstel. Na die rampspoedige Rubicon-toespraak in Augustus 1985, het Amerika die Comprehensive Anti-Apartheid Act in 1986 aanvaar, wat die volgende ingesluit het:

  • ʼn Verbod op enige nuwe Amerikaanse investeringsbeleggings en geen nuwe lenings aan Suid-Afrika nie;
  • ʼn Verbod op landingsregte in die VSA vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens;
  • ʼn Verbod op die invoer van Suid-Afrikaanse uraan, steenkool, yster en staal, en landbouprodukte. Die Suid-Afrikaanse besigheidsektor het bereken dat dit sowat 5% van Suid-Afrikaanse uitvoere sou skaad.

Kulturele, akademiese en sportboikot van Suid-Afrika

In 1980, en onder toenemende internasionale druk, het die VN se algemene vergadering Resolusie 35/206 aanvaar. Die resolusie het verklaar dat die Verenigde Nasies ʼn versoek aan state rig om alle kulturele, akademiese, sport- en ander tipe uitruilings met Suid-Afrika te voorkom. Daar is ook ʼn beroep op skrywers, kunstenaars, musikante en ander persoonlikhede gedoen om Suid-Afrika te boikot. Die beroep sluit in die beëindiging van alle akademiese en kulturele instellings se bande met Suid-Afrika.

As deel van die internasionale veldtog teen apartheid, het regeringshoofde van die Statebond die Gleneagles-ooreenkoms in 1977 in Skotland gesluit. Daarvolgens is ooreengekom om kontak en mededinging met sportlui, sportorganisasies, spanne of individuele sportlui van Suid-Afrika te ontmoedig. In 1964 het die Internasionale Olimpiese-komitee sy uitnodiging aan Suid-Afrika teruggetrek om aan die Olimpiese Spele deel te neem, en Suid-Afrika is in 1970 uit die IOK geskors.

Staatspresident van Suid-Afrika FW de Klerk op 22 Desember 1993 in Kaapstad tydens die laaste apartheidsparlementsitting. (Foto: Rodger BOSCH / AFP)

Voorts is Suid-Afrika se lidmaatskap van die Internasionale Atletiekfederasie ook in 1970 opgeskort, gevolg deur skorsing in 1976. ʼn Moratorium op internasionale kriekettoere deur die internasionale krieketliggaam, die ICC, het in 1970 in werking getree. Internasionale boks het Suid-Afrika se deelname in 1975 opgeskort. Ook betreffende rugby kon Suid-Afrika nie aan die Rugby Wêreldbekerkampioenskappe in 1987 en 1991 deelneem nie

Die ekonomiese koste van apartheid

Die ekonomiese koste van apartheid, veral die effek van die Rubicon-toespraak, het volgens die deurwinterde joernalis van die Financial Times, Patti Waldmeir, einde ten laaste gedui op die finale oomblik van waarheid vir apartheid.

Sanksies het geblyk ʼn effektiewe wapen te wees in die internasionale verset teen apartheid. Die koste verbonde aan die alternatiewe nywerhede in Suid-Afrika het egter enorme finansiële implikasies vir die land ingehou. Om sake in perspektief te plaas, is sewe kategorieë van koste vir apartheid bereken:

  • Die direkte koste verbonde aan die implementering en instandhouding van apartheid en apartheidsprogramme;
  • Die indirekte koste wat met bostaande verband hou;
  • Die koste verbonde aan die afdwing met die toepassing en polisiëring van apartheid;
  • Die koste verbonde aan verlore geleenthede wat insluit verlore beleggings en beperkings op die ontwikkeling van vaardighede;
  • Die strafkoste (punitive costs) as gevolg van embargo’s en sanksies;
  • Die menslike koste as gevolg van die lyding wat apartheid veroorsaak het, en
  • Die koste vir buurstate wat gedwing was om hulself te verdedig.

Met verwysing na berekenings van 1977 en volgens die maatstawwe wat toe gebruik is, is dieselfde maatstawwe konserwatief bereken en hiervolgens was die koste van apartheid in 1985 sowat R56 miljard (sowat R824,8 miljard in 2022-waarde).

