Selfdoen is beter as niksdoen!

afriforum-selfdoen-centurion-twitter

‘n Selfdoen-projek van AfriForum in Centurion, Pretoria. Foto: AfriForum/Twitter.

Misdaad, korrupsie, wanbestuur en die miskenning van minderheidsregte is maar ’n paar van die sake wat ʼn mens in jou gedagtes oproep as jy oor die bedreigings nadink wat ons tans in die land moet trotseer. Na my mening is daar egter ’n baie groter bedreiging wat nie só voor die hand liggend is nie, naamlik apatie en niksdoen.

Die rede hiervoor is dat ’n gemeenskap se apatie en ’n niksdoenhouding aan misdadigers en die owerheid die geleentheid gee om hul plunderwerk voort te sit, wat uiteindelik tot nóg groter probleme aanleiding gee. Die niksdoen-opsie is reeds deur minderhede in Zimbabwe getoets en die resultaat is daar vir almal om te sien. Toe die bedreigings teenoor minderhede in Zimbabwe begin kop uitsteek, het baie boere in Zimbabwe gehoop dat dit bloot politieke retoriek was en apaties gebly. Die regerende elite in Zimbabwe het die apatie van minderhede in dié land as ’n teken van swakheid gesien en die Mugabe-regime die ruimte gebied om die land op ’n pad van agteruitgang te stuur. Daarom is niksdoen nie ’n opsie vir AfriForum nie.

Die vraag is dus wat ons kan doen om die probleme in ons gemeenskappe, dorpe en land hok te slaan. Natuurlik moet ons in verkiesings stem vir ’n ander party as die een wat ons dorpe in die grond in bestuur. Die werklikheid is egter dat die huidige magshebbers waarskynlik nog vir ’n aansienlike tyd in beheer van die meeste dorpe, met die uitsondering van ’n paar metrorade, sal wees. Tweedens kan ons die owerhede verantwoordbaar hou – soos die tientalle hofgedinge bewys wat AfriForum met sukses teen munisipaliteite en die regering gevoer het. Hierdie aksies is belangrik en hoewel AfriForum dit verder gaan uitbrei, is meer nodig.

Die meer blywende antwoord lê dus daarin dat ons mense en plaaslike gemeenskappe ’n selfdoenvermoë moet ontwikkel om ons probleme selfstandig te kan pak. Dit is bevrydend en gee ʼn mens hoop vir die toekoms as jy hierdie kopskuif maak en besef dat die toekoms nie in die hande van die Zuma-regering is nie, maar in ons eie selfdoenhande – en met die genade van bo. ’n Gebrek aan politieke mag beteken gelukkig nie dat ons magteloos is nie.

Die krag van ’n selfdoenbenadering word deur AfriForum se “Maand van selfstandigheid”-veldtog onderstreep wat landswyd gedurende Oktober van stapel gestuur word. ’n Sterk boodskap word aan misdadigers en die owerheid gestuur deur gemeenskappe wat landswyd onder leiding van AfriForum se plaaslike takke onder meer massapatrollies teen misdaad hou en self dorpe se infrastruktuur op verskeie terreine herstel. Uiteraard is dit eerstens die owerhede se werk om dorpe te verbeter, en in verskeie plekke word daar met dié owerhede saamgewerk. Wanneer owerhede egter nie wíl of kán saamwerk nie, doen ons dit self en eis die koste daarvan van die betrokke munisipaliteit terug. AfriForum het reeds op verskeie plekke geld suksesvol teruggeëis vir werk wat ons takke gedoen het omdat ʼn munisipaliteit dit nie self kon of wou doen nie. Dit ís immers ons lede se belastinggeld wat in hul belang aangewend moet word.

Die besture en ander betrokkenes by AfriForum-takke verdien ook dank vir die rol wat hulle reeds speel en in die toekoms verder gaan speel om selfstandigheid uit te bou. Daar word dikwels aangevoer dat Afrikaners nie ’n leier het nie. Diegene wat egter by AfriForum se selfdoenprojekte op plaaslike vlak betrokke is, is elkeen ʼn leier in eie reg. Dit beteken dat ons reeds talle leiers het wat hard aan die werk is.

As die uitdagings té groot raak, onthou dat talle kleiner dade saam ’n groot verskil maak. Ek nooi graag elkeen wat nog nie aan AfriForum se selfdoenaksies deelneem nie om deel van die groeiende aantal mense te word wat inspring om sélf ’n beter toekoms te help bou. Selfdoen is immers baie beter as niksdoen!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Geskok ·

Gaan kyk by(fin 24) en dan by (economy) Treasury hunts fraud worth of ” R233 Bn ” in spending money . R233 biljoen rand . wat gaan aan met hulle ??

JC ·

Al wat ek kan se is: Ek is DANKBAAR, DANKBAAR, DANKBAAR! Dankie vir Afriforum.
Indien JY nog nie aangesluit het by Afriforum nie, SLUIT NOU AAN!!!!
Daar is plek vir ALMAL wat die RSA WIL laat werk!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.