SAW-soldate-gedenkmuur: Hulde in graniet

Deur Cerneels Lourens

SAW-soldate-gedenkmuur: 31 Mei 1961 tot 27 April 1994

“Manne en vroue in graniet” deur Manne van Graniet

(Foto: Verskaf)

Op 25 Oktober 2009 is een van die mooiste gedenkmure in die wêreld neffens die Voortrekkermonument onthul. Hierdie artikel het ten doel om enersyds die “Manne van Graniet” van die dorp Brits en generaal Gert Opperman se rol in die tot stand bring van hierdie gedenkmuur te boekstaaf, maar andersyds is die doel daarvan om die manne en vroue in die graniet en hulle naasbestaandes te huldig en te erken. Voorts is dit om net aan al die naasbestaandes, wat diepe leed en beproewing deurgegaan het, te sê: Ons onthou. Ondenkbaar moes hulle smart en lyding gewees het; om hulle te vergeet was ʼn aanklag teen ons. Ons dink deur middel van hierdie muur altyd aan julle. Ek het gewonder hoe om dankie te sê, maar hoe en waarvoor sal jy dankie sê te midde van hierdie beproewinge wat soveel families by oop grafte van ʼn geliefde kind, ouer of eggenoot ervaar het. Die wyse hoe hierdie muur tot stand gekom het, het myns insiens ʼn senuwee van solidariteit aangeraak.

Alle lede van die SAW, wat vanaf 31 Mei 1961 tot 27 April 1994 in diens gesterf het, se name is hierop aangebring. By diegene wat in gevegsituasies gesneuwel het, se name is ʼn sterretjie langsaan aangebring. Aanvanklik was 2 222 persone se name aangebring, van wie sowat 650 in gevegsituasies gesneuwel het, maar dit is aangevul deur navorsing en tans is sowat 2 580 name daarop aangebring.

Die oprigting van hierdie muur is deel van ons ereskuld en kultuur van herinnering aan hulle, en veral ook aan hulle naasbestaandes, wat ons moes betaal. Politiek moet stop, of moet by die hek stop en omdraai. Net as jy daar was, en jy die man, vrou, kind of kleinkinders met hulle kranse waargeneem het, sou jy sien dat hierdie muur ʼn moet was. Dit is mense se name wat op daardie muur is, ja van alle rasse.

Vryheidspark se gedenkmuur

Waarom is hierdie name van die SAW-lede nie ook by die naamlyste by Vryheidspark gevoeg nie? Daar is klaarblyklik 75 000 geverifieerde name van diegene wat tydens agt konflikte in Suid-Afrika se geskiedenis gesterf het daarop aangebring, naamlik: die voorkoloniale oorloë, slawerny, volksmoorde, versetoorloë, die Anglo-Boereoorlog, die Eerste Wêreldoorlog, die Tweede Wêreldoorlog en die Struggle om bevryding. Daar is plek vir sowat 120 000 name.

Wat gebeur as slaaploosheid en onverdraagsaamheid in die nag ontmoet?

(Foto: Verskaf)

Gedurende ongeveer 2008 het ek tydens een van my slaaplose nagte, terwyl ek na die Transworld Radio Network se Afrika-gleuf om 03:30 geluister het, gehoor hoe dr. Mongane Wally Serote praat. Hy het as kurator van die Vryheidspark gepraat en oor die name op die muur by die S’khumbuto-gedeelte wat daar aangebring is. Daar is ʼn vraag aan hom gevra waarom en of die Suid-Afrikaanse Weermaglede se name nie ook daar aangebring is en of daarop aangebring gaan word nie. Sy antwoord het my regop laat sit, hy was onverdraagsaam ferm, toe hy gesê het dat geen “Boer” se naam op daardie muur aangebring sal word nie.

Dit was in dieselfde tyd dat ek die boek van generaal Jannie Geldenhuys, Die wat gewen het – feite en fabels van die bosoorlog, gelees het. Generaal Geldenhuys spreek ook die mening uit dat die Angolese oorlog ʼn beskeie bydrae gemaak het om die USSR se bankrotskap, saam met die ekskursie in Afghanistan, aan te help, wat tot die ineenstorting van die Sowjetunie bygedra het. Dit is egter ʼn debat vir ʼn ander dag, maar agter in hierdie boek, het hy 613 name van SAW-soldate aangeteken wat in die Bosoorlog gesterf het.

