‘Sê wie?’

Foto: Cristina Gottardi/Unsplash

Deur dr. Rene Hattingh-Rust

Ons word daagliks gebombardeer met absolute en veralgemenings soos:

“It is very clear to me (and I am sure to the vast majority of people in this country) that we need Ramaphosa to lead South Africa for the foreseeable future. He is BY FAR (sic) the best we have in terms of leadership.”

“South Africa’s democracy depends on the DA succeeding…”

“When it comes to these fundamental questions, people look towards politicians for the answers.”

“Most problems South Africa face today are of such magnitude that – even if we had successive miracle worker governments from today onwards – these problems will most likely still be with us in 20 years’ time.

Ek voel om uit frustrasie en desperaatheid uit te roep, “Sê wie?”

“Sê wie?” ’n Frase wat ek, toe ek klein was, dikwels gehoor het en dit so onbepland by my ouma oorgeërf het. Sy kon dié frase, gewoonlik voorafgegaan deur ’n tongklap, met beslistheid opper en dit het sy ook, tot my groot verleentheid, nie sag gedoen nie.

Sy kon dit sê oor iets wat die dominee gesê het, of iets wat die dokter kwytgeraak het, of selfs oor wat die bankbestuurder gesê het toe my oupa gaan vra het vir ’n lening om die droogte te oorleef.

As kind was ek meermale by waar sy tongklappend en blitsig gereageer het met: “Sê wie?” Ek het dikwels ineengekrimp en gewens sy wil nie so hard kapsie maak nie.

In die Afrikanerkonteks (met verwysing na die armblankevraagstuk) kom my ouma uit ’n meer gegoede familie. Haar pa kon elkeen van sy kinders ’n plaas laat erf. Haar ma was familie van advokaat J.G. Strijdom, die leeu van die Noorde.

My ouma was dan ook die een in my familie wat eerste met die Heilige Gees gedoop is. Dit nadat sy en my oupa tydens ’n afspraak met ‘n kerkleier gehoor het dat die doping met die Heilige Gees nie vir vandag bedoel is nie, maar ’n historiese gebeurtenis slegs vir die eerste kerk. Hy het hulle geduldig die beginsel van streepteologie verduidelik; ’n teologie wat sê dat sekere van die sake wat ons in die Bybel lees, nie meer vandag van toepassing is nie. Baie van ons het so geglo en sommige goeie Christene mag steeds so glo, maar die lyne in die werklikheid loop vandag baie meer deurmekaar. Die gebiede waar die vinnigste kerkgroei plaasvind, dink anders.

Ná hierdie gebeurtenis, het haar “gunstige” afkoms nie veel saak gemaak nie, want sy en my familie was nou deur die hoofstroom-Afrikaner gebrandmerk as ’n sekte, ’n groep mense wat eerder deur die samelewing gemarginaliseer moes word.

Materieel het ek niks van my ouma geërf nie. Een ding wat ek toe tog by haar geërf het, was die sêding, “Sê wie?” (maar nou sonder die tong klap).

Wie sê dit sal 20 jaar neem om uit die land se gemors te kom?  Wie sê ’n politieke party of leier is die enigste redding wat daar vir ons is?  Wie sê ons herstel moet die pad wat die futuriste uitstip, volg?  Ek ontken nie ons probleme nie, dit is heel waarskynlik groter as wat ons dink, maar die antwoorde wat aangebied word is vir my ’n probleem.

’n Alternatiewe scenario

Daar is ’n ander moontlikheid. Ná die Tweede Wêreldoorlog was Duitsland so arm dat hul geldeenheid bykans geen waarde gehad het nie. Daar is ’n foto van kinders wat met bondels en bondels Duitse geld ’n toring bou, asof dit houtblokkies is. Maar toe, soos wat ons eie Boere-oom, Nicolaas van Rensburg gesien het, gebeur daar ’n wonderwerk. Die Duitsers noem dit die Wirtschaftswunder (ekonomiese wonder), ’n onverwagse en ongekende vinnige herbou en ontwikkeling van Wes-Duitsland se ekonomie.

Die ekonomiese groeimodel wat as grondslag vir die ekonomiese wonder gedien het, is opgestel deur Walter Eucken, ’n lid van die Freiburg-groep (Die Freiburger Schule is ’n skool vir ekonomiese denke). Die groep het, onder meer, besin oor die Christen se verantwoordelikheid om tirannie te beveg. Geassosieerd met dié groep was die teoloog Dietrich Bonhoeffer, wie vir Eucken gevra het om ’n geheime ekonomiese plan vir Duitsland op te stel.  Hierdie plan het deel uitgemaak van ’n beplande staatsgreep wat uiteindelik gekelder is deur die mislukte sluipmoordpoging op Hitler. Tog het die plan oorleef en het dit uiteindelik sy doel bereik!

