Selfbeskikking dertig jaar later

Die ANC en IVP was sedert 1994 groot politieke teenstanders in KwaZulu-Natal. In die komende nasionale en provinsiale verkiesing gaan die twee partye weer teen mekaar te staan kom in die stryd om beheer van die provinsie. (Foto: Mike PERSSON / AFP)

Ek ontvang onlangs ʼn artikel oor die Ingonyama Trust, wat tradisionele Zoeloe-grond in KwaZulu-Natal (KZN) beheer, se gebreke. Dit is kwalik ʼn nuwe onderwerp, maar werp tog ʼn besonderse lig op Suid-Afrika se laaste 30 jaar – en langer, veral as ʼn mens die gepaardgaande kaart bekyk.

Die kaart toon ʼn lappieskombers van tradisionele gebiede wat voorheen die selfregerende tuisland van KwaZulu uitgemaak het en ʼn mens verbaas jou nie dat hierdie soort “staatsvorming” nie die wêreld oortuig het nie.

Kaart uit Ingonyama Trust se jaarverslag van 2015/2016. Die gebied beslaan sowat 2,8M hektaar. (Foto: Verskaf)

Sedert 1994 is dit as ʼn minder prominente deel van die Suid-Afrikaanse skikking deur middel van die Ingonyama Trust onder die Zoeloe-koning se beheer geplaas. Dit beslaan ʼn groot deel van KZN se grondgebied en huisves ʼn wesenlike deel van sy bevolking. Die Trustgebied se invloed strek ook verder as sy grense aangesien ʼn groot deel van die provinsie se stedelike bevolking en algemene werksmag daarvandaan kom, en omdat hulle ingevolge die ou tradisie van trekarbeid na die myne, sowel ekonomies as polities ʼn sterk teenwoordigheid in Gauteng het.

Wat ons hier sien, is ʼn ou werklikheid soos ingeklee sedert 1994. Die volgehoue kritiek daarop getuig van die sentraliserende tendense eie aan die moderne territoriale staat wat die “nuwe” Suid-Afrika geword het, in teenstelling met nou wel naïewe pogings om die “ou” Suid-Afrika met behulp van etniese tuislande te federaliseer. Dat nóg die “ou” Suid-Afrika, nóg die administrasie van die ou KwaZulu of die nuwe Ingonyama Trust bo kritiek verhewe is, kan algemeen aanvaar word; wat terugskouend egter opval, is dat hierdie beskikking op tradisionele wyse van Zoeloes oor Zoeloe-gebied getuig van ʼn opvallende sin vir die veelvolkigheid wat Suid-Afrika nog altyd gekenmerk het. Dit is meer as wat vandag gesê kan word.

Duisende Zoeloes wat op 20 April 1994 na Ulundi marsjeer het ná die Inkatha Vryheidsparty se besluit om aan die 27 April 1994-verkiesing deel te neem nadat ‘n ooreenkoms met die ANC bereik is. (Foto: PHILIP LITTLETON / AFP)

Die aanloop tot die 1994-verkiesings (en die afloop tot ʼn groot mate ook), is deur drie kwessies oorheers. Die eerste was eenvoudig ʼn ordelike oorgang van die destydse minderheidsregering na ʼn verkose meerderheidsregering. Dit is as die hoofsaak aangebied en deur baie as die hoofsaak beskou, maar dit was minder ingewikkeld as wat verwag is aangesien die onderhandeling naastenby soos ʼn transaksie tussen ʼn gewillige koper en ʼn gewillige verkoper verloop het.

Dit terwyl die apartheidsregering vir dekades lank as onversetlike vyand van alles wat redelik is, voorgehou is, ʼn regime wat eerder sal veg tot die einde as om te onderhandel. (Dink: Israel wat môre aan die Gaza-strook wil onttrek en dit aan die Palestyne wil oorhandig. Onmoontlik? Dit is wat die wêreld van ons ook gesê het.)