Toe De Klerk in 1989 president van Suid-Afrika geword het, het Suid-Afrika reeds R30 miljard verloor in kapitaal wat die land verlaat het (sowat R247,8 miljard in 2022).

Volgens dr. Anthea Jeffery van die Instituut vir Rasseverhoudinge het ʼn ondersoek deur Trust Bank in 1989, die kumulatiewe verliese aan buitelandse valuta weens ekonomiese sanksies op sowat R40 miljard (R330,4 miljard in 2022) beraam, en sy voeg by: “The macro-multiplier effect of this loss has been a total production loss of about R80 billion and a total spending or standard of living’ loss of about R100 billion.”

Afgesien van die buitelandse skuld en om die internasionale sanksies die hoof te bied, het Suid-Afrika miljarde spandeer aan die ontwikkeling van strategiese nywerhede om die embargo’s op olie en wapens die hoof te bied. Die gesofistikeerde wapenbedryf onder Krygkor en die olie van die steenkoolbedryf by Sasol, kon aan energiebehoeftes voldoen. Net die Mossgas olie-van-gas-aanleg is opgerig teen ʼn koste van nagenoeg R11 miljard (nagenoeg R79,4 miljard in 2022).

Pelindaba

Die Pelindaba kernnavorsingsentrum buite Pretoria. (Foto: NJR ZA/Commons.wikimedia.org)

Op die hoogtepunt van Suid-Afrika se vermoë om gesofistikeerde wapens te ontwikkel, was Suid-Afrika een van die min lande ter wêreld wat oor ʼn kernvermoë beskik het. Suid-Afrika se eerste atoombom is in 1982 voltooi, waarna nog vyf gevolg het. Die sewende atoombom was halfpad ontwikkel voor die internasionale kernverdrag aanvaar is. Die koste van die kernbom-projek sou formidabel gewees het. Die Washington Post het beraam dat die projek waaraan 1 000 mense gewerk het nagenoeg $800 miljoen sou kos (volgens ʼn 1990-wisselkoerswaarde sou dit nagenoeg R2,1 miljard wees oftewel R31,8 miljard in 2022).

Voormalige president FW de Klerk se waarneming is dat die sanksiejare in die 1980’s ongeveer 1,5% in die jaarlikse ekonomiese groeikoers gekos het. Die bostaande dui beslis daarop dat Suid-Afrika oor die vaardighede en kundighede beskik het om alternatiewe nywerhede tot stand te kon bring. Dit sou nietemin teen groot koste wees, en beslis goedkoper as wat produkte op internasionale markte bekom is. Die koste van apartheid het ʼn kumulatiewe negatiewe effek op die Suid-Afrikaanse ekonomie gehad.

Sanksies in 2023

Deur innoverend en skeppend om te gaan met die omseiling van sanksies in die 1970’s en 1980’s kon verskeie industrieë suksesvol tot stand gebring word. ʼn Boer kon inderdaad ʼn plan maak. Daar was kundigheid, vaardighede in verskillende bedrywighede en bowenal die politieke wil om oplossings te vind vir die sanksies en isolasie. Uiteraard kan ons vandag met die wetenskap van terugskoue weer redeneer oor hoe lank Suid-Afrika die internasionale druk deur sanksies en isolasie kon teenstaan. Dit moet ook gesien word in die lig van die binnelandse onstabiliteit wat toegeneem het. Sanksies en isolasie was een ding, maar daar was die toenemende terreur en onluste en die onregeerbaarheid van swart gebiede. Staatkundige oplossings moes gevind word.

Die Russiese vragskip Lady-R. (Foto: Twitter)

Die staatkundige en ekonomiese omgewing van 2023 is egter ʼn ander dilemma. Lae ekonomiese groei, swak wisselkoers (R19.40 vir ʼn Dollar op Vrydag 12 Mei 2023), hoë vlakke van werkloosheid, interne ANC-faksiegevegte, toenemende diensleweringsproteste, misdaad en beurtkrag skep ander en meer ongunstige omstandighede. Die ander faktor wat nie buite rekening gelaat moet word nie is dat as gevolg van raswetgewing soos swart ekonomiese bemagtiging en ander ongunstige beleidsraamwerke, het Suid-Afrika ʼn ongekende breindrein beleef. Dit geld vir swart, wit en bruin kundigheid.

