Selfsug is nie die Romeinse regstelsel se skuld

Argieffoto

Deur Daniel du Plessis

Westerse regstelsels is individualisties en materialisties, aldus die hoofmagistraat van Kaapstad, Daniel Thulare.

In sy onderhoud voor die regterlike dienskommissie die afgelope week het Thulare selfs verder gegaan en geargumenteer dat Suid-Afrika eerder meer gebruik moet maak van die inheemse reg wat, na sy mening, meer inklusief en meer empaties is.

Dit is besonder gerieflik dat sy geliefkoosde regstelsel van honderde jare gelede so presies binne politieke agendas van vandag val. Maar, ongeag, is dit belangrik dat ons nie wegskram van hierdie klaarblyklike onderskeid-ondersoek nie.

Dit is, immers, nie ’n onbekende beskuldiging nie – en so word die Weste as geheel gereeld beskuldig van ekstreme individualisme en selfsug.

Kan mens daarmee stry? In baie gevalle juis nie en dit is maklik om te dink aan baie kulture en lande wat hulself hieraan skuldig maak.

Is hierdie egter ’n probleem wat veroorsaak (of minstens vererger word) deur die reg? Dít is moeiliker om te bepaal.

Daarom is dit die moeite werd om te kyk na die prestasies wat hierdie stelsel behaal. Hier speel beginsels soos eiendomsreg en handelsvryheid ’n veral belangrike rol en dit is juis hierdie beginsels wat Thulare waarskynlik in gedagte gehad het.

Prent jouself in: as jy ’n besoeker was aan ’n moderne ekonomie, dalk van ’n ander planeet of ander tyd af, wat sou jy sien?

Honderde mense werk elke dag in uiters komplekse strukture aan baie gespesialiseerde take. Om te werk in ’n moderne ekonomie is om staat te maak op honderde mense om self ook hul werk te doen – in baie gevalle selfs sonder om hulle ooit te ontmoet.

Hoe merkwaardig hierdie stelsel is, word slegs oortref deur hoe maklik dit is om dit as ’n blote gegewe te aanvaar. Dink egter net, as ’n enkele voorbeeld, aan die kos wat ons nodig het om van dag tot dag te leef.

Daar is geen manier vir Pretorianers om genoeg kos te produseer om te bly leef vir lank nie, want alles kom natuurlik van plase en produsente wat honderde of duisende kilometers ver geleë is. As hierdie oneindige optog van mossels, appels, beesvleis en melk sou stop, hoe lank voordat Pretoria onleefbaar word?

Maar, ten spyte van hoe krities hierdie binneaarse voeding is, is dit nie nodig vir enige gegewe mens of amptenaar om verantwoordelikheid te neem daarvoor nie. Die natuurlike uitvloeisel van ’n regstelsel wat eiendomsreg en handel moontlik maak, is dat duisende individue mekaar dien met hierdie en ander produkte.

As enige soort gedrag bevorder word deur ’n vrye mark is dit waarskynlik juis dít – die omsien na die belange van jou naaste, selfs sonder noodwendig die besef dat dit is waarmee jy besig is.

Laat hierdie soort vryheid ruimte vir selfsugtigheid? Absoluut. Maar dit laat ook die ruimte vir onbaatsugtigheid, naasteliefde en welwillendheid. Die selfsug wat op plekke in die Weste te siene is ’n kulturele probleem, en nie een vanweë ’n bepaalde regstelsel nie.

Ware ekonomiese vryheid (en dus nie die soort wat deur karnallies in rooi oorpakke verkondig word nie) is ’n voorafvereiste vir kultuurvryheid, en hierdie vryheid sluit ook die verantwoordelikheid vir barmhartigheid in.

Medemenslikheid en welwillendheid kan nie deur ’n regstelsel in die lewe gebring word nie. En dit behoort ook nie.

Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Judge Dredd ·

…..met taksasie gee ons mos almal om vir ons medemens.
Verskil is daar word nie eers gevra nie, sommer net gevat. En ek het geen se hoe my geld gespandeer(vermors) moet word.

Reinhardt ·

Jy het ‘n sê, mens noem dit n stembus. Belasting is uiters belangrik vir n ekonomie om te floreer, daar is baie dinge wat n vrye mark eenvoudig nie kan verskaf nie. Dink maar aan parkies en paaie.

Judge Dredd ·

Watter politieke party se voor verkiesing presies hoe hul jou geld gaan bestee?
Die antwoord – nie een nie.
Dis alles niksseggende vae beloftes.

Div de Villiers ·

Nog n Kerk beraad…As hulle nou nog nie weet van kwessies nie sal nog n beraad hulle niks help nie.!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.