Na hierdie onverdraagsame houding van Serote, het ek met die destydse voorsitter van die Erfenisstigting, Len Dekker, geskakel. ʼn Kliënt, Philip Riekert, wat ʼn granietfabriek, Granite Slab Sales, gehad het en ek het met mekaar gesels om graniet te skenk om granietpanele te laat maak om moontlik hierdie name by die Erfenisterrein van die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument te laat aanbring. Dekker het die gedagte aan generaal Opperman deurgegee. Na ʼn paar maande het ek weer navraag gedoen en generaal Opperman het met my in verbinding getree. Daar was ʼn informele komitee wat bestaan het uit onder andere generaals Constand Viljoen, Jannie Geldenhuys, Raymond Holtzhausen, Magnus Malan en Gert Opperman wat dit bespreek het. Hulle het die gedagte positief oorweeg, maar generaal Viljoen het gevoel dat hy nog ʼn slag met Serote wou gaan praat. Hy het onverrigter sake teruggekeer. Die besluit van die informele komitee was om al die persone wat in diens van die SAW vanaf Republiekwording in 1961 tot 27 April 1994 gesterf het, se name op die muur te laat aanbring. Generaal Opperman het die rekords nagegaan, want die weglating van name moes voorkom word.

Aan die begin van Augustus 2009 het generaal Opperman en Johan Els, die argitek, my op kantoor in Brits kom spreek. Generaal Opperman het toe gemeld dat daar meer as 2 000 name van lede wat gedurende die betrokke tydperk aan diens gesterf het, is wat hulle op die panele wil laat aanbring, maar dat hy nog besig was met navorsing. Die verifiëring van die naamlys en om niemand uit te laat nie, het deeglikheid geverg.

Met die groter aantal name het ons nie ʼn probleem voorsien nie. Aan die einde van Augustus is die planne deur generaal Opperman by my kantoor laat afgee. Ek was besig en stuur toe my klerk daarmee na Riekert se fabriek om dit persoonlik aan hom te besorg. Na ʼn paar dae het ek navrae aan hom gerig en hy het nie na my teruggekom nie. Na sowat ʼn week maak hy ʼn afspraak en kom sien my. Hy was effens gespanne en vra toe vir my of ek vooraf na die planne laat kyk het. Nee, antwoord ek op daardie stadium, want ek was besig met verhore. Hy het toe ʼn oomblik stilgebly en toe gesê dit is nie wat ons bedoel het nie: Dit is ʼn volle Monument. ʼn Behoorlike Monument. Dit sou sy fabriek drie maande uit produksie haal om dit te kan voorberei, het hy gesê.

(Foto: Verskaf)

Ek het toe met generaal Opperman geskakel en hy het gesê hy het reeds aangekondig dat die muur op 25 Oktober 2009 onthul sou word. Dit was middel September.

Plan B was na beraadslaging met Philip in plek gestel. Die ander granietgroewe en fabrieke op Brits, waarvan daar talle is, en waarvan baie my kliënte is, sou ek nader om te help. Ek het ʼn verduidelikingskrywe met agtergrondinligting en die gedagte van die gedenkmuur saamgestel en die uitnodiging gerig om die volgende dag, ʼn Donderdagmiddag, 17 September 2009, om 14:00 by my te kom vergader. Generaal Opperman en die argitek sou ook die afspraak bywoon. Generaal Opperman was militêr stiptelik te vroeg vir die vergadering, maar het in die ontvangs gesit toe ek deurstap na die konferensiekamer vol afgevaardigdes van die Manne van Graniet. Dave Hyslop, Johan Fourie van Metrograniet, Klaus Mabler van Eagle Granite, Willie du Plessis van Cameleon Granite, Marinus Zwaan van Granite Slab Sales kon die vergadering bywoon en met vele ander beloftes.

Die meriete vir die muur was nie op die agenda nie, want dit was vanselfsprekend; dit was kortliks in die skrywe verduidelik. Dit het gehandel oor hoe, waar en wanneer. Na sowat 10 minute het ek generaal Opperman en Els ingeroep.

Toe generaal Opperman ingekom het, het ek inleidend opgemerk: “Generaal, wat ons voorgestel het en wat u wil hê, verteenwoordig nie eintlik ons bedoeling nie.” Ek het ʼn oomblik stilgebly en toe gesê, “maar ons is vandag hier met hierdie Manne van Graniet om Plan B te bespreek”. Gelukkig dra ek ʼn donkerbril want ek onthou my oë was nat van die ongelooflike eenhartigheid met hierdie grootse projek. Tydens die gesprek het ek as sameroeper stilgebly en die trane was baie naby want voor my oë het ʼn wonderwerk, ʼn ongelooflike ervaring, afgespeel. Effektiwiteit, doelgerigtheid en ʼn aanvaarding dat die projek moontlik is, het gestalte gekry.

