Sê nee vir “transformasie”


hande regstellende aksie
Hierdie rubriek van Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is in AfriForum se nuwe tydskrif, Forum, gepubliseer. Die eerste uitgawe verskyn vandeesmaand en word gratis aan AfriForum-lede gestuur. – Red.

Die ANC het die afgelope 20 jaar daarin geslaag om die woord “transformasie” en die ideologiese inhoud wat dié party aan die woord gee, as ’n heilige koei in die openbare debat te vestig. Niemand durf dit waag om openlik daarteen standpunt in te neem nie. Die strategie om moontlike teenstanders van dié beleid se monde te snoer, is eenvoudig: Beskuldig hulle valslik van rassisme, dat hulle kwansuis nie verskeidenheid wil bevorder nie en ook nie vir arm swart mense omgee nie. Die teendeel is egter waar.

Dit is eerder aanhangers van dié beleid wat die term “transformasie” as ’n gerieflike dekmantel gebruik waaragter hulle hul rassistiese minagting van minderheidsgemeenskappe soos Afrikaners uitleef, waarmee hulle verskeidenheid wil vernietig en waardeur ’n klein elitegroep ten koste van die arm massas bevoordeel word.

Daarom stel ek dit openlik: Ek is gekant teen “transformasie”. Ek nooi ander om ook openlik vir “transformasie” nee te sê. Hiermee sal jy ook jou steun gee vir die standpunt dat pogings om die wydverspreide armoede die beste te pak, op sosio-ekonomiese behoeftes eerder as ras moet fokus. Opheffing mag nie nuwe vorme van benadeling en die vernietiging van verskeidenheid tot gevolg hê nie.

Vernietiging van verskeidenheid
Die inhoud van die ANC se “transformasie”-beleid behels dat die samestelling van alle instellings verteenwoordigend van die land se rassedemografie moet wees. Jy hoef nie ’n wiskundige te wees om te besef dat dit tot gevolg sal hê dat alle instellings in die land oorwegend swart met Engels as voertaal sal wees nie.

Die “tirannie van verteenwoordigendheid”, soos dr. Dirk Hermann van Solidariteit dit noem, laat dus geen ruimte vir verskeidenheid of ’n plek vir minderhede in die son nie.

Pukke
Die voorstanders van die “transformasie” van die Puk-kampus van die Noordwes-Universiteit gebruik egter steeds die argument dat die insluiting van Engels as volwaardige voertaal op dié kampus nie Afrikaans sal benadeel nie en verskeidenheid (of diversiteit soos hulle dit noem) op die kampus sal bevorder. Ironies genoeg het ’n aanhanger van die “transformasie” van die Puk onlangs aangevoer dat ’n “historiese bewussyn” onder jong Afrikaners gekweek moet word, sodat hulle die noodsaak van “transformasie” sal verstaan.

Dít, terwyl die aandrang om die Puk te “transformeer” geen “historiese bewussyn” toon van die vernietigende invloed wat dié beleid die afgelope 20 jaar op Afrikaans as voertaal op universiteite gehad het nie. By die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit, wat deels deur middel van fondsinsamelings deur die Afrikaanse gemeenskap tot stand gebring is, het die “transformasieproses” op dieselfde wyse begin as wat die aandrang nou by die Puk is, naamlik dat Engels as volwaardige tweede voertaal ingevoer moet word om toegang en verskeidenheid te bevorder. Vandag is die resultaat ooglopend: ’n oorwegend swart kampus met Engels as voertaal.

