Sekere konserwatiewe impulse goed vir ‘nuwe Afrikaners’

Afrikaners is reeds vir ’n geruime tyd besig om bykans ongesiens hulself ‘van onder af’ – in en deur die dinge wat hulle doen – nuut te definieer.

Dit blyk miskien nêrens so as by dié Afrikaners wat die afgelope jare bykans spontaan vir hulself begin intree het nie. Afrikaners het vroeër hulself tot groot verlies van hul selfvertroue en skeppingsvermoë van die staat afhanklik gestel. Nuwe Afrikaners daarenteen is diegene wat besluit het dat hulle nie meer op die staat kan wag nie. Hulle is ontvoog en doen voortaan hulle eie ding.

Die vraag is egter of die nuwe Afrikaners oor genoeg aantreklike ‘idees’ beskik waarmee ’n groter onderlinge samehang tussen Afrikaners en ’n duidelike toekomsvisie geskep kan word.

Positiewe tekens vlam kort-kort op. Nogtans bevind Afrikaners hulself steeds in ’n toestand van ideële verflentering. Meestal dobber ons nog soos wrakstukke in elke moontlike windrigting rond.

Die vraag is dus eenvoudig: Waar is die nuwe Afrikaners se idees waarmee ons vir onsself as ’n skeppende kultuur-gemeenskap kan intree? Waar is ons lewegewende beeld op die toekoms?

In my eerste artikel op die Groot Gesprek het ek voorgestel dat Afrikaners weer oor die konserwatiewe gedagte (soos verwoord deur Edmund Burke) moet nadink. Die vooronderstelling ten grondslag van die voorstel is dat die konserwatiewe gedagte kan help om inhoud aan die idee van die nuwe Afrikaner te gee.

Maar klop dié voorstel? Kan die konserwatiewe gedagte (ook dié van Burke) hoegenaamd so ’n rol speel? ‘Konserwatief’ word immers in die alledaagse wêreld met dinge soos ‘benepe’, ‘stiksienig’, ‘bekrompe’, ‘outoritêr’, ‘rassisties’, ‘homofobies’, ensovoorts, verbind – alles dinge wat kennelik in spanning met iets soos die nuwe Afrikaner behoort te staan.

’n Mens kan kwalik met hierdie voorbehoud jeens die begrip ‘konserwatief’ verskil. In ons wêreld word dit dikwels met hierdie negatiewe dinge verbind.

Nogtans kan enkele breë argumente aangevoer word waarom ons nie sonder meer van dié begrip kan afstap nie.

1. Dit is eenvoudig nie waar dat die begrip ‘konserwatief’ slegs een betekenis (in hierdie geval ’n negatiewe betekenis) het nie. Histories gesproke word die konserwatiewe gedagte eerder in ’n groot verskeidenheid van gedaantes aangetref.

So kan ‘konserwatief’ onder meer na die volgende radikaal uiteenlopende strominge verwys:

  • ‘Anargisties-konserwatief’: Diegene wat in aansluiting by die tradisie volledig met die staat wil wegdoen;
  • ‘Rewolusionêr-konserwatief’: Diegene wat sowel die tradisie as die moderne rewolusionêre bewegings omhels;
  • ‘Demokraties-konserwatief’: Diegene wat die tradisie knoop aan die voorspraak vir ’n demokratiese gemeenskapslewe;
  • ‘Liberaal-konserwatief’: Diegene wat in aansluiting by die tradisie die liberale klem op die regte van die individu omhels;
  • ‘Postmodern-konserwatief’: Diegene wat in hulle aansluiting by die tradisie die veelkantige aard van die werklikheid beklemtoon; en
  • ‘Monargisties-konserwatief’: Diegene wat hulle rug op die moderne wêreld draai en nostalgies na die monargale ordes van die verlede verlang.

‘Konserwatief’ het dus nie net één betekenis nie. Inteendeel, dit word gekenmerk deur selfs radikaal uiteenlopende aksente. Wat kan verder van mekaar verwyder wees as ’n anargistiese en ’n monargale konserwatief?

Maar waar laat dit ons? In plaas daarvan om gewoon daarmee weg te doen, maak dit sin om meer spesifiek daaroor te wees.