Die tweede kwessie was die burgeroorlog in KZN waar die IVP onder Mangosuthu Buthelezi, wat jare lank as die kroonprins van gematigde swart politiek beskou is en oor die magsmiddele van die tuisland beskik het, nie van plan was om sonder slag of stoot die ANC se dominansie te aanvaar nie.

Die ANC het die IVP op sy beurt as ʼn antirevolusionêre en vyandige mag beskou en was vasberade om sy mag te breek. Dit is ʼn geskiedenis op sy eie, bloedig en onverstaanbaar vir buitestaanders, wat onder andere op erkenning van die Zoeloe-koning en sy beheer oor die tradisionele grondgebied uitgeloop het. Voorts was daar ʼn belofte van internasionale bemiddeling oor uitstaande sake, veral rakende federale bevoegdhede vir KZN, en ʼn verkiesingsoorwinning vir die IVP in die provinsie, waarvan die indruk bestaan het dat dit ʼn uitslag by ooreenkoms was.

Voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, Henry Kissinger (R), op 12 April 1994 saam met die Britse minister van buitelandse sake, Lord Carrington (L) en IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi. Kissinger en ‘n afvaardiging van ses ander internasionale figure het destyds tussen die IVP en ANC bemiddel oor geskille wat gedreig het om die land se 1994-verkiesing te ontwrig. (Foto: Walter DHLADHLA / AFP)

Die derde kwessie was regse Afrikaners wat onder leiding van uitgetrede militêre bevelvoerders en in aansluiting by Buthelezi en ander tuislandleiers wat onwillig was om ANC-oorheersing te aanvaar, gemobiliseer het om die oorgang te ontwrig. Dat hulle daartoe in staat sou wees, het niemand betwyfel nie en gevolglik is hulle aansprake op selfbeskikking in ʼn volkstaat ter tafel geneem. Hulle is uitgenooi, om nie te sê uitgedaag nie, om ʼn werkbare plan – dus sonder apartheidsmaatreëls of gedwonge verskuiwing – aan te bied, maar kon nie met ʼn volhoubare gebied vir onmiddellike implementering of genoegsame steun vir ʼn aanvaarbare proses vorendag kom nie.

Selfs die Akkoord wat op die laaste nog onderteken is en die Volkstaatraad wat by ooreenkoms ingestel is, kon nie ʼn bevredigende oplossing voorstel nie, maar dit het darem op grondwetlike voorsiening vir die beginsel van selfbeskikking uitgeloop.

Dertig jaar gelede is die drie kwessies met goeie voetwerk bygelê en die Suid-Afrikaanse mirakel kon voltrek word, maar sonder enige ander bedoeling van die ANC se kant as om hulle mag te sentraliseer en te versterk. Die volgende dertig jaar hoef nie in besonderhede ontleed te word om te sien waarop dit uitgeloop het nie. Beheptheid met ideologie, onvermoë, wanbestuur, korrupsie en staatskaping het die Suid-Afrika van 1994, wat reeds tekens van verrinnewering getoon het, ten gronde gerig en die tegemoetkomings wat die skikking destyds moontlik gemaak het, is deur die ANC se transformasionisme in die skadu gestel.

Wat as ʼn ordelike oorgang gevier is, het niks meer as ordelike vernietiging geword nie. Die Zoeloe-politiek en monargie is vir buitestaanders so onverstaanbaar as ooit, die opkoms van die MK-party getuig daarvan, en Afrikaners het hulle skynbaar met die keuse tussen burgerlike mobilisering in die Noorde en Wes-Kaapse selfstandigheid tevrede gestel.

(Foto: Verskaf)

Opvallend dat die fakkel van selfbeskikking tans onder die vaandel van liberale demokrasie deur die Wes-Kaapse onafhanklikheidsbeweging gedra word, eerder as onder die vaandel van etnisiteit en deur behoudende Afrikaners.