Hoekom kan Suid-Afrika nie ook droom en beplan vir ’n eie Wirtschaftswunder nie? Geen futuris, politikus of analis wat ek volg, wil so iets onverwags en wonderbaarlik voorspel nie. Het oom Nicolaas nie so iets oor Suid-Afrika genoem nie? Dit wil sê, as jy wyer wil dink oor oom Nicolaas en hom nie beperk tot die drukgang van Afrikaner nasionalisme nie.

Moontlike boublokke vir ’n plan

Ek wil graag ’n stuiwer in die armbeurs gooi oor so ’n plan. Daar is twee boublokke wat ek dink onverwagte en ongekende resultate vir ekonomiese groei kan lewer. Twee boublokke wat eintlik baie meer in mekaar geweef is as wat mens mag dink en wat in die hand van die man op straat lê, eerder as by die regering of politiek.

Dié twee boublokke is die Christen-netwerk en entrepreneurs.

Die Christen-netwerk is, in ’n hoogs diverse Suid-Afrika, die grootste gemene deler en die vinnigste groeiende netwerk wat ons het. Dit strek oor ras-, ekonomiese-, sosiale- en opleidingsverskille. In die sensus van 2001 het 79% van Suid-Afrikaners hulself as Christene geïdentifiseer. Dat hierdie netwerk groot tekortkomings het, is waar, maar die feit is steeds: daar lê dormant ’n reusegemeenskaplikheid en ’n verrassende invloedsfeer. Dit sal beslis vaardigheid verg om dit uit die regte hoek te benader, te motiveer en te bemagtig. Hoe sê die kinders, “Use it or lose it”.

’n Soortgelyke situasie word beskryf in die dokumentêre program Die Afrikaner. Tydens die Kruger-regering in Transvaal het Brittanje groot druk op die regering geplaas om ook stemreg aan uitlanders wat in die myne gewerk het, te gee. President Kruger wou dit nie doen nie omdat daar te veel uitlanders was en indien hul stemreg sou kry, sou Brittanje só beheer oor die Transvaalse Republiek kon kry. Hierdie druk het toegeneem en uiteindelik uitgeloop op die Anglo Boereoorlog. Die opmerking in die dokumentêr is dat indien President Kruger stemreg aan vroue gegee het, kon hy die probleem oorkom het. Sy groot uitkoms het dormant gelê – hy het dit net nie gesien nie. Of gesien, maar nie gebruik nie.

Die tweede boublok is entrepreneurs. Clem Sunter sê dit al vir jare, Ann Bernstein sê dit, en prof. Sadie het dit jare gelede geïdentifiseer as een van die enkel belangrike faktore wat die Afrikaner uit die diep armoede van 1939 gelig het. Dit is nie werklik iets nuuts nie.

Ek wil egter iets meer onbekends uitlig wat ek glo die potensiaal het om ons begrip te verbreed en besondere dinamiek te gee. Dit is die feit dat daar al meer male gevind is dat ekonomiese groei en entrepreneurs die onbeplande “byproduk” van ’n persoonlike ontmoeting en verhouding met die opgestane Christus is.

Die Amerikaanse sosioloog Peter Berger het aan die begin van sy loopbaan geglo dat die kerk as ’n moderniserende invloed gemarginaliseer is. Hy het egter hierdie beskouing laat vaar ná sy navorsing onder die Latyns-Amerikaanse Pinkster Christene wat in baie uitdagende omstandighede geleef het.  Hy het gevind dat “Religious forces are as strong and healthy as they have ever been”. Hy het ook gevind dat hierdie mense se gedrag gekenmerk word deur entrepreneurskap, onafhanklikheid, dissipline, en ’n rasionele uitkyk op die lewe en werk.

Ann Bernstein verwys ook na die entrepreneursgees wat sy geïdentifiseer het onder die Pinkster-groepering in Suid-Afrika. Wat hierdie onafhanklike akademici opgemerk het terwyl hulle objektief wedergebore en geesvervulde Christene waargeneem het, was dat hulle ondernemend is en dat hulle hul wêreld ten goede verander.

Eugene Nida het reeds in 1975 in sy boek Message and Mission: The Communication of the Christian Faith bevind dat alle herlewings in die onderste ekonomiese vlak ontstaan het en dat die deelnemers met reëlmaat hul ekonomies posisie verbeter het.