Alexis de Tocqueville (1805-1859)

My voorstel is dat nuwe Afrikaners – in navolging van die voorbeeld van konserwatiewe figure uit die verlede soos Edmund Burke en Alexis de Tocqueville – spesifiek by die ‘demokraties-konserwatiewe’ tradisie aansluiting soek. (Maar ook by die postmodern-konserwatiewe tradisie, wat kwalik van eersgenoemde onderskei kan word).

2. Woorde kan soos instrumente ingespan word. Wanneer dit hulle bruikbaarheid verloor, kan hulle soos leë plastiekbottels weggegooi en met ’n ander een vervang word.

Woorde kan egter ook gesien word as dinge wat veel meer as slegs ’n instrumentele waarde het. Woorde kan ook ’n hele ryk erfenis van betekenisse met hulle saamdra. Indien ons hulle sou weggooi, sou ons tegelyk met hulle ryk erfenis wegdoen.

‘Demokraties-konserwatief’ is so ’n woord. Indien ons dit vanweë instrumentele oorwegings sou weggooi, sou ons die verwikkelde veelheid van nuanses wat dit onder meer by figure soos Burke en Tocqueville gehad het, meteens verloor.

Watter nuanses? As dit bondig saamgevat kan word, kan gesê word dat ‘demokraties-konserwatief’ onder meer deur die volgende aspekte gekenmerk word:

  • deur die tradisionele insig dat die werklikheid nie slegs deur toeval nie, maar deur ’n ‘dieper rasionaliteit’ geregeer word;
  • deur die wete dat ons sonder die onderskeid tussen ‘waar’ en ‘vals’ dreig om in ’n sofistiese barbaredom te verval;
  • deur ’n estetiese sin vir die skone bo die skrikwekkende, die vorm bo chaotiese versplintering;
  • deur ’n sin vir die konkrete bo die abstrakte, vir die benadering van-onder-af eerder as van-bo-af;
  • deur oop en organiese strukture eerder as geslote of afwesige strukture;
  • deur die demokratiese vryheidstrewe van kultuur-gemeenskappe en ’n gelyktydige afkeur in staatlike sentralisme (die verspreiding van politieke mag tot op die laagste moontlike eenheid);
  • deur die ‘politieke’ en die ‘morele’ te onderskei sonder om hulle van mekaar los te maak (daarom die neiging om die politieke denke van die Klassieke en die Hoë Middeleeue eerder as die moderne moralisme as normatief vir vandag te beskou);
  • deur die wete dat gemeenskappe nie noodwendig in die pad van skeppende individue staan nie, maar hulle eerder moontlik maak (skeppende individue wat hulle gemeenskappe verlaat, sluit altyd weer by ander gemeenskappe aan);
  • deur ’n voorkeur vir die voortreflike handeling, asook ’n klem op die kultivering van tradisionele deugde soos matigheid, dapperheid, geregtigheid en wysheid (die aristokratiese sin vir die voortreflike en die demokratiese sin vir vrye gemeenskappe word in samehang met mekaar bedink);
  • deur die politieke werklikheid met behulp van die ‘goeie oordeel’ eerder as die abstrakte skema in te rig;
  • deur ’n klem op die onontbeerlike rol van instellings (skole, universiteite, teaters, vakbonde, ensovoorts) en ons deelname daaraan;
  • deur die neiging om ‘ons gemeenskaplike goed’ eerder as ‘my individuele regte’ te beklemtoon (sonder om die belangrikheid van regte te ontken);
  • deur ’n klem op die kleiner kultuurstad eerder as die lewelose megapolis;
  • deur ’n keuse vir die vrye mark en private besit sowel as ’n afkeur in die neiging om alles tot ’n kwessie van koop en verkoop te reduseer.

In plaas daarvan om ’n begrip soos ‘demokraties-konserwatief’ in die asblik te gooi, behoort dit eerder afgestof en nuut vir ons tyd geïnterpreteer te word. Om dit anders te hanteer, is om ’n lewegewende tradisie prys te gee.

3. Maar die belangrikste rede waarom ons nie sonder meer met ’n begrip soos ‘demokraties-konserwatief’ kan wegdoen nie, is geleë in die feit dat dit ‘waar’ is.

