Selfbeskikking wanneer dit wêreldmagte pas

Irak vlag. Foto: Pixabay

Vroeër vandeesweek het die Koerde in Irak ’n sterk boodskap aan die res van die wêreld uitgestuur. Die Koerde van Irak, asook van Sirië en Turkye, soek ’n eie onafhanklike land. In Katalonië in die noordooste van Spanje wil Katalane graag dieselfde doen, maar word deur die Spaanse regering in Madrid op ondemokratiese wyse verhoed om ’n onafhanklikheidsreferendum te hou. Skotte wil ook weer na die stembus gaan om vir onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk te stem en peilings wys dat die onafhanklikheidsbeweging in Skotland waarskynlik hierdie keer genoeg stemme sal kry.

Die strewe na onafhanklikheid deur die Koerde, Katalane en talle ander volkere word egter deur die groot moondhede van die wêreld ontmoedig. In die VSA, die bakermat van vryheid, het die politici en hoofstroommedia hulle almal teen referendums vir onafhanklikheid in Koerdistan en Katalonië uitgespreek. Dit is nou drie jaar sedert die vorige onafhanklikheidsreferendum in Skotland toe die groot moondhede van die wêreld almal die Skotte se strewe na vryheid teengewerk het.

Terwyl globalisering voortwoed, het volkere van die hedendaagse Weste tot die primitiewe Midde-Ooste en Afrika toenemend die behoefte aan beter begrensing. Die behoud van identiteit is slegs moontlik wanneer ’n volk binne ’n begrensde gebied sy eie taal, kultuur en tradisies in stand kan hou. Oor eeue heen het volkere na selfbeskikking gestreef ten einde die reg te bekom om oor hul eie sake te besluit.

Hoe sou die wêreld gelyk het indien die Verenigde State van Amerika nooit onafhanklik van Engeland geword het nie? Hoe sou die Europeërs daaroor gevoel het indien die Oekraïne vandag nog, soos voor die einde van die Eerste Wêreldoorlog, deel was van Rusland? Die skeiding van Pakistan en Indië in twee volledig outonome lande en die onlangse afstigting van Suid-Soedan is nog voorbeelde van hoe die wêreldkaart bly verander.

Die interessantste voorbeeld van afskeiding in die onlangse geskiedenis was op 17 Februarie 2008 toe Kosovo hom onafhanklik van Serwië verklaar het. Die VSA, Brittanje, Duitsland, Frankryk en die meeste Westerse lande het vinnig gespring om Kosovo as soewereine land te erken. Ook Suid-Soedan het kort ná onafhanklikheid erkenning gekry.

Amerika, ander Westerse lande en selfs Rusland en China se voor- of afkeur van volkere soos die Koerde, Katalane en natuurlik die Albaniërs van Kosovo, se reg op selfbeskikking gaan baie meer oor hul eie belange en voorkeure en het weinig te make met die meriete van hierdie volkere se saak.

Terwyl die Europese Unie toenemend onder druk verkeer met sterk opposisie uit Oos-Europa en groeiende ongelukkigheid met die burokrasie in Brussel, sien die regerende elite van Amerika en Europa nie kans vir die onsekerheid wat ’n onafhanklikheidsreferendum in Katalonië kan veroorsaak nie. In Kosovo kon Amerika en die Europeërs egter hul kamstige steun vir die reg op selfbeskikking bevestig, terwyl Serwië geen belangrike bondgenoot is nie. Terwyl die Koerde Amerika en Irak in die stryd teen die Islamitiese Staat bygestaan het, dien Amerika nou weer die belange van Turkye en die korrupte Irakse regering in Bagdad in sy opposisie teen die Koerde se onafhanklikheidstryd.

Volkere wat na selfbeskikking streef, sal moet besef dat eie belange eerder as goeie beginsels groot wêreldmoondhede se reaksie op hul vryheidstrewe sal bepaal.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

John ·

Jaco, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar al hierdie groepe wat wil afskei of dit wel reggekry het, kan nie met mekaar vergelyk word of oor dieselfde kam geskeer word nie, nog minder kan almal se oogmerke as edel hetsy dwaas verklaar word. Jy gooi ‘n groot lepel kasterolie in ons kele af. Vryheid ensovoorts is in elke voorbeeld wat jy noem, iets op hul eie. Kom ons praat bv oor Orania en sy vryheid binne konteks van die Nuwe SA. Dit is bv bloot ‘n mite. As die regering vandag vir olie wil boor tussen die monumente of… of… kan die bestuur niks doen nie… natuurlik hof toe hol, maar as die uitspraak sus of so is, dan… Wat is vryheid? Wat is selfbeskikking? Mag praat. En as jy teen ‘n oormag te staan kom?

