Salomo se wysheid nodig vir godsdiens in skole

Argieffoto: Don Mcphee/Guardian

Die onlangse besluit van ses openbare skole om nie teen die uitspraak oor godsdiens in skole te appelleer nie, het opnuut vrae laat ontstaan oor hoe dié praktyke in die toekoms in skole gaan uitspeel nadat talle ander skole sedertdien dreigbriewe van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie gekry het.

Die hof het vroeër beslis openbare skole kan steeds voortgaan met godsdiensbeoefening, maar dat ’n enkele geloof nie tot uitsluiting van ’n ander bevorder of beoefen mag word nie.

Intussen het Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie, wat die saak teen die ses skole gebring het, dit in die media duidelik gemaak dat hy sy bes gaan doen om elke skool met ’n uitsluitlik Christelike etos aan te vat.

Volgens Pietersen voer hy al ’n nege jaar lange stryd om te sorg dat skole hulself nie met een spesifieke geloof identifiseer nie.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het gesê hy is tevrede met regter Willem van der Linde se bevel, terwyl die burgerregte-organisasie AfriForum steeds van mening is dat ’n gemeenskap moet kan besluit oor die godsdienstige etos van ’n skool. Dié etos moet uitvoerbaar wees sonder om ander leerlinge uit te sluit of te benadeel.

Ingevolge die bevel maak die Grondwet voorsiening vir godsdiensbeoefening in skole, maar mag een geloof nie bo ’n ander bevorder word nie. Die uitgangspunt van die Grondwet en ander beleide is dat geloof op gelykwaardige basis beoefen moet word en dat bywoning vrywillig moet wees. Die klem is ook op godsdiensverdraagsaamheid en die viering van diversiteit. Die vraag is nou tot watter mate mag skole wat doen?

Fedsas meen die uitspraak het meegebring dat verskeie skole wel aanpassings aan hul beleid en praktyke sal moet maak om aan die bevel te voldoen.

Met die houding en ingesteldheid van iemand soos Pietersen, wat geen geheim daarvan maak dat hy sekere skole met valkoë dophou nie, bestaan die gevaar egter dat skole en onderwysers so uitgelewer en blootgestel kan voel, dat godsdiensbeoefening heeltemal afgewater kan word.

Dit is om dié rede dat ouergemeenskappe met groter erns moet kennis neem van veranderende omstandighede wat nie noodwendig in die beste belang van hul kinders is nie. Die plek van godsdiens in die openbaar is wel met die hofuitspraak bevestig, maar die gedagte dat skole tog geteiken kan word indien die toepassing van hul godsdienspraktyke nie aan die verwagtinge van enkele individue kan voldoen nie, is ook kommerwekkend.

Godsdiens kan nie in vrees beoefen word nie. Dit kan ook nie halfhartig gedoen word nie. Daarom sal ouers wat sterk oor dié saak voel, opnuut verantwoordelikheid moet neem om godsdiensonderrig en -beoefening deel van hul kinders se opvoeding te maak. En die plek waar dit eerste moet begin, is in die ouerhuis.

Dalk het dit tyd geword om stil te word en weer oor die woorde van Josua te besin:

“Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: óf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos. 24:15).

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dom Pietie

Goeie artikel, dankie Alet. Baie kinders kom uit wanfunksionele ouerhuise en die beoefening van godsdiens in skole staan juis in vir ouers wat nie in staat is om goeie lewenswaardes aan hulle kinders oor te dra nie. Dat Pietersen hierdie nou sy lewensstryd maak te midde van die veel groter kwessies waarvoor die samelewing vandag te staan kom, tesame met sy vermakerigheid na aanleiding van die hofbeslissing spreek boekdele oor sy karakter. Soos wat hy aangaan sou mens sweer dat die beoefening van die Christelike geloof in skole is die oorsaak van al die probleme in die samelewing vandag. Ek… Lees meer »

Veritas

God slaap nie. Hy sal nie toelaat dat Sy kinders van hom vervreem word deur heidene nie. Ons moet net vas staan in ons geloof en Hom smeek om ons by te staan. Dalk word Mnr Pietersen nog Paulus in plaas van Saulus.

Jan

Ek en my huis dien geen gode nie. Nie die Amoriete s’n nie. Ook nie die gode links of regs van die Eufraat nie. Dien asseblief jou gode tuis en by jou kerk en los die kinders sodat hulle kan leer by die skool.

John

Interessant dat die man nou so ‘sendingwerk’ wil doen vir die verkeerde… Miskien moet hy tog Moslem-gefundeerde skole takel… Kan ons hom nie dalk befonds om sy talente in Oosterse/Midde-Oosterse lande te gaan beproef nie… ISIL sal hom gul ontvang…

alwyn burger

Reg so Jan!. Die skool is vir die hoof en die hand. Jou God leer jy aan moedersknie. Die vormgodsdiens is nutteloos