Sapa-sluiting bring nuwe uitdagings, geleenthede

Tim du Plessis

Tim du Plessis

Die artikel is geskryf deur Tim Du Plessis, hoof van aktualiteit by kykNET. Hy was voorsitter van Sapa se direksie tot hy in Junie 2014 uitgetree het by Media24. 

Die aankondiging verlede week dat die bekende nuusagentskap Sapa einde Maart sluit, is geen losstaande gebeurtenis wat in isolasie beoordeel moet word nie. Dis ʼn simptoom/uitvloeisel van ʼn groter en fundamentele proses van herskikking wat uitspeel in die mediawêreld.

Sapa het meer as sewentig jaar gelede as ʼn nie-winsgewende entiteit tot stand gekom toe die land se destydse koerantmaatskappye die agentskap uit Reuters losgewikkel het en ʼn Suid-Afrikaanse nuusagentskap gevestig het wat die koerantmaatskappye gesamentlik sou besit en bedien. (Dit was lank voor die era van media-maatskappye!)

Die oorspronklike doel van Sapa was om aanvullend tot hul redaksiespanne nuus in te samel en te versprei onder die lede.  Die lede het as gelyke vennote deelgeneem. Ledegeld is bepaal op grond van die gesamentlike sirkulasie van al die koerante in elke stal. Die ledegeld het die grootste gedeelte van Sapa se bedryfskoste gedra.

Sapa het ook nuus aan nie-lede verkoop wat ingeteken het op die diens.  Die inkomste wat so verdien is, was egter nooit genoeg om Sapa onafhanklik van sy lede te maak nie. Sonder die jaarlikse bydrae van die lede sou Sapa nie bestaan nie.

So het Sapa vir etlike dekades oorleef en ʼn gedugte reputasie gekry as ʼn betroubare, onafhanklike nuusdiens. Hy is steeds Afrika se enigste inheemse nuusdiens wat nie onder regeringsbeheer is nie. Buitelandse instansies wat nuus oor Suid-Afrika benodig het, het Sapa se inligting vertrou.

Van die grootste stories oor en in Suid-Afrika wat in dié tyd gebreek het, het wêreldkundig geraak as “Sapa flashes” of “snaps” – brekende nuus wat in ʼn kort sin op Sapa aangekondig is.

In moeilike tye, wat daar was, het die lede Sapa aan die gang gehou met kontant-inspuitings. Vir die grootste deel van Sapa se bestaan was die vier lede Naspers (Media24), Independent (die ou Argus-groep), Times Media (voorheen S.A.A.N) en Perskor, omstreeks 1998 oorgeneem deur Caxton.

Dis wyd geboekstaaf hoe die digitale opmars die wel en wee van die tradisionele koerantmaatskappye die afgelope 20 jaar getref het. Daarby het die Globale Resessie van 2008 vernaam koerante hard geslaan deurdat groot adverteerders hul besteding in die gedrukte media  ingrypend gesny het. Inkomste uit gedrukte advertensies het oornag met 30% en meer gedaal.

Anders as in die meeste ander sektore het koerante ná die resessie nie teruggekeer na pre-resessie winsvlakke nie. ʼn Verskuiwing het plaasgevind: talle adverteerders het agtergekom hulle oorleef sonder die gedrukte media en die verbruikers/lesers van gedrukte media het begin afvallig raak. Dalende sirkulasies het inkomste uit verkope en advertensie-inkomste verder afgedruk. Oral in die ontwikkelde wêreld voer die gedrukte media vandag  ʼn oorlewingstryd.

Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Een of ander tyd sou die tradisionele Sapa-model onder druk kom omdat die lede swaar leef. Die eerste domino het so twee jaar gelede getuimel toe Times Media Group (TMG) aankondig hy onttrek. TMG het aangevoer hy kan die inhoud wat Sapa lewer, meer koste-effektief op eie stoom genereer.  TMG se onttrekking het Sapa se inkomste uit ledegeld met sowat 30%  laat afneem.

Die keuses voor die oorblywende drie lede was strak. Om Sapa aan die gang te hou, sou hulle hul bydraes moes verhoog (met geld wat hulle nie gehad het nie). Of Sapa moes gesluit word.  Toe Independent en Caxton kort na TMG se skuif kennis gee dat ook hulle onttrek, was die skrif aan die muur. Die model waarvolgens Sapa oor 70 jaar heen besit en bestuur is, was verstreke.

