Seks – Bloot ʼn kwessie van vraag en aanbod?

Foto pixabay.com

Foto pixabay.com

Deur ds. Schalk Strauss

Hierdie rubriek het oorspronklik op die APK se webwerf verskyn en word met die APK se vergunning op Maroela Media gepubliseer.

“Online dating” is ʼn bedryf wat oor die afgelope klompie jare uit sy nate bars. Volgens die webblad Dating Sites Reviews, het die aantal jongmense, tussen die ouderdom van 18 en 24 jaar, wat in die VSA van “online dating” gebruik maak, sedert 2013 meer as verdriedubbel. Selfs in Suid-Afrika raak dit ʼn al hoe groter verskynsel. “Soekhoekies” verskyn in elke koerant en tydskrif, met versoeke dat selfs kerke ʼn hoekie vir eensames moet begin. Dit beklemtoon die feit dat mense nie meer so ʼn hoë premie op duursame verhoudings plaas nie. Dat kerklidmate ook begin vra vir ʼn “hoekie vir eensames”, onderstreep hierdie feit nog verder, aangesien gelowiges dit toenemend moeilik vind om sielsgenote te vind wat bereid is om ʼn lewenslange verbintenis te sluit. Gelowige ouers raak by die dag meer bekommerd. “Waar gaan ons goeie, gelowige mans en vrouens vir ons kinders kry?” is ʼn vraag wat menige ouerhart in beklemming het.

In ʼn onlangse video-greep het die Austin Instituut in Amerika probeer om die stand van sake te ontleed. Hoewel hulle met ʼn baie akademiese aanslag te werk gaan, wat een invalshoek belig, gee hulle ʼn baie goeie ontleding van die werklikheid. Hulle wys daarop dat die huwelikspersentasie in die VSA op sy laagste ooit is, terwyl die inkomste wat deur “online dating”-agentskappe gegenereer word, die hoogte ingeskiet het. Die invloed van seks op die duursaamheid van verhoudings kan nie geïgnoreer word nie. Volgens die Austin Instituut kan seks in ekonomiese terme ten diepste as ʼn ruiltransaksie beskryf word. Die vraag is egter: Wie het die hef in die hand? Wie is die prysbepalers vir hierdie transaksie wat moet plaasvind?

Hoewel dit so is dat mans geneig is om ʼn baie hoër seksdrang as vroue te hê (die behoefte, wat aanleiding gee tot vraag, is dus hoog), reken die Austin Instituut vrouens behoort baie meer beheer oor die “prys” van seks te hê as mans, aangesien hulle beheer het oor die beskikbaarheid daarvan of nie. Hoe groter die vraag is, hoe hoër behoort die prys van ʼn produk tog te styg – dit is immers hoe dit in die ekonomie werk. Tog het die prys van seks drasties gedaal, aangesien vroue met mekaar begin meeding om die aandag van mans, terwyl die gebruik van die “pil” ʼn verdere bydraende faktor is. In die proses is vrouens bereid om die produk teen ʼn prys so laag as ʼn drankie en ʼn paar vleiende woorde aan te bied.

ʼn Noodwendige gevolg van ʼn produk wat goedkoper word, is dat die gehalte daarvan ook dikwels afneem. Weggooibare produkte begin dan oorneem. Uiteindelik is dit ook wat gebeur wanneer die premie op seks so geweldig verlaag word. Duursame verhoudings verswak weens waardevermindering van een van die komponente daarvan. Uiteindelik word vroue gesien as weggooibare gebruiksartikels, wat na een keer se gebruik oorbodig is. Die gevolg is dus dat die lae premie wat op seks geplaas word, uiteindelik ʼn lae premie op verhoudings tot gevolg het.

Die Austin Instituut probeer om ʼn oplossing vir die probleem te gee, deur voor te stel vroue moet meer beheer oorneem en sodoende die ekonomiese waarde van seks verhoog. Die normale beginsel van vraag en aanbod, waardeur die ekonomie beheer word, moet nie op die markplein van verhoudings geïgnoreer word nie. Die aanvraag is groot en daarom behoort vroue die aanbod te verklein sodat die prys en die waarde van die produk kan styg.

