Selfbeskikking van klein state: Luxemburg

(Foto: DOMINIQUE FAGET/AFP)

Luxemburg is een van die kleinste lande in Europa, maar tel nie as mikrostaat op die vlak van Liechtenstein (wat in die vorige artikel bespreek is), San Marino, Monaco of Andorra nie.

Die land is 2 586 vierkante kilometer groot en het sowat 600 000 inwoners, slegs een middelslag-stad, (die hoofstad Luxemburg) en kan dus as kleinstaat beskryf word. Nes Liechtenstein is Luxemburg deur groter buurlande omring, het geen toegang tot die see nie en is ʼn monargie. Ekonomies is dit baie welvarend, polities stabiel en vreedsaam. Luxemburg se geskiedenis is bepaal deur sy magtige buurlande, naamlik Duitsland en Frankryk (asook België en Nederland), en daarom is die klein land ook drietalig (Frans, Duits en Letzeburgisch − oorspronklik ʼn Duitse dialek wat tot Luxemburg se omgangstaal verhef is).

Geskiedenis

Die oorsprong van die naam Luxemburg kom van Lucilinburhuc, wat na ʼn “klein kasteel” verwys, wat aan die einde van die negende eeu by die huidige hoofstad Luxemburg opgerig is om die gebied, wat deel was van die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie en wat aan die ryksvors Siegfried behoort het, te beveilig. Die gebied is meermaal uitgebrei en ʼn nakomeling van Siegfried het die adelstamnaam Luxemburg aangeneem.

Die eertydse “klein kasteel” is tot ʼn formidabele vesting uitgebou en die grondgebied van Luxemburg is ook gedurig vergroot. Soos dit tydens die Middeleeue die praktyk was, het die grondgebied se grootte gedurig verander as gevolg van huwelike en oorloë, met die grootste uitbreiding in 1364. Die vorstedom was op die Frans-Duitse taalgrens geleë, wat die land se toekoms sou bepaal. Dit was polities wel deel van die Heilige Romeinse Ryk en verskeie vorste van Luxemburg was selfs Duitse keisers gewees. In latere eeue het Luxemburg wel vir ʼn ruk deel van Frankryk geword, onder Louis XIV in die laat 17de eeu, weer na die Franse Revolusie (1789) en onder Napoleon.

Net soos vir Liechtenstein, was die Weense Kongres (1815) − wat Europa na die oorwinning oor Napoleon herorden het − ook vir Luxemburg bepalend om die land as politieke eenheid te herstel. Die land het sy outonomie herwin, met die Nederlandse vors Willem van Oranje-Nassau as heerser, maar dele van sy oorspronklike grondgebied verloor. Luxemburg het ook deel van die Duitse Bond (Deutscher Bund), ʼn konfederasie van Duitse state (wat almal monargieë was), geword en het die funksie van die skans teen Frankryk in die Weste gehad (die stad Luxemburg was sterk bevestig en het ook ʼn Pruisiese garnisoen gehuisves). Weens die Nederlandse heerser is Luxemburg egter effektiewelik as Nederlandse provinsie bestuur. Met die skepping van België is omtrent die helfte van Luxemburg se grondgebied by die nuwe staat ingelyf en met die verdrag van Londen in 1839 het Luxemburg sy huidige vorm gekry. Omdat Luxemburg nou nie meer aan Nederland gegrens het nie, het die Nederlandse koning geleidelik groter selfbestuur aan die gebied en sy mense gegee.

Na die ontbinding van die Duitse Bond in 1866 het Frankryk egter sy oog op Luxemburg gehad en wou dit by die Nederlandse koningshuis koop. Pruise, wat sy garnisoen in Luxemburgstad gehad het, het ʼn stokkie daarvoor gesteek. Om ʼn oorlog oor die klein landjie te verhoed, het die groot moondhede in Londen vergader en ooreengekom dat Luxemburg se onafhanklikheid deur hulle gewaarborg sal word en dat die land neutraal moet wees. Frankryk het sy eise opgegee en Pruise het sy troepe onttrek en die fortifikasies is gesloop. Later (in 1890) is Luxemburg se staatlike selfstandigheid ook verder uitgebou deurdat die beperkende dinastiese verbond met die Nederlandse koningshuis beëindig is. Die jong koningin Wilhelmina het die troon van Nederland bestyg. Daar was dus geen manlike opvolger soos vereis nie, en daarom is Adolf van Nassau-Weilburg, uit ʼn die Oranje-Nassau-vertakking, tot groothertog van Luxemburg gekroon.

