SAUK-krisis wys hoe belangrik gemeenskapsmedia is

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die storms wat nou by die SAUK woed, wys hoe kwesbaar die openbare media vir politieke oorname is. Staatskaping kan tog nie slaag as die staatsmedia nie gekaap word nie. Maar die huidige stryd om beheer van die SAUK kom al ʼn lang pad. Die Grondwet voorsien ʼn uitsaaidiens wat in die openbare belang optree, geskoei op die lees van die Britse BBC. Daarom het die Uitsaaiwet van 1999 vereis dat die SAUK as amptelike uitsaaier onafhanklik van die regering moet optree.

Maar politieke gebeure het reeds die Grondwet en die Uitsaaiwet in 1997 ingehaal op die ANC se kongres in Mafikeng. Tydens daardie kongres het die ANC drie ingrypende beleidsbesluite geneem en daarmee  sy rug op die Grondwet begin draai en teruggekeer na sy oorspronklike “Koue Oorlog”-doelwitte. Daar word net lippediens vir politieke redes betoon aan die grondwetlike bepalings wat teen die party se transformasiebeleid is.

Die eerste besluit was dat die land “getransformeer” moet word ingevolge die nasionale demografiese formule van 80% swart, 9% wit, 9% bruin en 2% Indiër. Die tweede besluit was dat alle “magsentrums” onder ANC se “African”-beheer moet wees. Dit het die grondslag gelê vir kaderontplooiing en swart-Afrikaan-oorheersing. Die derde besluit was dat die “geveg om idees” gewen moet word, en dat die regerende ANC se idees die land se heersende idees moet word.

Dit was die begin van die einde van die SAUK se onafhanklikheid, en die begin van die ANC se voortdurende aanvalle op die media. Hierdie besluit van die ANC is in 2010 opgevolg deur ʼn partydokument dat die media in die “national democratic revolution” moet bydra tot die transformering van die land. Die ANC se siening dat die media ondergeskik is aan politieke doelwitte is hierdeur ʼn stap verder gevoer.

Staatsbesit

Die minister van kommunikasie, Faith Muthambi, het die ANC se bedoelings verwoord toe sy verlede jaar gesê het dat die SAUK staatseiendom is, en daarom onderworpe is aan die beheer van die ministerie en die regerende party. Sy het daardie woorde in dade begin omsit met die Wysigingswetsontwerp op die Uitsaaiwese. Hiervolgens word die openbare uitsaaier in die praktyk in ʼn staatsuitsaaier omskep, deurdat dit volledig onder beheer van die president en die betrokke minister geplaas word. Die beste aanduiding hiervan is dat die foto’s van die president en die minister van kommunikasie in die ontvangsportaal van die SAUK se hoofgebou hang. Dit lyk nes al die ander staatsdepartemente se ontvangslokaal.

Van die ander bepalings in die wysigingswet lui dat die president die SAUK-raad aanstel op advies van die minister, en dat die president die raad kan ontbind of raadslede ontslaan op aanbeveling van ʼn driepersoonkomitee wat deur homself aangestel kan word. Die ANC voel duidelik dat stewige beheer oor die SAUK nodig is vir sy beheer van die land. Daarom kan die swaar hand van Luthuli-huis duidelik gesien word in die besluite van die parlementêre portefeuljekomitee vir kommunikasie, soos met die aanstelling van die SAUK-raad.

Vyandige oorname

Die konsepwet word tans deur die parlementêre prosesse gevoer. Maar intussen het ʼn hofaansoek deur die SOS: Ondersteun Openbare Uitsaai Koalisie, dit aan die lig gebring dat die minister reeds op 14 September 2014 ʼn gewysigde weergawe geteken het van die SAUK se Memorandum van Inkorporering, waarin sy haarself wye magte gee en die raad se magte afwater. Dit sluit magte in om die groep uitvoerende hoof aan te stel, om die SAUK-raad se voorgestelde kandidate vir die drie topbestuursposte te veto, en om die raad se sake- en strategiese planne goed te keur.

Die DA se woordvoerder oor kommunikasie, Gavin Davis, het dit as ʼn “vyandige oorname” van die korporasie bestempel, en gewaarsku dat dit die grootste bedreiging vir die SAUK se onafhanklikheid is sedert 1994.

Wanadministrasie

Die gevolge van die ANC se besluite, die minister se optrede en die konsepwysigingswet het nie lank uitgebly nie. Die jare lange geskiedenis van wanadministrasie by die SAUK het uitgeloop op ʼn verdoemende verslag van die openbare beskermer (OB) in 2014. Die verslag het bevind dat die vorige minister van kommunikasie, Dina Pule, met die aanstelling van senior bestuurders ingemeng het. Benewens die bevinding dat Hlaudi Motsoeneng se aanstelling onreëlmatig was en dat hy gelieg het oor sy kwalifikasies, is bevind dat miljoene rande jaarliks wanbestee word, en is die SAUK al vir langer as ʼn dekade tegnies bankrot.

