Salomo se wysheid nodig vir godsdiens in skole

Argieffoto: Don Mcphee/Guardian

Die onlangse besluit van ses openbare skole om nie teen die uitspraak oor godsdiens in skole te appelleer nie, het opnuut vrae laat ontstaan oor hoe dié praktyke in die toekoms in skole gaan uitspeel nadat talle ander skole sedertdien dreigbriewe van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie gekry het.

Die hof het vroeër beslis openbare skole kan steeds voortgaan met godsdiensbeoefening, maar dat ’n enkele geloof nie tot uitsluiting van ’n ander bevorder of beoefen mag word nie.

Intussen het Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie, wat die saak teen die ses skole gebring het, dit in die media duidelik gemaak dat hy sy bes gaan doen om elke skool met ’n uitsluitlik Christelike etos aan te vat.

Volgens Pietersen voer hy al ’n nege jaar lange stryd om te sorg dat skole hulself nie met een spesifieke geloof identifiseer nie.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het gesê hy is tevrede met regter Willem van der Linde se bevel, terwyl die burgerregte-organisasie AfriForum steeds van mening is dat ’n gemeenskap moet kan besluit oor die godsdienstige etos van ’n skool. Dié etos moet uitvoerbaar wees sonder om ander leerlinge uit te sluit of te benadeel.

Ingevolge die bevel maak die Grondwet voorsiening vir godsdiensbeoefening in skole, maar mag een geloof nie bo ’n ander bevorder word nie. Die uitgangspunt van die Grondwet en ander beleide is dat geloof op gelykwaardige basis beoefen moet word en dat bywoning vrywillig moet wees. Die klem is ook op godsdiensverdraagsaamheid en die viering van diversiteit. Die vraag is nou tot watter mate mag skole wat doen?

Fedsas meen die uitspraak het meegebring dat verskeie skole wel aanpassings aan hul beleid en praktyke sal moet maak om aan die bevel te voldoen.

Met die houding en ingesteldheid van iemand soos Pietersen, wat geen geheim daarvan maak dat hy sekere skole met valkoë dophou nie, bestaan die gevaar egter dat skole en onderwysers so uitgelewer en blootgestel kan voel, dat godsdiensbeoefening heeltemal afgewater kan word.

Dit is om dié rede dat ouergemeenskappe met groter erns moet kennis neem van veranderende omstandighede wat nie noodwendig in die beste belang van hul kinders is nie. Die plek van godsdiens in die openbaar is wel met die hofuitspraak bevestig, maar die gedagte dat skole tog geteiken kan word indien die toepassing van hul godsdienspraktyke nie aan die verwagtinge van enkele individue kan voldoen nie, is ook kommerwekkend.

Godsdiens kan nie in vrees beoefen word nie. Dit kan ook nie halfhartig gedoen word nie. Daarom sal ouers wat sterk oor dié saak voel, opnuut verantwoordelikheid moet neem om godsdiensonderrig en -beoefening deel van hul kinders se opvoeding te maak. En die plek waar dit eerste moet begin, is in die ouerhuis.

Dalk het dit tyd geword om stil te word en weer oor die woorde van Josua te besin:

“Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: óf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos. 24:15).

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Dom Pietie ·

Goeie artikel, dankie Alet. Baie kinders kom uit wanfunksionele ouerhuise en die beoefening van godsdiens in skole staan juis in vir ouers wat nie in staat is om goeie lewenswaardes aan hulle kinders oor te dra nie. Dat Pietersen hierdie nou sy lewensstryd maak te midde van die veel groter kwessies waarvoor die samelewing vandag te staan kom, tesame met sy vermakerigheid na aanleiding van die hofbeslissing spreek boekdele oor sy karakter. Soos wat hy aangaan sou mens sweer dat die beoefening van die Christelike geloof in skole is die oorsaak van al die probleme in die samelewing vandag. Ek wonder of hy het die moed om ook Moslemskole aan te vat.

In voormalige model C skole dra die ouers ‘n wesenlike deel van die skool se begroting by en behoort dus inspraak te hê in die godsdienstige etos van ‘n skool. Hopelik gaan die beoefening van godsdiens in skole voort – niemand sal sekerlik ‘n probleem daarmee hê as verskillende gelowe afsonderlike vergader en hulle godsdiens beoefen in daardie periode nie.

Veritas ·

God slaap nie. Hy sal nie toelaat dat Sy kinders van hom vervreem word deur heidene nie. Ons moet net vas staan in ons geloof en Hom smeek om ons by te staan. Dalk word Mnr Pietersen nog Paulus in plaas van Saulus.