Die argitek het voorgestel dat die grondbedekking met granietteëls gedoen moet word, maar tydens die vergadering is voorgestel en so aanvaar dat dit met granietkeistene, wat meer standhoudend is, bedek sou word. Die keistene het pragtig uitgekom en dit is natuurlik baie duursamer.

Hyslop het die projek as koördineerder aan die hand geneem. Die granietpanele moes verkieslik uit een blok graniet kom, want die graniet moet dieselfde grein en kleur wees, want daar is baie variasies uit die verskillende groewe. Die graniet het uiteindelik uit Pepeng se groef gekom sodat die kleur dieselfde kon wees. Die graniet is net ʼn dag of wat voordat Cameleon Granite hulle sae se groottes verander het, wat ʼn vertraging van twee maande sou veroorsaak, gesaag. Fourie van Metrograniet het die polering van die panele en sandstraling onderneem. Granite Slab Sales het ook met die polering en die voorbereiding van die panele gehelp.

Marinus Zwaan, wat vir Riekert by Granite Slab Sales gewerk het, het die uitputtende en noukeurige letterwerk van die name se gravering gedoen: die vrees van ʼn “virewigde” spelfout het deurlopend oor sy skouer geloer, waarteen hy moes waak. By elkeen wat in ʼn geveg gesneuwel het se naam is ʼn sterretjie langsaan bygevoeg. Johan Els Vervoer het die vervoerwerk vanaf Brits na die Voortrekkermonument hanteer. Die graniet, die sae, die polering, die aanbring van die name, die sandstraling, die vervoer na die Voortrekkermonument is alles gratis gedoen.

(Foto: Verskaf)

Wat die bouery en die voorbereiding van die perseel aangaan, het generaal Opperman die verantwoordelikheid geneem en daar was verskeie skenkers van ver en wyd – selfs van oorsee.

Die ereplig is onder die leiding van generaal Opperman verder gevoer om die oorskot van die gesneuweldes, wat in die buiteland begrawe is, te repatrieer. Daar is later drie bykomende gedenktekens by die Muur van Herinnering opgerig, naamlik die bestaandes van 32 en 31/201 Bataljons, wat elders opgerig was, en ʼn nuwe een ter ere van diegene wat aan Operasie Savannah deelgeneem het. Voorts is daar later ʼn verdere muur opgerig ter ere van die lede van Koevoet, asook enkele gedenkstene ter ere van sekere korpse in die omringende tuin. Verder is ook ʼn afsonderlike muur opgerig ter ere van alle lede van die Ou-SAW wat vir dapperheid gedekoreer is. Nog later is daar ook ʼn nismuur opgerig waarin die as geplaas kon word van oud-SAW-lede en hulle eggenotes.

Dit is waarlik ʼn plek van herinnering. Dit bring ʼn groter insig en ervaring van die Bosoorlog vir ʼn besoeker.

As jy my mag vra wat ek dink nog ontbreek, dan sal ek sê miskien ʼn beeldhouwerk wat, soos die aangrypende beeldhouwerke by die Vrouemonument in Bloemfontein sekere gebeure simboliseer, uitbeeld. Baie van die soldate is beseer, gestrem en moes met die posttraumatiese stres die lewe verder aandurf. Dalk kan ʼn beeld, wat ʼn koue skouer van onverdraagsaamheid wat aan hierdie vergete lyers gegee is, uit ʼn nuwe stuk graniet gebeitel word. Miskien kan ʼn beeld die angs en spanning van ouers, sussies en boeties, wat tuis daagliks op die moontlike vrees van nuus voortgeleef het, uitgebeeld word, dat oorlog erg is en dat ons vrede moet koester.

25 Oktober 2009: onthulling

(Foto: Verskaf)

Die onthulling van die Gedenkmuur op 25 Oktober 2009 was ʼn eerbiedwaardige plegtige gebeurtenis:  die reëlings deur generaal Opperman was met militêre presisie. Soos dit hoort word die verrigtinge in gelyke mate sowel in Afrikaans as Engels aangebied en daarom word gratis professionele tolkdienste gereël met gehoorstukke sodat die plegtige atmosfeer nie net na Engels verander nie.