Met bestaande kundigheid gaan Suid-Afrika nie die mas opkom nie. Die astronomiese kostes van die vestiging van industrieë in die 1980’s is uitgelig. Suid-Afrika het doodeenvoudig nie die finansiële vermoë of beskikbare begroting om dit weer reg te kry nie. Ons hoef maar net na die Kusile- en Medupi-kragstasies te kyk wat buitensporig bo begroting en ver buite beplande tydsraamwerke opgerig is en nog steeds nie na behore funksioneer nie.

Pres. Cyril Ramaphosa en pres. Wladimir Poetin in 2019 (Foto: GovernmentZA/Flickr)

Die ideologiese omstandighede waarin die regering homself bevind, is een van keuses. Lojaliteit teenoor Rusland moet ten alle koste deur die ANC-regering gedemonstreer word, al is dit ook tot die ekonomiese nadeel van die land. In die lig van bogenoemde sou Flip Buys van die Solidariteit Beweging se voorstel dat regeringsleiers individueel geteiken word met sanksies dus meer sin maak.

Daarom is die vraag of die huidige regering in die huidige ekonomiese omstandighede enigsins die vermoë en die kundigheid sou hê om sanksies te kon omseil, ʼn geldige een. Ongelukkig is die industrieë wat oor dekades gevestig is, so verswak en is hulle funksionerende kapasiteit ernstig lamgelê. Onder normale omstandighede kon Suid-Afrika waarskynlik nog ʼn kans gestaan het. As sanksies en isolasie die abnormale omstandighede skep waarbinne die industrieë weer in 2023 ʼn rol moes speel, staan ons egter nie ʼn kat se kans nie.

Suid-Afrika was ʼn muishondland in die 1970’s en 1980’s en kon sanksies en internasionale isolasie tot ʼn mate suksesvol afweer en omseil. Die ANC-regering se lojaliteit en vriendskap teenoor Rusland kan ons weer duur te staan kom, maar die keer kan sanksies fataal wees.

Alhoewel verskeie bronne geraadpleeg is, kan die primêre bronne oor die tydperk gerus gelees word:

Patti Waldmeir, P. 1997. Anatomy of a miracle: the end of Apartheid and the birth of a new nation. London: VIKING

Dr. Anthea Jeffery, A. 2019. People’s war: New light on the struggle for South Africa. Jeppestown: Jonathan Ball Uitgewers.

R1 in 1985 = R14.73 in 2022

R1 in 1989 = R8.26 in 2022

R1 in 1990 = R7.22 in 2022

  • Die navorsing oor die sanksies en isolasie is ingesluit in ʼn hoofstuk as agtergrond oor die politieke omgewing van die 1980’s en is gedoen vir ʼn Magister in Politieke Wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit wat in Februarie 2023 aanvaar is. Die tema van die verhandeling is: ‘Die Afrikaner-Broederbond en die totstandkoming van ʼn onderhandelde skikking. ʼn Stelsel-analities en politiek-strategiese perspektief’.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die hool kan nie eers ‘n stofstormpie oorleef nie.

Leon ·

Die anc regering van SA het n arrogansiewat vir niks skrik nie , die rede ?????? hulle voel seker dat die hele wereld mekaar sal uitwis om SA te bekom en daarom maak hulle net wat hulle wil , hulle speel die westetse lande af teen die kommuniste en amders om en so bly hulle arrogant , hulle doen maar wat zuma nou al 22 jaar doen hulle hou almal aan die wonder ? wanneer gaan die son onder hulle stuur hulle nie aan sanksies nie , want Iemand sal hulle help ????