Jan ·

Ek en my huis dien geen gode nie. Nie die Amoriete s’n nie. Ook nie die gode links of regs van die Eufraat nie. Dien asseblief jou gode tuis en by jou kerk en los die kinders sodat hulle kan leer by die skool.

Bees ·

Korrek Jan-die arrogantes moet nou verstaan dit is n staatskool waarvoor alle belastingbetalers betaal.

John ·

Interessant dat die man nou so ‘sendingwerk’ wil doen vir die verkeerde… Miskien moet hy tog Moslem-gefundeerde skole takel… Kan ons hom nie dalk befonds om sy talente in Oosterse/Midde-Oosterse lande te gaan beproef nie… ISIL sal hom gul ontvang…

alwyn burger ·

Reg so Jan!. Die skool is vir die hoof en die hand. Jou God leer jy aan moedersknie. Die vormgodsdiens is nutteloos

Change ·

Ek het ‘n nuwe uitdaging vir elke kind van Jesus wat hierdie artikel lees, begin van nou af met elke gebed wat jy doen spesifiek vir Pietersen te bid. Vergewe hom en vra dat die Heilige Gees hom sal roep. Wanneer ons in die wil van God begin bid dan gebeur goed rondom ons, God soek hom, hy kan kwaad wees vir God en daarom in sy enigste manier van redeneer optree soos hy doen, dit maak nie saak wat sy rede is nie. Deur ons gebede sal hy verander en sal ons die vrug van God se liefde sien.

Magda Groot ·

My God laat my nie toe om Hom gelyk te stel aan ander gode nie. Hy is ‘n jaloerse God en dis hoe ek my kinders sal leer en opvoed. Geen beheerliggaam, regeering of organisasie gaan my dwing om my kinders anderste te leer nie.

1+1 ·

Moslemskole is privaatskole. Die uitspraak raak dus nie die privaatskole wat geen subsidie van die staat ontvang nie.

Is net nie seker hoe privaatskole wat wel subsidie van die staat ontvang deur hierdie uitspraak geraak word nie.

Sarie ·

Daar is wel moslemskole wat staatskole is. Gaan deur die WKOD se webtuiste en jy vind hulle in die Wes-Kaap. Worcester het byvoorbeeld een.

Eish ·

Wanneer ek my blootstelling aan die Christelike godsdiens op skool in oënskou moet neem, het Christelike norme gewig gedra wanneer n meerdere sy optrede daarop geskoei het. Die saalopening met Skriflesing en gebed, was meer van n ritueel. As koshuisbrak wat slegs tweemaal per kwartaal n afnaweek gehad het, is ons Sondae na die oggend en aanddiens opgekommandeer. Die predikant was n doktor in geleerdheid en het spoegver dwarsoor ons begripsvermoë die preek laat sweef. Dan het ons in voorligting n boek met vae en moeilike godsdienstige begrippe bestudeer. Wat waarde het, is diegene wat rolmodelle was deur hul optrede. Dit het jou aangetrek en gefassineer. Die hele spektrum van Christelike waardes het eventueel dus n rol gespeel in die eindproduk. Daar was ook n goeie dosis kwaad wat welig getier het, wat jou by by n kruispad gebring het oor die roete wat jy inslaan. Op die keper beskou, het dié omgewing tog vormingswaarde, nie soseer gesetel in die rituele nie, maar meer in die optredes van meerderes. Ek het eers baie jare na die worsfabriek van aanneem en voorstel n ware bekering gehad. Tog, dié Christelike waardes tydens opvoeding kan nie gering geskat word nie. Dit speel maar altyd uit op n latere stadium in soverre dit die fondasie verskaf waarop gebou word. Dit, is dalk hoekom ons Verlosser tussen ons kom leef het as mens. Woorde wek, maar voorbeelde trek.

Veritas ·

Eish, ek is bly jy kon dit so mooi beskryf. Ek het grootgeword in ‘n Christenhuis en ook in ‘n skool met hoë Christelike waardes. So met die jare saam ook op die kerkraad gedien maar my werklike bekering het eers begin toe ek al in die veertigs was en dit duur vandag nog voort. Bekering is nie in almal se lewens, ‘n eenmalige gebeurtenis nie maar ‘n aaneenlopende proses. Prys die Heer daarvoor.

