Sanvêller Diko van Zyl vertel

Inleidende opmerkings:

Prof. Diko van Zyl by Maroela Media se bekendstelling.

Ek het al lankal geleer dat ek nie juis ’n goeie storie- of grapverteller is nie, in elk geval nie naasteby so goed soos my oorlede vader of die woordkunstenaars wat vandag hier optree nie. My bietjie vermoë, so het ek dit leer ken, om gebeurtenisse te verhaal en te vertolk, lê eerder daarin om ironieë en paradokse te identifiseer en afwisselend met humor en dodelike erns mee te deel in welke opsig ek ook lief is om van woordspeling, selfspot en toepaslike idiomatiese uitdrukkings gebruik te maak. Daarom wil ek graag hê dat u fyn moet luister van hoe ek hierdie ‘taalinstrumente’ soos ek dit noem en Sandvelds van oorsprong is, aanwend om u iets meer te vertel van wie ek is en ’n ietsie oor die Sandveld wat my heimat is:

Dit is werklik ironies dat Maroela-Media ons byeenkoms, van alle plekke in die Kaap, juis op Groot-Constantia moes reël want hier is ek weens my doen en late as wynhistorikus vandag waarskynlik persona non grata. Daarom is ek dankbaar dat dit onder beskerming plaasvind van Solidariteit – ’n organisasie waarmee ek my kan vereenselwig omdat hy op ’n objektiewe wyse omsien na Afrikaners en Afrikaanse belange en hopelik ook myne as ek in die moeilikheid sou beland. Vir die wis en onwis het ek egter ook vir my persoonlike beskerming my jarelange vriend, Dirk van Schalkwyk, saamgebring nie oor sy vermoëns as taalkenner of as woordkunstenaar nie maar oor sy vermoë as houer van ’n swart belt in Karate. Ek vertrou dat sy dubbele knie-vervanging ’n maand gelede hom nie in sy belangrike taak betreffende my beskerming sal kortwiek nie.

Ek dink dit is ook ironies dat ek as ’n Sandveldklong wat op die weelde van snoek, galjoen en kreef grootgeword het eventueel my hele loopbaan as professionele historikus aan US tot vandag – ’n periode van meer as veertig jaar – aan wyn toegewy het, spesifiek aan die bestudering van die Kaapse wyn- en wynboubougeskiedenis, ook dié van die Constantiawyne wat vir twee eeue lank die wêreld se beroemdste en gesogte soetwyne was. Toe ek die inwydingstoespraak tydens die opening van die Constantia-wynroete op 25 Maart 1988 gelewer het, kon ek gevolglik tot die vreugde van die Constantia-eienaars vir hulle presies vertel waarom die Constantia-wyne vir twee eeue lank die gesogste soetwyne in die destydse wêreld was en van welke kultivars dit gemaak is maar ek het ook gesê dat daardie gewildheid ongelukkig nie herhaal kan word nie. In die afgelope jaar of twee het Groot Constantia egter in ’n twis met ’n ander wynlandgoed gewikkel geraak oor handelsmerke. Ek is deur die ander wynlandgoed genader om op grond van my kennis uitspraak te lewer. Ek was nie baie simpatiek teenoor Groot Constantia se saak nie ten spyte van my verknogdheid aan die Constantia’s. Daarom my verwagte ongewildheid vandag op die landgoed waar ons nou byeenkom.

Oor ons onderwerp vandag:

Ons weet almal vandag dat Afrikaans in ons land onder geweldige politieke druk verkeer, stelselmatig veld verloor en dat sy toekoms onseker is tensy daar nie dramatiese pogings aangewend word om sy toekoms te verseker nie. Die behoud en toekoms van Afrikaans lê myns insiens nie by formele debatte of twisgesprekke in koerante oor die agteruitgang van Afrikaans nie. Daarvoor steur verreweg die meerderheid Afrikaansprekendes hulle bloedweinig aan die gesprekke, is die redenasies vir selfs ingeligte Afrikaanssprekendes retories en vervelig van aard en is die meeste kampvegters hoofsaaklik bejaarde en afgetrede Afrikaners (in die ouderdomsgroep 70 tot 90 jaar) waarna kritici selfs neerhalend as ‘taalbulle’ verwys. Die feit dat daar die afgelope klompie jare egter so min jong Afrikaansprekende leiers betrokke is by inisiatiewe om nuwe vuur in Afrikaans te blaas, is uiters kommerwekkend.

