Selfbeskikking wanneer dit wêreldmagte pas

Irak vlag. Foto: Pixabay

Vroeër vandeesweek het die Koerde in Irak ’n sterk boodskap aan die res van die wêreld uitgestuur. Die Koerde van Irak, asook van Sirië en Turkye, soek ’n eie onafhanklike land. In Katalonië in die noordooste van Spanje wil Katalane graag dieselfde doen, maar word deur die Spaanse regering in Madrid op ondemokratiese wyse verhoed om ’n onafhanklikheidsreferendum te hou. Skotte wil ook weer na die stembus gaan om vir onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk te stem en peilings wys dat die onafhanklikheidsbeweging in Skotland waarskynlik hierdie keer genoeg stemme sal kry.

Die strewe na onafhanklikheid deur die Koerde, Katalane en talle ander volkere word egter deur die groot moondhede van die wêreld ontmoedig. In die VSA, die bakermat van vryheid, het die politici en hoofstroommedia hulle almal teen referendums vir onafhanklikheid in Koerdistan en Katalonië uitgespreek. Dit is nou drie jaar sedert die vorige onafhanklikheidsreferendum in Skotland toe die groot moondhede van die wêreld almal die Skotte se strewe na vryheid teengewerk het.

Terwyl globalisering voortwoed, het volkere van die hedendaagse Weste tot die primitiewe Midde-Ooste en Afrika toenemend die behoefte aan beter begrensing. Die behoud van identiteit is slegs moontlik wanneer ’n volk binne ’n begrensde gebied sy eie taal, kultuur en tradisies in stand kan hou. Oor eeue heen het volkere na selfbeskikking gestreef ten einde die reg te bekom om oor hul eie sake te besluit.

Hoe sou die wêreld gelyk het indien die Verenigde State van Amerika nooit onafhanklik van Engeland geword het nie? Hoe sou die Europeërs daaroor gevoel het indien die Oekraïne vandag nog, soos voor die einde van die Eerste Wêreldoorlog, deel was van Rusland? Die skeiding van Pakistan en Indië in twee volledig outonome lande en die onlangse afstigting van Suid-Soedan is nog voorbeelde van hoe die wêreldkaart bly verander.

Die interessantste voorbeeld van afskeiding in die onlangse geskiedenis was op 17 Februarie 2008 toe Kosovo hom onafhanklik van Serwië verklaar het. Die VSA, Brittanje, Duitsland, Frankryk en die meeste Westerse lande het vinnig gespring om Kosovo as soewereine land te erken. Ook Suid-Soedan het kort ná onafhanklikheid erkenning gekry.

Amerika, ander Westerse lande en selfs Rusland en China se voor- of afkeur van volkere soos die Koerde, Katalane en natuurlik die Albaniërs van Kosovo, se reg op selfbeskikking gaan baie meer oor hul eie belange en voorkeure en het weinig te make met die meriete van hierdie volkere se saak.

Terwyl die Europese Unie toenemend onder druk verkeer met sterk opposisie uit Oos-Europa en groeiende ongelukkigheid met die burokrasie in Brussel, sien die regerende elite van Amerika en Europa nie kans vir die onsekerheid wat ’n onafhanklikheidsreferendum in Katalonië kan veroorsaak nie. In Kosovo kon Amerika en die Europeërs egter hul kamstige steun vir die reg op selfbeskikking bevestig, terwyl Serwië geen belangrike bondgenoot is nie. Terwyl die Koerde Amerika en Irak in die stryd teen die Islamitiese Staat bygestaan het, dien Amerika nou weer die belange van Turkye en die korrupte Irakse regering in Bagdad in sy opposisie teen die Koerde se onafhanklikheidstryd.

Volkere wat na selfbeskikking streef, sal moet besef dat eie belange eerder as goeie beginsels groot wêreldmoondhede se reaksie op hul vryheidstrewe sal bepaal.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

Jaco, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar al hierdie groepe wat wil afskei of dit wel reggekry het, kan nie met mekaar vergelyk word of oor dieselfde kam geskeer word nie, nog minder kan almal se oogmerke as edel hetsy dwaas verklaar word. Jy gooi ‘n groot lepel kasterolie in ons kele af. Vryheid ensovoorts is in elke voorbeeld wat jy noem, iets op hul eie. Kom ons praat bv oor Orania en sy vryheid binne konteks van die Nuwe SA. Dit is bv bloot ‘n mite. As die regering vandag vir olie wil boor tussen die monumente… Lees meer »

JC

Orania is “awesome”!
Baie dankie vir die stuk Jaco:)

Amsterdam

Ek gee nie die minste om wat anerika voel oor selfbeskikking nie, dit het niks met hulle tedoene nie. Wat wk wel weet is dat dit ons enigste oplossing is om onsself te red van die sinkende en kriminele SA.

rassie

Onder die Afrikaners wat nie emigreer, assimileer of apaties geword het nie, is daar blykbaar steeds diegene wat selfbeskikking ooreenkomstig die republikeinse ideaal nastreef. Soms wonder ek egter, so te midde van al hoe kleiner wordende Afrikaner getalle, verswakkende ekonomiese bedingingsmag van Afrikaners in die algemeen, toenemende werkloosheid en vermeerdering van hulpbehoewendes onder Afrikaners asook gebrek aan politieke bedingingsmag, of dit ooit werklik verwesentlik gaan word. Dan dink ek ook daaraan dat amper ‘n kwart eeu reeds sedert 1994 verloop het en dat daar al reeds twee geslagte Afrikaners na 1994 gebore is. Verder sien ek ook dat die maksimum… Lees meer »

Herman Goosen

Die feit van die saak is: Jy kan mense dwing om saam met mekaar in ‘n land te bly, maar jy kan hulle nooit dwing om gelukkig saam met meakkar te bly nie. Vryheid word op twee maniere bewerkstellig – Of deur geweld of deur polities korrek te wees. Die koerde sal sukkel om onafhanklikheid te kry weens die feit dat hulle bevolking in drie lande is. Dus sal hulle sterk teenstand kry want as hulle in een land wegbreek gaan daar onrus in die ander lande plaasvind wat natuurlik verhoed sal prober word. Tensy die koerde vriende maak met… Lees meer »