Hoewel hierdie bevindinge vanuit ʼn ekonomiese oogpunt sin maak, is dit ʼn vraag of dit nie dalk moontlik is om vanuit ʼn geloofsperspektief tog ʼn bydrae te maak tot hierdie “ekonomiese stelsel” nie. Terwyl ʼn produk se prys beïnvloed word deur die vraag daarna en die aanbod daarvan, is daar ook ʼn ander faktor wat ʼn effek op die prys van die produk het en dit is die gehalte daarvan. Die pryse van produkte word dikwels opgestoot deur die vraag na gehalte, ten spyte daarvan dat die aanbod groot is. Sekere kettingwinkels slaag dus baie goed daarin om dieselfde produkte as ander kettingwinkels teen ʼn baie hoër prys te verkoop, omdat hulle ʼn beter gehalte produk kan bied.

Toegepas op verhoudings en seks, kan ons dus sê hoewel vroue die prys daarvan in ʼn mate beheer deur die aanbod van die produk, kan die man uiteindelik ʼn baie groter rol speel in die prys, sowel as die waarde en duursaamheid van die produk. Indien mans weer hul rol as hoof binne die samelewing begin vervul, sal hulle ook beheer oor verhoudings begin terugneem en die premie op seks sal aansienlik verhoog. Wanneer mans nie gedryf word deur die behoefte na ʼn produk nie, maar ʼn behoefte na gehalte soos deur Bybelse beginsels gedefinieer, sal die aanbod van die produk weinig invloed op die prys daarvan hê, aangesien hulle by tien winkels verby sal loop om eerder by die spogwinkel te gaan koop. Die prys van die produk sal so hoog raak, dat slegs ʼn belofte voor God en ʼn troupand daarvoor sal kan betaal. Wanneer dit gebeur, sal ons nie nodig hê om “soekhoekies” vir gelowiges te begin nie, want hulle sal ʼn gesogte produk wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

SkarrelKind ·

Ek verstaan dat seks in ons hedendaagse samelewing in die algemeen iets goedkoops geword het. Maar ek stem nie saam dat ‘n “soekhoekie” in die kerk so vreeslik verkeerd is nie. Daar is baie eensame mense daar buite wat net iemand soek om mee te gaan eet of fliek en hulle dink nie noodwendig aans goedkoop of los seks nie.

C*S ·

Toevallig is ek besig om die afgelope tyd bietjie studie te doen oor die onderwerp – uit ‘n Bybelse perspektief en wat God se opinie daaroor is.
Die samelewing en media het seks goedkoop, algemeen en sosiaal aanvaarbaar gemaak.
En ons kinders (en groot mense) word nie genoeg toegerus oor die korrekte kennis en waarhede waarom voorhuwelikse seks nie deur God goedgekeur word nie. Mense het ‘n negatiewe opvatting van wat God vir ons wil he. Mense dink dat God hulle die plesier van seks wil ontneem, maar weet nie dat God ons eintlik wil seen as ons dit binne die huwelik doen nie.
Hulle moet ingelig word van die gevolge: liggaam, siel en gees.
Ek dink die meeste ouers weet self nie eers wat om hulle kinders te vertel nie, want hulle ouers het dalk nie eers geweet wat om hulle te vertel nie.
Ek voel baie sterk hieroor en gaan dit my misie maak om tieniers te beraad in die aspek.
NS: “Wie wil tog nou iemand anders se paar vrot skoene eendag dra, as hulle ‘n paar splinternuwe blink skoene kan kry”.

Bobby ·

Jou laaste opmerking is onvanpas!! Met dit bedoel jy dalk dat indien ‘n vrou rondgeslaap het voor die huwelik, sy as “ou skoenne” beskou moet word??? Indien my onskuldige seuntjie dan met haar trou – was sy dan reeds deur ‘n ander man “Gebruik” Sy is dan volgens jou VROT?? Ou skoene is mos op-gebruik en vrot?? Nou vra ek – Wat as die Here so persoon vergewe het?? Indien sy vergifnis gekry het, gaan jy vanuit jou bybelse oogpunt dalk die eerste klip gooi??? In die tweede plek – my onskuldige seuntjie was toe nie so onskuldig as wat ons gedink het nie.

Dawie ·

Ek moes die artikel twee keer deur lees om agter die kap van die byl te kom. Die outeur se mening is dat “soekhoekies” plekke is waar mense los, goedkoop en kortstondige verhoudings soek. Aangesien dit sy mening is, is die res van die artikel verdag.