Hendrik ·

Oeps daar buig die knie weer. Ek weet dat daar ‘n oormag is en se nou maar dat daar olie gekry word tussen die standbeeld en se nou maar die regering se nee en se nou maar.. en se nou maar….. Dit is die kans wat almal vat en tenminste probeer die mense hard vir oplossings van die afrikaner se probleme. Die oplossing gaan beslis nie kom deur elke vyf jaar getrou te stem nie maar die oplossings kom deur hard te werk om dorpe te vestig met ‘n homogene kultuur. Dit is nie maklik om dit te doen nie want jy moet jou eie geld gebruik om ‘n infrastruktuur te vestig en met dorp stigting met al sy wetlike aspekte (omgewings inpak studies ens..) Moet nie net nee se dat dit nie gaan werk nie, want John jou kinders en kleinkinders gaan waarskynlik in soortgelyke plekke soos Orania bly reg oor die land in die toekoms. Amper se ek kry ‘n bietjie ruggraat…..

Gerhard ·

As jy nou wil iemand moet ‘n lepel kasterolie in jou keel afgooi luister na die ouens wat vir jou kom vertel die Nuwe Suid-Afrika werk, of kan werk op een of ander manier. As jy so daarna kyk lyk Orania nie so vergesog nie.

Jaco Kleynhans ·

John,
Natuurlik verskil al die voorbeelde van mekaar. Geen twee vryheidstrewes is presies dieselfde nie. Die punt wat ek maak is net dat as jy op meriete beoordeel daar geen rede is waarom byvoorbeeld die VSA en talle Wes-Europese lande die onafhanklikheid van byvoorbeeld Kosovo kon steun en nou die onafhanklikheid van Katalonië onderdruk nie. Die reg van die Koerde op ‘n eie nasiestaat is darem ook duidelik en daar is al baie daaroor geskryf – gaan lees gerus uitstekende artikels daaroor op die webbladsye van die Wall Street Journal, National Review, American Conservative en andere. Jou opmerkings wat die ergste uitdagings van ‘n vryheistrewe uitlig, is korrek, maar geen vryheidstrewe het nog ooit geslaag daar waar almal uit vrees vir die ergste scenarios en weens die onwaarskynlikheid van sukses maar net terug gaan sit en niks doen het nie. Die verwesenliking van selfbeskikking is ‘n proses, een wat eintlik nooit ophou nie, en definitief nie ‘n gebeurtenis nie. Net die dapperstes, geduldigstes en hardwerkendstes slaag.

Gemsbok ·

John, toe Thomas Jefferson, Benjamin Franklin, Samuel Adams en 53 ander afgevaardigdes na die Kontinentale Kongres die Amerikaanse Verklaring van Onafhanklikheid onderteken het, was Engeland ook vir hulle ‘n oormag wat tussen enige van hul monumente vir olie kon boor. Mens kan weens huidige omstandighede dalk te bang wees om verandering mee te werk, maar dit beteken nie dat verandering onmoontlik is nie.

Gemsbok ·

Verder John, Orania het nog nooit voorgegee dat dit reeds ten volle vry van die NSA is nie. Vir Orania is vryheid en selfbeskikking ‘n doelwit wat verwesenlik word soos wat die dorp groei en ontwikkel. Elke nuwe inwoner en nuwe instelling skep nuwe vermoë. Orania het reeds vermoëns waaroor Afrikaners nie elders beskik nie. Tog is dit ‘n lang pad wat voorlê en slegs meer hande kan die werk ligter maak.

Amsterdam ·

Ek gee nie die minste om wat anerika voel oor selfbeskikking nie, dit het niks met hulle tedoene nie. Wat wk wel weet is dat dit ons enigste oplossing is om onsself te red van die sinkende en kriminele SA.

rassie ·

Onder die Afrikaners wat nie emigreer, assimileer of apaties geword het nie, is daar blykbaar steeds diegene wat selfbeskikking ooreenkomstig die republikeinse ideaal nastreef.

Soms wonder ek egter, so te midde van al hoe kleiner wordende Afrikaner getalle, verswakkende ekonomiese bedingingsmag van Afrikaners in die algemeen, toenemende werkloosheid en vermeerdering van hulpbehoewendes onder Afrikaners asook gebrek aan politieke bedingingsmag, of dit ooit werklik verwesentlik gaan word.

Dan dink ek ook daaraan dat amper ‘n kwart eeu reeds sedert 1994 verloop het en dat daar al reeds twee geslagte Afrikaners na 1994 gebore is. Verder sien ek ook dat die maksimum volwasse ondersteunersgetalle vir Afrikaner organies op onder 200 000 staan. Nie eers ‘n kwart miljoen in vergeleke met ‘n SA volwasse bevolking van meer as 20 000 000 nie.

