Sekere regte hoort nie in ʼn grondwet nie

Argieffoto.

Deur Morné Malan

Dit is nie noodwendig iets wat intuïtief deel vorm van mens se denke nie, maar dikwels het die teenwoordigheid van sekere regte in ʼn grondwet ʼn oorweldigende negatiewe impak op die samelewing. Die rede hiervoor is dat, veral soos in die geval van Suid-Afrika, die grondwet verskeie eise maak wat net nie moontlik of prakties uitvoerbaar is nie. Trouens, deur die regering te verplig het soms selfs die teenoorgestelde uitwerking. Dit wil sê, in plaas daarvan om burgers teen die staat te beskerm brei dit juis staatsmag uit.

Hoe behoort regte te funksioneer?

Regte soos vervat in ʼn grondwet het, breedweg, twee funksies: Eerstens dien dit as normatiewe rigtingwysers wat dui op die gesamentlike visie wat die burgers vir hul land het. Tweedens moet dit die land se burgers teen ʼn oormagtige staat beskerm. Ongelukkig het ons grondwet dikwels die teenoorgestelde effek, en waar dit wel staatsmag beperk, word die beperking tot so ʼn mate gekwalifiseer dat dit bykans niksseggend word.

In Suid-Afrika voor 1994 kon die parlement enige wetgewing wat hul goedgedink het promulgeer – solank dit aan sekere prosesse en prosedures voldoen het. Die howe se magte was grootliks beperk. Dit beteken dat burgers bitter min verskansing teen die wil van die regerende party gehad het. Die gevolge hiervan is bekend aan ons almal. Om te verhoed dat iets dergeliks gebeur, het al die partye ooreengekom dat die mag van die parlement en die staat in die nuwe Suid-Afrika oor die algemeen onderworpe aan ʼn grondwet gestel sal word. Hierdie besluit is ook besonders belangrik vir minderhede aangesien dit hul enigste beskerming teen die sogenaamde “dwingelandy van die meerderheid,” is, waar die meerderheid minderhede onderdruk bloot deur meer stemme te hê en daarom meer verteenwoordigers in die parlement. Tog, tot watter mate het die grondwet wel hierdie uitwerking? Danksy die verlinkse beginsel van herverdeling wat so te sê in die wese van ons grondwet ingeweef is, beteken dit dat feitlik al die regte in ons grondwet, wat die funksie sou hê om staatsmag in te perk deur die werking van artikels, soos artikel 36 (beperkingsklousule) en die howe se interpretasie van artikel 9 (gelykheidsklousule), vir sekere groepe beperk word. Dit wil sê dat alle groepe (oftewel voorheen bevoordeelde) nie die beskerming van dié regte geniet nie.

Die grondwet misluk dus daarin om hierdie basiese funksie te verrig. Dit is egter nie die primêre fokus van hierdie artikel nie. Buiten dat die grondwet nie die regte van al die burgers teen die regering beskerm nie, poog dit ook, soos bo genoem, om regte te skep wat skadelik is vir die samelewing. Of eerder, die regering se poging om hierdie regte te verwesenlik rig skade aan. Hier is die probleem weer eens ʼn linkse siening van die rol van die staat in die alledaagse lewe van die burgers.

Staatsinmenging – ʼn grondwetlike imperatief?

Ek het vroeër gepraat oor die feit dat die regte wat staatsmag beperk nie streng of ewehandig geïmplementeer word nie. Die groter probleem is egter die teenwoordigheid van verskeie regte wat die teenoorgestelde effek het. Met ander woorde, hierdie regte is nie net mislukte pogings om die regering in toom te hou nie; eerder, hulle brei juis die mag van die staat uit.

Waarborge klink altyd goed, so wanneer die grondwet regte beskerm wat betref arbeidsverhoudinge (art. 23), die omgewing (art. 24), behuising (art. 26), gesondheidsorg, voedselsekerheid, water en maatskaplike sekerheid (art. 27), en onderwys (art. 29) dan klink dit goed. Dit is dan immers reëls in die oppermagtige grondwet wat sê dat die regering sekere dinge móét doen. Die probleem hiermee is egter tweeledig: Die feit dat die grondwet ʼn reg waarborg het nie die gevolg dat daardie ding net magies verwesenlik nie – jou reg tot gesondheidsorg het byvoorbeeld nog nie spontaan ʼn dokter voor jou laat verskyn nie. Tweedens, deur die staat te verplig om sekere dinge te doen bemagtig jy hulle ook om verskeie stappe te doen om daardie reg teweeg te bring. Daarom as daar enigsins wetgewing is wat verhoed dat die staat, byvoorbeeld, die nasionale gesondheidsversekering wil instel, dan is hierdie wetgewing ondergeskik aan die verpligting van die staat om gesondheidsorg aan die mense te waarborg. Die gevolg is dat die staat weens hierdie regte nog meer mag oor burgers het as voorheen. ʼn Uitdrukking wat dikwels aan Thomas Jefferson toegeskryf word, en wat besonders belangrik is as ons praat van onteiening of nasionalisering, lui soos volg: “A government big enough to give you everything you want is a government big enough to take away everything that you have.