Rassistiese minagting van minderhede
In ’n land waar 37 van die 38 universiteitskampusse oorwegend Engels as voertaal gebruik en net een kampus steeds oorwegend Afrikaans is, is dit moeilik om te sluk dat die skep van geleenthede en toegang vir studente wat Engels as onderrigtaal verkies, die werklike motief is vir die aandrang dat die Puk se taalbeleid moet verander. Om die laaste Afrikaanse kampus te teiken, getuig van ’n rassistiese minagting van minderhede, en in dié geval spesifiek Afrikaners. Dat die Wessels-verslag dit raadsaam kon vind om kritiek uit te spreek dat jong Afrikaners uit “Afrikanerskole” ʼn te groot deel van die studentegetalle uitmaak, wys hoe ver die ANC gevorder het om “transformasie” te gebruik om Afrikaners by te kom.
Transformasie kniehalter dienslewering

Frans Cronje van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge slaan die spyker op die kop met sy stelling dat “regstellende aksie” babas doodmaak. Dis ’n harde stelling, maar die feit dat die ANC ingevolge sy kaderontplooiingsbeleid en rasbeheptheid bereid is om selfs mense sonder die nodige kundigheid in kernposte aan te stel, bring onafwendbaar mee dat die lewering van dienste, soos skoon water wat veilig is vir menslike gebruik, op plaaslike vlak in gedrang kom. Die babas wat in Bloemhof weens besmette water gesterf het, is maar net een voorbeeld. AfriForum se plaaslike strukture ondervind daagliks hoe die dienslewering van munisipaliteite onder die ANC se rasse-ideologie meegee. Die ironie is dat arm swart mense die hardste getref word deur die “transformasie”-beleid wat voorgehou word as poging om juis dié mense se lewens te verbeter.
Transformasie vernietig jongmense se drome

Terwyl die politieke ideoloë met sakrekenaars uitwerk wat die rassesamestelling van instellings en sportspanne moet wees, word vergeet dat dit oor mense eerder as koue statistiek gaan. Die klagtes wat AfriForum al van tientalle ouers van “vrygeborenes” ontvang het wat weens hulle velkleur uit provinsiale skolesportspanne gelaat word, skep ’n hartseer prentjie van jongmense wie se drome onder die dekmantel van “transformasie” vernietig word. Voorstanders van “transformasie” is gou om te argumenteer dat dit op ekonomiese gebied goed gaan met Afrikaners en dat daar niks is om oor te kla nie. Dié soort argument hou nie rekening daarmee dat welstand oor veel meer as ekonomiese posisie gaan nie en dat Afrikaners steeds ekonomies presteer weens vindingrykheid ten spyte van die hindernisse wat “transformasie” in hulle pad gooi. Geen geld kan egter ’n kind wie se waardigheid en toekomsdrome weens sy of haar velkleur aangetas word, herstel nie.

Bou saam
Deur “transformasie” aktief teen te staan, kan ons help bou aan ’n samelewing wat werk om armoede te beveg en geleenthede te skep, sonder om in die proses verskeidenheid te vernietig en nuwe vorme van benadeling te skep.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Alwyn Beetge ·

Ek se nee vir transformasie.
Dit is n immorele metode om rassime te pleeg. Dit het geen logiese einde nie. Dit word op die “”gut feeling” van ANC politici bedryf bv Blade Simande en minister Fikile. (As hul n slegte dag beleef het haal hul hul nukke uit op die bevolking.) Maw daar is geen regverdige of wetenskaplike onderbou nie. Die logika daarvan is net om hul eie politieke agendas te dryf.
Ek verwerp dit in totaliteit.

Henkst ·

Transformasie beskryf die veranderings in regeringsvorme. Die einddoel is Afrika sosialistiese staat wat onder andere stam- of volksverband afkeur.

Frikkie ·

Apartheid het teen ‘n deel van die Suid-Afrikaanse bevolking gediskrimineer. Dit is as misdaad teen die mensdom verklaar. Transformasie, soos toegepas deur die ANC regering, diskrimineer ook teen ‘n deel van die Suid-Afrikaanse bevolking want blankes, en die Afrikaner in die besonder, word op die syspoor deur die regering gerangeer. Waarom word dit dan nie as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar nie. Is blankes dan nie ook deel van die mensdom nie. Ek verwerp dus die idee van transformasie soos toegepas op die oomblik deur die huidige regring in RSA met die minagting wat dit verdien. Die wiel het teen apartheid gedraai, net so sal die wiel teen transformasie in sy huidige toepassing draai.