Daar is stilte, net voor 10:00, en eensame voëlsang breek op wanneer die aankomende vliegtuig van ʼn verbyvlug die stilte stiptelik om 10:00 stukkend dreun. Klank en kleur van hulde word so uit die hemele in koue rillings afgestort en die geleentheid verplegtig. Daar is min dinge wat “onthou” so aangryp as ʼn verbyvlug.

Die plegtigheid bestaan dan verder uit ʼn godsdiensoefening, die sing van die Landslied, en afgesluit met die laaste sinjaal voordat die kranse gelê word. Daar is geen plek vir toesprake nie.

Die honderde kranse, blomme, kruise, ensovoorts, was ʼn skouspel van kleur. Die vroue, kinders en familie, vir wie dit daargestel is, het eerste hulle kranse gelê. Daarna die generaals, die organisasies en laaste ou kamerade en ander mense. Die Burger het berig dat een van die kinders van die gesneuweldes gesê het dat toe sy haar vingers oor haar pa se naam gevryf het, dit vir haar meer beteken het as die graad wat sy onlangs behaal het.

(Foto: Verskaf)

Generaal Viljoen het ook opgemerk dat dit noodsaaklik was vir die families om ook ʼn mate van afsluiting hierdeur te kon hê. In die buiteland word hierdie geleenthede belangrik geag, maar die SA regering het aanvanklik koud gereageer, maar gelukkig, veral ook deur generaal Opperman se bemiddeling, het hulle dit ook begin bywoon.

Elke jaar sedert 2009 word ʼn huldigingsgeleentheid op die Sondag wat die naaste aan 31 Mei val, daar gehou. Die klimaat van dié dag is gewoonlik baie matig. Ongelukkig het die Covid-19-inperkings daartoe gelei dat die herdenkingsdienste van 2020 en 2021 virtueel aangebied moes word, sonder om afbreuk te doen aan die plegtigheid van die geleentheid.

Miskien is dit reg dat daar twee mure moes wees want die verlede het aan ʼn verbindingspad ontbreek.  Die twee plekke verteenwoordig kollektief die bipolariteit van Suid-Afrika, want die hegemoniese eenheidkultuur maak ʼn onverteerbare potjiekos. Miskien sal hierdie klein kooltjie op die herinneringsvuur u moed gee dat daar ʼn versweë herinneringsvuur smeul. Die uitspraak van onverdraagsaamheid, wat ʼn optog van solidariteit veroorsaak het, het gelei tot ʼn muur van hoop en ʼn verbindingspad na die ander se verlede.

  • Cerneels Lourens is ’n prokureur van Brits en bekende taalkampvegter.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Vrijburger ·

My hoed af in respek vir die mense wat hierdie gedenkmuur tot stand gebring het.

Puik bewoord in die laaste paragraaf.

Groen Ghoen ·

Ons mag hulle wat die hoogste prys betaal het, nooit vergeet nie. Mag hul bloed nie tevergeefs gevloei het nie – “Ons sal self” opstaan ook ter wille van hul nagedagtenis! Hartlike dank aan almal wat die Gedenkmuur moontlik gemaak het.

MakersMark ·

“Is jou naam daar op ons mure behou
Jy was nooit vereer en niemand gaan nou
Oor jou lewe skryf en wat jy nog wou
En by daardie mure, staan ek vir ure.”

Bok van Blerk – “Die kaplyn”.

Self daar gewees en manne geken wat in ‘n kis teruggekom het. Dankie vir daai “Boere” se name op daai mure. Dankie vir julle opoffering.

Strandloper ·

Ek onthou…en is so bly almal onthou. My makers het nie veniet die duurste tol betaal nie. Dankie

Kokerboom ·

Wonderlik. Dankie Kerneels. Stem name ooreen met die by Fort Klapperkop?

Marthinus W ·

My pa se broer, Paul Abraham Willemse, is in 1965 dood tydens diensplig. Laas toe ek by die gedenkmuur was, was sy naam nie daarop nie. [Ek het `n artikel vir Volksblad oor sy dood geskryf.] Een van my makkers tydens basies, sappeur Dawie Botha, is in 1989 dood, Sy naam was ook nie op die muur nie.

Chris ·

Ek kan nie verstaan hoekom ons dienspligteges se name op die regime se gedenkmuur geplaas moet word nie. Moenie vir my vertel dit is ter wille van nasiebou en derglike twak nie. Plaas die mense wat in die bosoorlog en wêreldoorloë of Boereoorlog gesterf het op ‘n muur by die Bloedriver monument. Ek kan dit wragtag nie meer sluk dat ons wittes in die land so verguis en verneder word nie. Het ons nie meer rugraat nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.