Seerowers, terroriste en droogte waarborg Somalië se ondergang

somalië-seerowers-mei-2009

Foto: Commons.wikimedia.org

Geklee in ʼn militêre uniform het die president van Somalië, Mohamed Abdullahi Mohamed, die land tot ʼn oorlogsone verklaar en die weermag opdrag gegee om ʼn nuwe offensief teen die terreurgroep Al-Shabaab voor te berei. Al-Shabaab word met die terreurnetwerk Al-Kaïda verbind.

Die aankondiging volg op verskeie aanvalle wat in die afgelope tyd uitgevoer is. Minstens sewe mense is verlede week dood toe ʼn motorbom by ʼn restaurant in Mogadisjoe ontplof het. ʼn Verdere 11 mense is dood toe ʼn minibus oor ʼn landmyn gery het. Pres. Mohamed is uitgesproke oor die terreurgroepe in Afrika en sy verkiesing die afgelope Februarie het sterk reaksie ontlok. Al-Shabaab het Somaliërs gewaarsku om nie die “vals leier”, soos hulle dit stel, te ondersteun nie.

Al-Shabaab verloor die gebiede wat hulle voorheen beheer het in ʼn vinnige tempo. Hulle is reeds grootliks uit Mogadisjoe en ander voorstedelike gebiede gedryf. Die stryd teen Al-Shabaab word hoofsaaklik deur Afrika-unie- en Somaliese magte gevoer. Pres. Donald Trump van Amerika het intussen ook aangedui dat hy magte vir lugaanvalle beskikbaar sal stel.

Pres. Mohamed het ook ʼn beroep op die kindersoldate gedoen om hulle binne 60 dae oor te gee. Volgens Mohamed is die kinders gebreinspoel en gee hy hulle geleentheid om hulle oor te gee sonder dat vervolging hulle in die gesig staar.

Terreuraanvalle is egter nie die nuwe president se enigste of selfs grootste probleem nie. Somalië ervaar tans ʼn droogte wat ʼn groot deel van sy 12 miljoen inwoners in hongersnood kan dompel. Dit is een van verskeie lande in daardie deel van Afrika wat in die wurggreep van ʼn reuse-voedselkrisis is. ʼn Ander uitdaging is die grootskaalse kapings van vragskepe wat teen die land se kus voorkom. Volgens alle aanduidings het seerowery weer sy terugkeer in dié waters gemaak.

Somalië beskik tans oor al die bestanddele wat nodig is om die land se ondergang te bewerkstelling. Die kombinasie van terreurgroepe, seerowers en ʼn vernietigende droogte vereis dat daar op verskillende fronte krisisbeheer toegepas moet word. Dit is tans ook bykans onmoontlik om te verseker dat droogtehulp die nodige bestemmings bereik aangesien daar eerstens ʼn risiko is dat die vragskip deur seerowers gekaap word en daarna dat Al-Shabaab dit kan skaak.

Die groot tragedie is dat Somalië se ondergang nie slegs aan ʼn natuurramp soos droogte toegeskryf kan word nie, maar dat dit ʼn mensgemaakte ondergang is.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Verwonderd ·

Ek hoop die weste besef dat geen hoeveelheid hulp hierdie land kan help nie. Die mense moet self tot by ‘n punt kom waar hulle, hulle eie paadjie kan uitkap en ‘n besluit kan neem om te verander en te lewe. Van te veel hulp is daar net geen einde aan die vergrype en volksmoord nie. Dit sal ophou as die ampsdraers besef niemand kom om hulle uit te red nie.

John ·

Somalia is al eeue lank bekend vir hierdie gedrag. Die ou seevaarders het die gebied soos pes vermy. Afrika en Madagaskar se hawens waar aangedoen moes word vir voorrade was inderwaarheid bekend vir verraderlike gedrag en die kapteins moes groot geskenke gee maar ook nooit die skepe onbeman laat nie, want daar was gereeld aanvalle uit die bloute… sodra die geskenke in ontvangs geneem is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.