JoeV ·

Natuurlik ‘n maklike manier om Afrikaans spreekendes uit staat skole te kry.

Daan ·

Mensluk gesproke, ek sou graag ‘n vlieg wou wees om al die mense wat so teen die Christelike geloof is, sou wou sien wat hulle reaksie sal wees as hulle siel eendag by die poorte gaan aankom en die waarheid besef. Dan gaan dit ongelukkig te laat wees.

Eish ·

Niemand gaan nêrens nie. Lees Johannes 3:13.
Hy kon terug.

Marius ·

Die Christeliek Geloof is nie veronderstel om indoktrinasie te wees nie. Dis ‘n afhanklikheidsverklaring as ‘n mens vir jou kinders en skool bid. Dis ‘n boodskap van hoop. Dis’n morele kompas. Onthou, ateïste soos mnr. Petersen is ook goeie mense met morele waardes. Hulle kan net nie sê waarom nie. Sonder God is daar geen morele absolute nie. Om vir ‘n kind te sê waarom hy sekere waardes moet prbeer nastreef as jy nie in God glo nie is ‘n groot dilemma want wie het dan besluit watter waardes is goed en watter sleg en waarom moet dit noodwendig ook syne wees. Ateïste wil dan juis nie hul kinders indoktrineer nie. Hulle kan dus mos self besluit wat is goed en wat is reg en as dit selfsugtig en net op eie gewin gerig is moet niemand probeer om so kind ander te oortuig nie.. Die post apokulupiese rolprente soos Mad Max is eintlik baie goeie voorbeelde van hoe dit kan lyk wanneer jou keuse om moraliteit sonder God self te bepaal, uitdraai. Die selfmoordsyfer in sekulêre lande is besig om hoër en hoër te word. As daar nie ‘n morele absolute is nie is daar min hoop. Evolusie sê die sterkste oorleef en tog is daar iets inherent in die mens wat sê dat die swakkes eerder beskerm moet word. Waar kom dit vandaan? Evolusie wat leer dat die sterkstes die swakkes opeet?

Marius ·

Mnr. Petersen se uiteindelike doel is om die “dilemma” van geloof in skole so op te blaas sodat wetgewing uiteindelik ingebring word wat enige geloofsbeoefening verbied word. Hy doen dit nou net onder die skyn van regverdige blootstelling aan alle gelowe. As hy vir my kan sê waarom ‘n skool enigsins ‘n dissplinêre stelsel moet hê sonder God het ek ‘n duisend vrae op grond van wie se waardestelsel dit bepaal is. Dis waarom skole in Engeland en ander lande dikwels ondraaglik is vir onderwysers.

Stephan de S ·

Ek het Eish se kommentaar baie geniet……daar s baie waarheid gemeng met billikheid.

Disselboom ·

Die Afrikaner het saam met al die ander in die land die grondwet aanvaar en die wetgewing en diegene wat die wette maak se regmatigheid om dit te doen (deur deelname aan die proses). En organisasies soos Solidariteit en Afriforum steun op die grondwet en wetgewing as geregtigheidsmiddel. Al wat Pietersen doen (wel soos ‘n lastige vlieg, pleks van iemand wat opbouend wil werk, maar regmatig) is om die uitwerking en werklikheid van die grondwet en die wetgewing af te dwing. Net soos Afriforum as burgerregte-organisasie krap en sake aanhangig maak waar hulle van ongelukkighede bewus word. Probleem nie primêr by Pietersen nie – hy is net ‘n simptoom. Probleem is die gedweë onderhorigheid van Christene en meer bepaald Afrikaners (en Afrikaanses) in hulle gemoed aan die grondwet. Die godsdiens-in-skole-saak is maar ‘n simptoom. Die vraag is of ons die politieke en militêre wil het om beheer te neem en die grondwet te verander.

Rina ·

Elke sekonde wat afgestaan word aan godsdiens in publieke skole is ń sekonde wat kinders ontneem word van ń geleentheid om te leer.
Kinders moet leer by die skool. Gode kan aanbid word tuis en by die kerke.

Leonard van der Dussen ·

Alles behoort aan God. Alle eer en aanbidding kom Hom toe. Terwyl dit waar is dat die skool se primêre taak opleiding in kennis en tegniek is, is dit verkeerd om godsdiens nie in die skool en skoolgaan te erken nie. Om God te dien, is nie maar iets eenkant en terloops nie: alles behoort aan die HERE en Sy eer is orals. En God duld nie ander gode nie: Exodus 20:3.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.