Wanneer ek dan verder opmerk dat die daadwerklike praktiese pogings wat tot nou toe aangewend is uit slegs ongeveer 2000 gevestigde siele bestaan en dat daar na afloop van 25 jaar nog geen grondgebied vir so ‘n staat geidentifiseer is nie; nog nie met die regering en die ander inwoners van hierdie spesifieke stuk grond ‘n ooreenkoms bereik is nie; pogings tot onderhandeling op niks uitgeloop het nie en mense blykbaar nie soontoe kan of wil trek nie, of ek onrealisties is as ek dink dat dit nie oor 10 jaar of ooit eendag vir my kleinkinders ‘n oplossing gaan bied nie en dat die republikeinse ideaal maar net nog ‘n item in die Afrikaner museum gaan word.

Gemsbok ·

Rassie,

Die Jode se poging om Israel te herstel het in die jaar 1211 afgeskop toe ‘n groep Rabbis en hul volgelinge (ongeveer 300 mense) in Akko in die Noorde van Israel gevestig het. Daarna is verdere pogings aangewend om mense te vestig in die jare 1260, 1488, 1492 en 1498. In 1700 het 1 500 Jode gevestig. Teen 1851 was daar in totaal 13 000 Jode in die gebied. Van 1888 tot 1903 het 35 000 Jode gevestig, maar 29 000 van hierdie Jode het teen 1903 weer die land verlaat.

Dit het Kaapstad vanaf 1652 tot 1836 geneem om ‘n bevolking van 20 000 mense te bereik. ‘n Kwarteeu na die stig van Pretoria was die setel van die ZAR skaars meer as wat Orania vandag is.

‘n Onafhanklike land word voorafgegaan deur ‘n ooreenkoms om dit te erken, wat voorafgegaan word deur die vermoë om selfstandig te bestaan (en daardie bestaan te verdedig), wat voorafgegaan word deur vestiging en ekonomiese ontwikkelling wat nie uit die lug uit val nie.

My vraag aan jou is of dit wat jy bydra tot die bou van Orania, jou verwagtinge vir die ontwikkeling daarvan ewenaar? Indien nie, is jou verwagtinge vir die ontwikkeling van Orania naïef, beide op grond van vergelykbare historiese inisiatiewe en op grond van dit wat dit verg om ‘n ekonomie en infrastruktuur uit niks op te bou.

Vervolgens is jou kritiek op Orania se groei effens misplaas.

Hendrik ·

Wel ek voorsien dat daar naby elke dorp en stede daar sulke selfstandige gebiede gaan ontwikkel. Dit is ‘n natuurlike proses en mense gaan vanself begin groepeer. Soos die woonbuurte vermeng het ons gevind dat al hoe meer jongmense begin vestig en daar word gemiddeld 6 meer huise per jaar gebou. Die stand is nou al oor die 400 huise, 1400 mense en die belangstelling groei soos die mense ontnugter word. Kleinfonteinis 20 km oos van Pretoria en die meeste mense werk in die Pretoria gebied. Toegang gerieflik vanaf die snelweg.

Herman Goosen ·

Die feit van die saak is: Jy kan mense dwing om saam met mekaar in ‘n land te bly, maar jy kan hulle nooit dwing om gelukkig saam met meakkar te bly nie. Vryheid word op twee maniere bewerkstellig – Of deur geweld of deur polities korrek te wees. Die koerde sal sukkel om onafhanklikheid te kry weens die feit dat hulle bevolking in drie lande is. Dus sal hulle sterk teenstand kry want as hulle in een land wegbreek gaan daar onrus in die ander lande plaasvind wat natuurlik verhoed sal prober word. Tensy die koerde vriende maak met super moondhede soos Amerika, Engeland of Rusland deur samesprekings van byvoorbeeld olie of ander natuurlike hulpbronne tot hul beskikking gee sal niemand belangstel om hulle te help nie. Niemand anders sal Vryheid ondersteun tensy daar voordeel vir hulle ok is nie. Dit is bloot ‘n politieke speelbal wat tien jaar gelede waarskynlik openhartig deur Amerika ondersteun sou wees om die vyandig gesinde Irak te verswak. Nou is Irak egter nie meer ‘n bedreiging nie.

Gemsbok ·

Ek dink nie dat Afrikaners in ‘n beter posisie gaan wees om selfbeskikking te bewerk indien dit swaarder met ons gaan nie.

Dit is gevaarlik om te kieskeuring te wees wanneer mens geleenthede het, net om spyt te wees wanneer die laaste geleentheid verdwyn het.