In soverre selfbeskikking ʼn moderne politieke denkbeeld is wat in samehang met demokrasie en menseregte verstaan moet word, maak dit sin en is die Wes-Kaap ʼn goeie aanspraakmaker daarop.

Dit is ʼn omlynde gebied, die meerderheid van die bevolking ondersteun dit waarskynlik en daar heers nie net goeie openbare orde en administrasie nie, die huidige provinsie beskik ook oor ʼn eie grondwet en genoeg hulpbronne om na homself om te sien. Die enigste vlieg in die salf is migrasie vanaf die Oos-Kaap wat skynbaar ten minste deels as ʼn politieke besettingstrategie beskou kan word en wat die beskikbare tyd vir Kaapse afskeiding min maak.

Maar waar laat dit Afrikaners in werklikheid vandag? Soos enige mense is ons mense onwillig om groot veranderings te maak as dit nie nodig is nie. Ons mense pas aan en maak planne totdat ons nie meer planne kan maak nie, en dan trek ons Kaap toe of emigreer. Vir individue en gesinne kan dit dalk werk, maar vir die Afrikanervolk is dit die dood in die pot. En wat gaan verlore as ons nie meer as ʼn nasionale kultuurgemeenskap of volk sou bestaan nie?

(Foto: MK-party/X)

Dertig jaar gelede het die meeste van ons nie gedink dit sal gebeur nie, vyf en twintig jaar gelede het die meeste van ons nie gedink dit maak soveel saak nie, twintig jaar gelede was die ekonomiese oplewing sterk genoeg om eenheid die moeite werd te maak, vyftien jaar gelede het ons ʼn tweede gedagte begin kry, tien jaar gelede het ons gedink Suid-Afrika het mal geword, vyf jaar gelede het ons besef ons sal na onsself moet omsien, en vandag is dit duidelik dat ʼn nuwe federale orde nodig is.

Die probleem is dat sekere goed nie weggaan nie, byvoorbeeld armoede en werkloosheid, maar ook etnisiteit en tradisie. Suid-Afrika as eenheidstaat is gedoem tot voortdurende spanning en konflik, en hoewel dit moontlik lyk dat die ANC in die verkiesings vanjaar onder die 50%-drumpel kan daal, verteenwoordig die ANC plus die EFF plus die MK-party steeds meer as 60% van die kiesers en hang hulle al drie sosialistiese sentralisme aan.

En verder: Afrikaners se invloed op die orde wat Suid-Afrika nodig het en die vorm wat Suid-Afrika gaan aanneem, is weglaatbaar klein, al is ons invloed op die sake van die dag en van plaaslike aard soms groter as wat ʼn mens verwag. Dit is die gevolg van ons klein getalle en gebrek aan konsentrasie in ʼn eie gebied, al is ons kundigheid en hulpvaardigheid op die korte duur dalk nuttig.

(Foto: Facebook/ Die Orania Beweging)

Wat ons nodig het, is in een opsig ʼn nuwe begin, wat in ʼn ander opsig die voortsetting van ons eeue-oue tradisie van selfstandigheid is. Suid-Afrika gaan nie ʼn federasie word omdat ons dit wil hê nie, maar Suid-Afrika is toenemend besig om sy middelpuntsoekende kragte te verloor. Namate sy dele uitmekaardryf, beginnende by KZN en die Wes-Kaap, en namate die sentrale regering se invloed tot enkele hoofsentra inkrimp, word die geleenthede groter vir ʼn nuwe gemeenskap om te vestig en te groei, om selfstandig op te tree en sake volgens die kultuur en oortuigings van sy burgers in te rig.

Orania is so ʼn gemeenskap en so ʼn nuwe begin. Waar Suid-Afrika se staatkundige trajek die afgelope dertig jaar afwaarts was, was Orania s’n opwaarts, en al is dit nog hoe klein, dit wys op ʼn alternatief wat sowel nodig as moontlik is. Omdat dit nog so klein is, bied dit vir tallose mense nog geen praktiese heenkome nie, maar namate dit groei – en dit groei al vir langer as tien jaar teen twaalf tot vyftien persent per jaar – sal die geleenthede wat Orania bied, ook meer word.