Piet ·

Dawie – wat maak die res van die artikel verdag? Dit is ‘n algemene feit dat die oorgrote meerderheid van deelnemers aan “vindmekaar oplossigs”, of dit nou soekhoekies, online dating of wat ookal is – daar is om te kyk of hulle maklike “NSA” (no strings attached, as jy wonder) seks kan kry. Diegene wat dit anders sien, is naief, en is by verre die minderheid van hierdie groep. Daar is regtig beter maniere om te netwerk en mense te ontmoet as jy in ernstige verhoudings belangstel.

Rene ·

Ek dink die skrywer mis iets kardinaal van hoekom mense na soekhoekies gaan. Ek het my man op ‘n “online dating” webblad ontmoet. Ek het al my vriende se vriende en families geken, en in my kerk was daar nie iemand wat ‘n opsie kon wees nie.

Ek is van mening dat dieselfde reels wat geld aanlyn, geld elders ook. As jy in elk geval jouself goedkoop weggee, sal jy dit ook aanlyn doen. Jy gaan nie skielik in ‘n losbol verander omdat jy nou ‘n aanlyn afspraak gemaak het nie. Jou optrede sal dieselfde bly. En omdat ek ‘n kwaliteit lewensmaat gesoek het, en opgetree het soos ‘n kwaliteit lewensmaat is dit presies wat ek gekry het.

Ek dink die vraag moet eerder wees: hoekom is seks vir mense so goedkoop? Nie hoekom is seks aanlyn so goedkoop nie.

Heleen ·

Dis vandag baie moeilik om iemand (ordentelik) te ontmoet. Nie net vir jong mense nie maar veral ook vir ouer alleenlopendes. Ek kan nie iets daarmee verkeerd sien dat die kerk eensame mense help bymekaar bring nie. In vandag se besige lewe, lewe mense bymekaar verby en is dit soms ook moeilik om selfs vriende van dieselfde geslag te maak. Daar is soveel eensame mense, as hulle net ‘n betroubare platform kan kry waar hulle veilig met ander kan kennis maak sal dit goed wees.

Bruno ·

Stem saam met Dawie. Die skrywer sit die pot heeltemal mis. Tye het so verander dat mens nie meer by plekke uitkom om ander mense te kan ontmoet nie. Die internet het dit moontlik gemaak om met baie meer mense in aanraking te kan kom as net die wat aan jou kerk behoort, saam met jou werk of in jou buurt woon. Daar is baie mense wat, so in hulle enigheid, wonder of daar nie dalk ‘n ander, beter lewensmaat daar buite was wat hulle dalk net nooit raakgeloop het nie… Nou kan jy wyer soek.

Frans C ·

Die uitgangspunt van die artikel is mi totaal verkeerd. Verhoudings kan nooit op ‘n seksbasis gebou word nie.Seks behoort die uiteinde te wees van ‘n verhouding wat op goeie basiese gesonde beginsels gebou is waarvan vertroue ,tesame met ‘n lewenslange vriendskap ,en respek waarin die ander se belange hoër as syne aanslaan een van die belangrikste boustene is.’n Gesonde ,fikse lewenswyse dra daartoe by.

As jy iemand nie vertrou nie ,is dit omdat jy jouself nie vertrou om eerbaar in moeilike en soms uitlokkende situasies op te tree. Die Bybel bly dus ‘n belangrike norm waarvolgens ‘n mens jou lewe ook in die opsig moet inrig.

Louise ·

Ongelukkig bly ons in n wereld waar sulke webtuistes geskep is om party mense regtig te help, maar heeltemal misbruik word.
Maar die word WAARDES beteken tog so baie, mense wat bloot hierdie plekke besoek met die regte beginsels en waardes, is reg… Maar glad nie te se jy gaan in met die regte waardes dat jy dieselfde gaan ontvang nie. Ongelukkig gebruik vir VERDAGTE gedagtes en so ook n BAR. Dis so moeilik om op die regte tyd en plek iemand met beginsels en waardes te ontmoet… Mens moet regtig nie jouself kortknip of van waardes of beginsels laat verander bloot omdat daar so dinge in die lewe is wat daartoe aandag gee.