JOHAN ·

Ek se nee transformasie,die problem le by hulle,hoe lank moet dit aan gaan om te besef
dit werk nie.

william ·

Die enigste manier vir blankes om te ontsnap van hierdie rassistiese regstelling is om sy eie gronggebied te he. Hulle sal nie ophou voordat alle blankes verarm is en sonder werk sit nie.

Marina Evans ·

Ek is ’n ouma van 3 seuns. Uitstekende sportmanne.
1. Graad 11 – Speel eerstespan krieket vir sy skool! Het A span rugby in graad 9 gespeel maar het sy nek beseer en mag nie meer rugby speel nie
2. Graad 9 –Speel A span krieket, sokker en rugby vir sy skool. Is die beste spiesgooier in die skool – neem ook deel aan diskus en gewigstoot – 1e, 2e en 3e plekke behaal oor die laaste seisoen
3. Graad 8 – Speel A span sokker vir die skool – speel ook premier liga sokker vir Black Aces – was in graad 7 in 2013 krieketspeler, sokkerspeler en sportman van die jaar.

Die skool waarheen hulle gaan is semi-privaat – daar is baie kinders wat beurse kry – akademies en sport!

Die skool het my dogter ingeroep en haar meegedeel dat sy ’n ander skool vir die twee jongste seuns moet kry. Omdat hulle drie van een familie is – kan die skool nie bekostig om hulle daar te hê nie.

Sy is geskei en kan net bekostig om R1000 per maand te betaal. Hulle pa betaal haar R4000 onderhoud per maand vir al drie die seuns.

Ek is hulle ouma ––en op 62 jaar oud –werk ek steeds. Nou het ek gedink, ek betaal al my hele lewe lank inkomsbelasting – is daar miskien ’n moontlikheid dat ek nou kan ophou belasting betaal en my dogter kan help om die skoolfooie te betaal? Is daar enige moontlikheid?

cathy santana ·

Dis regtig nou tyd om transformasie uit te skakel wil hulle nou in S A. Altyd daai verskoning hou ons is gatvol vir al die verskonings en stem na twintig jaar us dit maar n lafaards twis van die anc

koos ·

Ek se nee vir transformasie. Dit lei tot omgekeerde rasisme. Ek het vandag gehoor hoe daar deur n groep swart mans gese word. Ek wens al die wit mense wil net terug gaan , na waar hulle vandaan kom. Ons as blankes in Suid-Afrika voel baie onwelkom. Ons het geen ander heenkome soos In Zimbabwe, waar meeste blankes wel n Britse paspoort gehad het nie. Dit is net soveel ons land soos hulle s’n. Ek hoop hierdie artikels word in Engels ook geskryf. Want die mense wat dit moet lees, sal dit nie lees as dit nie in Engels is nie.

Errol Massey-Hicks ·

Ek sê nee vir hulle “transformasie” Wys my een terrein van die infrastruktuur, dienste of samelewing wat verbeter het as gevolg daarvan. Nee hulle “transformeer” alles in die afgrond in. Hulle transformasie beteken nie net verswarting nie, maar die onnodige en arrogante verandering (eintlik ignorering ) van stelsels en prosedures wat gewerk het en die vervanging daarvan deur onbeproefde of geen alternatiewe wat dan in die meerderheid van gevalle deur uiters onkundiges bestuur en beheer t word.

david ras ·

Ek se nee vir “transformasie”. Dit is ‘n stukkie semantiese bedrog vir rassisme. Dit hang ‘n kleed van respektabelheid oor ‘n stelsel van blatante minderheidsonderdrukking.
As transformasie beteken dat alles “verteenwoordigend” van die bevolking moet wees, is dit ‘n herhaling van Adolf Hitler se dogma in Nazi Duitsland. In wese is dit dus Afro Nazisme.
Om in sportspanne te vereis dat ‘n sekere aantal spelers swart moet wees , beteken dus dat daardie plekke vir swartes gereserveer word. Slegs Blankes uit die apartheids dae word nou vervang met Blacks Only.
Swart Apartheid !

