Saoedi-Arabië in die kollig

Die vlag van Saoedi-Arabië

Die vlag van Saoedi-Arabië

Gebeure die afgelope tyd in Saoedi-Arabië het hernieude vrae laat ontstaan oor die rol wat dié magtige en olieryk koninkryk in die Midde-Ooste in die toekoms kan en wil speel.

Saoedi-Arabië se vernietigende oorlog in Jemen het tot een van die ergste humanitêre krisisse tans in die wêreld aanleiding gegee. Dit is geen geheim nie dat talle Soenniete-terroristegroepe in Sirië tydens dié land se burgeroorlog, wat reeds vir byna sewe jaar duur, deur groepe en indiwidue uit Saoedi-Arabië gefinansier is. Die krisis wat vroeër vanjaar tussen Katar en ander Golf-lande ontstaan het, was ook ’n skepping van Saoedi-Arabië. Die land se betrokkenheid by talle terreurgroepe in Libië, Irak en ander Midde-Oosterse lande is welbekend.

Koning Salman, reeds 81 jaar oud, het die afgelope tyd heelwat mag aan een van sy seuns, die 32-jarige Mohammed bin Salman begin delegeer. Sedert die begin van November het dié kroonprins reeds 11 ander prinse, meer as 30 voormalige en huidige ministers en die uitvoerende hoofde van drie van Saoedi-Arabië se grootste televisiekanale op klagtes van korrupsie in hegtenis laat neem. Dit is egter duidelik dat die kroonprins wil seker maak dat enige mededinging om die koningskap betyds uitgeskakel word en dat mag so gou moontlik in hom gesentraliseer moet word.

Die kroonprins se optrede herinner nogal aan die optrede van Mehmed III toe hy in 1595 die sultan van die Ottomaanse Ryk geword het en al 16 sy broers laat vermoor het, ten einde te verseker dat niemand sy magsposisie kon uitdaag nie. Mehmed III sou daarna voortgaan om oorloë in Europa en die Balkan te voer en groot impak op die toekoms van die Ottomaanse Ryk uit te oefen.

Kroonprins Mohammed bin Salman se optrede die afgelope dae gebeur gedurende ’n tydperk waar die reeds twyfelagtige verhouding tussen die VSA en Saoedi-Arabië eerder versterk word as om deur Amerikaanse politici ondersoek te word. Weens strategiese verhoudinge met Saoedi-Arabië is min Westerse lande en politieke leiers bereid om kritiek teen dié land uit te spreek oor hul voortdurende finansiering van terrorisme en Midde-Oosterse oorloë. Pres. Donald Trump van Amerika het so ver gegaan om op Twitter die kroonprins se optrede te loof. Trump se besoek vroeër vanjaar aan Saoedi-Arabië was ook gevul met lofprysing vir die koninkryk en absolute stilte oor die land se skandalige betrokkenheid in onder meer Jemen en Sirië.

Die belangrikste uitdaging ten opsigte van Saoedi-Arabië wat veral Westerse lande egter moet erken is die gevolge van die ultrafundamentalistiese Wahhabi-ideologie wat vanuit Saoedi-Arabië na ander Moslemlande en deesdae selfs Europa uitgevoer word. ʼn Goeie voorbeeld is Indonesië waar ’n baie gematigde vorm van Islam vir lank dominant was, maar waar Saoedi-Arabië enorme bedrae geld sedert die 1990’s op die bevordering van die Wahhabi-ideologie begin bestee het. Waar min vroue in Indonesië ’n paar dekades gelede hoofbedekking gedra het, is dit vandag byna die teenoorgestelde.

Saoedi-Arabië beveg met sy olie-dollars enige poging van ander Midde-Oosterse lande soos Katar en veral Sjiïete-lande soos Iran om ’n groter rol in die streek te speel. Waar nodig word oorloë gevoer, terroristegroepe gefinansier en druk op Westerse lande geplaas om kant te kies in streeksgeskille. Saoedi-Arabië se agenda van streeksdominansie is toenemend duidelik. Die gevolge daarvan is onseker, maar baie riskant vir die Midde-Ooste en selfs Westerse lande.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DewaldS ·

Die heel wonderlikste ding van die Trump-tydperk is hoe die kokkerotte uit die gate uitkruip – dit gee my oneindig plesier. Jaco – jy het mos nou al baie gespog dat jy instrumenteel was in George Bush junior se suksesvolle presidentsveldtog. Maar George Bush jr se intieme verhoudinge met dieselfde kriminele Saudi Arabiese koningshuis is mos welbekend? Hoekom het die Saudi’s jou toe nooit gepla nie? En ook Bush se oorloë op ander lande en onskuldige mense (wapens van massa-vernietiging – haha!). Jy slaap seker lekker in die nag as jy aan daai halfmiljoen plus onskuldige Irakese vrouens en kinders dink?

Vir diegene wat ‘n wonderlike insig wil hê in hoe die wêreld regtig werk – lees ‘House of Bush, House of Saud: The Secret Relationship Between the World’s Two Most Powerful Dynasties’ wat deur Craig Unger geskryf is. Maar nie vir sensitiewe lesers..

Jaco Kleynhans ·

Dewald. Ek wens ek was, maar ek was een van ‘n miljoen vrywilligers wat in 2004 vir die Bush-veldtog gewerk het. Dit was ‘n wonderlike en leersame ervaring. In die jare daarna het ek egter baie meer oor sake soos dié wat jy bespreek, gelees en gebaseer op feite onder andere tot die gevolgtrekking gekom dat die oorlog in Irak ‘n groot fout was. Daar is hope boeke daarooe beskikbaar. Vandag in ‘n Engelse boekwinkel in Istanbul weer twee gesien. Ek lees ook die afgelope twee of drie jaar baie oor die Midde-Oosterse politiek en hierdie artikel oor Saoedi-Arabië is ‘n gevolg daarvan. Wat Trump aanbetref het baie konserwatiewes vir ‘n meer nugtere internasionale beleid gehoop, maar ongelukkig regeer die ‘lobbyists’ steeds.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.