Ten spyte van die gewaarborgde onafhanklikheid en sy neutraliteit kon Luxemburg, weens sy sentrale ligging, nie uit die groot oorloë bly wat gevolg het nie. Toe die Duitse Ryk vir Frankryk tydens die Eerste Wêreldoorlog aangeval het, is Luxemburg as deurmarsgebied gebruik. Die land se burgerlike administrasie is egter onaangeraak gelaat. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Luxemburg nie net militêr beset nie, maar het die Nazi-bewind ook alles gedoen om die land en sy inwoners deel van die Duitse Ryk te maak. Die Luxemburgse vorstehuis en regering het na Londen in ballingskap gegaan. Die Duitse besetting het egter die inwoners se eie identiteit versterk. Al was die meeste etnies Duits en het ʼn soort Duitse dialek gepraat, wou hulle beslis nie Duitsers wees nie, maar Luxemburgers. Die land se leuse is ook treffend: “Mir wëlle bleiwe wat mir sinn” (ons wil bly wat ons is).

Die nasionale identiteit het eers in die laat 19de eeu ontwikkel. Die ontwikkeling van ʼn dialek, wat net gepraat is tot ʼn eie taal op alle vlakke ontwikkel is wat gelyk bestaan naas die groot tale Frans en Duits, was ook belangrik vir die eie identiteit en wys nogal parallelle met Afrikaans en sy betekenis vir die Afrikaner-identiteit.

Na die Tweede Wêreldoorlog het Luxemburg dadelik besef dat sy heil en sy behoud in groter samewerking met sy buurstate en nie meer in neutraliteit lê nie. Met België en Nederland is die Benelux-unie gesluit, wat die drie lande in ʼn doeane-unie saamgebind het en wat ook polities nou saamgewerk het. Weens die slegte ondervinding met Duitsland het Luxemburg, wat kultureel baie nou verwant aan Duitsland is, eerder na Frankryk as beskermer en kulturele bron gekyk, sonder om egter hulle eiesoortigheid op te gee. Luxemburg was ook stigterslid van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (eintlik merkwaardig vir ʼn land met geen noemenswaardige weermag nie) en ook van die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG). Luxemburg het veral via die EEG (en later Europese Gemeenskap en Europese Unie, EU) ver bo sy gewigsklas geboks en huisves met die Europese Geregshof een van die drie pilare van gesag van die EU.

Ekonomie: die uitdagings van sukses

Luxemburg is een van die rykste state ter wêreld met van die hoogste per capita-inkomste net na Monaco, Liechtenstein en enkele ander klein state. Dit was egter nie altyd so nie. Vir lank het die land gesukkel weens sy beskeie grootte, sy landelike aard en sy gebrek aan ʼn hawe en sy afhanklikheid van sy buurlande. Soos wat Wes-Europa egter in die 19de eeu industrieel ontwikkel het, het ook Luxemburg daarby gebaat. Die vervaardiging van staal, danksy steenkool- en ysterertsmyne, was die basis van welvaart reeds in die vroeë 20ste eeu, later het ook chemiese nywerhede en bandevervaardiging bygekom. Die betekenis van swaar nywerhede speel egter vandag nie meer die rol soos in die verlede nie.

Luxemburg is al vir dekades baie sterk as dienste- en bankesentrum gevestig weens sy gunstige ligging tussen ander welvarende maar veel groter state, en weens lae belasting en spesialisering op die bestuur van effektetrusts. Dit is moontlik gemaak deur die land se onafhanklikheid, wat die moontlikheid bied om deur lae belasting, goeie dienste en ʼn bekwame en doeltreffende bestuur kompeterend met die veel groter buurstate te wees. Die suksesverhaal van Luxemburg het egter ook sy uitdagings: Omdat die ekonomie so sterk is, is sowat 40% van die inwoners nie-burgers, en boonop is daar nog duisende mense wat daagliks uit buurlande inpendel om te werk, wat druk op die infrastruktuur plaas en die eiendomspryse en lewenskoste opjaag.

Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Ek sien in dié artikel dat Frankryk Luxemburg by Nederland wou koop. Frankryk het in 1768 die eiland Korsika by Oostenryk gekoop. Die VSA het weer in 1867 Alaska by Rusland gekoop. So dit kan gedoen word: ‘n staat koop grond by ‘n ander staat. Nou wonder ek maar net: kan ‘n ander land dalk die Wes-Kaap by SA koop? Amerika, Duitsland, Frankryk?

Treurwilger ·

Of, maak die Kaap weer Hollands.
Sal dít nie lekker wees nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.