Tjaart van der Walt ·

As ‘n Afrikaner in die buiteland is ek bedroef oor die toestand van my mense in Suid-Afrika.
Deur die RSA te verlaat het ek in stille protes “Nee!” gesê teen die proses van swart oorheersing en transformasie.
My hart gaan uit na die menigte wit armes in plakkerskampe buite Pretoria. Ek is bedroef deur die verlies aan ‘n tuiste in die wêreld waar Afrikaners polities verteenwoordig word en reg het op sake van taal en kultuur, en onderwys, wat naby hulle hart lê.
Daar is twee paaie.
Een: verteenwoordigende kultuurrade wat oor sake van nasionale belang moet besluit, op ‘n konsensus basis, waar alle etniese groepe verteenwoordiging op geniet. Sake soos onderwys en taalbeleid wat na aan die hart van alle etniese groepe lê moet dan op konsensus-basis besluit word tussen alle groepe. Dit was die oorspronkilike idee met Pluralisme. 38 Swartdomineerde universiteite is nie meer moontlik nie.
Twee: as pluralisme nie aan ons toegestaan word nie, dan vat ons swart-oorheersing direk aan met die getallestryd deur ons getalle te konsolideer in gebiede/gebied. Dit sal ‘n moeisame proses wees, ‘n trurat Groot Trek as jy dit so wil stel. Die laaste uitweg om te sê: “Díe is my gebied!” en ek het die getalle agter my om dit te staaf.

Frans Zeelie ·

Ek het net so groot kleintjie dood aan die “vrygeborenes” term. As ras, geslag, kultuur, taal en oriëntasie verdeling nie erg genoeg is nie, kom ons gooi die ouderdom verdeling ook in die pot!

Alhoewel dit in heelwat gevalle dié met die “vrygeborene tietel” net mooi boggerol vir hulle beteken na 1994, versteur dit my ook erg dat selfs dié bietjie ouer (kom ons sê so van 1980/81) gebore is ook nou nie juis veel plek of voordele geniet, of geniet het in die “ou” of nou “nuwe” Suid-Afrika nie.

Ek beskou al daardie babas gebore tussen 1982 en 1993 as die “weggooi” generasie. Dié wat nie regtig die agtergrond en effekte van die ou regering kon beleef/aan deel neem nie (voordele en nadele), maar ook nou nie juis “vrygeborene” is om op daardie front aanspraak te maak op beter behandeling nie. Nee, hulle is net in die pad en tyd morsers vir “transformasie”.

Meeste van hulle het teen hul matriekulasie tyd (2000 – 2010) uit die skool gestap met die volle slat van “transformasie”, “vel kleur kwotas”, geen diensplig opsies, geen “gaan werk vir die staat opsies tensy jou vel kleur reg is” en geen ander voordele soos studie programme of beurse nie – oftewel baie min van dit. So min dat dit amper maar gelos kon word.

Ek dink enige iemand wat nog nie 18 was teen die 1992 referendum, kan werklik beskou word as ‘n menslike wese wat impak kon hê op die besluitneming van Suid-Afrika nie. Ouers wat impak kon hê op die politiek front in die “bevrydingstyd” (1989 – 1994) het ook nie noodwendig alle feite gehad of geweet wat die toekoms vir hul reeds gebore kinders gaan inhou nie, en nog minder hoe die nuwe grondwet totaal en al verontag sou word deur die regerende party na Mandela se tyd…

Ek dink net die term “vrygeborenes” of meer bekend as “free borns” is glad nie opbouend vir ons nasie nie. Dit skep ‘n sielkundige verdeling wat die reeds uitsluiting van rasse nou nog boonop op OUDERDOM groepe plaas. Kan ons enigsins met nog ‘n metode van verdeling opkom? Ons landjie doen dit so goed…

jasper ·

Hulle kan nie wit word nie ek kan nie swart word nie so transformative kan nie werk nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.