Oom ·

Die probleem met al hierdie soort van praatjies is dat vergeet word dat in Suid-Afrika diegene wat niks of baie min het in getal baie meer is as diegene wat ‘n gemiddelde of bogemiddelde lewensstandaard handhaaf. Diegene wat niks of baie min het, het ook nie ‘n vooruitsig om hulle situasie te verander nie. As jy niks het nie, kan jy niks meer verloor nie. So diegene gaan slegs hulle skouers optrek oor moontlike sanksies. Om hieroor en ‘n saak soos voedselsekerheid te praat en te skryf, maak geen indruk nie. Zimbabwe is ‘n sprekende voorbeeld. Om aan die ellende van ‘n mislukte staat te ontkom verg ‘n ander soort van gesprek. Volstruispolitiek is nie die antwoord nie.

Goldy ·

Hierdie ongewilde posisie van die ANC kan onafhanklikheidsonderhandelinge n hupstoot gee, want die kapitalistiese, vrye en westerse wereld sal daarvan hou om n stukkie hoop en bondsgenoot in suidelike afrika nog oor te hê. Hierdie venster van geleentheid vir onafhanklikheidsonderhandelinge moet vinnig gebruik word.

marius ·

Nieteenstaande die sanksies onder die vorige bedeling is kop opgetel en was die land deur eie toedoen een van die sterkste in die wereld . Dit is nou ‘n korrupte hool en daar kan geen onafhanklike selfbestaan plaasvind nie .

Di ·

Wonder juis wat hierdie EINSTE lande wat so teen ons was NOU dink! Seker nooit gedink dat die ANC Kaders die land SO VINNIG in totale rioolstatus in sou bestuur nie.

Marthinus W ·

Indien Amerika sanksies teen ons instel, bewys dit dat hulle nou n totalitere staat is, nie meer n demokrasie nie. Hulle boelie en dreig en terroriseer [sodat die rand seerkry] en dwing lande eenvoudig om hulle te steun, of die gevolge te dra. Hoe kan mens so n land respekteer? Die IMF en Wereldbank is in studie na studie uitgewys as instrumente van Washington se magsuitoefening; die persoon in die Withuis stel die hoof van die IMF aan, en indien hulle nie doen wat gese word nie, soos met die vorige twee hoofde, word hulle verneder en vervang. Daar is ook n hele paar studies wat wys dat n IMF-lening lande eerder verarm as verryk.

Indien sanksies ons sou tref? Dan gaan Pepsico seker hulle Simba en ander plaaslike produkte verkoop, en ons kan dit terugkoop. Brics het hul eie ontwikkelingsbank, ons kan olie direk by Indie of Rusland koop, in Rand. Ek is een van “Oom” se armes wat dit sal oorleef.

Adriaan ·

Die Amerikaanse ambassade het Oktober 2022 n bewering gemaak oor n terreuraanval in Sandton. Nou is dit n bewering dat n Russiese skip wapens in SA gelaai het.

In die geval van die skip het die Russiese ambassade in SA verklaar dat dit slegs in Rusland geregistreer is en nie direk vanaf Rusland hiernatoe gevaar het nie en ook nie weer by n Russiese hawe aangedoen het sedert dit in SA was nie.

Wat is die Amerkaners se doel deur hulle bewerings in die opendaar te maak instede daarvan om neergelegte diplomatieke protokolle te volg? Hulle wil verdeel asook onmin en twyfel saai.

Irakese wapens van massa vernietiging, enige iemand? Wat van die Amerikaners se nimmereindigende oorloë oral oor die wereld, altyd in die naam van “menseregte en demokrasie”?

Die Amerikaanse boelie het n wind gebreek en nou moet almal skrik!

Marthinus W ·

Die Amerikaners noem die tegniek “divide and conquer”. Skep verdeeldheid onder die volk, sodat hulle nie saam kan veg nie, dan stap ons in.

Scott Ritter is die Amerikaanse soldaat wat aan George W Bush gese het dat hy, as wapensinspekteur, bevestig dat Saddam Hoessien geen wapens van massavernietiging het nie. Hy was n majoor in die USMC, en het sy werk verloor, omdat Bush in Irak wou ingaan. Ritter was ook in Rusland, as wapensinpsekteur, en ek lees elke artikel wat hy op die net plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.