Dit is my oortuiging dat die toekoms van Afrikaans nie in sy formele aard lê nie maar in sy informele aard – soos hierdie byeenkoms, dit wil sê die spontane wyse waarop die gewone Afrikaanse spreker, van welke streek, stand en geleerdheid ook al, sy taal besig, die verhale wat hy vertel, en die wyse waarop hy of sy Afrikaans met behulp van byvoorbeeld humor, selfspot en sy idiomatiese uitdrukkings uitdruk.

Dieselfde negatiewes geld vir akademiese werke. Ekself het al honderdduisende woorde in die vorm van tesisse, proefskrifte, boeke en manuskripte geskrywe, maar dis dooie goed, word feitlik nie gelees nie en dra niks by om Afrikaans op ’n spontane wyse lewend te hou en uit te bou nie. Om hiermee suksesvol te wees, glo ek, behoort ons in staat te kan wees om op ’n natuurlike wyse ‘taalinstrumente’ soos ironie, paradokse, humor, selfspot en woordspeling aan te wend wat natuurlike elemente in Sandveld-Afrikaans is.

Ek wil dus, aan die hand van wat ek taalinstrumente noem, vervolgens my bydrae vandag om spontaan Afrikaans te besig kortliks aan u illustreer deur te verwys na (i) my tipiese Sandveld-uitspraak en (ii) die sketsing van die kontrasterende leefwyse van die mense van my heimat in twee onderskeibare tye van armoede en weelde.

(i) My tipiese Sandvelduitspraak

As Sandveldklong het ek vir die eerste keer op Stellenbosch agtergekom dat ek ’n bietjie annerster praat as die standaard-Afrikaans van die WAT toe ’n mooi Bolandse meisie vir wie ek sin gehad het vir my tru gestaan omdat ek kwansuis onbeskaafd gepraat het. Maar aanpasbaar soos die Sandvelder is, het ek my ‘gebery’ ietwat versag na ’n ‘gebry’ en daarna het sy ‘gevery’ dat dit bars. En toe ek later as jong dosent my veral vir Noordelike studente meer verstaanbaar wou maak, moes ek ‘beroeringe’ verander na ‘onluste’, ‘Vloorvlei’ na ‘Verlorevlei’, en ‘velers’ na ‘foutjies’. Ek moes ook verduidelik dat ek met ‘palielie’ niks sinisters bedoel het nie maar net as ’n handeling om iets staande te hou.

My gebry het my nogals dikwels in die verleentheid gehad: In Londen om die ontbyttafel het ’n Australiër met my, nadat hy vraend na my Engels geluister het, met my gesimpatiseer deur te sê dat hy ook die vorige week ’n keelaandoening gehad het, en as senior dosent het ’n 100%-Engelssprekende student, ’n pragtige blonde dame, my in trane verkwalik omdat sy niks van my lesings verstaan nie veral omdat ek gebry het. Maar omdat Stellenbosch toe nog Stellenbosch was, het ek haar gedwing om alles in Afrikaans te doen en vandag is sy ’n professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria en praat sy pragtige Afrikaans sonder om te bry!

(ii) My heimat: kontrasterende tye van armoede en weelde

Ek neem u graag vandag op twee kort reise na my Sandveld, die een voor die aartappelrewolusie, en die ander een daarna. Die Sandveld waarna ek verwys het betrekking op ’n relatief geïsoleerde gebied noord van die Swartland beginnende by Piketberg – ’n gebied wat aan die weskus begrens word deur die oseaan en waar kleurryke vissersdorpies soos Paternoster, St. Helena-baai, Velddrift, Elandsbaai en Lambertsbaai ontstaan het met as vernaamste dorpies in die sentrale deel soos Aurora, Redelinghuis, Leipoldtville (my geboorteplek), Graafwater en selfs Clanwilliam. Vir honderde jare van die laat 17de eeu af het blanke veeboere hier kom vestig in ’n gebied wat toe reeds ook vir eeuelank deur die voorsate van die Guriqua-mense as weidingsgebied vir hulle vee gebruik is. Tot die einde van die vorige eeu het net hierdie twee bevolkingsgroepe in vrede en geïsoleerd daar saamgewoon: Engelse en swartmense was nie in sig nie.

Eerste toer:

Ons eerste toer vind plaas gedurende die veertigerjare van die vorige eeu. Dis oorlogstyd en my opgroeijare. Dis die tyd toe die Sandveldmense, dis nou Guriqua- en Boere-nasate, gekenmerk is deur hulle eenvoud, natuurlikheid, opregtheid, vriendelikheid, gasvryheid en humorsin, mense wat ’n afkeer had aan braggerigheid, grade, toekennings en sulke goeters. Dit was die tyd voor die aartappelrewolusie en moderne geriewe het ontbreek: Daar was nie elektrisiteit, yskaste, roomys, bioskope, spoeltoilette, baaikostuums, piesangs, skoolbusse, beraders, konsultante of onderwysers wat kon Engels praat nie.