Wat is die effek dus? Aan die een kant gee so ʼn reg eintlik vir die burgers absoluut niks nie en aan die ander kant gee dit aan die staat addisionele mag om die regte van private maatskappye en individue ter syde te stel ter wille van die voltooiing van hierdie “verpligting”. As die regering deur die grondwet die mag gegee word om feitlik enige reg te beperk ter wille van ander wat hul belangriker ag op ʼn tyd, wat bereik die grondwet dan? Verder, is dit enigsins moontlik om ʼn vryemarkekonomie daar te stel wanneer die grootste gesag van die land die staat eintlik dwing om in te meng?

Ons hoef nie net filosofies oor hierdie beginsels te stry nie. Die praktiese uitwerking daarvan is duidelik te sien in ons land – veral wat die ekonomie tans betref. Daar is verskeie teenwigte en remme wat betref wangedrag in die regering en daarom sien ons ook verskeie uitsprake teen die staat. Ideologies is daar egter feitlik niks wat ons beskerm teen verlinkse sosialistiese of selfs kommunistiese beleid nie.

Gevolgtrekking

Die Suid-Afrikaanse grondwet se handves van regte (artikels 7-39) word reg deur die wêreld geprys. Jy het sekerlik al voorheen gehoor van internasionale beamptes wat ons grondwet prys. Hou egter in gedagte wie hierdie stemme is en uit watter ideologiese perspektief hulle praat. Daar is talle mense wat meen dat ons grondwet puik is, of selfs die beste ter wêreld. Sulke stellings is debatteerbaar. Wat egter seker is, is dat ons grondwet tans sonder twyfel die mees progressiewe grondwet ter wêreld is. Dit wil sê: Op ʼn politieke spektrum is ons grondwet die linksste op die planeet. Verstaan dat internasionale komplimente uit hierdie verwysingsraamwerk kom.

Ongelukkig, is daar wel sekere ideologiese beginsels wat nie net deel vorm van ons politieke leiers se gedagtes nie, maar wat kwasi-gekodifiseer is in ons grondwet. Staatsinmenging en ongelyke behandeling is dus nie net die gevolg van partye se identiteit nie, maar ook tot ʼn groot mate deel van ons regstelsel as geheel. Dit is iets wat deel vorm van ons land se DNS. Ons moet hierdie realiteite in gedagte hou wanneer ons hofuitsprake volg. Wat ons egter ook onsself aan moet herinner is dat regswerklikhede altyd ondergeskik is aan die fisieke werklikheid. Die stryd om idees is nou belangriker as ooit. Weens enorme ekonomiese en sosiale druk het talle die ANC se idees begin bevraagteken. Dit is belangrik dat ons nou argumenteer vir meer vryheid, minder staatsinmenging en verdere beperking van die regering se magte. Die regerende party besef dat die huidige trant nie kan voortgaan nie. Tog, verandering is nie genoeg nie. Dit moet goeie verandering wees, wat burgers beskerm teen ingrepe en nie staatsmag verder uitbrei nie. Die antwoord is nie net beter politieke leiers nie. Dit is leiers wat gaan toelaat dat mense oor hulself regeer.

  • Malan is ʼn navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

John ·

Nee, die regerende party besef nie dat sake nie so kan voortgaan nie, of ja, die regering wil die grondwet verander, maar nie ten goede nie. Dit is juis die probleem…

Eish ·

Die artikel sluit wonderlik aan by dié van Leopold Scholtz insake die absolute waarheid.
Weereens was ons gesus oor die buitelandse lofprysings oor die beste grondwet, en die NP se Doedoe baba liedjie oor wigte en teenwigte. Tereg moet ons, ons vergewis van wie die lofprysings kom, die liberales.

Ek wil maar volstaan met die woorde van generaal George S Paton van die Amerikaanse weermag tydens die tweede wêreldoorlog.
” Politicians are the lowest form of life on earth. Liberal Democrats are the lowest form of politicians.”
Die ANC op sy beurt, die laaste vorm van liberaal.

Frans C ·

Die beste grondwet? Die 10 gebooie is die beste grondwet ooit geskryf.

Waarsêer ·

“Waarborge klink altyd so goed…” en woorde klink altyd so waar, as dit in hierdie konteks gepubliseer word. Die regte itv die Grondwet wat genoem word, skep nie ‘n absolute waarborg nie.

Eerstens, dit gee nie die reg tot gesondheidsorg nie. Dit gee die reg tot TOEGANG tot gesondheidsorg. Net so met onderwys; dis hoekom FeesMustFall nie na die howe kan gaan om die regering aanspreeklik te hou nie.

Tweedens, dit is nie so maklik om die staat te dwing om alles vir jou te doen nie. Die howe besluit of dit redelikerwys moontlik is. Die Soobramoney-saak het hier die presedent geskep: indien dit nie vir die staat redelikerwys moontlik is nie, hoef hulle nie aan dit te voldoen nie. Die howe voer ‘n objektiewe toets uit om vas te stel of dit moontlik is.

Derdens, wat die ekonomie betref: indien SA se ekonomie volkome ‘n vryemarkstelsel was, sou geen SA-produsente ‘n bestaan kon maak nie. SA-produsente produseer op ‘n klein skaal vergeleke met die buiteland. Buitelandse produsente produseer dus baie goedkoper en gevolglik, sonder tariewe, sal verbruikees liewer hulle produkte koop.

SA het ‘n uitstekende Grondwet wat gelykheid oor die langtermyn tot gevolg sal hê. Indien die regering die Grondwet nie korrek interpreteer nie, is dit hul fout, nie die Grondwet sn nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.