In ’n artikel in Harvard Business Review, Oktober 2013, word verwys na ’n studie van 1 714 Amerikaanse volwassenes wat getoon het dat entrepreneurs meer geneig is om te glo in ’n persoonlike verhouding met God. Hulle glo in ’n God wat belangstel in hulle as persoon en vir hulle omgee. Hulle bid ook meer gereeld. Die artikel verwys verder ook na ’n studie in Afrika en Indonesië wat gevind het dat die waarde wat ’n persoon plaas op sy verhouding met God, geassosieer kan word met innovering, hoër besigheidsopbrengs, en die skep van meer werkgeleenthede. Maar presies hoe en hoekom dit werk, sê die artikel, weet hulle nog nie mooi nie.

Om te verstaan, moet ’n mens die regte konsep van ’n entrepreneur baasraak. Dit is twyfelagtig of daar iets soos “tenderpreneur” en “culturepreneur” bestaan soos wat ons in die media lees. Dis bloot ’n nuwerwetse, maar dikwels ’n verkeerde naam vir korrupsie en dit ten koste van ons persepsie van ’n entrepreneur.

Wie en wat is ’n entrepreneur?

’n Entrepreneur is iemand wat na ’n woestyn kyk en ’n tuin sien. Dit is iemand wat moontlikheid sien waar ander dit nie kan sien nie. Dit is die persoon wat voortbeur in hoop en wat deur deursettingsvermoë, harde werk en innovering bydra tot die skep van vooruitstrewende gemeenskappe. Dis die persoon wat persoonlik verantwoordelikheid neem vir die risiko van hierdie voortbeur na hoop.

Wat ons begin verstaan, is dat wanneer mense ’n persoonlike ervaring en verhouding met die lewende en opgestane Christus het, hulle dikwels innoverend en as entrepreneurs begin optree. Dit is beslis nie die aanvanklike oogmerk nie, maar eerder een van die gevolge van ’n werklike ontmoeting met God.

Die werking van die Heilige Gees stel mense in staat om die hoop wat Jesus Christus bied, sigbaar te maak in hierdie wêreld. Die Heilige Gees stel mense in staat om die toekoms te sien wat Hy beplan het en om die fakkeldraer van daardie plan te wees; om ’n mens te wees wat weier om op te gee, ’n bittereinder. Iemand wat ná terugslae opstaan. ’n Persoon wat toewyding en dissipline enduit handhaaf. Iemand wat – met die hulp van die Heilige Gees – met hoop vorentoe beur en ’n toekoms skep van positiewe ervarings en vooruitstrewende gemeenskappe.

Die Franse ekonoom, Cantillon het in 1732 die konsep entrepreneur geformuleer en vandaar het veral die ekonomiese wetenskappe die fenomeen bestudeer. Deur die jare het ons besef dat daar persone is wat in die konteks van ’n sosiale uitdaging dieselfde entrepreneursoptrede en -houding vertoon ten einde iets van waarde te skep (in dié geval gewoonlik sosiale kapitaal).

Die begrip sosiale entrepreneur is toe gedefinieer. Daar is aangetoon dat hulle groot ooreenkomste toon en dat bloot die vorm van hul kapitaal mag verskil. Die konsep “entrepreneur” het dus uit die grense van die ekonomiese wetenskappe gebreek en ook die sosiale wetenskappe as navorsingsobjek betree. Dalk moet dit nou weer uitbreek – veral as ons die oorsprong van die fenomeen bestudeer?

Die oorsprong van entrepreneur lê heel waarskynlik nie binne die studiegebied van die ekonomie of die sosiale wetenskappe nie, maar veel eerder lê dit by ons Skepper en Redder.  As ’n goeie teologie die denkraam word vir die teorie en praktyk van entrepreneurskap, mag dit onverwags nuwe insigte bring.

Ek weet baie mense wat beweer dat hulle onder die vaandel van Christendom leef, wat graag van die heilige koeie (soos hulle dit noem), ontslae wil raak en nie erg het aan die gesag van die Bybel en Jesus se dood en opstanding nie, sal heel waarskynlik nou kouekoors kry. Nieteenstaande verwys ek as oorsprong van entrepreneurskap na die Een wat die planne wat Hy vir ons het, ken. Die Een wat die paaie van elke stam, taal, volk en nasie rig. Hy het immers deur Sy dood mense van elke stam en taal en volk en nasie met Homself versoen.

Hy is met ons, en ons is geroep om Sy hande en Sy voete in hierdie desperate wêreld te wees. Onomkeerbaar doen ons dit deur Sy krag, stap vir stap, met hoop en noukeurige beplanning.

Ten slotte dink ek dit is baie goed en reg dat Helpende Hand en die kerke op 6 November ’n armoedeberaad gehou het. Ek weet hul strategie sal nie bloot wees om ’n vis te gee nie, maar dit gaan ook om meer as om mense te leer hoe om vis te vang. Nee, hierdie keer moet ons nie rus totdat ons die visindustrie gerevolusioneer het nie (met erkenning aan Drayton se kommentaar oor ’n sosiale entrepreneur).