Die enigste weelde het in wintervreugde gelê. As die reëns geval het, het die lewe ook gekom: die melkbos, knobos en stemokriet het begin uitloop en onder by hulle voete uit die sand het opgestaan die opslag, plate fyn blommetjies wat die wêreld in reënboogkleure geverf het, willekool en koekemakrankas. Die reëns het die fonteine laat opstoot en in die vleie het die watertjies begin opdam, die waterblommetjies begin groei en die varkblomme begin blom.

Ons vat die pad van die Kaap af op pad na Suidwes, draai af by Piketberg en volg die spoor van ou Lê-Lê, die stop-stoptrein na Bitterfontein, wat neffens lê-loop, maar by Sandbergstasie los ons hom, ry ons seewaarts al langs Langvlei se spruite en die fonteine na Leipoldtville, waar talle Van Zyls al eeue lank woon, en waar ek gebore is as ’n Afrikanerseun wat reg op die vel geval het.

Tweede toer:

Maar in 2011 sou ek u weer na my Sandveld nooi, maar hierdie keer was daar ’n nuwe lewe want intussen het daar ’n rewolusie plaasgevind, die rewolusie van die aartappel. Wetenskaplikes het na ons eerste reis ontdek dat my Sandveld eintlik rus op ’n reuse onderaardse dam met byna ontuitputlike varswaterreserwes en dat aartappels uitmuntend daar aard. En die boere het met die hulp van Eskom se elektrisiteit pompe opgerig en pype aangelê en die kosbare water uit die grond getrek en groot lappe aarde onder aartappels begin sit. Oornag het die boere met hulle waters en aartappels ryk geword en het die miljoene ingestroom.

Soos ons ry kan ons nou die metamorfose sien: ja, baie van die ellendige gravelpaaie is nog daar, maar ou Lê-Lê se spoor is feitlik nutteloos want reuse lorries hol nou in Lê-Lê se plek met yslike vragte aartappels Kaap toe. Weg of vervalle is die eeueoue plaashuise met hulle strooidakke, dik mure, misvloere en spaansrietsolders. In hulle plek het nuwe plaashuise verrys, bedien met elektrisiteit, yskaste en koelkamers. En op die plase het windpompe plek gemaak vir reuse kruipspuite. Weg is die windlaaiers wat die batteries gecharge het om die draadlose aan die gang te hou. Op die dakke staan daar nou TV-entennas en DSTV-skottels. Op die werwe staan nie meer waenhuise met perde-karre of ou tweedehandse mouters nie, maar nou is daar Mercs, BWM’s en 4×4’s.

Op ons finale reis se laaste been, net voor Lambertsbaai, by Steenboksfontein se Muisbosskerm, tref ons hulle aan: lede van die nuwe geslag windmakerige Sanvêllers saam met vriende en toeriste uit ander dele van die land om die braaivleisvure: ’n gekookte kreefstert of ’n stuk gebraaide snoek in die een hand en in die ander hand ’n glasie Bolandse Sauvignon Blanc, Cabernet Sauvignon, Cinsaut of Pinotage, of sommer net ’n glas Klipdrif en Coke, of ’n blikkie bier.

Op ons terugreis oor Leipoldtville tref ons weer ons Guriqua-taalgenote aan. Maar hierdie keer woon hulle nie meer in hulle gesellige strooise nie maar staan daar nou koue, onaantreklike en onpersoonlike vierhoutjieboks-Hophuisies. En op die vissersdorpies langs die weskus van my Sandveld sit ons bruin Guriqua-taalvennote verarm en ledig rond want hulle viskwotas is van hulle weggeneem omdat hulle nie swart genoeg is nie. Maar op Velddrif verrys ’n paleis van ’n huis van dermiljoene rande – na bewering die eiendom van ’n ANC-jeugleier wat dit skynbaar vir sy kerjakker gaan aanwend en nie om van harders bokkoms te droog nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Diko van Zyl

Meer oor die skrywer: Diko van Zyl

Diko van Zyl is 'n gebore Sanvêller, afgetrede professor, historikus en wynkenner. Hy het in 1995 die Stals-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Louis du Plessis ·

Diko ~

Watter keurige Afrikaans waarin jy hierdie uitmuntende en veelseggende essay geskep het:  naas historikus en wynkenner, is hier ‘n taalmeester aan die woord! 

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.