Tans is die grootste struikelblok vir baie mense dat hervestiging te duur is, en die vestiging van nuwe infrastruktuur ís geweldig duur, maar met die nodige aanpassings en planmatige optrede is dit moontlik om dié nuwe toekoms tegemoet te gaan. En hoewel almal wat wil nie kan hervestig nie, kan almal wat wil deel van ʼn samehangende strategie uitmaak.

Carel Boshoff (Foto: Verskaf/Akademia)

As ʼn mens terugkyk op die era wat in 1994 ingelei is, was dertig jaar aan die een kant nie so lank nie, maar aan die ander kant lank genoeg dat dinge in dié tyd ingrypend verander het.

Met die volgende dertig jaar sal dit nie anders wees nie en as ʼn mens nie net na die daaglikse katastrofes op politieke gebied kyk nie, maar na die onderliggende kragte en strukture wat ons samelewing bepaal, gaan Afrikaners minder, maar sterker word, terwyl Suid-Afrika kleiner en Orania groter word. Hoe gouer ʼn mens jou daarop instel en op watter manier ook al daaraan deelneem, hoe meer kan jy die toekoms hoopvol tegemoetgaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Volgens geskiedenisboeke was pres Kruger besorg dat die Boere-republieke nie aan die kus grens nie en het hard gewerk vir ‘n vaste band via Mosambiek of Noord-Natal. Brittanje was daarvan bewus en dit heftig teengestaan. Orania móét weswaarts uitbou. Om die bestaande massa anderskleuriges in die Kaap te ignoreer so asof hul maar te graag in ‘n onafhanklike gebied onder bekwame leiding wil floreer is ‘n ligte mistakie. Die ANC weet dit ook.

Christo ·

Ons is nou net twee miljoen. Nie lank gelede nie was ons drie miljoen. Ons maak planne, woel en werk. Veral Solidariteit en Kie behaal groot suksesse. Hulle doen dinge reg! As ons só aangaan is ons oor dertig jaar net een miljoen. Doen ons die regte dinge, of herrangskik ons net die spreekwoordelike dekstoele op die Titanic rond. Ons het radikaal nuwe planne nodig! Dringend!

Werner ·

Christo, jy is reg. Ons kort iets om die afname in Afrikaners teë te werk. Alhoewel die getalle baie klein is, is Orania ‘n voorbeeld van die teenoorgestelde van die afname wat elders geld. Die toename van Afrikaners (weereens, ja, met klein getalle) in Orania is ongekend. Vanauit ‘n statistiese oogpunt is die oplossing dan vanselfsprekend: Konsentreer jou energie daar waar reeds ‘n toename is. Groei van 15% per jaar vir 3 000 inwoners is dalk nie so baie nie, maar dieselfde groei vir 30 000 is goed, en vir 300 000 is fantasties. Ek sien potensiaal, geen Titanic nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nugter en realistiese denke. Veel beter as die emosiebelaaide bly en bou brigade wat sê dit sal dan goed gaan met Afrikaners in SA. Dis ‘n gerieflike uitweg. Afrikaners benodig nuwe staatkundige opsies. Daar sal nie ‘n maklike en sagte roete wees nie. ‘n Onafhanklike Wes-Kaap is net een opsie. Migrante uit die OK is wel problematies, maar sodra hulle hul SA burgerskap moet opgee sal hulle eerder padgee as om SA voordele prys te gee. Ons kan lesse leer by die Joodse setlaars wat hulself sedert die mid-1880s in die nuwe Israel gevestig het. Dit sluit Kubitz hervestiging in. Hierdie keer het ons wel kundigheid, vaardighede en kapitaal om planne vinnig in plek te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.