Hierdie keer moet ons leuse nie wees “’n Volk red homself” nie. Ons het dit wel gedoen in 1939 en dit ook reggekry.

Dié keer moet ons vir die skynbare onmoontlike mik. Dit is ons kans om wyer te dink: “ ’n Nasie/land red homself!” Op dié wat weet, rus die verantwoordelikheid om die ander saam te neem.

As hierdie dalk na ’n té groot sprong lyk, dan sê ons Boek, “En as julle in enige opsig anders daaroor dink – God sal ook hierin aan julle die regte insig gee.” Hy sê, en dan sê ons.

“Sê wie?” beteken eintlik: God praat eerste, en dan praat ons Hom agterna.

  • Meer oor die skrywer: Dr. Rene Hattingh-Rust is medestigter van ‘n tegnologiese maatskappy en dosent by Aucklandpark Teologiese Seminarium.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos ·

Maardie hedendaagse sogenaamde moderne mense sê mos maklik:
“Bybelse verhale en gebeure was vir dáárdie tydvak bedoel en is nie van toepassing op die hede nie.”

Ai, hoe jammer vir diesulkes met daardie siening.

ALLES wat in die Bybel geskrywe staan, is vandag eintlik meer van toepassing as ooit!!!

Weet en glo dit maar en kyk waar kom jou hulp vandaan in hierdie sogenaamde moderne tydvak – nog steeds net waar dit destyds vandaan gekom het.

Sela.

Basjan Jacobsz ·

Uitstekend! Of ons dit nou wilweet of nie : arbeit macht frei.Work ethics: a moral framework and mode of activity derivable from among other sources Protestant Christianity .

JohanR ·

“It is very clear to me (and I am sure to the vast majority of people in the country) that we need Jacob Gedleyihlekisa Zuma, Ajay Gupta, Atul Gupta, Rajesh Gupta, and Salim Essa, to lead South Africa for the forseeable future. They are by far (sic) the best we have in terms of leadership.” Weet iemand miskien wie het hierdie woorde in 2009 uit gespreek, net voor Jacob die troon betree het?

jaco ·

hiers my oplossing: skaf regstellende aksie af en skaf ook stemreg vir wit mense af. Al die wit mense wat dan weer ordenlike werk sal hê en sal help om die land weer op te bou, sal dan nie n politieke bedreiging kan wees nie.
Dis min of meer wat in Zimbabwe aan die gang was tussen 1980 en 2000. Mugabe se ooreenkoms met die wit mense was “you stay out of politics while I will take care of you”. dit het gewerk. die wit mense was skaars in die politiek en ekonomies het hulle so goed gevaar dat dit n rippel effek op ook die res van Zimbabwe se ekonomie en mense gehad het. Die nonsens het begin toe Mugabe se spioene in die MDC ontdek het dat dié meestal deur Zimbabwe se wit mense gefinansier word.
Ek wens ons mense wil net meer “buite die boks” dink. Die Afrika-manier van dinge doen gaan nie by ons aanpas nie. Hoe gouer ons by “hulle” manier van doen inpas en selfs vir hulle vra om formeel ons sogenaamde “regte” te verminder, hoe gouer gaan dinge vir nie net ons nie maar ook al die ander mense in SA verbeter.

B ·

Goeie stuk!
My repliek : Entrepreneurs, def!
Christene, uhm ja, verskeie (wie ook gedoop was deur die HG) het my ouers omtrent geruïneer, en ek het ook ‘n paar stelle met hulle afgetrap. As iemand deesdae met aanvang van ‘n transaksie vir my sê hy is ‘n Christen, staan my nekhare orent en ek staak alle verdere interaksie

Douvoordag ·

Nê. Sê wie.

Hier is darem ‘n hutspot van opinies en waarhede so deurmekaar gevleg dat dit sommer lekker klink. Dit klink so lekker dit moet waar wees. Die grondfoute is tweëerlei. Wie sê dat die sintuiglike waarneming (wat mense gesê het of sê, mense se filosofieë, getuienisse, fenomene en so voort) van gebeure en die ervaring daarvan, of self of anekdoties, enigsins dikteer wat is of betrekking het op wat gaan wees. En of die waarnemings nou as normatief aangelê moet word en bepaal hoe ons die toekoms tegemoet moet gaan. Vermeng dit met ‘n selfgesentreerde christendom wat God Drieenige voor ons karretjie span en jy kry ‘n sinkretisme wat saam die Oorwinaarsteologie uitspel. We can, with some help of our God.
Stel tog voor ‘n perspektiefverskuiwing. Verskuif jou godsbeeld van ‘n Pottebakker vir my die klei na ‘n Pottebakker wat my knie en brei en vorm vir Hom. En dan kry jy ewigheidsperspekief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.