Jaun de Vries ·

Slotsom: selfbeskikking (hetsy demografiese selfbeskikking, kulturele selfbeskikking of seggenskap oor sake wat ons raak) gaan nie goedkoop of maklik in ons skote val nie. Dit gaan vaardigheid, vindingrykheid, kreatiwiteit, durf, vasbeslotenheid en deursettingsvermoe vereis. Ignoreer die doemprofete en liggelowiges en stuur hulle huistoe – mens kan niks met onwillige honde uitrig nie. Teenkanting sal daar altyd wees – vanaf die geldmagte, vanaf die politieke korrektes, selfs vanuit ons eie geledere. Ons sal selfbeskikking as ‘n langtermyn-projek moet nader. Tye, wereldmagte se beleid, wereldwye diskoers ensovoorts verander. Ons sal ons self deurlopend moet posisioneer om op die regte tyd in staat te wees om self-beskikking op te eis. Wat staan ons NOU te doen? 1) NOU moet ons ten alle koste ons TAAL en ons PROTESTANTISME beskerm, want dit is wat ons nog (in ‘n groot mate) deel. Daarsonder sal ons nooit as volk of eenheid erken word nie. 2) Doen als wat nodig is om ons eiendomsreg te beskerm. 3) Doen als wat nodig is om ons stemreg te beskerm. 4) Sorg dat ons mense goed opgelei word in nasionale en internasionale reg, sodat ons mense het wat vir en namens ons kan optree en praat. 5) Bevorder en mobiliseer ons mense om polities betrokke te wees en nie apaties te wees nie. 6) Ondersteun burgerregte-organisasies. 7) Wees geduldig. Ons stryd om selfbeskikking duur nie slegs die afgelope 2 dekades nie. Maar al byna 4 eeue.

Gemsbok ·

Juan, uitstekende skrywe. Ek sou net byvoeg dat ons ook ‘n stukkie aarde benodig wat ons polities deur ons getalle kan beheer en vanwaar ons instellings vir die res van ons ‘n voedingsbron kan wees.

Deon ·

Ek ken net een mens in Orania. Hy was deel van ‘n ultra-regse organisasie en is miskien nog steeds. Ek glo die meeste Orania-inwoners is nie dieselfde nie. Die afatootlike woorde wat hy van anderskleuriges gesê het is iets waarmee ek nie kan vereenselwig nie. Dis net eenvoudig boosheid Dis my probleem met sg selfbeskikking. Dis dikwels ‘n teelplek vir die mees neerhalendeste opmerkings teenoor ander kulture. Ek kan dit nie uitstaan nie. Ver terug in my verlede het God ingegryp in my voorouers se lewens. Sy genade is daar vir alle nasies soos dit vir my ook was. God se kinders was eintlik nog altyd mense wat teen die stroom swem en ek swem nie saam met die regse visse wat in blanke superioriteit glo nie en ook nie die linkse sentiment wat in my keel afgedruk word nie. As ons Afrikaner-voorouers nie so afhanklik was van die anderskleuriges was nie het hulle dalk ‘n lang tyd terug ware selfbeskikking gehad. Hulle kon eenvoudig nie sonder hulle op die plase nie. Die boere wat ek ken het steeds hordes anderskleuriges wat vir hulle werk maar gulle is so rassisties as wat jy kan kry. Dis wat nog altyd wys dat die Afrikaner nie eintlik so inherent sterk is nie want sy waardestelsel is vol gate. As ons nie hierdie swakhede aanspreek nie lyk dit maar alteveel na net ‘n klomp verregse geraasmakers. Dit is Afrforum se dillemma.

Gemsbok ·

Deon

Jy raak ‘n baie geldige punt aan wat naas ons yl verspreiding oor die land die grootste bedreiging vir ons voortbestaan in vryheid en geregtigheid inhou.

Tog wil ek jou graag aanraai om Orania te besoek, ‘n gratis toer by die Orania Beweging mee te maak en te lees wat Orania se leiers skryf.

My ervaring is dat daar groter rassiste buite Orania is as daarbinne.

Merkur ·

Deon

Selfbeskikking het niks met ´n gevoel van superioriteit te doen nie.

rassie ·

Gemsbok,
Na aanleiding van jou antwoord en vraag aan my in jou vorige kommentaar die volgende;

Ek het geen kritiek op Orania gehad nie. Dit was bloot ‘n vraag oor die lewensvatbaarheid van die republikeinse gedagte. Moontlik aanvaar ons te dikwels dat rasionele bevraagtekening noodwendig kritiek is en soms kan dit gesonde debatvoering oor ‘n gemeenskaplike probleem smoor. Onder huidige omstandighede lyk dit bloot dat baie min na een of ander stuk grondgebied kan of wil trek, hetsy Orania of waarookal hierdie stuk aarde is. Dis bloot feite wat langtermyn impak op die selfbeskikingsideaal het, nie kritiek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.