SEB: ʼn mislukkende fantasie

Gerhard Papenfus

Dit was met ʼn mate van blydskap dat ek die president se aankondiging gelees het rakende ʼn aantal beplande hervormings wat ten doel het om besigheidstoestande in Suid-Afrika te verbeter.

Dit sluit die bekendstelling van die Wetsontwerp oor Openbare Verkrygings in, wat vereis dat klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO) gesubkontrakteer moet word vir minstens 30% van die waarde van ʼn kontrak vir alle kontrakte bo R30 miljoen.

Tot my ontnugtering het ek ontdek dat hierdie bepaling uitsluitlik van toepassing is op KMMO met ten minste 51% swart eienaarskap.

Ek was teleurgesteld dat hierdie aankondiging plaasgevind het juis kort nadat die president eerstehands in Japan beleef het hoedat ʼn “span” wat saamwerk en een doel nastreef, sukses kan bereik. Ek het gevolglik oorweeg om my besorgdheid oor die feit dat, wat hier plaasvind, nie tot die voordeel van Suid-Afrikaners strek nie, uit te spreek – en dat dié wat werklik daaruit voordeel moet trek, eindelaas die meeste benadeel sal word.

Ek wou my siening as volg verwoord:

  • Hierdie tipe beleid, van beide voor en ná 1994, is die oorsaak van Suid-Afrika se onvermoë om vooruitgang te maak;
  • Dit beklemtoon rasseverskille en verskans rassevooroordeel, wat daartoe lei dat ons “teen mekaar speel” en sodoende verseker dat Suid-Afrika hoegenaamd nie sy volle potensiaal kan bereik nie;
  • Talle entrepreneurs, wat nie die 51% swart eienaarskapdrempel haal nie, sal uitgesluit word van deelname aan staatskontrakte, bloot op grond van hul velkleur, die “sondes” van hul voorvaders en die feit dat hulle beheer wil uitoefen oor hul eie besighede, wat hulle self op die been gebring het en alles voor opgeoffer het;
  • Hierdie entrepreneurs wat, teen alle verwagting in, steeds die hartklop van die ekonomie is, is egter steeds betrokke by staatskontrakte, maar slegs agter die skerms. Hulle betrokkenheid vereis, in die meeste gevalle, vele middelmanne, ook bekend as tenderpreneurs, wie se betrokkenheid die prys van die produk of diens veelvoudig vermeerder. In hierdie omstandighede is die kliënt (belastingbetaler) die verloorder;
  • In ag genome die uitdagings daaraan verbonde om ’n nuwe besigheid te vestig (90% van nuwe besighede misluk in die eerste vyf jaar), kan geen regering bekostig om hoegenaamd gevestigde KMMO van die ekonomie uit te sluit nie;
  • Hierdie KMMO, wat nie aan SEB-vereistes voldoen nie, is egter belastingbetalers wat gediskwalifiseer word om kontrakte te bekom vanaf die einste staatsondernemings wat deur KMMO se belasting aan die lewe gehou word – hierdie is ʼn reëling wat nie geregverdig kan word nie; en
  • die geleidelike toename in Suid-Afrika se werkloosheidsyfer en ongelykheidsvlakke is sprekend van die rampspoedige gevolge van hierdie beleide.

Aangesien ek egter besef dat hierdie kwessies buite die huidige transformasiebedeling val, het ek daarteen besluit om my besorgdheid uit te spreek. Ek het vrede gemaak met die feit dat verandering, binne die konteks van die huidige onvolhoubare bedeling, slegs sal plaasvind met ʼn kombinasie van ʼn Damaskuspad-ervaring, politieke integriteit en waagmoed. Alhoewel niks onmoontlik is nie, is daar geen vooruitsig van verandering aan die huidige transformasiebenadering nie.

Wat wél verandering mag meebring, sal nie noodwendig ʼn verandering van gesindheid wees nie, maar eerder ʼn kru ontnugtering, weliswaar te laat, dat vir enige nasie om homself uit die moeilikheid te red, hy hoegenaamd nie kan bekostig om enige aanbod van hulp – van enige van sy burgers – van die hand te wys nie.

My boodskap is gerig aan die miljoene (swart, wit, Indiër, bruin) wat nie baat vind by die huidige transformasiebedeling nie, waarvan SEB maar een element is. Vir die volgende redes, sluit my boodskap egter nie diegene uit wat tans voordeel trek uit hierdie transformasie-aanslag nie:

  • Hierdie “voordeel” sal van korte duur wees;
  • Die bronne wat hierdie ekonomies-vyandige aanslag befonds, sal binnekort uitgeput wees;
  • Terwyl hierdie praktyke hulself uitspeel, sal wedywering vir bronne toeneem en selfs onsmaaklik raak;
  • Vrees en onsekerheid sal onder hierdie omstandighede toeneem;
  • Waardevolle geleenthede vir innovering en die vermoë om mee te ding op grond van gesonde ekonomiese beginsels, sal terselfdertyd verlore gaan; en
  • laastens, maar die belangrikste: Die huidige SEB-begunstigdes is ons landgenote, ons mede-Suid-Afrikaners en, soos ons, is hulle ook onderworpe aan die uitdagings van die lewe.

My boodskap aan elke Suid-Afrikaner is:

  • Tel jou seëninge;
  • Speel die “kaarte” wat jy ontvang het;
  • Indien hierdie spesifieke beleid jou raak, bevind jy jouself reeds in ʼn bevoorregte posisie aangesien miljoene Suid-Afrikaners wat sal wil gee om in jou skoene te staan;
  • Die struikelblokke wat in jou pad staan, is tot jou voordeel – dit bewerkstellig balans en berei jou voor vir ’n groter rol;
  • Niks is maklik nie, en wanneer dit is, is dit nie volhoubaar nie;
  • Egte welvaart strek verder as die glans waarop ons so maklik ons visie rig;
  • Jy verloor eers wanneer jy die handdoek ingooi; en
  • Harde werk, integriteit en deursettingsvermoë lewer altyd die beste resultate, maar dit verg geduld.

Aan ʼn voornemende entrepreneur: Moenie toelaat dat enige struikelblok jou kniehalter nie. Die einste uitdaging wat jy as ʼn struikelblok beskou, is inderwaarheid ʼn geleentheid, verbloem as teenspoed.

Laastens, moenie enige vorm van negatiwiteit of bitterheid duld nie en vermy ook advies van diegene wat hulself daaraan skuldig maak.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard Papenfus

Gerhard Papenfus is die uitvoerende hoof van NEASA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Feite ·

Baie insiggewend en goeie advies vir voornemende enterpreneurs.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.