N*C ·

Hoewel die aanname dat ‘soekhoekies’, in alle vorme, ‘n aanduiding is daarvan dat mense “…nie meer so ‘n hoë premie op duursame verhoudings plaas nie” dalk nie in alle gevalle redelik (of regverdig) is nie, is hierdie aanname vir my deel van die agtergrond van hierdie artikel. ‘n Mens kan egter uit die vorige kommentaar sien dat mense dit werklik moeilik vind om betekenisvolle (liefdes)verhoudings te bou, ongeag of dit in die ‘regte lewe’ of in ‘n virtuele ruimte is.

Vir my val die fokus van die artikel eintlik nie op hoe (of hoekom) mense mekaar ontmoet nie, maar, aan die een kant op die dinamiek van seks en verhoudings in die breër samelewing en aan die ander kant, op die aard van seks en verhoudings binne ‘n Christelike verwysingsraamwerk. Die feit dat die Here seks binne ‘n huwelik (en daarmee saam die huwelik) wil seën – soos wat C*S opgemerk het, hou direk verband met die hoër ‘…waarde en duursaamheid van die produk…’ soos waarna die skrywer van die artikel verwys. Dit is egter so dat diegene wat hierdie waarde herken en waardeer al hoe minder word in ‘n gebroke wêreld waar ons die hele tyd met ‘n skewe beeld van seks gebombardeer word. Die produk is reeds gesog, maar (ek dink), soos die geval soos baie ander gesogte produkte, moeilik verkrygbaar.

Leeukop ·

Die akademiese manier van om iets te bestuurder is die enigste manier om antwoorde met substansie te kry. Verder, baie kerke doen nie n goeie job om enkellopende mense te skakel nie. Na die diens hol almal reguit huistoe en gaan drink nie meer Koffie nie, veral nie die enkeles nie.

Henry ·

Ek dink die skrywer moet aanvaar dat mense se opvattinge en gebruike verander, soos die tyd aanstap. Troues word dikwels kort en privaat geleenthede wat sommer buite die kerkgebou plaasvind.

Diskrete ontmoetings (amper sê ek skelm!!!), tussen paartjies tydens nagmaal naweke wanneer Jannie en Sannie en hul onderskeie ouers met ossewaens dorp toe ry, minnaars wat te perd by die opstal opdaag asook lank of kort opsitkerse, is laaankal geskiedenis.

Danksy die internet en ‘n magdom ander ontwikkelinge oor die afgelope 100 jaar, word ons planeet by die dag en by die uur kleiner en kleiner en word die moontlikhede en verskeidenheid om ‘n geskikte lewensmaat te vind, alhoe meer.

‘Adapt or die’ – soos die Souties sê – is ons voorland.
Is maar hoe dit is…

N*C ·

Die skrywer maak die aanname dat ‘soekhoekies’ die feit beklemtoon dat mense “…nie… ‘n hoë premie op duursame verhoudings plaas nie…”. Dis dalk nie billik is nie, maar ek dink dis agtergrond vir die artikel.
Vir my gaan die artikel eintlik oor die aard van seks en verhoudings in die samelewing en uiteindelik oor die plek wat gelowiges binne hierdie samelewing inneem (of nie inneem nie). Die kommentaar deur C*S wat sê dat ons dalk God se plan met seks misverstaan as iets wat ons ontneem word en dat Hy seks binne die huwelik (en die huwelik self) eerder wil seën, hou verband met die gehalte van die sg. ‘produk’ wat ‘n gelowige ‘bied’, soos die skrywer van die artikel daarna verwys. Dit wil sê dat die kwaliteit (dus waarde) van ‘n verhouding en uiteindelik seks (in die geval van ‘n liefdesverhouding), volgens gelowiges verhoog as die Here in alle fasette daarvan teenwoordig is. Ek weet egter nie of mense in die gebroke wêreld die waarde van hierdie kwaliteit produk raaksien te midde van die skeefgetrekte beeld waarmee ons daagliks gebombardeer word nie. Vir die wat wel die kwaliteit raaksien, is dit reeds ‘n gesogte produk. Soos die meeste gesogte produkte is dit egter nie maklik verkrygbaar nie en bly dit ‘n probleem om ‘n pot en ‘n deksel wat bymekaar pas, op te spoor.

Johann Marx ·

My pa het op ‘n keer saam met oom Hannes Graaff langs ‘n straat gestaan en gesels toe ‘n wewenaar en ‘n geskeide vrou saam verby “draf”. Oom Hannes het net so gekyk en sy kop geskud en gesê..”Ai…..lus en verleë..” I rest my case….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.