Die uitsaaier word met staatshulp aan die gang gehou. Die uitsaaier het ook in die boekjaar 2014-’15 ʼn verlies van R401 miljoen gely, en die Sunday Times berig dat die afgelope boekjaar weer ʼn reuseverlies gaan toon. Daar woed ook al jare lank binnegevegte wat gesien kan word in die groot wisseling van rade, bestuurshoofde en tussentydse en waarnemende aanstellings. Sover vasgestel kon word, het die SAUK tien hoofde gehad in net nege jaar! Die uiteinde hiervan was dat die internasionale mediawaghond Freedom House, Suid-Afrikaanse media al ʼn paar jaar gelede net as gedeeltelik vry beoordeel het.

Dat hierdie beoordeling in die kol is, kan gesien word in die jare lange dreigement van die regering dat ʼn mediatribunaal aangestel moet word om die media te monitor. Daarbenewens voer regeringswoordvoerders deurlopend aan dat die media meer “patrioties” moet wees en nie die regering so moet kritiseer nie.

Die OB se bevinding dat Motsoeneng nie geskik is vir sy pos nie, is deur die owerhede geïgnoreer. Die Suid-Afrikaanse Media-instituut voer aan dat die ANC reeds sedert 2003 pogings aanwend om die openbare media te gebruik om die ANC te bevorder. Dit is veral arm Suid-Afrikaners, tradisioneel grootliks ANC-ondersteuners, wat kwesbaar is omdat hulle van die gratis SAUK vir inligting afhanklik is. ʼn ANC-besprekingsdokument oor die nasionaal demokratiese rewolusie van 2015 waarsku teen die “neiging oor alle platforms van intellektuele en openbare diskoers om ‘Westerse waarhede’ kritiekloos te herhaal”.

Die situasie het onlangs totaal versleg met die storms wat om die kop van Motsoeneng, met sy outokratiese styl en sensuurbeleid, woed. Maar dit is duidelik dat die krisis dieper strek as net die aktivistiese hoof van die SAUK. Die gebeure is bloot ʼn weerspieëling van ʼn grondliggende siening van die regerende party, dat beheer oor die openbare media ʼn onlosmaaklike deel uitmaak van die party se beheer oor die land. Hierdie siening is stewig vasgelê in wetgewing, beleid en sleutelaanstellings by die uitsaaier.

Gemeenskapsmedia

Die gevaar van volledige verstaatliking van die openbare media en die verengelsing van die kommersiële radio plaas mediavryheid en Afrikaanse media soos radio in ʼn groot risiko. Daarbenewens is die res van die Afrikaanse kommersiële media grootliks uitgelewer aan markkragte en die sakebesluite van een mediamaatskappy. Die gevolg hiervan is dat Afrikaanse gemeenskapsmedia soos Pretoria FM en Maroela Media ʼn uiters belangrike deel van die medialandskap uitmaak. Hierdie twee instellings kan as “vermenigvuldiger” van mediavryheid en die vrye vloei van inligting optree, as hulle netwerke met van die ander 200 gemeenskapsradio’s kan vorm.

Daarom is die groei en prestasie van Maroela Media en Pretoria FM verblydende nuus vir Afrikaans en vir die toekoms van mediavryheid in Suid-Afrika, en behoort die gemeenskap hierdie media daadwerklik uit te bou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

MaggiePringle ·

Wat ‘n insiggewende artikel!!
Dankie Flip dat daar mense soos jy is wat ons uitwys op dinge wat werklik agter die skerms plaasvind.

Theuns ·

COO + COO = COOCOO’s
As jy nie lekker in jou kop is nie ly die formule tot totale vernietiging!

Zirk ·

Daar moet ‘n wettige en maklike manier wees om die huidige ANC beheerde SAUK te kniehalter! Ek onthou iemand het ‘n rukkie gelede kommentaar gelewer en gevra of daar nie ‘n rekening gestig kan word, waar almal wat vrye pers en die reg tot toegang van informasie ondersteun, hulle TV lisensiegelde kan deponeer nie. In plek daarvan om die spul finansieel ook nog te onderhou, kan die van ons wat nie met Hlaudi en sy makkers saam stem nie ons geld van hulle weerhou tot die bestuur van die SAUK weer regverdig en VRY is. Miskien is dit ‘n daadwerklike opsie…?

Boela ·

Zirk, ek stem 100% saam. Trouens, ek dink dit is immoreel en eties onaanvaarbaar om na dese steeds lisensiegeld te betaal. Al vereis die wet dit, is ek van mening dat onlangse verwikkelinge by die Es-y-bie-sie, veral dié organisasie se aktiewe ondermyning van mediavryheid, dit noodsaaklik maak dat alle Suid-Afrikaners hul TV-lisensiegeld terughou en/of in ‘n alternatiewe fonds stort.
#HlaudiMoetVal
#ANCMoetVal

Attie ·

As ons lisensiegeld terughou, sal hulle net meer belastinggeld gebruik. Dis wat totale beheer beteken

Boela ·

Attie, dan is terughou van belasting – of dan ‘n belastingboikot – volgende. Suid-Afrika se huidige belastingstruktuur ingevolge waarvan ‘n minderheid die res finansieel moet dra, is in elk geval onhoubaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.