Media24 as enigste oorblywende Sapa-lid het naarstig gesoek na oplossings om Sapa se voortbestaan te verseker. Dinge is gekompliseer weens Sapa se aard as ʼn maatskappy sonder winsbejag. Hy kon nie as ʼn “onderneming in bedryf” (going concern) verkoop word nie. Sapa had geen bates nie anders as ʼn afgeleefde IT-stelsel, kantoormeubels en ʼn paar motors.  Sy grootste bate is die Sapa-handelsmerk, wat volgens wet nie verkoop kon word nie.

In die lig hiervan het die Sapa-direksie nou besluit om ʼn behoorlike proses te volg en die onderneming formeel te ontbind. Sapa het pensioen- en mediese fonds-verpligtinge teenoor personeel wat, volgens die direksie, sover as moontlik nagekom sal word.

Konsultante is aangestel om die afwenteling te bestuur. Die konsultante het ook ʼn mandaat om te onderhandel met ondernemings of instansies wat die bedrywighede wat tradisioneel onder  die Sapa-handelsmerk gevoer is, van die direksie se hande af te neem – nadat  wetlike, finansiële en personeel-verpligtinge nagekom is.

Beteken dit die einde van Sapa? Ja, soos hy tot nog toe bedryf is. Maar nie noodwendig as ʼn nuusagentskap nie. Minstens drie organisasies het reeds aangedui hulle stel belang: Gallo Images, ʼn foto-agentskap waarin Media24 ʼn aandeel van 50% het, Sekunjalo Beleggings, eienaar van die Independent-groep, en ʼn konsortium onder leiding van die sakeman/joernalis Moeletsi Mbeki.

Die groot vraag is watter een van die drie, of ander belangstellendes, Sapa se redaksionele selfstandigheid en integriteit die beste kan waarborg. Want dit is waarop Sapa se hele reputasie en handelswaarde gebou is. Daarsonder is daar geen vooruitsig op voortbestaan nie ongeag wie die eienaar/voog van die handelsmerk is.

Sonder twyfel moet daar ʼn behoefte wees aan die diens wat Sapa lewer, selfs meer só in die digitale era. Soos die mutasie van tradisionele druknuusmodelle voortduur, verskyn internetnuusdienste en klein radiostasie soos opskietplante. Sommiges dra nie nuus nie. Maar daar is genoeg wat besef luisteraars en lesers het steeds ’n groot dors na nuusinhoud. Om self nuus in te samel, is duur.

Vir instansies soos dié  móét ʼn bekostigbare, geloofwaardige nuusagentskap met ʼn volhoubare sakemodel ʼn sterk opsie wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henk ·

Ek stem 100% saam Jaco. Media 23 of Naspers, noem dit net wat jy wil is een groot bedrogspul wat veral die Afrikaanssprekende blanke belieg en bedrieg en dan boonop besteel ook. Praat ek nonsens? Nou waarom is Media 24 se Afrikaanse media slegs toeganklik vir betalende intekenare en Engels en Zulu en Xhosa is gratis beskikbaar? Ons weet almal wie beheer die media in Suid Afrika. Ja die SABC word deur die ANC bedryf en die broederbond of afrikanerbond beheer die res. Met natuurlik hul eie agenda. Maar ons weet ook wat gebeur as die magtige media manne se doppie geklink is – vat nou maar net die gevalle van Amerika en Brittanje se magtige manne…….

Jaco Steyn ·

Henk het gereageer op my kommentaar wat sedertdien om die een of ander rede verwyder is…

Jaco Steyn ·

Die eienaars van die hoofstroommedia sal heel waarskynlik nog planne beraam om (veral blanke) Suid-Afrikaners op meer doeltreffende wyses te bedrieg en te mislei. Tim du Plessis was nog al die jare een van die voorbokke van hierdie misleiding.

Bruno Stef ·

My vorige kommentaar is ook verwyder dit het net n indringende vraag aan die skrywer van die artikel gevra ivm sy AFRIKANERSKAP al dan nie.Dit is vir my verstommend dat in vandag se omstandighede en die aanslag op AFRIKAANS sommige persone nog hulle mantel na die wind kan draai en die beste van beide werelde wil he.As die klein groepie tussen die blankes dan wil afbreek wat die gematigde AFRIKANER probeer opbou weerhou ASB julle opinies dit veroorsaak net verdere spanning tussen ons en ander bevolkingsgroepe in SA.

Henry ·

Sapa se einde is inderdaad ‘n tragedie wat ‘n mate van onafhanklike nuusdekking die finale nekslag toegedien het.
Daar kan ooglopend geen sprake van onafhanklikheid wees, indien enige van die bestaande persreuse Sapa sou inpalm nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.