Alhoewel ons nie nou die tyd het om dit te motiveer nie, kan met reg beweer word dat die dieper – en edeler – impulse uit die geskiedenis van Afrikaners daardeur gekenmerk word. Vanaf ons eerste oomblikke in die vroeë 18de eeu kan aspekte daarvan onder ons mense opgespoor word.

Afrikaners het in die verlede ernstige foute begaan. Veral tydens die tweede helfte van die 20ste eeu het ons onsself in ’n versmorende denkraamwerk toegespin. Dink maar aan die enggeestige mentaliteit van sensuur wat ons toe beetgepak het.

Hierdie enggeestigheid was egter nie ’n logiese verlengstuk van ons demokraties-konserwatiewe impulse nie. Inteendeel, dit staan in radikale spanning daarmee.

Een van die redes waarom Afrikaners vandag nog steeds wat betref idees so verdwaald is, is omdat ons nog nie daarin geslaag het om weer by hierdie dieper impulse uit ons eie geskiedenis aansluiting te vind nie. Ons klou eerder nog vas aan die wrakstukke wat vanuit die verlore dekades van die 20ste eeue tussen ons ronddobber.

Nog erger, ons veg nog met mekaar oor die vraag aan watter wrakstuk uit dié tyd ons moet vashou: vir of teen die oorlede NP, vir of teen 1994, vir of teen FW, ensovoorts.

Verteenwoordig ‘konserwatief’ die verlede? As ons dit aan die ou en uitgediende betekenis daarvan verbind, verteenwoordig dit sonder twyfel die verlede.

As ons egter by die demokraties-konserwatiewe impulse uit ons geskiedenis aanknoop, verteenwoordig dit veel eerder die toekoms.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

André Alkema ·

Baie insiggewende stuk, Danie.

Ek sou sê dat die woorde van Paul Kruger: neem die goeie uit die verlede en bou die toekoms daarop, goed hierby aansluit.

Ons is in goeie geselskap. :-)

Theresa Papenfus ·

Baie dankie vir hierdie relevante inset, Danie.
In die jongste uitgawe van Vrouekeur sê ‘n paar vroue juis wie en wat die Afrikaner na hul mening vandag is. My gevoel was:
 

Waagmoed; “Daarvan getuig die Groot Trek, die Anglo-Boereoorloë,
die sprong na die Nuwe Suid-Afrika, en soveel Afrikaners se aanpassing daarby
wat hul werk verloor het en nuwe loopbane begin het. Ons het pioniersgene.”

Stroomop. “Ons stry! Ons stig af! Ons trek dwars!
Ons kom uit ‘n verlede van stryd. En ons bly nie stil nie.”

Eksklusiwiteit. “Ons trek vinnig laer en sluit die
vreemde uit! Dit kan beskermend wees, maar het ook tot afsondering
bygedra. Ons kom nie maklik oor die weg met mense wat van ons verskil nie.”

Fundamentalisme. “Dit hou verband met die eksklusiwiteit.
‘n Ding is vir ons swart of wit, niks tussen-in nie.

Vindingrykheid: “Ons beskik oor ‘n goeie skoot
kreatiwiteit. ‘n Boer maak ‘n plan. Mens sien dit in baie gewone mense, wat
skielik met hul rug teen die muur beland het.”

Vasbyt: “Ons is miskien te koppig om op te gee, daarom
dat soveel van ons nog hier is.”

“Ons het baie foute maar ons is nie uniek in ons dwalinge
nie. Ek weet van geen volk wie se hande silwerskoon is nie. Ek kan nie aan een
nasie dink wat hom nog nie iewers in sy verlede vergryp het nie.  

Die Afrikaners het pynlike selfondersoek gedoen en hul
bevoorregte posisie tydens die referendum weggestem. Het enige ander volk dit
al ooit gedoen?

Afrikaners is ‘n bietjie verdwaas en verslae na al die
veranderinge, en al die aanklagte, en ons wonder wie ons is, en of ons onsself
verloor het.

Maar ek glo ook ons kom stadigaan orent, soos ná die
Anglo-Boereoorlog, toe ons ons aan ons eie skoenveters opgetrek het.

Ek meen ons het baie om by te dra tot hierdie land wat
ons ook ons s’n noem. Mag ons dit gegun word.”

 

Deon Opperman ·

Theresa Papnfus, ek stem volkome saam. Dankie vir hierdie bondige opsomming.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.