Selfs die slimste skaap kan die wolf nie oortuig nie

Ernst Roets (foto: AfriForum)

Ek het al die punt gemaak dat die “stryd om idees”, soos ons dit graag noem, ontspoor het. Dit het ontspoor omdat mense vandag te maklik verstrengel raak in abstrakte argumente oor hoe die politieke samelewing ingerig moet word, in so ʼn mate dat hulle voeling met die werklikheid verloor.

By AfriForum sê ons ook dikwels vir mekaar dat, hoewel ons altyd moet seker maak dat ons die beste argumente het, goeie argumente nie ons grootste prioriteit is nie. Dit is omdat aksies veel meer gewig dra as argumente. ʼn Organisasie met doelgerigte aksies, maar swak argumente kom veel verder as ʼn organisasie met goeie argumente, maar wat nooit tot aksie oorgaan nie. Daarom sê Robert Greene ook in sy berugte The 48 Laws of Power: “Wen deur jou aksies, nooit deur jou argumente nie.” Natuurlik is die antwoord dat ons inderdaad uitstekende argumente moet hê, maar dat daardie argumente as fondasie moet dien waarop ons aksies gebou word. Woorde sonder dade beteken niks.

Hierdie lessie word ook duidelik uitgebeeld in Aesop se fabel oor die wolf en die lam. Die honger wolf het ʼn lam in die rivier sien staan. Die wolf besluit toe dat hy die lam uit die rivier gaan lok. Hy verduidelik vir die lam dat hy die water vuil maak as hy so in die rivier staan, wat maak dat ander diere − soos die arme wolf − nie die water kan drink nie. Daarom vra hy die lam om asseblief uit die water te kom. Die lam was egter te skerp vir die wolf. “Jou argument maak mos nie sin nie,” antwoord die lam. “As jy oplet, sal jy sien dat jy stroomop van my staan. As dit so is dat ek die water vuil maak, dan maak ek net die water vuil wat van hier af in die stroom afloop. Jy, wat stroomop staan, kan na hartelus die water drink.”

Die wolf besef dat hy die argument verloor. Hy besluit om weer te probeer. “Ek weet presies wie jy is!” skree hy vies. “Jy is die een wat verlede jaar my pa beledig het!” Die lam antwoord: “Wat jy nou sê is mos heeltemal irrasioneel. Jy beweer verniet dat ek verlede jaar jou pa beledig het. Verlede jaar was ek nog nie eers gebore nie. Jou stellings maak nie sin nie.”

Die wolf vervies hom en besluit dat hy die skaap sal opvreet, kom wat wil: “Jy is lekker slim met jou argumente, maar vir jou sal ek vandag opvreet!” Hy spring in die water en vreet die lam op.

Met hierdie verhaal dra Aesop die punt oor dat ons al die argumente in die wêreld kan gebruik om ons saak te bevorder, maar dat dit nooit genoeg sal wees om onsself te verdedig teen dié wat daarop ingestel is om ons leed aan te doen nie.

Dit is ʼn belangrike deel van AfriForum se ingesteldheid. Ja, dit is nodig om die swak argumente van dié wat jou leed wil aandoen uit te wys, maar ons moet onsself nooit laat glo dat dit voldoende gaan wees nie. Die lam in Aesop se verhaal sou veel beter daaraan toe gewees het as hy meer energie aangewend het om homself en sy gemeenskap te organiseer, om dinge in plek te sit om sy posisie te versterk om dit vir die wolf onmoontlik te maak om hom by te kom.

Hierin lê daar ʼn gevaar veral vir ons generasie. In die era van YouTube, podsendings en sosiale media kan ons maklik verstrengel raak in die stryd om idees – in eindelose debatte oor wat nou eintlik die beste teorie is, of wie nou eintlik die beste woordvoerder vir ʼn spesifieke argument is, maar sonder om tot aksie oor te gaan. Ons kan maklik verlore raak in YouTube-debatte waar een denker kwansuis die vloer met ʼn ander denker vee. Dink maar aan die oppervlakkige YouTube-titels wat ons deesdae so baie sien, soos: “X daag Y se standpunt uit en is onmiddellik spyt daaroor”, of “X gebruik superieure logika om Y te vernietig.” Die punt wat Aesop se verhaal ons leer is dat hierdie sosialemediasterre se “superieure logika” nie veel waarde tot die gemeenskap toevoeg indien hulle nie ook die moue oprol en iets daadwerkliks doen nie.

Goeie argumente is belangrik. Ons moet aanhou om ons argumente te slyp en ook om vir ander te wys dat ons saak reg is. Maar doelgerigte optrede is selfs belangriker.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.